Dis ondenkbaar. Dat die maat wat beloof het om jou vir ewig lief te hê en op te pas, mettertyd jou grootste vyand word. Dat dié een wat deur God by jou gevoeg is om jou op te bou tot die beste persoon wat jy kan wees, jou afbreek tot die kleinste jy. Dat die liefde uitgeskop word om plek te maak vir teisterende vrees…

“Ek was jonk, so ongeveer 21, en verlief,” vertel Sarah oor haar pad saam met haar lewensmaat, wat later haar vyand geword het. Hoewel al die gevaartekens daar was, het sy haar blind gestaar teen die liefde. “Selfs die manier waarop sy pa hom en sy ma hanteer het, was ’n duidelike teken dat daar ’n probleem in hul gesin was. Ná ons mekaar 18 maande geken en uitgegaan het en oor trou begin praat het, het ek onverwags swanger geraak. Jy weet hoe die ou garde hierdie soort van ding hanteer, die gevolg was dat hy die enigste een was op wie ek kon steun en ons het steeds besluit om die knoop deur te haak voor die baba sy opwagting maak.”

Dinge het letterlik direk ná die troue begin skeefloop. “Ná ’n vrolike oggendtroue het ons so ongeveer 16:00 by ons nuwe huisie aangekom en ek wou graag praat oor die snedige kommentaar wat op die troue gelewer is en die geskenkies oopmaak, maar volgens hom was ek nou sy vrou en het ek sekere verpligtinge gehad… Hy het ’n bad getap en dit duidelik gemaak wat hý op daardie stadium wou hê. Ek was geskok en het in trane uitgebars – en natuurlik geweier…”

Dit het altyd óf vreeslik goed óf vreeslik sleg gegaan, daar was nooit net ’n “normale” konstante balans nie, vertel sy. “Elke keer as dinge erg sleg was, het hy belowe dat hy sou verander en dat dit die laaste keer sou wees. En ek het elke keer gebly met die hoop dat ek uiteindelik ’n normale huwelik sou hê. Ek dink dit was my fout. In ’n stadium het hy selfs erken dat hy my met opset swanger gemaak het, sodat ek hom nie moet los nie. As jongmens het ‘n mens ’n wanpersepsie van wat die liefde is en moet wees.”

Dinge het só erg geraak dat hy naderhand drie keer per week tot 03:00 in die oggend uitgebly het en nooit gesê het waarheen hy gaan of waar hy was nie, vertel sy.

En van die begin van die huwelik af was daar finansiële mishandeling. “Hy het geweier om enigiets vir my of die kind te koop of te betaal. Ek het wel in daardie stadium ’n salon by die huis gehad, maar die geldjies was maar skraps, veral omdat ek later skaars kon werk as gevolg van gesondheidsprobleme verwant aan die swangerskap. Hy het ook begin om my emosioneel af te breek en het vir my vertel dat ek vet was, hoewel ek tydens my hele swangerskap slegs 11kg opgetel het. Toe het hy vir my begin vertel dat hy vir my gril en ek moes in die spaarkamer slaap, maar wanneer dit tyd was vir my ‘verpligtinge as vrou’ was ek welkom in die slaapkamer. Sodra hy gekry het wat hy wou hê, sou hy dan omrol en onderlangs mompel dat ek maar weer in die spaarkamerbed kan gaan klim as ek wil.”

Elke dag se seerkry het haar net sterker gemaak en Sarah het teen hom begin opstaan. Sy het haarself verdedig as hy haar afgebreek het en hy het al hoe minder huis toe gekom. Dié kere wat hy wel daar was, was hy dronk en bakleierig.

“Een aand het hy my aan die bors gegryp in die badkamer, omdat hy voor die kinders wou bad en ek daarop aangedring het dat hulle eers moes bad, aangesien dit al laat was en dit winter was. Ek het hom sy sin gegee om konflik te vermy, maar ek sal nooit die kyk in sy oë vergeet nie. Ek het daar en dan besluit dat ek dit sou beëindig, want ek het toe begin vrees vir ons veiligheid…”

Kort ná Sarah haar prokureur gaan sien het, het sy uitgevind dat sy weer swanger was – met haar tweede seuntjie. “Om hierdie rede het ek toe besluit om weer te probeer. Ná ure se berading wat ek naderhand alleen moes bywoon, aangesien hy hom vir die terapeut vervies het, haar gevloek en uitgestap het, het die vrou eendag vir my die waardevolste raad gegee wat my laat besef het dat dit die regte besluit sou wees om te gaan. Haar woorde was: ‘Wat sal jy verkies, dat twee gebroke ouers in ’n gebroke huis twee gebroke seuns grootmaak, of dat een heel ouer twee gebalanseerde seuns in ’n liefdevolle huis grootmaak? Besluit jy maar wat is die beste vir jou kinders.’”

Vandag, met daardie huwelik agter haar, vertel Sarah: “Sien, ek het gebly ter wille van my kinders, maar ek het ook gegaan ter wille van my kinders. Ek dink die meeste van ons vroue in só ’n situasie klou vas aan die droom wat ons wens dinge is en vermy die realiteit van wat dinge waarlik is.”

Wat ís die realiteit van gesinsgeweld in ons land?

Volgens die drukgroep Women in Action, is dit moeilik om betroubare Suid-Afrikaanse statistieke oor geweld teen vroue te bekom. Die aantal sake wat aangemeld word is hoog, maar daar is steeds baie gevalle wat nooit gerapporteer word nie. Misdaadstatistieke tref ook nie onderskeid tussen geweld wat deur mans teenoor hulle lewensmaats gepleeg word en ander soorte geweld nie.

Die Departement van Justisie beweer een uit elke vier vroue is of was slagoffers van huishoudelike geweld, maar dis bloot ’n skatting. Geweld teenoor vroue kom veel meer dikwels in plattelandse gebiede voor as in die stad. Volgens People Opposing Women Abuse (POWA) kan een uit elke ses vroue wat in Gauteng sterf, se dood aan huishoudelike geweld toegeskryf word.

In ’n navorsingsprojek wat in 1999 deur die Instituut vir Sekerheidstudies gedoen is, het 90% van die vroue met wie onderhoude gevoer is gesê hulle is emosioneel mishandel. Altesaam 90% het beweer hulle is fisiek mishandel. Sowat 71% is seksueel misbruik. Altesaam 58% van die vroue wat ondervra is, is finansieel uitgebuit (geld is byvoorbeeld sonder toestemming van hulle weggeneem) en 42,5% van die vroue het al die soorte mishandeling wat hierbo genoem word, ervaar. Altesaam 60% van die gevalle wat deur die vroue uitgewys is, is deur lewensmaats, minnaars of hul mans gepleeg.

Volgens ’n dokument wat deur die Suid-Afrikaanse Parlement vrygestel is, is daar in 2011 altesaam 217 987 interdikte toegestaan aan persone wat beweer dat hulle die slagoffers van huishoudelike geweld was. ’n Somtotaal van 31 397 arrestasies (ongeveer twee keer soveel as die vorige jaar) is uitgevoer op persone wat die bepalings van ’n interdik oortree het.

Altesaam 13 748 gevalle van huishoudelike geweld is in 2011 by die polisie aangemeld. Hiervan is 3 726 hofsake wat uit klagtes van huishoudelike geweld voortgespruit het, gefinaliseer. En 2 491 klagtes was hangende. Sowat 7 351 klagtes is deur die klaers teruggetrek.

Hoewel fisieke, verbale en emosionele geweld deur vroue teenoor mans dikwels voorkom, is geen Suid-Afrikaanse statistieke beskikbaar nie. (Brittanje se Departement van Binnelandse Sake beraam dat ongeveer 40% van die slagoffers van gesinsgeweld in dié land manlik is.) Gesinsgeweld word steeds wyd vertolk as (uitsluitlik) geweld teenoor vroue en kinders. Volgens navorsing neem die polisie dikwels nie ’n man ernstig op wanneer só iemand ’n klag van aanranding (deur ’n vrou) aanhangig maak nie. Manlike slagoffers word dikwels as “pateties” en “lafhartig” beskou wanneer hulle beweer dat hulle die slagoffer van gesinsgeweld is en baie mans praat dus eenvoudig nie daaroor nie.

Die bose kringloop van vernietiging

Kliniese sielkundige Erika Nell verduidelik dat mishandeling in ’n verhouding dikwels ’n patroon vorm waar die partye in die verhouding vasgevang is in ’n magstryd. “Hierdie magstryd neem die vorm aan van spanning wat opbou tussen die twee partye, omdat die man en vrou nie die vaardighede het om dit deur te praat en dus te ontlont nie. Hierdie spanning eskaleer dan dikwels in emosionele unfinished business, wat dan in konflik ontaard.

“Die volgende fase behels dikwels geweldige magteloosheid en skuldgevoelens by die man, en vrees en verwardheid by die vrou. Hier sien ’n mens dikwels ’n poging van beide partye om dinge reg te maak in die vorm van blomme, kos, sjokolade en innig om verskoning vra. As die romantiese stof gaan lê, begin die spanning weer opbou. Soos die patroon homself herhaal, is konflik meer gereeld en die vlak van konflik eskaleer ook progressief tot meer ekstreme vorms van mishandeling, veral as alkohol gebruik word.”

Waarom doen hy dit? Die sielkundige Murray Jooste glo dit gebeur omdat die man wat mishandel dit kán doen, en omdat die persoon dit toelaat en die situasie hom daartoe leen. “Hy is by uitstek ’n manipuleerder wat die slagoffer só skuldig laat voel en só onseker oor haarself laat voel dat sy voel as sy net meer van haarself gee, as sy net harder probeer, sal sy dalk volgende keer sukses bereik. In baie gevalle is daar ’n verband tussen substans-misbruik en die mishandeling.

“Dit kan wees dat die persoon se oordeelsvermoë aangetas word, dat hy nie besef wat hy doen nie, of dat hy in ’n stadium van onttrekking is. Alkohol het ’n leeftyd van ’n uur en as hy in die aand van die kroeg af huis toe gaan, begin daar al onttrekkingsimptome intree teen die tyd wat hy by die huis aankom en dit lok hierdie geweldige aggressie uit, wat hy dan juis loslaat op die mense vir wie hy lief is. Die persone wat self slagoffers was, word dan die oortreders,” sê Murray. “My boodskap aan die slagoffers hiervan is altyd baie duidelik: Dit word nie vanself beter nie. Dit gaan nie sommer net ophou indien hy toegelaat word om aan te gaan nie. Daar sal daadwerklike ingrepe moet kom en ons sien dikwels gruwelike en tragiese eindes van sulke gevalle.”

“’n Ander oorsaak wat ek dikwels in my praktyk sien, is patologiese jaloesie wat ontstaan as gevolg van ’n uiters swak selfbeeld en die persoon probeer om homself ‘groter te maak’ deur die vrou kleiner te maak.”

Wat beteken dit as jy verder as die syfers kyk?

Die huwelik is veronderstel om ’n veilige plek tussen man en vrou te wees. Of dit nou die man is wat sy vrou aanrand of die vrou wat haar man daagliks vertel hoe ’n groot loser hy is – emosionele en fisiese mishandeling verander hierdie beeldskone, veilige hawe in ’n konsentrasiekamp van smart en pyn.

“Die eggenoot wat mishandel word, is toenemend en voortdurend in ’n toestand van onsekerheid. Die vertroue wat daar veronderstel is om te wees, word ondermyn,” sê Elmarie van Wyk, ’n Imago-verhoudingsterapeut in Centurion. “Die egpaar is heeltyd in ’n magstryd gewikkel en die mishandelaar wen elke keer – of so kom dit voor. Die mishandelaar verloor egter respek vir, en vertroue in, homself en verval in die bose kringloop van herhaalde mishandeling – dikwels net om ‘beter te voel’ oor homself.”

Hoekom is dit noodsaaklik vir ’n slagoffer om uit só ’n situasie te kom? Die voor-die-handliggende rede is fisiese veiligheid van die man/vrou en kinders. Indien iemand oor ’n lang termyn mishandel word, takel dit hulle selfbeeld geweldig af. Selfs die sterkste mens begin glo hulle doen iets verkeerd en dat dit hul skuld is dat die mishandeling gebeur. Stelselmatig word dit ’n vorm van identiteit – “ek is ’n mishandelde vrou/man” of “ek verdien nie beter nie”.

“Die mishandelaar is gewoonlik ook baie slim en manipuleer sy maat om met hierdie presiese gedagtes te worstel,” waarsku Elmarie.

Wat gebeur wanneer ’n vrou nie hulp soek nie? ’n Mishandelaar sal dikwels sorg dat hy die slagoffer afsny van haar vriende en familie. Hy sal haar selfs aanmoedig om haar werk te los, sodat sy heeltemal geïsoleerd en afhanklik van hom raak. Eensaamheid, angs, vrees en depressie verander haar in ’n gevangene in haar eie huis en maak dit bitter moeilik vir haar om hulp te soek.

Slagoffers van geweld sukkel dikwels met fisiese beserings. Wanneer kollegas of vriende dit raaksien, is vrouens dikwels te verneder en bang om met die sak patats vorendag te kom – vandaar die clichés van “ek het in die deur vasgeloop” of “ek het van die trappe afgeval”. As hul maats hul boonop nog verhoed om mediese hulp te kry, kan dit erge gesondheidsprobleme veroorsaak of selfs tot die slagoffer se dood lei.

Dit bring ons by die volgende belangrike rede waarom ’n slagoffer met ’n gesin uit só ’n situasie moet padgee – ter wille van haar kinders se fisiese en psigiese veiligheid. Kinders sal soms probeer om tussenbeide te tree wanneer mishandeling tussen mamma en pappa plaasvind en sodoende hulle eie lewens in gevaar stel.

Dikwels trou mense juis met iemand wat hulle mishandel omdat dit is wat hulle as kind in hulle ouerhuis gesien het – dit is “nou maar net hoe die huwelik werk”. Dit is dus baie belangrik dat ’n vrou onder geen omstandighede die mishandeling duld nie, want dit word ’n bose kringloop waarin beide sy en haar kinders vasgevang word.

Volgens Elmarie is ’n slagoffer se eerste prioriteit om uit die verhouding te tree en fisies uit die huis te kom. Daarna behoort intensiewe terapie vir beide die huweliksmaats en ook die kinders te volg om hulle verwronge beeld van hulself, die huwelik en die liefde te herstel.

Hoekom bly vroue in so ’n vernietigende verhouding?

“Daar is verskeie redes hoekom die vrou dit dikwels moeilik vind om uit die verhouding te kom, soos dat sy só vasgevang is in haar magteloosheid dat sy nie oor die raamwerk beskik om haarself te mobiliseer om pro-aktief op te tree nie. Die idee om alleen te wees en/of dat niemand anders haar sal wil hê nie, is meer bedreigend as om te loop. Sy is bang vir die verlies van bates wat sy in die huwelik kry soos finansiële sekuriteit, en sy vrees vir ’n selfs meer ekstreme geëskaleerde vorm van mishandeling in haar man se poging om haar te behou. Aan die man se kant voel hy progressief al meer skuldig en magteloos om verandering mee te bring en selfs meer gefrustreerd met sy vrou wat progressief al meer onttrek van hom. Hy beskik nie oor die vaardighede om sy onvervulde behoeftes en opgeboude impakte optimaal te kommunikeer nie, en dit ontlok selfs meer frustrasie,” sê Erika.

Murray verduidelik: “My ervaring is dat die vrou wat mishandel word se selfbeeld eerstens só afgetakel word en hulle word só verneder en verkleineer dat hulle voel dat hulle half aandadig is vir die optrede van die man en dat hulle volgende keer net harder moet probeer om dit te voorkom. In die meeste gevalle is hierdie uitbarstings sporadies, met ander woorde dit gaan gewoonlik heelwat beter, dit lyk of daar verbetering is en sy voel sy behaal sukses met hom, en dan is daar weer ’n terugval. Dan voel sy weer dat sy miskien nie hard genoeg probeer het om hom te help nie. Die vrou het hierdie onwrikbare geloof dat as sy die man genoeg liefde gee, hy sal verander.”

“Beide partye kan hulp en ondersteuning ontvang deur uit te reik na ’n sielkundige. Die vrou kan dalk mediese versorging nodig hê, en die naaste hospitaal of dokter sal haar daarmee kan bystaan. Verder is daar veiligheid-vestings vir mishandelde vroue beskikbaar waarvan die kontakbesonderhede vrylik beskikbaar is op die Internet,” sê Erika.

Murray stem saam dat daar heelwat hulp beskikbaar is. “Die belangrikste ding is net om daardie eerste stap te neem en te besef: ‘Ek is die moeite werd, ek kan uit hierdie ding uitkom en ek hoef nie vir die res van my lewe ’n slagoffer te wees nie.’ In baie gevalle is die vrou die fasiliteerder. Sy maak dit vir die man moontlik om haar te mishandel – verbaal, emosioneel, finansieel, seksueel, emosioneel, op watter manier ook al.”

Albei noem ook dat daar hulp vir die man beskikbaar is. Dit is egter ’n moeilike situasie vir die man om hulp te soek en sy skuld te aanvaar omdat hy dit dikwels weens die verkeerde redes doen.

Jy mág hierdie tipe gedrag nie duld nie. Ja, deel van jou droom was om in ’n ewige huwelik te bly met hierdie man wat jy liefgehad het, maar jou seerkry (fisiek en geestelik) is nie deel van God se droom vir jou nie. Geen vrou verdien gesinsgeweld nie – jy is baie meer werd as dit.

Genoeg is genoeg – dít moet jy weet!

So wat gebeur die dag wat jy opstaan en die besef tot jou deurgedring het dat geen vrou hierdie tipe gedrag verdien nie? Jy kan tydelik of permanent ontvlugting soek by vriende en familie, toevlugsoorde (shelters) of jou maat toegang weier tot jou huis. Om op te staan teen jou maat en hom te konfronteer is ook ’n opsie, maar moet dit onder geen omstandighede alleen doen nie – vra mense wie jy vertrou om by te wees, win regshulp in en praat vooraf met ’n berader.

Toevlugsoorde word gewoonlik deur vroue-organisasies beheer en is beskikbaar in alle provinsies in Suid-Afrika. Dit bied ’n veilige hawe vir jou en jou kinders en hulle kan jou help om in kontak te kom met prokureurs, terapeute, die polisie en mediese kundiges. Sommige vra ’n minimale fooi, terwyl ander gratis tydelike verblyf bied.

JOU NOODPLAN

Die Nisaa Institute for Women’s Development het die volgende noodplan geskep vir vrouens om na veiligheid te ontsnap:

  1. Hou die kontaknommers van ’n toevlugsoord (shelter) en ander nooddienste byderhand.
  2. Maak ’n lys van vier plekke waarheen jy kan gaan indien jy vinnig moet padgee.
  3. Kry ’n vertroueling by wie jy belangrike items kan los soos kontant, huis- en motorsleutels, klere en afskrifte van belangrike dokumente. Indien jy moet teruggaan vir jou persoonlike items, kan jy na jou naaste polisiestasie gaan en vra dat ’n polisielid jou vergesel na die huis.
  4. Oefen ’n ontsnapping-plan saam met jou kinders en ’n persoon wie jy vertrou en hersien dit gereeld.

JOU NOODTASSIE

Die volgende items is baie belangrik om saam te neem as jy skielik moet vlug:

  • Jou ID-dokument, geboortesertifikaat en paspoort. Indien dit nie moontlik is nie, kan jy altyd aansoek doen vir tydelike dokumente, maar onthou dat dit geld gaan kos.
  • ’n Afskrif van jou huweliksertifikaat en indien jy reeds het, jou egskeidingsdokumente of interdikte
  • Klere, toiletgeriewe en medisyne.
  • Jou kinders se skooltasse, skool- en mediese rekords, klere en gunsteling speelgoed.
  • Jou motorsleutels, dokumentasie en registrasie-papiere.
  • Jou huissleutels, huur- of koopkontrak.
  • Jou salarisstrokies en kantoorsleutels.
  • Details van jou bankrekening, -kaarte of onbetaalde rekeninge.
  • Jou man se bankbesonderhede en salarisinligting.
  • Items van sentimentele waarde soos juwele, foto’s ens.

JOU NOODREëLINGS:

  1. Vertel jou werkgewer van die situasie en vra dat niemand jou persoonlike inligting uitgee, jou maat se oproepe na jou deurskakel of hom toegang tot die gebou gee nie.
  2. Lig dadelik jou kinders se skool en nasorgsentrum in om nie jou maat toegang te gee tot jou kinders nie.
  3. Kry ’n interdik teen jou maat indien jy voel dit is nodig. Hou rekord van enige dreigemente wat jou maat maak sodat jy dit na die polisie/prokureur kan neem as bewys.
  4. Verander jou telefoonnommer en wees versigtig aan wie jy dit uitgee.
  5. Indien jy besluit om in die huis te bly en jou maat toegang te weier, moet jy die volgende doen:

* Verander die slotte aan al die deure.

* Installeer ’n alarm of kry die dienste van ’n sekuriteitsfirma.

* Beveilig jou vensters en deure met diefwering/sekuriteitshekke.

* Lig jou bure in oor jou situasie en vra hulle om die polisie te bel indien hy daar opdaag.

* Verwyder enige eiendom uit die huis wat syne is sodat hy geen rede het om na jou huis te kom nie.

JOU NOODNOMMERS:

Gesinsgeweld hulplyn: 0800 150 150

FAMSA (Family and Marriage Association of SA)

Met 27 kantore regoor Suid-Afrika, lewer FAMSA die volgende dienste:
Huweliksberading, hulp met egskeiding, mediasie, gesinsgeweld, traumabehandeling ens.

Nasionale kantoor: (011) 975 7106/7
Epos: national@famsa.org.za
Webtuiste: www.famsa.org.za

POWA (People Opposed to Women Abuse)

Organisasie gebaseer in Gauteng wat skuiling, berading en regshulp aan vrouens in situasies van mishandeling en verkragting bied.

Tel: 011 642 4345/6
Epos: info@powa.co.za
Webtuiste: www.powa.co.za

LifeLine Suid-Afrika

Bied ’n verskeidenheid dienste aan vrouens in nood met die fokus op emosionele ondersteuning en individuele ontwikkeling om te help met die hantering van trauma.

Tel: 0800 150 150
Webtuiste: Lifeline.org.za

Stop Gender Abuse

Krisisberading, regshulp ens. vir vroue wat slagoffers is van verkragting of geweld. Bied raad en ondersteuning aan diegene wat vrouens in nood wil ondersteun.

Word beheer deur LifeLine Suid-Afrika.

Tolvrye hulplyn: 0800 150 150

Lawyers Against Abuse

’n Organisasie wat direkte en dringende regsdienste aan die slagoffers en oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld verskaf. Regsadvies, hulp en verteenwoordiging.

Webtuiste: www.charitysa.co.za/lawyers-against-abuse.html

Kontak: Prof Bonita Meyersfeld 011 717 8622

Facebook-blad: www.facebook.com/lawyersagainstabuse

Addisionele bronne: Nisaa.org.za, fhr.org.za.