Ek hou van ’n nuwe jaar, ’n nuwe begin, nuwe planne en nuwe drome! God se meesterplan met seisoene, dae, maande en jare gee ons ’n ritme – ’n begin en einde en ’n geleentheid om ons lewens in oorvloed te leef.

Só begin ek 2016 met nuwe geesdrif. Ek kry ’n paar wit velle papier, my lekker penne, ’n mooi plekkie op ons stoep en ek begin skryf – woorde, prentjies, drome. Sommer om alles uit my gees, kop en hart te kry tot op papier. Wat wil ek doen by die werk? Wat sal lekker wees vir ons gesin en ons huis? Saam met wie wil ons meer tyd spandeer? Wat is ons drome vir ons huwelik? Hoe lyk my tyd saam met God?

Ek teken en skryf en voel sommer met elke woord meer geïnspireerd. Ek gaan kry verversings (die “mooi eet”-voorneme het toe nog nie afgeskop nie) en toe ek terugkeer, sien ek die windjie het intussen opgesteek en my papiere van die tafel af gewaai. Ek tel dit op, maar mis twee bladsye. Nogal die twee met die meeste skryfwerk op. Soek, soek, soek . . .

Ek kry een, al drywend in die swembad . . . die ink van die koki vloei reeds! Ek gryp die swembadborsel en red my bladsy, wat toe gelukkig nog van die ink behou het. My belangrikste bladsy is egter nog weg. Ek roep my huishulp, Annie. Ons soek oral. Tot sy weer langs die swembad staan en inkyk. “Daar is hy,” sê sy onseremonieel en wys na die bodem van die swembad! Nou kyk, as jou bladsy al gesink het, moet jy weet jy het moeilikheid. Ek vis die bladsy uit. Skoon en wit! Ek kon ’n paar woorde ontsyfer, maar moes die meeste oordoen!

Die volgende oggend lees ek ’n artikel wat my nuwe insigte gee – “You probably know to ask yourself: ‘What do I want?’. Here’s a way better question . . .” Volgens die skrywer Mark Manson is die vraag nie wat jy wil hê nie, maar eerder om te besluit watter pyn jy in jou lewe wil hê?

Waarvoor sal jy opofferings maak? Want dis só waar dat ons baie wil hê, maar nie altyd bereid is om die werk te doen of die pyn van die proses te verduur nie. Ons wil almal goed lyk in ’n jean, maar is nie regtig bereid om hard te oefen en perfek te eet nie. Ons wil ryk en suksesvol wees, maar wil nie altyd die opoffering van lang werksure maak nie. Ons wil die 94.7 of Argus ry, maar is nie bereid om elke dag vroeg op te staan en te oefen nie!

Wat van jou huwelik? Almal wil ’n gelukkige huwelik hê met romanse en intimiteit! Maar is jy bereid om die werk daarvoor in te sit? Om jou maat te leer ken en te gee wat hy/sy wil hê eerder as om na jou eie belange om te sien? Is jy bereid om deur huwelikskursusse, moeilike gesprekke en bagasie van die verlede te werk? Is jy bereid om daagliks vir jou huwelik te bid?

Want as ons nie besef dat ons meer sal moet insit as uithaal hierdie jaar nie, gaan ons huwelike eerder eindig by teleurstelling as vreugde. Hierdie is alles deel van die spel van die liefde en hoewel dit swaar mag klink, is dit een van die wonderlikste ervarings wat jy ooit in jou lewe sal hê!

Kan jy dink hoe fantasties dit moet wees as jy die werk ingesit het en die oorwinning beleef? Om oor die wenstreep by die 94.7 te ry, om weer in daardie jean te kan pas, om ’n suksesvolle loopbaan te kan bou of om ’n waarlik gelukkige huwelik te kan hê. Kan jy dit sien? Julle twee, gelukkig?

Mag God jou die genade gee om die werk in te sit wat nodig is en, soos Langenhoven sê, die swaarkry met lekkerkry klaar te kry! Die beloning is groot . . . jy sal sien!