Jy wik en weeg. Julle ken mekaar al vier jaar, julle is albei Christene wat jul huwelik wil laat werk, en daar is nog sóveel op jou to-do lysie, dat daar nie regtig tyd vir enigiets anders is nie. Boonop is jou aanstaande nie regtig optimisties oor die idee nie…

Daar word gesê dat ’n mens jou oë wyd oop moet hou vóór jou troue, maar dat ’n mens hulle ná die tyd liefs half toe moet hou. Om aan die standaard wat 1 Korintiërs 13:4-7 voorhou, te voldoen, moet jy regtig hard aan jou huwelik werk, en om hierdie harde werk lekker te maak, moet jy seker maak dat jy die regte maat kies.

Wel, jy staan op die vooraand van jou huwelik en jy glo jy het die regte ou gekies, ten spyte van sy vreemde humorsin (wat jy soms nie verstaan nie!) en sy aaklige gewoonte om kaalvoet supermark toe te gaan.

Hoekom het jy voorhuwelikse berading nodig? Hoekom is dit so belangrik om dit by ’n Christen-leraar te ontvang?

Voorhuwelikse berading kan jou huwelik red en voorkom dat jy met ’n algehele vreemdeling trou! Jy dink dalk dat jy alles van jou maat af weet, maar weet jy regtig? Miskien is jy goed bewus van die feit dat sy gunstelingkleur khaki is en dat hy lief vir ribbetjies en kapokaartappels is, maar weet jy dat hy ook van plan is om eendag jul kinders met die plathand te dissiplineer?

Jy weet dalk hy hou daarvan dat jy mooi moet aantrek, maar besef jy dat hy voel ’n vrou is ’n ‘besitting’ en dat hy jou nie graag ná die troue in skinny jeans en stilleto’s sal wil sien nie, maar eerder met ’n voorskoot en Crocs, besig om daardie einste ribbetjies voor te berei?

Die tipiese paartjie bestee baie tyd aan gesprekke. Tog ken hulle mekaar nie so goed as wat hulle dink hulle ken mekaar nie. Die rede hiervoor is dat ’n verhouding waar ’n paartjie met mekaar uitgaan, ontwerp is om inligting weg te steek en nie te openbaar nie. Elke maat sit sy/haar beste voetjie voor en steek daardie dinge weg waaroor hulle skaam is. “Gevolglik tree die bruid en bruidegom dikwels in ’n huwelik met ’n wye reeks persoonlike aannames oor die lewe ná die troue. Dan ontstaan daar ’n paar weke later groot konflikkwessies as hulle ontdek dat hulle radikaal verskillende sienings oor nie-onderhandelbare kwessies het. Die teelaarde is dan vir argumente en seergemaakte gevoelens geskep wat nooit gedurende die uitgaanperiode geantisipeer is nie,” verduidelik dr James Dobson in sy boek, Complete Marriage and Family Home Reference Guide. Hy self glo daarom sterk in die waarde van soliede, Bybelse, voorhuwelikse berading.

’n Skrywer en professor aan die Departement Antieke Tale by die Universiteit van Pretoria, meen dat voorhuwelikse berading uiters noodsaaklik is, aangesien dit ’n mens proaktief laat optree. Eerstens voorkom dit ontnugtering in die huwelik.

“Voor die huwelik het albei partye soveel drome vir die huwelik en die saamwees, en wanneer daar dan later haakplekke opduik, is hulle geweldig teleurgesteld en dink hulle maklik dat hulle ’n verkeerde keuse gemaak het. Dit gebeur te dikwels dat wanneer paartjies ná die huwelik om hulp kom aanklop, daar al soveel skade aan mekaar gedoen is, dat die pad na herstel lank is – en die skade soms onherstelbaar,” verduidelik hy.

Daar is niks daarmee verkeerd om ’n sielkundige, sosiale werker of psigiater vir voorhuwelikse terapie te raadpleeg nie – om die waarheid te sê, dit word sterk aanbeveel, aangesien baie kerke soms net ses sessies se voorhuwelikse berading aanbied. Dit is boonop dikwels in groepsessies. Christelike berading gee egter ’n dimensie aan berading wat sekulêre terapie nie noodwendig doen nie.

In die artikel, Why recieve Christian Premarital Councilling, op die webtuiste www.articlesbase.com skryf die outeur dat dinge ses maande na die huwelik ’n bietjie anders as voorheen begin lyk. Eensklaps kry jy nie meer soveel aandag soos voorheen nie, of jy begin aan ’n gesin dink, maar Manlief is nie naastenby gereed nie. Skielik is daar probleme in jul verhouding en jy wonder of julle nie ’n fout gemaak het om te trou nie!

Die huwelik is ’n uitdaging en ’n avontuur wat baie vervullend kan wees as dit deur toewyding en liefde gekenmerk word, maar dit is ook belangrik om te onthou dat dit die samevoeging van twee individue is wat uit verskillende gesinne kom, elk met hul eie verwagtinge betreffende die huwelik. Albei is deur die ervarings in hul huisgesinne beïnvloed, en as gevolg hiervan het elk vooropgestelde idees oor geldbestuur, konflikhantering, en wat dit beteken om iemand lief te hê.

Tans eindig die helfte van alle eerste huwelike in egskeiding, maar diegene wat voorhuwelikse berading gehad het, het ’n groter kans om hul huwelike te laat slaag as diégene wat geen voorbereiding vir die huwelik gehad het nie. Hoekom?

Christelike huweliksberading bevat die gom wat vir jou aandui hoe om dinge soos finansies, kinders grootmaak en kommunikasieprobleme te hanteer. Dit het ’n grondslag wat vir paartjies die waarheid van die huwelik volgens God se Woord – die Bybel, leer. Christelike, voorhuwelikse berading het Goddelike bedoelings wat ’n paartjie vir ’n huwelik van opofferende liefde vir mekaar voorberei. Jesus word ’n integrale vennoot in hul huwelik.

Voorhuwelikse berading kan verskeie probleme uitskakel. Elke verloofde paartjie, selfs dié wat lyk of hulle vir mekaar bedoel is, moet aan ses tot tien sessies met ’n opgeleide persoon wat hulle vir die huwelik voorberei, deelneem. Die hoofdoel hiervan is om aannames te identifiseer en die paartjie te help om deur die areas van potensiële konflik te werk.

Selfs kerkleiers het voorhuwelikse berading nodig. Sommige kerke vereis dit nie, aangesien hulle weet dat die leiers op die hoogte van Christenskap is, maar die egskeidingsyfer vir Christene is bykans dieselfde as vir nie-Christen huwelike.

Sekere temas wat in voorhuwelikse berading bespreek word, is die verhouding met skoonouers, hoe om saam ’n begroting op te stel, persoonlikheidsverskille, goeie kommunikasie en konflikoplossing.

Dit is ’n prettige ervaring en  lei weer tot dieper en interessante gesprekke. Jy dink miskien jy ken jou maat goed, maar mense word selfs na twintig jaar steeds deur sekere karaktereienskappe van hul maats ontnugter. Verliefdheid veroorsaak dat jy ’n sekere hormoon afskei wat jou ‘blind’ vir jou geliefde se foute maak.

Daar is foute wat jy dalk onvoorwaardelik aanvaar – dit is wonderlik, maar daar is ook ander foute wat dringende aandag verg. Miskien het jy en jou maat nog nie oor jou rol gesels sodra daar kinders gebore word nie. Verwag hy van jou om ’n voltydse ma te wees, of gaan hy van jou verwag om te werk (terwyl jy eerder kinders sou wou grootmaak). Kwessies soos dié is belangrik om te bespreek en baie hiervan kom gedurende voorhuwelikse berading na vore.

Ander vrae sluit die volgende in: Waar gaan julle na jul troue woon? Gaan jy aanhou werk? Beplan julle kinders? Hoeveel, wanneer en hoe ver uit mekaar? Watter kerk gaan julle bywoon? Hoe sal julle rolle verskil? Hoe gaan julle Kersfeeste deurbring? Hoe voel julle oor krediet? Hoe gaan julle vriende hanteer wat nie met mekaar oor die weg kom nie?

Geena (26) van Midrand, sê dat hulle voorhuwelikse berading ontvang het. Kwessies soos finansies, die vyf liefdestale, konflikhantering, hoe om jou maat te hanteer en intimiteitskwessies is onder die loep geneem. Vir haar was dit waardevol. “Dit berei jou vir die getroude lewe voor en verskaf riglyne hoe om konfliksituasies te hanteer. Dit laat jou aan dinge dink waaraan jy miskien nooit voorheen gedink het nie – soos wie die huishouding gaan bestuur en wie vir die finansies verantwoordelik gaan wees…”

Ook Charlene (31) van Klerksdorp, sê haar en Mark (32) se verhouding het voordeel uit voorhuwelikse berading getrek. Hulle het ook ’n seminaar vir verloofde paartjies bygewoon. Die volgende kwessies is hanteer: die los-en-klou-proses, seks binne die huwelik, fases van die huwelik, hoe om konflik te hanteer en nog meer. “Dit het ons op kwessies help voorberei wat later in ons huwelik kan ontstaan. Ons kon vooraf besluit wat om in sulke situasies te doen en om moontlike oplossings te bespreek.” Sy glo dit is definitief vir enige paartjie noodsaaklik.

“Veral omdat jy berading doen met mense wat al vir ’n geruime tyd getroud is en mense wat dieselfde waardesisteem as jy het. Dit help in dié sin dat hulle jou kan vertel van situasies wat kan voorkom, en dat hulle jou toelaat om hul reaksies hierop te bespreek. Dit berei jou voor op dit wat voorlê.”

Die meeste paartjies stap toe-oë in die huwelik in. Enersyds is dit miskien goed, want as hulle werklik geweet het waarvoor hulle hul inlaat, het hulle nooit daardie kans gewaag nie, en het hulle vir ewig op die rak bly sit! Dit is ook nie altyd goed om jou ore uit te leen nie, want elke Jan Rap en sy maat het raad as dit by die huwelik kom (dikwels het dié met die ongelukkigste huwelike die heel meeste raad!)

In sy Focus on the Family-artikel, Preparing for Marriage, skryf Louis McBurney: … “as jy beplan om te trou, is die kanse goed dat iemand jou al gevra het: ‘Weet jy regtig wat jy doen?’ Wel, ek gaan jou nie vra nie, want ek is reeds seker dat jy nie weet nie. Nou probeer ek jou nie afsit nie, maar ek het genoeg verloofde en getroude paartjies beraad om te besef dat jy eenvoudig nie kan weet wat dit alles behels nie.”

Hy skryf verder: Jy het geen idee van die moontlikhede van ware geluk en heelheid wat jy in die huwelik kan ervaar nie. Net om ’n sonsondergang saam te aanskou, in die woud te stap of na jul gunstelingliedjie te luister, sal nuwe betekenis aannneem.

“Daar is egter ook gevare hierby betrokke,” waarsku hy. “Soos dat daar elke jaar meer as twee miljoen paartjies skei (en een miljoen kinders hierby betrokke is). Die hoeveelheid mense wat drie of meer keer getroud is, het oor die afgelope twintig jaar van vier persent tot agt persent gestyg. Kinders van geskeide ouers, veral vroue, het ’n groter kans om te skei as kinders uit gelukkige gesinne.”

Hennie sê: “Dit is goed om uit jou foute te leer, maar paartjies kan gerus eerder uit ander se foute leer as uit hul eie. Gaan dus vir huweliksberading en leer betyds vaardighede aan om kopstampe te hanteer.”

Addisionele bronne: http://www.troubledwith.com, http://www.allaboutlifechallenges.org/christian-premarital-counseling-faq.htm