Op die oog af lyk Suzanne en Deon soos die ‘perfekte paartjie’, maar in werklikheid gaan dit nie altyd so goed nie. Seksueel is daar dramatiese verskille . . .

Deur Anja van den Berg

Hulle het deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet toe Suzanne 16 was. Deon was 21. “Ek was 20 en Deon 26 toe ons uiteindelik begin uitgaan het. Soos enige jong en naïewe paartjie het ons soms gesukkel om balans te vind. Ek het ’n paar disfunksionele verhoudings oorleef.” Sy was Deon se eerste ernstige meisie en vier jaar later is hulle getroud.

Sy noem dat Deon troumateriaal is en menige skoonma’s omkoopgeld sal betaal om só ’n man vir hul dogters op te raap. “Hy skrik nie vir die stoof nie en stryk sy eie hemde. Hy glo ’n vrou se plek is oral in die samelewing. Hy is mooi teenoor diere en kelners. Hy is die enigste man wat ek ken wat steeds die skottelgoedwasser uitpak as hy verkoue het! Hy hou my wynglas vol, lag vir my grappe en gee vir my drukkies. Hy het respek vir vrouens en hou sy hande tuis, hy vry nie op die motor se agtersitplek nie en reageer nie op sexy SMS-boodskappe nie. En dis juis die probleem.”

Terwyl Deon konserwatief grootgemaak is met die gedagte dat seks ’n “gevaarlike, negatiewe tydverdryf” is, was Suzanne se opvoeding liberaal. “Soms ’n bietjie té liaises fair met min leiding. Beide van ons was as kinders blootgestel aan seksuele trauma. Beide van ons het oorgehel na ’n uiterste.”

Kort voor lank het dit probleme begin veroorsaak. Deon het weggeskram van fisieke toenadering en die seksuele, en Suzanne het haar eiewaarde daardeur probeer bevestig.

“Soos ’n klassieke gevallestudie het ek op ’n ongesonde manier liefde gesoek deur seksualiteit, maar terselfdertyd was ek ook bang daarvoor. By Deon het ek uiteindelik veilig gevoel. Ek het dit geniet om hom te verras met sexy liefdesbriefies in sy dagboek of om ’n stoute geskenkie in sy tas weg te steek. Hy het dit egter nooit baie goed ontvang nie. Dit het my gefrustreer, maar ek het myself oortuig dit sou mettertyd verander.

Sy het uiteindelik ’n bekwame sielkundige opgespoor wat gesê het haar seksualiteit is háre om te geniet én ’n geskenk aan haar man. Dat sy hom maar mág verras met allerlei uit- die-boks idees, verrassings, geskenke en visuele bederfies. “Dit kom boonop vir my so natuurlik soos om asem te haal!” vertel Suzanne.

Suzanne het ’n kans gevat. “Ons was besig om reg te maak vir kerk, en ek wou my man ’n bietjie laat sweet . . . ’n bietjie terg met God se goedkeuring . . . hom ’n rede gee om dalk godsdiens en seksuele genot in dieselfde sin te skryf. Hy was besig om te skeer.

“Met net die nodigste onderklere en hoëhakskoene het ek doodluiters by die badkamer ingegly en begin grimeer. Gereed vir sy manlike omhelsing en totaal voorbereid om ter elfder uur, en post-koïtaal, by die kerkdeur in te glip. Sy reaksie was egter die teenoorgestelde. Hy het nie eers twee keer gekyk nie. En toe gesê ek moet vinnig aantrek, ons gaan laat wees. Ek was verpletter, ontnugter, platgeslaan . . .”

Dit was maar net een van talle soortgelyke scenario’s in hul huwelik van tien jaar.

“Ek het reeds vroeg in my lewe besef dat ’n verhouding die produk is van die twee mense wat dit definieer – en ek weier om ’n voorspelbare, vervelige, voorstedelike verhouding te hê en net deur die motions te gaan!.”

Dit was nie asof Deon nóóit seksueel was nie, vertel Suzanne. “Maar dit was die meeste van die tyd op sý terme. Ná 22:00. In die kamer. Een van drie posisies. Ek wou hom verlei oor die foon, panties in sy laptop-sak wegsteek, gesmelte sjokolade oor my lyf voel. Vrek, ek sou settle vir net ’n bietjie sexy agtergrondmusiek!”

Deon het nie dieselfde gevoel nie. “Hy het toe uiteindelik erken hy hou nie van die novelty wat ek bied nie. Hy het nie atmosfeer nodig nie. Hy verstaan nie seksuele afwagting nie. Hy het nog issues as gevolg van sy opvoeding. Hy verkies voorspelbaarheid. Ek was sprakeloos.”

Suzanne het uit hul kamer getrek en na ’n ander blyplek begin soek. Terselfdertyd het sy gevoelens vir ’n kollega begin ontwikkel. Sy het oop kaarte gespeel met Deon en vir hom probeer verduidelik wat aangaan sonder om doekies om te draai. Sy het gehoop dat die nuus hom sou mobiliseer, dat hy sou regop sit en besef hul verhouding val uitmekaar.

“Een aand het ek weer probeer toenadering soek en hom genooi om saam met my te stort. Hy het egter die uitnodiging van die hand gewys en gesê daar is nie plek vir beide van ons in die stort nie – die water spat in sy oë. Dit was die laaste strooi. Ek het my ringe vir hom teruggegee en kort daarna ’n verhouding met die genoemde kollega begin. Hy was nie bang om sy aangetrokkenheid tot my te wys nie! Die gevoel van aanvaarding was ongelooflik, byna ’n verligting.”

Maar Suzanne het besef dat ’n nuwe verhouding net ’n tydelike pleister op ’n gapende wond sou plak en sy het die verhouding stopgesit.

Sy en Deon het vir intense huweliksterapie gegaan en dinge het tussen hulle begin verbeter. Hulle het besluit om met ’n gesin te begin, maar sy was steeds in haar agterkop bekommerd. Sy het swanger geraak. Hulle het weer begin baklei en die laagtepunt was toe sy, hoog swanger en aangetrokke tot haar man, uit die stort geklim en hom begin soen het – hy het homself verskoon om e-posse te gaan beantwoord.

“Dit was die aand van my 31ste verjaardag, ek sal dit nooit vergeet nie. Dit het net vir my te veel geword – ek kon die gevoel van verwerping nie meer hanteer nie. Ek het op hom begin gil, hom met ’n blompot gegooi, swart kolle begin sien en byna my bewussyn verloor. Ek het uiteindelik vir drie dae in die hospitaal beland met vroeë kontraksies. Dit was die keerpunt.”

Oor ’n paar weke is Deon en Suzanne tien jaar getroud, en intussen nog ’n kind ryker. Hulle probleem is nog nie opgelos nie, maar hulle veg steeds vir hul huwelik. “Die onverstaanbare deel is dat ek só graag hom as man wil affirm, hom wil wys ek is aangetrokke tot hom, die voorspelbaarheid en sleur van die alledaagse lewe wil balanseer met seksuele pret, verrassings en afwagting.

“My goeie, standvastige, vriendelike, goedgemanierde en beleefde man. Wat help in die huis, die kinders versorg en my ondersteun in my beroep. Met wie ek my verlede, my hart en my diepste denke deel. Dieselfde man wat nie my seksualiteit as ’n geskenk sien nie, maar as ’n bedreiging.”

Seksuoloog en sielkundige Wilmé Steenekamp sê:

Hierdie verhaal skep ’n prentjie wat op só baie verhoudings toegepas kan word – dit lig konsepte uit wat in die meeste verhoudings onbewustelik ’n groot rol speel. Kyk ’n bietjie na die volgende:

  • Een of albei mense in ’n verhouding het gewoonlik geweldig baie verwagtinge (soms baie onrealisties, soms realisties) oor wat gewoonlik in ’n verhouding kan en moet gebeur – alles volgens persepsies wat sedert hul kinderdae by hulle opgebou word.
  • Mense word geweldig baie (maar meestal onbewustelik) beïnvloed deur persepsies, onder andere hul eie en ander se seksualiteit, oor seks, seksorgane, oor ’n huwelik, oor manlikheid, vroulikheid, geslagsrolle, morele waardes en interaksie met ’n belangrike ander persoon.
  • Persepsies beïnvloed ons outomatiese reaksies in die meeste situasies – dit vorm ’n verwysingsraamwerk – dit is dus menslik, maar dis ’n groot struikelblok as ons blind is daarvoor.
  • Mense verwag van hulself om behendig te wees met seks (nog ’n persepsie) – hulle moet dit perfek kan doen of hulle is ’n mislukking, en wat is perfek? Dit wat ons ouers, skoolvriende en die media ons wysmaak!

’n Voorbeeld hiervan is die persepsie dat mans gewoonlik die aktiewe rol in seks moet speel (hy moet, wil, sal altyd wil seks inisieer – hy is die “jagter”). Vrouens weer is die passiewe maat in hierdie spel – sy is die ontvanklike, die meedoener, die “ordentlike een”. Net in hierdie pakkie is daar soveel persepsies vasgelê en ’n paartjie wat hierdie spesifieke beeld in hul gedagtes het, mag groot probleme optel wanneer dinge nie altyd presies só verloop nie.

’n Ander voorbeeld is die persepsie dat seks verkeerd, sondig, goedkoop of gevaarlik is – ’n persepsie wat ook baie ruimte skep vir konflik, misverstande en die grootse passion killer: Miskenning van mense se seksuele behoeftes en skuldgevoelens daaroor! ’n Manier waarop hierdie persepsies gevorm kan word, sluit in dat mens se ouers vir jare lank die indruk kan skep dat mense wat seks geniet “iets makeer” / “sondig” / “afskuwelik” is. Nog ’n manier waarop mens sulke persepsies kan opbou is om deur veral as kind aan situasies van ’n seksuele aard blootgestel word wat jy dalk net glad nie verstaan nie, wat jou skok, waarop jou liggaam en psige reageer (met plesier of met afsku) en wat jou met skuldgevoelens en /of verwardheid los. Mens kan ook as volwassene sulke trauma ervaar.

Om die paartjie in hierdie verhaal te kan help, gaan baie introspeksie, eerlikheid met hulself en teenoor mekaar vereis. Hulle gaan waarskynlik redelik diep in hulself moet delf om hul eie persepsies te kan beskou. Hulle gaan ook baie deernis met hulself en met mekaar moet kan ontwikkel. Die goeie nuus is dat, indien hulle wel bereid is om hierdie pad te loop, die hele proses hulle baie nader aan mekaar kan bring.

Uit die Feb Maart 2016 Uitgawe van INTIEM Tydskrif, digitaal beskikbaar by http://tiny.cc/INTIEM_Feb_Maart_2016