Net so belangrik as wat dit is om jou huwelik teen elemente soos tyd-diewe, bitterheid, internet, onvergewensgesindheid, verslawing en verveling te beskerm, so nodig is dit om jou huwelik ook teen sekere individue te beskerm. En nee, dis nie altyd die sekretaresse met die rooi lipstiffie nie…

Karien en Jacob was sewe jaar getroud toe hulle een Desember só baie baklei het dat hulle hulle goed van hul vakansie in Bettiesbaai gepak en die pad terug huis toe gevat het. Kort daarna het hulle ‘n berader gaan sien. Ja, die rusies het elke Desember-vakansie plaas gevind, en ja… elke keer was die onderwerpe min of meer eenders.

Die terapeut het gou vir hulle die waarheid uitgewys. Dit was nie Desembers wat die vyand was nie. Dit het ook nie iets met Bettiesbaai se water te doen gehad nie. Die eintlike sondebokke was Jacob se ouers, saam met wie hulle elke jaar in Bettiesbaai hul vakansie deurgebring het. En nee, dit was nie asof Karien se skoonouers slegte mense was nie – indeendeel. Dit was bloot die dinamiek tussen hulle wat verander het ná ‘n week in hul ouers se geselskap.

Die terapeut het uitgelig dat albei Karien en Jacob stresvolle beroepe het en miskien eerder dié tyd moet gebruik om alleen in Desembers te ontlaai – of minstens ‘n paar dae op hul eie deur te bring, vóór hulle die tyd met Jacob se ouers deel. Sou hulle elke jaar voortgaan met hul normale vakansieplanne, kon dit kort-voor-lank hul huwelik se tol eis.

Die giftige rolspelers in jou huwelik

‘n Mens dink dikwels dat sekere mense giftig is vir jou verhouding, maar eintlik is dit meer die mense se gedrag of die verhouding met hulle wat giftig is, meen Meygan Caston, mede-eienaar van die blog Marrriage 365. Om in die geselskap van so ‘n persoon te wees, kan dreinerend wees en soms selfs die gesondheid van jou huwelik bedreig.

Volgens Meygan is ‘n paar voorbeelde van giftige rolspelers in jou huwelik die volgende:
• Lorrainne, die Leuenaar wat oor alles jok en baie tyd daaraan bestee om haar leuens toe te vee… sy is iemand waarop jy nie kan staatmaak nie. So ‘n persoon kan byvoorbeeld vir jou maat leuens oor jou optower, waarteen jy jouself heeltyd moet verdedig.
• Sandra Skinderbek is die persoon wat heeldag skinder – sy hou van drama en bespreek voortdurend ander mense. Sy is op haar gelukkigste as sy ‘n vuurtjie kan stook en ‘n rusie tussen jou en jou maat kan ontketen.
Daar is die Wisselvalliges Willems. Dit is hulle rondom wie jy voel jy op eiers moet loop, want hul hoogtes is wonderlik en dis heerlik om in hul geselskap te wees met dié tye, maar hul laagtes is donker en diep, en maak jy een fout, tuimel die wêreld inmekaar!
• Negatiewe Nita word beskou as die persoon wat altyd iets kry om oor te kla. By haar is die glas altyd leeg en sy fokus op die negatiewe eienskappe van almal om haar. Sy vertel julle heeldag hoe hoog die skeisyfer is en dat die huwelik eintlik nie die moeite werd is nie.
• Bettie Beter wil almal om haar laat verstaan: Been there, done that! Met elke spesiale belewenis wat jy en jou maat opgewonde deel, bederf sy die oomblik deur haar eie (beter) belewenis op te haal.
• Ollie, die Onsekere het voortdurend bevestiging, liefde en aandag nodig en so iemand kan baie dreinerend wees vir die mense rondom hulle. Dit is die ou wat dit persoonlik opneem as jy hom nie elke liewe dag bel en hom oral heen nooi nie. Gesprekke draai rondom hom en wat hy al bereik het.

‘n Sosiale verhouding is ‘n gesonde verhouding, maar…

Ja, soms is die teenwoordigheid van ander partye in jou huwelik ‘n probleem. Partymaal omdat die ander party bloot giftig of gevaarlik is vir jul huwelik se gesondheid (soos die persoonlikhede wat ons hierbo gelys het), en ander kere omdat die ander (dikwels skadelose party) se teenwoordigheid in dáárdie stadium van jul huwelik nie iets is wat julle nodig het nie.

Dink byvoorbeeld aan die volgende scenario: Julle sukkel om swanger te raak en jou vriendin (wat regtig net goed bedoel) deel graag raad uit. Sy het pas geboorte geskenk aan ‘n drieling. Wanneer julle saam kuier, is dit ál waaroor hulle praat (dis te verstane) en as jy weer hoor van die kruiemiddel wat sy glo haar swanger gemaak het (asof manlief nie juis veel daarmee te doen gehad het nie), gaan jy van frustrasie gil! Jy en jou maat is immers by die beste fertiliteitsdokter in Gauteng en jy is séker sy mediese kennis strek wyer as hare.

Terug by die huis is jy woedend. Jou man sê jy moet jou nie aan haar steur nie… jy voel hy kies haar kant en ‘n groot rusie breek los. Vir die soveelste keer! Sy bedoel net goed en vir iemand anders kan haar ondersteuning die wêreld se goed bied, maar dis nie wat julle nou nodig het nie.

Wanneer die lewe bloot gebeur…

Soms is dit nie die persone in jou lewe wat giftig is nie, maar jul prioriteitsbestuur wat moeilikheid maak. Gedurende die eerste paar jaar van jou verhouding met jou maat, bestee julle baie tyd saam. Julle gesels lang aande om en deel jul diepste vreugdes en hartseer. Daar heers ‘n nabyheid tussen julle wat onge-ewenaar is. Maar soos die verhouding ontwikkel, begin ander mense ‘n rol in jul huwelik speel. Kinders, kollegas, vriende, skoonfamilie …

En voor jy jou oë uitvee, draai jul verhouding meer om ander mense en dinge as om mekaar. Jy vind dat jou maat áltyd sy ouers se kant kies. Hy ervaar dat jy soveel tyd en aandag aan jul eersteling bestee, dat daar skielik nie meer vir hom plek is nie. Jy gesels met jou beste vriendin oor jul huweliksprobleme – in plaas van met jou maat, die een wat dit eintlik moet hoor. En siedaar – ‘n liefdesdriehoek (sonder dat jy eers daarvan bewus is)! Die derde party ontvang wat eintlik jou maat s’n is.

Skielik is daar ‘n leegheid – of konflik – waarop julle onvoorbereid is. Alles omdat die buitewêreld inbreuk maak. Hoekom? Omdat julle nie jul huwelik goed genoeg beskerm het en voorbereid was vir dit wat die lewe na jul kant toe gegooi het nie.

Op die webtuiste www.cs.cornell.edu word dit só omskryf: “Ons mag glo dat, so lank ons nie uit ons huwelike breek nie, niks slegs dit kan binnetree nie. Maar dit is nie so nie. Daar is baie dinge in die wêreld wat vir ons liefde meeding en soms is hierdie kragte so sterk dat dit tussen ons en ons maats tree en die verhouding vernietig.”

Bestuur jul verhoudings slim

Dis nie nodig om sekere mense in sekere stadiums van jou lewe te vermy of uit jou lewe te skakel nie (hoewel dit soms is!), maar deur bewus te wees van die gevaarlike/giftige rol wat hulle (dikwels onwetend) op daardie oomblik in jul lewens speel, kan julle die tyd saam met hulle beter bestuur en julself beskerm teen moontlike konflik wat daaruit kan voortspruit.

Hierdie soort rolspelers vra dikwels nie vir ‘n uitnodiging nie, hulle tree jou huwelik binne op ‘n baie natuurlike manier. Só word ‘n gas baie maklik ‘n indringer in ‘n huwelik. En soms is indringers ‘n teken van ‘n dieperliggende probleem in die huwelik. En dikwels gebeur dit wanneer daar wél onderliggende probleme heers. Die indringers was dalk nog altyd daar, maar jy is nou meer gewillig om toe te laat dat hulle tussen jou en jou maat tree. As ‘n huwelik konflik of seer beleef, is ‘n mens geneig om ontvlugting te soek in ander mense en dinge, want dit is minder pynlik as die probleme wat jy daagliks by die huis beleef. Ongelukkig vul dit net tydelik die vakuum en los dit nooit die probleem op nie.

So, hoe maak jy?

Een van die belangrikste vaardighede wat julle as ‘n paartjie reeds voortydig in jul huwelik kan aanleer is om soms ‘nee’ te sê. Julle moet moontlike gevaartekens kan raaksien en goeie, gebalanseerde grense daar kan stel vóór so iets tussen julle en jul maats kom. Vóór die rolspelers hulself só sterk vestig dat jy hulle nie meer kan afweer nie.

• As ander mense aanhou moeilikheid maak in jul huwelik, kyk eerlik na die gesondheid van jul verhouding. Is die konflik net ‘n simptoom van ‘n onderliggende probleem?
• Beperk die tyd wat jy in die geselskap van giftige mense bestee.
• Wees versigtig oor watter inligting jy met hierdie mense deel en moenie teenoor onveilige mense oor jou huwelik oopmaak nie.
• Konfronteer ‘n giftige persoon oor die gedrag wat hy/sy openbaar, maar wees versigtig om nie veroordelend oor te kom nie.
• Wees hardwerkend en pligsgetrou, maar ken ook jou waarde, sodat jy die selfvertroue het om perke te stel wanneer jou baas onredelike werks-eise stel wat jou huwelik kan bedreig.
• Sê nee dankie vir ‘n uitnodiging van vriende as jy weet julle het eerder daardie tyd saam nodig.
• Leer jul kinders perke, sodat hulle ook julle tyd saam respekteer en genoeg selfstandigheid kweek om soms tyd alleen of met hul sibbe deur te bring, sodat jyen jou maat ‘n welverdiende en nodige grootmens gesprek kan he.
• Eer jul ouers, maar behou die vrymoedigheid om nee te sê wanneer hulle ontydig wil besoek aflê of inmeng sover dit byvoorbeeld jul kinders se dissipline aangaan.

Dis belangrik dat die buitewêreld weet dat jou maat jou top prioriteit is. Dit is immers ‘n opdrag van God en Mattheus 19:6 sê dat julle nou één is en nie geskei mag word nie. Beskerm jou huwelik met alles wat jy het.

Artikel deur Annelize Steyn