Nádat hy die derde huweliksherdenking in ʼn ry vergeet het, staan hy definitief nie vóór in die ry wat spesiale behandeling betref nie! Die bossie krisante wat hy by die straatverkoper om die hoek van die huis gekoop het om jammer te sê, het net sout in die wond gevryf. Maak jy onnodig ʼn bohaai?

Allermins. As Manlief jul huweliksherdenking vergeet, verdíén hy niks minder as ʼn koue oorlog en ʼn wang-draai van jou kant af nie. Maar is dit regtig die moeite werd om hom te straf? Waarskynlik nie. Die rede is dat hy nie hierdie belangrike datum vergeet omdat hy jóú wil straf nie, maar bloot omdat hy dalk nie gerat is om dit te onthou nie, sal baie sielkundiges jou wysmaak. (Tóg is dit vir hom geen probleem om die datum van ʼn stoute kollega se rampartytjie, of die Bulle se volgende wedstryd te onthou nie … )

Om jou huweliksherdenking te vier, is broodnodig vir jul verhouding, meen kenners. Hulle sê egter ook dat dit nie nét die herdenking van jul troudag is wat julle behoort te vier nie, maar ook jul huwelik — op ʼn gereelde basis. So, as die Adam in jou lewe ʼn selektiewe geheue het, vryf dié artikel so ʼn bietjie onder sy neus!

Wie het huweliksherdenkings uitgevind?

Die woord ‘anniversary‘ is van ʼn Latynse woord afgelei wat ‘jaarliks’ beteken. Jare gelede is dit in Christen-feeste gebruik om heiliges te eer. Herdenkingsvieringe het ook in die Middeleeue begin toe mense hul 25ste en 50ste huweliksjare met feesvieringe herdenk het.

In Duitsland was dit die gebruik vir ʼn man om ʼn silwer krans vir sy vrou ná 25 jaar te gee. Die 50ste huweliksjaar is destyds met ʼn goue krans herdenk en staan vandag steeds as die ‘goue herdenking’ bekend.

ʼn Huweliksherdenking beteken vir verskillende mense verskillende dinge. Vir sommige is dit die perfekte geleentheid om hul onvoorwaardelike liefde en omgee vir mekaar uit te druk, terwyl ander dit as die perfekte ‘dankie sê’-geleentheid beskou. Baie mense wys nie sommer hul liefde nie, en hierdie dag gee aan hulle die kans om hul harte vir 24 uur op die mou te dra.

Hoekom al die bohaai oor ʼn herdenking?

ʼn Huweliksherdenking is ʼn geleentheid om elke jaar daardie vlam weer opnuut aan te steek en julself aan die rede te herinner hoekom julle aanvanklik by mekaar aanklank gevind het. Sommige paartjies gaan weg vir huweliksherdenkings, ander koop groot geskenke vir die gesin of die huis, en daar is paartjies wat getrou by die tradisies van papier, katoen, ensomeer hou.

Hoekom is dit so belangrik om hierdie dag te vier? Want dit is een van die mees innige en spesiale ervaringe wat ʼn paartjie kan hê, iets wat nét hulle kan deel. Dit is ‘n wonderlike manier om vir jou maat te wys dat jou liefde en toewyding steeds sterk groei vanaf die dag toe julle trou aan mekaar belowe het.

Hoekom veroorsaak ʼn huweliksherdenking ʼn mind block by soveel mans?

As dit by huweliksherdenkings kom, is mans óf geneig om dit te vergeet, óf hulle is te lui om dit te onthou óf hulle voel só onbevoeg en benoud dat hulle nie vir jou die perfekte geskenk kan gee nie; daarom verkies hulle liewer om dit te ignoreer.

In die bekende sitkom-reeks, Friends, het Chandler hierdie einste paniek ervaar toe Monica besluit het dat hulle vir mekaar tuisgemaakte herdenking geskenke moes gee!

Dikwels is tyd ook vir paartjies ʼn probleem. In vandag se harwar, gebeur dit dikwels dat ʼn paartjie eers die dag voor die tyd besef dat hul herdenking voorlê, en dan is dit te laat om enige spesiale reëlings te tref. Merk dit dus vooraf in jou dagboek en skryf dit ʼn paar weke voor die tyd ook neer, sodat jy genoeg tyd het om reëlings te tref.

Jou eerste huweliksherdenking

Tradisioneel het die geskenke wat paartjies aan mekaar gegee het in die eerste jare van hul huwelik, uit huishoudelike items bestaan wat hulle gehelp het om saam ‘n nuwe huis te skep. (Dankie tog dat hierdie gebruik ter wille van ʼn goeie sekslewe uitgesterf het, want ʼn broodrooster sal beslis nie vandag jou libido laat opvlam nie!)

Later jare is daar luukse items aan mekaar gegee, ná die paartjie reeds bymekaar gemaak het wat hulle nodig het. Tradisioneel is die sestigste huweliksherdenking met diamante gevier (en was dit tien teen een vir daardie paartjies iets om voor vas te byt — ten spyte van al die frustrasies!) Deesdae beweer té veel mense ongelukkig dat sy irriterende gewoontes nie daardie diamant werd is nie!

ʼn Paar wenke vir daardie eerste herdenking:
1 Gee vir mekaar iets om hierdie herdenking te vier, al glo jy nie in die gebruik nie. As jy tradisioneel wil bly, is daar min dinge so romanties soos ʼn mooi brief of gedig — dit gaan jou niks kos nie, behalwe tyd en kreatiwiteit.
2 Baie paartjies vries die boonste laag van hul troukoek en eet dit op hul eerste huweliksherdenking. As julle nie jul troukoek gevries het nie, kan julle weer ʼn koek bak met dieselfde geur as jul troukoek, en dit met dieselfde tipe blom of suikerwerk versier as wat op jul troukoek was.
3 Geniet weer ʼn dans asof dit jul eerste dans as man en vrou is. Trek jul mooiste klere aan, selfs ook jul trouklere as julle dit steeds het, en dans in jul sitkamer, die tuin, of in die slaapkamer, waar dit ook al gerieflik is. As julle lesse geneem het, kyk of julle ʼn jaar na jul troudag nog die passies kan onthou!
4 Onthou jul groot dag deur na jul trouvideo en -albums te kyk. Maak springmielies, snuggle op die bank en gesels saam oor die dag.
5 Geniet aandete daar waar julle jul onthaal gehad het en bestel iets wat op jul troue se spyskaart was. As julle nie soontoe kan gaan nie, kook iets by die huis wat daardie aand op die spyskaart was.
6 Neem ʼn tweede wittebrood. Keer terug na jul oorspronklike wittebrood bestemming, of kies ʼn ander romantiese plek waar julle hierdie spesiale dag kan deurbring. As julle na jul wittebroodsbestemming terugkeer, kan julle weer al die klein plekkies besoek en dingetjies doen wat julle op jul wittebrood gedoen het. (Julle kan die ‘dingetjies’ op dieselfde plekke doen waar julle dit laas gedoen het!)
7 Hou ʼn partytjie vir die naaste familie en vriende. Vir paartjies wat nooit die geleentheid gehad het om ʼn onthaal te hê nie, of vir paartjies wat weggeloop het om skelm te gaan trou, is dit ʼn goeie manier om ʼn troudag te herdenk.
8 Stel ʼn heildronk op mekaar in. Koop jul gunsteling vonkelwyn of sjampanje, of maak die skemerkelkie wat by jul troue bedien is en stel ʼn heildronk op mekaar in.
9 Hernu jul troubeloftes. Julle kan dit formeel in die teenwoordigheid van ʼn pastoor of ʼn dominee doen. Gaste kan dit bywoon, asof hulle ʼn troue bywoon. Julle kan dit ook privaat hou met net jul naaste vriende en familie.
10 Herleef jul huweliksnag met goeie seks. Dit is ʼn wonderlike manier om jul tweede jaar as man en vrou te begin. Bedek die bed met roosblare, steek die kerse aan en trek die nagrokkie aan wat jy op daardie eerste aand aangehad het.

VIR HOM: As jy in Vroulief se goeie boekies wil bly …

As jy ooit gedink het huweliksherdenkings is deur die een of ander bloemis uitgevind wat ʼn geleentheid raakgesien het, en dat dit ‘overrated‘ is, dink weer, want jy gaan beslis in die sop wees as Vroulief nié saamstem nie.

Hier is vir jou ʼn paar idees om die perfekte herdenking te vier, al is dit net ter wille van die vrou wat elke oggend jou vuil sokkies optel!
• Begin die dag deur voor haar op te staan. Berei ʼn lekker ontbyt voor en bedien dit in die bed. Onthou, wanneer die spek braai, is dit nie die tyd om te ontdek dat daar nie meer eiers in die huis is nie! Vir hierdie plan om te werk, moet jy beplan en al die bestanddele die dag voor jul herdenking koop. Plaas ʼn enkele rooi roos op die skinkbord vir ʼn romantiese effek.
• As jy fluks is, kan jy dié een probeer — soek ʼn aantal mooi foto’s en video’s van jul troue. Maak op Powerpoint ʼn skyfievertoning van hierdie foto’s en laat haar daarna kyk, terwyl julle twee knus in die bed lê.
• Gee vir haar ʼn bos van haar gunsteling blomme. Niks laat ʼn vrou meer spesiaal voel as wanneer haar man haar met ʼn bos wilde, deurmekaar blomme bederf nie. Bestel dit ʼn dag voor die tyd en laat die bloemis dit op jul voorstoep, of by haar werk aflewer. Dit sal vir haar baie spesiaal wees!
• As julle albei lief is vir musiek of vir teater, koop kaartjies vir ʼn goeie vertoning wat op jul herdenking plaasvind. As jy twyfel of sy daarvan gaan hou — ʼn musiekblyspel is altyd ʼn goeie keuse!
• Ontdek nuwe plekke. Natuurlik sal jy volpunte kry as jy haar met ʼn langnaweek in Parys (let wel: Frankryk) bederf, maar as dit nie jou beursie pas nie, wat van Parys, Suid-Afrika? Dit is ʼn romantiese kunstenaarsdorpie met genoeg dinge om te doen. Enige ander, oulike plekkie sal ook vir jou punte besorg.
• Hernu jul troubeloftes. Dit sal egter beteken dat julle geld en tyd hieraan sal moet bestee, en jy sal dalk vir haar hiervan moet vertel. Nooi ʼn paar vriende en familielede wat na aan julle is om teenwoordig te wees en maak dit regtig ʼn spesiale dag.
• Bestee die dag by ʼn spa. Daar is nie ʼn vrou wat ʼn spa-bederf kan weerstaan nie en baie spa’s bied ʼn reeks romantiese pakkette aan. Dikwels sluit dit behandelings soos paartjie-masserings en ʼn lekker ete in. As jy geen idee het hoe om so iets te doen nie, vra haar sussie, of ʼn vriendin om jou met die reëlings te help.
• Moenie ʼn spesiale geskenk vergeet nie. In plaas daarvan om op materiële besittings te fokus, hoekom beplan jy nie ʼn aktiwiteit wat julle twee nog altyd wou doen nie? As Vroulief ʼn adrenalien-junkie is, maak dit dinge soveel makliker. Neem haar vir ʼn warmlugballon rit, witwater roei of valskermspring. Julle sal altyd die herinnering koester en daaroor met jul kleinkinders kan gesels.

VIR HAAR: ‘n Paar ongewone idees …

• Gee vir hom ʼn ‘eerste afspraak’-mandjie, met allerlei dinge wat jul eerste afspraak simboliseer. As julle by ʼn koffiewinkel was, gee vir hom ʼn pakkie koffiebone, ʼn sny koek en ʼn CD met die musiek wat daardie dag gespeel het.
• Soek die dag in die geskiedenis. Jy kan aanlyn die geskiedenis van enige dag navors, so ook dinge soos topflieks, of historiese gebeurtenisse. Maak ʼn lysie van al hierdie dinge (insluitend jul troudag) en laat dit raam, of plaas dit in ʼn scrapbook.
• Skryf jul liefdesverhaal. Julle het waarskynlik ʼn baie unieke liefdesverhaal, en om dit alles in ʼn boek saam te vat, kan ʼn wonderlike manier wees om herinneringe vir komende jare te bewaar. Skryf jou eie storie.
• Herinneringshouer. Die kans is goed dat julle deur die jare allerlei herinneringe van die jare saam bymekaar gemaak het. Plaas alles wat jou aan jul tye saam herinner in ʼn houer. Dit is ʼn wonderlike geskenk wat sal bevestig hoe wonderlik dit is om met jou getroud te wees.

Simbole vir ʼn huweliksherdenking

EERSTE: Vir die eerste herdenking (nogal ʼn antiklimaks op jou blink steentjie as hy nie slim te werk gaan nie), is dit tradisioneel om aan mekaar papier te gee. Moderne tye stel ook horlosies voor. Papier kan ʼn mooi kunswerk, ʼn notaboekie, ʼn fotoalbum, kaartjies en boeke insluit. ʼn Horlosie kan enigiets van ʼn armhorlosie tot ʼn dekoratiewe muurhorlosie wees.

Die regte blom? ʼn Angelier

VYFDE: Vir vyf jaar van getroude lewe is die tradisionele geskenk hout en die moderne geskenk silwerware. As jy hout verkies, kan jy iets soos juwele, poppe, rame en kunswerk gee. Met silwer is die opsies legio.

Die regte blom? ʼn Madeliefie

TIENDE: Diamant juwele word eers op die tiende herdenking gegee. As dit nie jul sakke pas nie, is die tradisionele geskenk tin of aluminium. Dit kan in die vorm van horlosies, koppies, juweel houers en versierings gegee word.

Die regte blom? ʼn Daffodil

TWINTIGSTE: Vir die twintigste herdenking is die perfekte geskenk tradisioneel porselein, en die moderne geskenk platinum. Porselein kan in die vorm van koppies, of mooi kunswerke gegee word, maar geen vrou sê ‘nee dankie’ vir ʼn stelletjie platinum oorbelle nie.

Die regte blom? ʼn Aster

VYF-EN-TWINTIGSTE: As julle so gelukkig is om die vyf en twintigste herdenking te haal, is dit ʼn algemene tendens om silwer en sterlingsilwer in die vorm van silwerware, bakkies, figuurtjies en vase te gee.

Die regte blom? ʼn Iris

DERTIGSTE: Pêrels en diamante is simbolies vir pare wat hul dertigste huweliksherdenking vier en kan maklik in die vorm van juwele gegee word.

Die regte blom? ʼn Lelie

In die jare wat hierop volg, word hoofsaaklik edel- en halfedelgesteentes gegee. Koraal is gewild vir die vyf-en-dertigste huweliksherdenking. Robyne is tradisioneel vir die veertigste, saffiere vir die vyf en veertigste en goud vir die vyftigste. Smarag is vir die vyf en vyftigste herdenking, terwyl diamante die sestigste simboliseer en platinum die sewentigste.

As jy so bevoorreg is om jou tagtigste herdenking te haal, is eikehout die tradisionele geskenk en (behoed my!) as julle lewendig en gesond genoeg is om ʼn tien karaat diamant te waardeer, kan julle dit vir mekaar op jul honderdste huweliks herdenking gee!

Vier jou huwelik … elke dag!

Dit is nie die tradisionele bederf dinge wat ʼn huwelik bymekaar hou nie, maar wel daardie klein, daaglikse gebare wat julle herinner hoekom julle mekaar aanvanklik aantreklik gevind het en wat jul toewyding aan mekaar bevestig.

1 Sê vir hom dat jy hom liefhet
Ons is so geneig om mettertyd in die huwelik te begin kla, maar dit is so belangrik om hardop vir hom te sê hoe ʼn wonderlike ou hy is en hoekom jy in die eerste plek op hom verlief geraak het.

2 Praat oor die toekoms
Alle nuwe paartjies gesels oor die toekoms, maar iewers langs die pad raak dit verlore. Om weer daardie gevoel van antisipasie terug te kry, visualiseer saam die toekoms. Praat oor jul drome, vakansies wat julle saam wil hou en jul droomhuis …

3 Gee ‘net omdat’-geskenke
In plaas daarvan om deur die Valentynsdag-foefie meegesleur te word, gee geskenke op ander dae van die maand, wanneer julle dit die minste verwag.

4 Hou ʼn seks-dagboek
Die paartjies wat dít doen, hou vol dat dit ʼn reuse verskil in hul huwelike maak. ʼn Kunstenaar van Texas vertel dat hulle een keer ʼn heildronk op hul sekslewe ingestel het, op ʼn ongewone plek waar hulle die daad gedoen het. Hulle het begin gesels en elke plek neergeskryf waar hulle al seks gehad het. “Met elke herdenkings-ete, dateer ons daardie lys op, en as die nuwe plekke nie genoeg of opwindend genoeg is nie, daag ons onsself uit om volgende jaar beter te doen. Dit is eenvoudig, maar prettig en dit kry ons sover om ons sekslewe te beplan.”

5 Doen die geluk-uitdaging
Vra jouself af: Wat is die een ding wat ek vandag kan doen om hierdie persoon in my lewe gelukkig te maak? Iets so eenvoudig soos om ʼn koppie koffie vir hom te gee, met net die regte hoeveelheid melk in, of ʼn telefoonoproep om te sê: ‘Ek dink aan jou.’ Klein dingetjies wat hom gewaardeerd en gekoester laat voel, sal hom daaraan herinner hoekom die huwelik lekker is.

6 Stel ʼn heildronk op mekaar in.
Onthou altyd die goeie dinge. Vier alles! Van ʼn werksverhoging, tot ʼn nuwe huis, tot iets so eenvoudig soos jul kind se eerste tand, of ʼn nuwe seisoen.

7 Laat neem professionele foto’s
Belê daarin om elke jaar as paartjie professionele foto’s te laat neem, dit te raam en dit iewers in jul huis te hang. Dit is lekker om te hê, dit laat julle goed voel en dit herinner julle aan hoeveel sakke sout julle saam opgeëet het. Onthou om agter op elke foto die datum te skryf, sodat julle kinders eendag kan sien hoe die foto’s chronologies op mekaar volg.

8 Vermy die gewone onderwerpe
As julle gehaltetyd saam het, moenie die gesprek in sy gewone groef laat verval nie. Vermy onderwerpe soos die werk, of jul kleinding wat nie ertjies wil eet nie. Om regtig te gesels, gee jul verhouding ʼn energie-inspuiting en sal julle help om mekaar te waardeer.

9 Kyk saam na die slapende kinders
Soms, net soms – wanneer julle gelukkig is – lê daar ʼn kroos engeltjies in die kamers langs julle s’n. Stap saggies soontoe en kyk saam na die wonderlike kreatuurtjies wat julle saam verwek het … en weet dat daar tog iets baie spesiaals uit jul verhouding ontstaan het.

10 Plant saam ʼn boom
Sommige paartjies meen dat dit baie bevredigend is om ʼn boom in die agtertuin te plant en te sien hoe dit elke jaar groter en sterker word soos wat die huwelik ouer word. Dit kan selfs ʼn huisplant wees (nogal prakties, aangesien die plant dan saam met julle kan trek wanneer julle die dag verhuis).

11 Moenie by een herdenking hou nie
Julle hoef nie jul huwelik slegs een keer per jaar te vier nie. Voeg nog ʼn dag by op die kalender wat julle as verskoning kan gebruik om vir mekaar iets spesiaals te doen of te gee. Selfs ʼn lekker massering tel! Dit is ook ʼn oulike idee om jul troudag maandeliks te herdenk.

12 Ontmoet mekaar iewers – opgedollie!
Besluit om mekaar iewers, soos by ʼn restaurant of ʼn museum, vir ʼn afspraak te ontmoet. Trek by jou kantoor of die gimnasium aan. Wanneer jy en jou maat mekaar weer in jul kisklere sien, sal julle weer eens besef watter boerpot julle die dag geslaan het toe julle besluit het om met mekaar te trou.

13 Veer die nes
Maak saam jul huis mooi. Koop dinge waarin julle albei belangstel. Versamel byvoorbeeld kuns en raam genoeg foto’s sodat julle herinner kan word aan die passie wat julle deel.

14 Maak vir mekaar notas
Dit is so maklik om verby mekaar te leef, en ʼn paartjie loop dikwels daardie daaglikse spesiale oomblikke mis. Skryf vir mekaar notas in ʼn klein notaboekie, miskien iets ouliks wat die dag gebeur het, of ʼn grappie wat jy bang is jy vergeet om met jou maat te deel. Gee elke aand voor slaaptyd vir mekaar jul notaboekies om te lees. Dit is ook iets kosbaars om vir later jare te bêre.

15 Kry ʼn herdenking spaarbussie
Betaal dwarsdeur die jaar met note en bêre die kleingeld in ʼn herdenking spaarbussie. Kyk die maand vooraf hoeveel julle gespaar het en besluit saam wat julle op jul huweliksherdenking met daardie geld kan doen. Elke keer as jy ʼn munt in die spaarbussie gooi, word jy aan jou huweliksherdenking herinner, en die dag as julle die geld eindelik kan gebruik, voel dit soos ʼn heerlike bederf!

Daar is sekere geleenthede in die lewe wat spesiale aandag verg en jul huweliksherdenking is een hiervan. “Dit is belangrik om fees te vier oor dinge wat ʼn mens bereik en in die lewe koester. Ons behoort eintlik meer dikwels te vier dat ons hard gewerk het, ʼn taai bult geklim het, ʼn taak aangepak het en dit goed gedoen het,” sê Wilmé Steenekamp, mediese dokter, sielkundige terapeut en seksuoloog.

“Om ʼn mens se huweliksdag te vier, simboliseer: ‘Ons het dit aangepak, en kyk, ons is sowaar ʼn jaar verder en wat het ons nie alles langs die pad ervaar, geniet en geleer nie!’ En: ‘Ons koester die tyd wat ons saam bestee het as man en vrou’.”

Maak die dag spesiaal vir jou lewensmaat en laat hom of haar opnuut besef hoekom jy die perfekte lewensmaat is. En probeer om hom nie te kasty as hy weer daarvan vergeet nie … maar sorg dat jy hom góéd beloon as hy wel onthou!

Wat ander mense oor die liefde en huweliksherdenkings kwytgeraak het …

• “Our wedding was many years ago. The celebration continues to this day.” ~ Gene Perret
• “A wedding anniversary is the celebration of love, trust, partnership, tolerance and tenacity. The order varies for any given year.” ~ Paul Sweeney
• “An anniversary is a time to celebrate the joys of today, the memories of yesterday, and the hopes of tomorrow.” ~ Outeur onbekend

Bronne: www.article.wn.com; www.living.oneindia.in; www.newlyweds.about.com; www.memoriesputtomusic.com; www.happy-anniversary.com; www.essortment.com; www.upliftingtrips.com; www.ezinearticles.com; www.articlesbase.com; www.lifestyle.msn.com