Onthou jy nog jou hoërskool-atletiekdae? Interhoër? ’n Hele dag in die son met bye wat zoem om jou koeldrank en roomys. Die dirigente wat jou laat “Maaaango, mango!” sing. Die hoogtepunt – altyd die aflosse wanneer jy jou stem behoorlik hees skreeu en met elke aangee van daardie stokkie tog net bid dat hulle sal raakvat. Goeie herinneringe van rooi gebrande gesigte, taai hande en die outjie wat jy dink nogal oulik is én so goed kan hardloop!

Só beleef ek en my sussie toe weer interhoër vanjaar. Ons kinders is uiteindelik saam in die hoërskool – ons alma mater! Myne in graad 11 en hare in graad 8. Ons spreek af om die middag Pilditch toe te gaan sodat ons die 400m, 3 000m en aflosse kan sien. Op pad soontoe pak ek ons sak – Woolies-piekniek, beursie, tissues, selfoon, lipstiffie en (dankie tog) ’n buisie waterless hand cleaner. Voorwaar slaggereed vir die middag langs die veld.

Die atletiek is ’n fees. Ons skreeu vir die Klofies en elke ander kind wat mooi hardloop. Rekords spat met die 3 000m. Mense is op hul voete, kinders wat hul álles gee, atletiek op sy beste. Die kinders is nooit stil nie, dirigente ruil skole en daag mekaar uit met: “We’ve got the spirit, yes we do, we’ve got the spirit, how about you?” Ek voel sommer jare jonger!

Ná ’n heerlike dag wag ons vir die kinders by die groot hek. Hulle is geweldig dankbaar om nie met die bus terug te hoef ry nie. Bus ry terug skool toe, ná ’n dag in die son, is net lekker as jou skool gewen het (anders wil jy maar eerder net gaan stort). Ek onthou gelukkig, terwyl ons wag, van die hand cleaner en spuit ruimskoots in my en my sus se hande. Ons vryf en vryf, maar dis ’n taaierige, gladde spul. “Myne wil nie verdwyn nie, dis taai,” sê sy. Ek haal tissues uit en vee af. Dit werk nie. Ons gebruik drinkwater en was ons hande skoon. “Nee wat, die goed is simpel, ek gooi dit dadelik by die huis weg,” sê ek beslis.

Die volgende aand braai ons by my sussie-hulle en op pad soontoe besef ek ek het nie ’n klein geskenkie vir haar gevat om dankie te sê nie. Amper in dieselfde gedagte onthou ek die hand cleaner is nog in my handsak. Ek begin al aan ’n slim briefie dink: “I’ll always stick to you” of só ietsie skerp. Ek weet sy gaan lekker lag. En soos ek dink, lees ek op die buisie: “Medical lubricant.” Ek kliek niks. “Medical” nogal, dink ek. En dis sulke simpel goed.

En skielik tref dit my tussen die oë! L-U-B-R-I-C-A-N-T!!! Ek bars kliphard uit van die lag. “Wat?” vra Nico nuuskierig en ek verduidelik so tussen die lag deur. Hy lag ewe lekker saam! En toe ons ons asems terugkry, sê hy ewe ernstig: “Hmf, my skat, lube on hand . . . nie sleg nie, hoor!”

Ek het êrens self die stokkie laat val in hierdie aflos . . . dit moes die gladde hande wees!