Jou man is Afrikaans, hou van pap en wors, kyk rugby en het geswot. Toe jou ma-hulle sy ouers ontmoet, het hulle goedkeurend gekopknik met: “Dit is óns kerk se mense . . .”. En, gesegde opsygeskuif, hy is inderdaad ‘n gelowige. Jy hét dus ’n Christenman getrou en dinge gaan maklik werk. Reg? Nie noodwendig nie . . .

Elsabé en Daniël het mekaar op universiteit ontmoet. Albei het aan die studentegemeente behoort, en hoewel hy nooit ’n toegewyde kerkganger was nie, het hulle so nou en dan saam ’n diens bygewoon. Van een ding was sy seker: Hy is ’n Christen en dit het haar gerusgestel. Maar sy het nooit besef dat daar tussen Christene ook konflik oor geloof kan ontstaan nie . . .

Vyf jaar ná haar troudag was Elsabé in ’n ernstige motorongeluk betrokke en op haar pad na herstel, het sy geloof uit ’n ander perspektief begin beskou en ervaar. Sy het bekeer, haar laat grootdoop en ’n vriendin het haar eendag saam kerk toe geneem. Vandag, drie jaar later, is Elsabé ’n lidmaat by ’n charismatiese gemeente. Sy is aktief by die kerk betrokke, lei ’n selgroep, neem aan uitreikaksies deel en praat in tale. Sy het die bindinge op haar lewe laat breek, en elke keer wanneer hulle verhuis, salf sy hul nuwe woning met olyfolie. Elsabé woon graag vrouekonferensies en dameskampe by en prys en aanbid sonder voorbehoud! Sy twyfel in Daniël se geloof omdat hy volgens haar nie “aan die brand vir Jesus” is nie. Sy glo hy is skaam vir sy geloof en dat hy net die Here “opnuut moet ontdek”. Soms laat hy haar soos ’n kind voel, aangesien hy voel dat sy haar deur haar die kerk se ligte, musiek en die “opwinding” van geestelike oorlogvoering laat opsweep.

Daarenteen verstaan Daniël nie altyd sy vrou se ommekeer nie. Hy het in ’n Godvresende huis grootgeword en het nog nooit die behoefte aan bekering gehad nie. Hoewel hy soms langs Elsabé se hospitaalbed diep met die Here in gesprek was, het hy dit gedoen terwyl niemand gesien het nie, want vir hom is gebed ’n persoonlike saak. Hy verkies orrelspel bo luide lofprysing, maar was jare gelede in die kerk omdat daar sekere dinge is waarmee hy nie saamstem nie en hy beweer dat die kerk hom “teleurgestel het”. Hy luister eerder na dienste oor die radio en in sy oë word die gemeentelede by Elsabé se kerk emosioneel opgesweep. Hy glo daar is nie so iets soos in tale praat nie. Hy meen dat God te groot is om bindinge oor hul lewens toe te laat en dat olyfolie nie kragtiger as gebed is nie. Hy twyfel in die intensies van die organiseerders van mannekonferensies en dit maak hom ongelukkig om te dink dat sy vrou die behoefte het om naweek ná naweek by sulke samekomste deur te bring, terwyl sy dié tyd saam met hulle as gesin kon bestee.

Is daar werklik sulke paartjies?
Heelwat. Lynette, ’n INTIEM-ambassadeur, skryf: “My man is meer konserwatief en gereserveerd, terwyl ek meer charismaties ingestel is. Hy het met die idee grootgeword dat godsdiens stil, gewyd en stemmig moet wees. Ek ook, maar my denke en lewe is vernuwe, en ek leef ook graag daarvolgens. Ek dink die grootste uitdaging is om ons mans as die vaderlike figuur in ons huise te verhef. Hulle staan so dikwels passief om die rol van koning, priester en profeet op te neem.”

Nog een van ons ambassadeurs, vertel: “Ek en my man dien die Here saam voluit, so dit is fantasties. Ons bid saam oor struikelblokke wat oor ons pad kom en dit is die ideale omstandighede, maar ek weet almal is nie so gelukkig nie. My ma en stiefpa is nege jaar getroud en nou eers begin hy saam met haar kerk toe gaan. Hy was baie teen die kerk gekant en wou nooit saam met haar gaan nie, maar sy het nie tou opgegooi nie. Sy het aanhou bid en vir hom by God ingetree. Sy het hom ook begin salf, soos die Bybel ons leer . . .”

Janita, ook ’n ambassadeur, skryf: “My man wou agteroorslaan van skok die eerste keer toe ek hom saam met my kerk toe gesleep het. Ek was in ’n Pinkster Protestante kerk en hy in die AP-kerk. Ek het aan inseën en grootdoop geglo en hy aan kleindoop en die aflegging van geloofsbelydenis. Ons vlakke van geloof verskil hemelsbreed van mekaar en die dinge waarin ons geglo het, was so verskillend. Ná ons verloof geraak het, het ek hom al hoe meer by my Bybelstudie betrek en hom al meer vertel hoe ek dinge sien. Hy het mettertyd al hoe meer opgewonde (en gewoond) aan my tipe aanbiddingstyl geraak. Ek kan vandag eerlikwaar sê dat sy geloof sterker as myne is, hoewel ons nog so ’n bietjie verskil. Ek geniet lofprysing en aanbidding, en sy voorkeur is nou weer om Bybel te lees.”

So, hoe nou gemaak?
Wanneer individue se aanbiddingstyl verskil, kan dit paartjies in ’n moeilike situasie plaas. Soms behoort ’n man en vrou aan verskillende denominasies, en in ander gevalle behoort hulle aan dieselfde kerk, maar hul aanbiddingstyl verskil. “In so ’n geval behoort daar geen aspek te wees wat groot genoeg is om onmin tussen ’n paartjie te veroorsaak nie, so daar is geen rede waarom hulle nie verskillende kerke kan besoek nie. Aan die ander kant, as albei kerke Bybelgebaseerd is, is daar geen goeie rede waarom een van die twee nie sy/haar persoonlike voorkeure kan opsy skuif om saam met sy/haar maat te aanbid nie,” sê Karyn Markwell op www.christiancupid.com.

Sy meen dat dit tog vir ’n paartjie beter is om saam te aanbid, hoewel daar niks mee verkeerd is om verskillende kerke te besoek nie, solank hulle oor die beginsels van hul geloof saamstem. “As julle getroud is, of beplan om te trou, is dit nodig om te beplan watter kerk die ‘gesinskerk’ sal wees. Dit is nie vir die gesin gesond as sommige kinders saam met een van die ouers by een kerk aanbid, en die ander kinders saam met die ander ouer by die ander kerk nie.” Om harmonie in ’n verhouding te bewerkstellig, behoort een die opoffering te maak deur by ’n kerk te aanbid waaraan hy/sy dalk nie gewoond is nie “As jul kerke radikaal van mekaar verskil, of jy doodeenvoudig nie gemaklik is wanneer jy die ander maat se kerk bywoon nie, kan julle besluit om elkeen jul eie kerk te verlaat en ’n nuwe te vind waarmee julle albei gelukkig is.”

Die skrywer Timothy Kieswetter meen: “Wanneer dit by veral kerk of godsdienstige verskille kom, raak ons dikwels baie sensitief en verdedigend. Ons glo dat die manier hoe ons God aanbid, die regte en beste manier van aanbidding is. Dit is absoluut onwaar! Selfs in Jesus se tyd het sy volgelinge gestry oor hoe om Hom te aanbid. In Galasiërs 2 lees ons van Paulus wat ander dissipels voorskryf oor die besnydenis en hoe hulle God moet aanbid deur sekere kosse te vermy. Daar is egter nie ’n regte en ’n verkeerde manier nie – solank ons almal deur Jesus Christus gered word.” Timothy meen ook dat daar altyd areas in huwelike sal wees waar ’n paartjie van mekaar sal verskil, maar die doel van die huwelik is om saam, maar ook as individue te groei. ’n Goeie idee, sê hy, is om op ooreenkomste, in plaas van op verskille, te fokus. “Maak ’n lys van dié dinge waaroor julle wel saamstem, soos dat Jesus die Seun van God is, en dat julle in die ewige lewe glo . . .” Hy sê dat hy alle paartjies wat van verskillende kerke af kom, aanraai om die ooreenkomste te vind, en dan, as ’n paartjie, saam ’n nuwe aanbiddingstyl te kweek. Hoe dit ook al sy, dit bly baie belangrik om jou maat nié te veroordeel, sy aanbiddingstyl af te kraak en jou eie aanbiddingstyl bó syne te verhef nie. Voorkeure ten opsigte van aanbidding hang dikwels ook van persoonlikheidstipes af, en dit is nie reg om jou maat te probeer dwing om gemaklik in die raamwerk te voel waar jy veilig voel nie. Julle is albei Christene, en dít is die heel belangrikste. Maak die beste besluit om julle as paartjie te pas en tot harmonie in jul huwelik by te dra.