Ek onthou my en Isabel se eerste soen nog baie goed. Dit was mooi, lekker en het ’n gevoel in my wakker gemaak wat ek nooit sal vergeet nie. Wanneer die wonder van die liefde met ’n mens gebeur, is daar nie juis woorde om dit te beskryf nie. Ware liefde tref baie diep en laat jou snak na jou asem.

Wanneer toewyding en keuse die euforie van gevoel en romanse ontmoet, gaan die vuurwerke van die siel af en smaak ons die vreugde van aardse liefde soos God dit beplan het. Na 20 jaar se vriendskap het daardie eerste soen hierdie vreugdesvuur in my kom aansteek. Maar soos met enige vuur, moet ’n mens dit bly stook – anders bly daar net rook oor.

’n Man en ’n vrou is nou maar eenmaal verskillend aanmekaar gesit. ’n Kort tydjie in die huwelik saam en ’n mens kom dit baie gou agter. Mans is veral nie so goed op die gebied van romanse nie.

Dalk kry die Italianers dit beter reg, maar die meeste van ons ou boertjies is gemakliker met die aansteek van ’n Bosveldvuur as die liefdesvuur. Tog is daar hoop vir ons manne suid van die Sahara en dit lê in daardie ou bekende woord – kommunikasie.

In my huwelik moes ek leer hoe om Isabel se hartstaal te verstaan en daarop te antwoord. Soms mis ek dit, maar met tyd en ’n goeie paar ore het ek al verbeter. Ek moes aan die begin vir haar vra wat vir haar lekker is en wat sy as romanties ervaar. Soos enige goeie, geheimsinnige vrou het sy nie al die antwoorde uitgelap nie en moes ek self my speurdershoedjie opsit.

Mettertyd het ek geleer dat my vrou se “romanse-meter” oopgedraai word as ons gehaltetyd saam spandeer – wanneer ons kan gesels oor alles en nog wat. En wanneer ek vir haar sê dat ek haar lief het.

Almal se vrouens verskil, maar die kuns lê daarin om jou eie vrou se hartstaal te leer ken. Daarom moet ons kreatief wees en nuwe dinge uitprobeer. En dan vreeslik belangrik: Hou haar reaksie dop! Só leer jy haar behoeftes ken.

Dit is ook nie altyd nodig om die grootste bos blomme te koop of haar op die duurste vakansie te neem nie. Ek het al “blomme” via ’n SMS (’n foto van haar gunsteling soort) vir haar gestuur met ’n spesiale boodskappie onderaan. Ander kere is dit net die verrassing om by haar werk op te daag met ’n cappuccino in die hand. Miskien is dit om haar voor ander mense te komplimenteer.

Wat ook al vir julle werk, kyk en leer wat daardie vuur aan die brand hou. En pasop: Romanse en intimiteit hoef ook nie altyd hand aan hand te loop nie. Vrouens is baie skerp. Hulle kan vinnig snuf in die neus kry as ons iets romanties doen met net één doel voor oë! Sy is meer werd as dit. Laat haar dit verstaan. Wie weet, dalk is dit juis dán wanneer die vuur weer gestook word en die vlamme hoog brand!

Artikel deur Retief Burger