Het jy al dieper gedink oor die mielies op jou en jou gesin se bord of waar katoen en soja vandaan kom? Is daar planne in plek om te sorg dat ons kleinkinders ook van die aarde sal kan eet?

Monsanto is al vir 50 jaar in Suid-Afrika besig om deur middel van baanbrekerstegnologie geneties gemodifiseerde (GM) gewasse te verbou om die verbruiker en die boer te bevoordeel, maar ook meer voedselsekerheid te bring. Daar is toenemend druk om op ’n volhoubare manier meer voedsel met minder produksiekoste en -insette te produseer. Maar hoe werk hierdie tegnologie en watter positiewe impak het GMO’s op jou?

1. Biotegnologie en genetika
Biotegnologie is die gebruik van lewende sisteme en organismes om produkte te ontwikkel of te verander vir spesifieke gebruik. Biotegnologie het ontwikkel ná die deurbraak van wetenskaplikes in die 1950’s met die ontsyfering van genetiese kodes. Dit het wetenskaplikes gehelp met meer voorspelbare genetiese ontwikkeling van spesifieke eienskappe. Biotegnologie word nie net in die landboubedryf gebruik nie, maar ook op mediese, veeartsenykundige, forensiese en farmaseutiese gebied, asook in omgewingswetenskappe en mynbou. Dit bied hoop en moontlikhede vir verhoogde voedselproduksie, beter benutting van beperkte hulpbronne en alternatiewe energiebronne wat uiteindelik bydra tot bewaringsboerdery.

2. Konstante insekbeheer
Bt-gewasse word geteel deur ’n geen van die grondbakterie Bacillus thuringiensis (Bt) na ’n landbougewas oor te dra. Die bakterie kom algemeen in grond voor en produseer kristalle met proteïen wat giftig vir sekere insekte is. Die geen is geïsoleer en suksesvol in verskeie gewasse ingeplant, sodat daardie plante in staat gestel is om self die Bt-gif-stowwe in hul selle te vervaardig. Dié plante kan hulself dus beskerm teen sekere insekte en in die geval van mielies en katoen, sekere lepidoptera (wurm) spesies.

3. Stapelgeentegnologie help teen droogte
In 2007 is stapelgeentegnologie in mielies goedgekeur en Monsanto het dit met groot vreugde kommersieel bekendgestel. Een van Monsanto se nuutste deurbrake van ’n paar jaar gelede, is om ’n droogtebestande DroughtGard-geen te ontwikkel waaroor die Amerikaanse boere reeds baie opgewonde is. Hierdie geen stel die mielie in staat om in droogtegeteisterde gebiede vog makliker op te neem en beter te bewaar tussen wisselvallige reënbuie. Hierdie stapelgeen en kultivars sal waarskynlik in die 2018/2019 plantseisoen vir boere beskikbaar wees.

4. Hoe help GM gewasse jou
GM gewasse benodig minder chemikalieë, landbougrond en masjinerie en daardeur help dit om omgewingsbesoedeling en gronderosie te beperk. Boere kan dus produksie verhoog en meer as een oes in ’n seisoen lewer. Verhoogde opbrengste, en beter verbouingsmetodes, dra daartoe by dat minder natuurlike veld omgeploeg moet word vir voedselproduksie omdat opbrengs op bestaande produksielande of kommersiële lande verhoog word – met ander woorde hoër opbrengs per hektaar beteken dat aanplantings van mielies byvoorbeeld oor jare afgeneem het per hektaar maar dat opbrengs per hektaar toegeneem het. Daar is dus meer geproduseer op minder grond. Indirek beteken dit dat bewaarde areas soos byvoorbeeld wildtuine nie in gedrang sal kom vir voedselproduksie nie.

Moderne tegnologie stel die landboubedryf in staat om te midde van waterskaarste en beperkte landbougrond toenemend meer voedsel te produseer en wêreldwye hongersnood te beveg. GM gewasse en die gepaardgaande tegnologie skep toenemend meer opwindende moontlikhede vir die toekoms wat net wag om ontgin te word.