Om jou maat lief en nodig te hê,is noodsaaklik in elke huwelik. Maar wanneer die grense tussen ko-afhanklikheid en interafhanklikheid begin blur, kry jy moeilikheid… Is jy dalk TE afhanklik van jou maat? Lees die artikel en besluit self!

Toe Lanie se vriende haar begin bewus maak het van haar gedrag in haar nuwe huwelik met Pieter, was sy vyandig. Hulle gun haar nie geluk nie, het sy gesê, maar hulle kommer was gebaseer op die feit dat haar hele lewe om haar nuwe man gedraai het. Sy wou hom gelukkig maak. Hy was ’n weeskind en sy sou alles wat hy kortgekom het vervul, het sy besluit.

Sy het baie aanpassings gemaak ter wille van hom, soos om haar hele klerekas te verander omdat hy nie daarvan gehou het dat sy swart dra nie. In plaas daarvan om hom ten goede te beïnvloed met haar gesonde, lae GI-leefstyl, het sý aangepas by Pieter se soettand. Haar vriende het al hoe minder van haar gesien en alles het rondom Pieter gedraai. As hy ’n moeilike dag beleef het, was haar dag ook omgekrap.

Vir ’n paar maande het dinge só aangegaan en Lanie het geglo sy doen dit in die naam van liefde, maar onderbewustelik het sy hom begin verwyt vir alles wat sy prysgegee het. Sy wou nie met hom daaroor praat nie, want sy was te bang dat sy sy gevoelens sou seermaak. Ten spyte van al haar pogings om hom “gelukkig” te maak, het sy steeds gevoel asof sy nie goed genoeg is nie. Haar susters het ingetree met ’n informele “ingryping”. Teen die tyd wat hulle haar hiermee konfronteer het, was Lanie self só ongelukkig dat sy ingestem het om terapie te ontvang, wat haar gedrag as ko-afhanklikheid geïdentifiseer het.

Wat is ko-afhanklikheid?

In haar boek, Co-dependent no more, skryf Melody Beattie dat dit tipies ko-afhanklike gedrag is wat dikwels in die kinder- of tienerjare gesetel is. Navorsing toon dat mense wie se ouers hulle emosioneel mishandel of as tieners afgeskeep het, meer geneig is om later ko-afhanklike gedrag in verhoudings te openbaar. Baie mense wat dit doen, het ook ’n ouer gehad wat ko-afhanklik was, iemand wat sy/haar eie gevoelens onderdruk in ’n poging om die ander persoon tevrede te stel.

Kenners wat die gevare van ko-afhanklikheid uitlig, word dikwels gekritiseer omdat geglo word dat ’n huwelik slegs kan voordeel trek uit onselfsugtigheid. Daar is egter ’n groot verskil tussen ko-afhanklikheid en interafhanklikheid. Ja, jy wil graag jou maat gelukkig maak, en ja, dit is belangrik om kompromieë te tref, maar dit is maklik om té ver te gaan.

Mense wat dié optrede openbaar, doen dit dikwels in die naam van liefde, maar wil eintlik, op ’n onderbewuste vlak, hul maat se redder wees – tot só ’n mate dat dit aan hom/haar ’n mate van identiteit gee. Hulle doen té veel vir hul maats en voel buitengewoon verantwoordelik vir die ander party se dade of gevoelens. Omdat hulle só hard probeer om hul maats tevrede te stel, is daar soms dominansie, mishandeling en misbruik deur die ander party. Die ko-afhanklike persoon brand uit en ander verhoudings ly hieronder.

Omdat ko-afhanklike persone so bang is vir verwerping of vernedering en ander se persepsie van hulle, is hulle oorsensitief vir hul omgewing en raak hulle só fyngevoelig vir die “tekens” van ander persone dat hulle voeling verloor met hul eie gevoelens en dít waarna hulle smag.

Hoe weet jy jy is ko-afhanklik?

  • Jy help graag afvlerkduifies.
  • Jy is moontlik getroud met ’n verslaafde.
  • Jou eie emosies/gevoelens word as “onbelangrik” hanteer.
  • Jy doen alles vir jou maat (in die naam van liefde).
  • Jy gee jou maat sy/haar sin en verwyt hom/haar dan in die stilligheid daaroor.
  • Jou maat se gelukkigheid/ongelukkigheid beïnvloed jou direk.
  • Jy wil altyd weet waarmee jou maat besig is.
  • Jy laat toe dat jou maat verkeerd teenoor jou optree.
  • Jy bly by jou maat omdat jy jammer voel vir hom/haar.

Ja, dit kan jou huwelik vernietig. Deur ko-afhanklik op te tree, “leer” jy jou maat hoe om jou te behandel. Jy plaas jouself in ’n spesifieke rol tot dit later nie meer vir jou werk nie. Dit is dán wanneer jy sukkel om uit dié rol te “ontsnap”. Skei is nie noodwendig die oplossing nie, want iemand wat ko-afhanklike gedrag openbaar, sal geneig wees om dié optrede in ’n volgende verhouding te herhaal.

Is julle ko-afhanklik van mekaar?

Darlene Lancer, ’n huweliksterapeut, skryf op whatiscodependancy.com dat sommige gevalle van ko-afhanklikheid in huwelike samewerkend/wedersyds is. Daar is nie drama nie, maar daar is ook nie passie nie, want ware intimiteit word opgeoffer. Hul wedersydse ko-afhanklikheid en onsekerheid bedreig hul intimiteit.” Sy verduidelik dat dit dikwels twee volwassenes is wat té onseker van hulself en afhanklik van mekaar is om hulself ten volle te kan uitdruk.

Só sal ’n vrou wat sukkel om haar woede uit te druk, trou met ’n man wat dit maklik doen (en namens haar). Of iemand wat baie teruggetrokke is, trou met ’n maat wat baie spontaniteit toon. Soms het ’n alkoholis iemand nodig wat hom/haar emosionele stabiliteit bied en daarom is ko-afhanklikheid dikwels ter sprake in ’n verhouding/huwelik waar verslawing ’n rol speel.

Só wat is die verskil tussen ko-afhanklikheid en interafhanklikheid? Interafhanklikheid bestaan uit twee mense wat heeltemal op hul eie kan funksioneer. Ja, dit is normaal om naby aan mekaar te voel, daardie intimiteit te begeer en op mekaar staat te maak. Maar die mag is gelykop tussen hulle verdeel en hulle aanvaar verantwoordelikheid vir hul dade, gevoelens en aksies.

Mediese dokter en sielkundige Wilmé Steenekamp se dat ko-afhanklike gedrag nie volhoubaar is nie en geleidelik baie skade aan ’n verhouding kan rig op die volgende maniere:

Die ko-afhanklike persoon raak:

  • tam van al die opofferings en kompromie.
  • onbeskryflik kwaad / bou wrokke op teenoor die ander persoon.
  • amper rigtingloos – hul stagneer omdat hul nie aan hul eie groei werk nie, maar gefokus is op die ander persoon sin.
  • Meer onbeholpe daarmee om hul eie behoeftes en opinies uit te spreek oor jare.

Die ander persoon raak amper hulpeloos om te leer komprimeer of te werk aan hul eie swak gewoontes – iemand anders doen dit dan die heeltyd namens hulle!

Die paartjie se kinders leer ook die patroon onafwendbaar aan – dit is dus nie ’n goeie voorbeeld nie!

Wat doen ek hieraan?

As jy egter agterkom dat jy of jou maat (of albei van julle) ko-afhanklike gedrag toon, is dit belangrik om dit te herken, te erken en te verwoord. Kyk na die oorsprong van jou ko-afhanklikheid. Was daar spesifieke gedrag in jou grootwordjare wat kon lei daartoe dat jy ko-afhanklik begin optree het?

Sielkundige terapie kan jou help om daardeur te werk. Dis belangrik vir jou om terapie te ontvang, veral om wonde uit jou grootwordjare te genees.

Jy moet jouself emosioneel skei van die persoon teenoor wie jy hierdie gedrag ervaar. Jy moet jou ophou bekommer oor die persoon en ophou om te probeer verantwoordelikheid neem vir hom/haar. Jy kan nie jou maat se probleme regmaak nie en moet leer om “nee” te sê. Dit is baie belangrik om weer in voeling te kom met jou eie begeertes/behoeftes. En ja, dit is makliker gesê as gedaan en daarom kan ’n kenner jou hiermee help. Dit is nie selfsugtig nie, maar ’n reis na eerlikheid en uiteindelik na heelheid as ’n individu.