Jou lewe verander ingrypend en onherroeplik – met geen agterdeur nie. Klink dit dalk effe oordadig – miskien selfs intimiderend? Dan is ek bly!
Hoe dan nou? Jy het gedink ons praat van die heerlikheid van verloof-wees met die oog op jul wonderlike huweliksreis wat voorlê? Natuurlik, uiteraard. Maar saam met dit wil ek jul ook graag aanmoedig, as ek mag, om julself geestelike weerbaar voor te berei vir die enorme verandering wat voorlê. Telkens, wanneer ek en my Elize, die voorreg het om jong verloofdes te bedien rondom hul voorbereidingspad na die huwelik, word ek herrinner aan wat Louis Malherbe destyds gesê het; ‘As jy ‘n plan B het, klim eerder nou uit die kar!’

Louis Malherbe was een van daardie toegewyde, radikale manne van God, wat ‘n ware vader-hart gehad het. Van wat ek verstaan, sou hy dikwels, wanneer die geleentheid hom voordoen, jong bruide na hul troudag toe aanry, en dan die voertuig onderweg na die groot geleentheid stop. Wanneer die bruid dan sou vra wat fout is, sou hy die vraag stel: ”Wat gaan jy doen as die huwelik nie uitwerk nie? Het jy ‘n plan ‘B’??

Waarna hy dan op grond van die bruid se antwoord, óf sou aanbeweeg na die troue toe, of indien sy sou antwoord, dat sy ‘n plan ‘B’ het, haar dan aanmoedig dat hul eerder die voertuig omdraai, huis toe gaan, en sy uit die kar uit klim.

Juis daarom moet iemand die moeilike vraag vra:

Het jy ‘n plan B? Wat gaan jy maak as die huwelik dalk nie sou uitwerk nie?

Jou antwoord daarop sal hoofsaaklik bepalend wees tot hoe radikaal jy bereid is om veranderinge in jou lewe te omhels en toe te laat, want so heerlik as wat die huwelik is – en dit is ‘n groot heerlikheid – verg dit groot verandering. Ons ‘natuurlike’ neiging as mense, is om verandering teen te staan, want die status quo is tog net te gemaklik!

Indien jou antwoord is dat jy bereid sou wees om te doen wat nodig is om die huwelik te maak werk, en dat daar geen agterdeur is nie (want dit is mos immers ‘n verbond wat gesmee word) wil ek jou gelukwens! Nie net omrede jy die regte antwoord gee nie, maar omrede jy iets openbaar van ‘n vasberade toewyding aan die Waarheid!

Die Waarheid van God se Woord wat sê dat Hy julle van die begin af as een gemaak het voor Hom.

Die Waarheid dat daardie eenheid voor Hom heilig is, en dat dit wat Hy saamvoeg, nie geskei mag word nie. Die Waarheid wat sê dat julle méér as oorwinnaars is, en gaan wees, in jul huwelik, want julle kies God en Sy Woord, en Sy lewe, wat jul bekragtig, begunstig en bevestig in Sy liefde.

Hoe hou ons by Plan A?

Soos julle my dalk al mag ken teen die tyd, is ek vas en heilig oortuig dat die Woord van God die bloudruk vir ons lewens is, en al die antwoorde op ons vrae bevat.

Dawid skryf soos volg in Psalm 1:1-3:

“Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.”

Hierin lê vir ons twee eenvoudige sleutels tot sukses opgesluit:

– Moenie die raad van goddeloses, sondaard of ligsinniges volg nie. Watter raad luister ons na? Is dit goddelike raad, of die van die hoofstroom media? Wie of wat beïnvloed jou lewe en jou huwelik? God se Woord, en sy goddelikes, bevat werklik die antwoorde wat jy benodig om ‘n gesonde, heerlike en geseënde huwelik te lei.

– Oordink God se Woord dag en nag en vind jou vreugde daarin. Hoe doen ek dit?
Eenvoudig deur dit te lees, daarna te luister (preke, potgooie, selfs ‘Praise & Worship’ musiek, ens.) en daaroor na te dink. Hoe ook al jy die Woord inkry, kry dit net in jou in – hoe meer, hoe beter! Dan, sê die Woord, sal jy – dit is, jou lewe, en jou huwelik, wees soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is; geen meer droë riviere nie! Jy sal op die regte tyd vrugte dra en jou blare – jy, jou lewe, en jou huwelik – sal nie verdroog, of opdroog nie!

En, jy sál voorspoedig wees, in alles wat jy aanpak…dus moet die Plan A werk!

Bly gefokus op die Een wat jou aanmekaar gesit het en wat presies weet hoe jy jou lewe en huwelik moet lei.

Hy het vir jou, jou verlowing, en jou huwelik, ‘n handleiding beskikbaar gestel om jou te help om op koers te bly en binne Sy Plan A vir jou lewe te bly. Verdiep jouself in Hom en Sy Woord, en jy sal vind hoe dit jou tot ‘n lewe van uitermatige seën en voorspoed lei.

Artikel deur Charles van Onselen