Wys my ‘n warmbloedige verloofde in wie se kop die gedagte nog nie opgekom het nie, en ek wys jou ‘n boer wat nie hou van braai nie. Hoe gemaak as die tou baie dun lyk en die versoeking om daaroor te trap, ‘n realiteit is? Een wat harder skree in jou gemoed, as jy wat tot tien (of ‘n honderd) kan tel, voor jy deur ‘n yskoue stort moet spring?

Die realiteit hiervan suis nog in my gemoed asof dit gister was. En dit is ‘n heerlike herinnering – so op ‘n manier – van die ‘pynvolle dissiplinne’ wat ons aan die dag moes lê as jong verloofdes. Daar was ons, twintig jaar terug, dol verlief op mekaar, en ook geanker in ons geloof as passievolle kinders van die Here.

Maar ons passie was nie net beperk tot ons verhouding met Hom nie, desondanks ons vurige liefde vir ons Skepper, het ons ook ‘n hartige en warmbloedige liefde vir mekaar gehad! En so, dank ons die liewe Vader, nog steeds. Die hartstog in ons, as jong verloofdes, in ons hunkering na mekaar, het nie net verdwyn (soos ons gedink het dit sou), weens ons geestelikheid nie!

So, hoe gemaak as dit tog so aanloklik lyk – en voel – om net bietjie verder as ‘n warm soen of drie te gaan? Die Woord is altyd ons anker en ons rots, en wat dit vir ons duidelik maak is dat ons Gees-gedrewe moet lewe, en nee moet sê vir die versoekings wat ons kant toe kom.
Want so skryf Paulus in Galasiërs 5, wanneer hy praat van die Vrug van die Heilige Gees, wat liefde en selfbeheersing insluit.

Nou hoe doen ek dit? Hoe leef ek ‘n konstante lewe van liefde en selfbeheersing? Veral wanneer my verloofde so aanloklik lyk? Wat beteken dit om regtig Gees-gedrewe te leef, en hoe lyk dit?

Jy sien, ons is as gees-wesens uit God geskape, as’t ware, voor die grondlegging van die aarde.God die Vader het ons uit Homself gehaal, en so loop ons met die essensie van Sy Gees in ons binneste rond, vandaar dat die Woord ook praat van ons wat dieselfde Gees as Hy het.

Dit was die Franse Teoloog; Teilhard de Chardin, wat gesê het dat ons nie mense is wat ‘n geestelike ervaring het nie, maar ons is gees-wesens, wat ‘n menslike ervaring het. Die waarheid daarvan maak ons vry om te wees wie God ons gemaak het om te wees.

Die krag daarvan laat ons besef dat ons nie deur ons impulse gelei hoef te word nie, dit is, vleeslike impulse. Nou mag jy dalk sê, ja, Charles…maar jy weet…’n mens is darem ook mos nou nie ‘n klip nie!

En so staan dit ook mos geskrywe in die goeie Boek dat as ‘n mens brand van begeerte, jy eerder moet trou!

Ja, dit is so…dit is hoe Paulus skryf…maar elders skryf hy ook dat dit goed is vir ‘n persoon om ongetroud te bly! So hoe maak ons dan nou?

Om beter te verstaan, kom ons ondersoek, net so bolangs, iets van die konteks waarin Paulus se skrywe aan die gemeente in Korinte, gedoen was. Die tye waarin hy al die voorgemelde (soms oënskynlike teenstrydige advies gee), was geskryf in ‘n tyd van erge onsedelikheid – wat ook maar in ons hedendaagse tye die geval is, is dit nie?

‘n Tyd waarin mense hul vergryp na hul eie, en na ander se liggame…wat – met respek gesê – nie veel anders is as wat diere doen nie.

Waaroor gaan dit dan nou eintlik? Dit gaan daaroor dat God jou geskape het.

Dit gaan daaroor dat Hy jou in Sy gelykenis, dit is in Sy Beeld, geskape het…om te lyk soos Hy lyk, te beweeg soos Hy beweeg, te praat soos Hy praat, en ja, ook lief te hê, soos Hy liefhet. Die almagtige, liefdevolle, ‘leef-vir-‘n-ander’ God, wat Sy lewe en Sy wil neerlê, vir die verlossing van ‘n ander. Hy wat in jou woon. Hy wat Sy lewe in jou wil laat lewe…

Hy vra die vraag aan my, en jou: Sal jy toelaat dat Ek My lewe deur jou leef? Of wil jy net vir jouself en jou begeertes leef?

Die realiteit van die saak is dat ons werklik slegs ons lewens kan vind, wanneer ons dit verloor, vir ‘n ander. Dink daaraan…wat is die groter oorwinning om te behaal?

Is dit beter om in te gee vir my eie selfsugtige (vreeslike), vleeslike, begeertes… of om die maagdelikheid van my verloofde te respekteer, en die karakter van God toe te laat om ware liefde – ware Gods liefde – deur my tot my aanstaande man of vrou te bedien?

Ek wil jou uitdaag om te wag…

Indien jy dalk al so bietjie te vêr gegaan het, lê die durf aan die dag om met jou verloofde te gesels en gesonde grense in plek te sit. Respekteer die huweliksbed vir wat dit bestem is om te wees…die huweliksbed – en nie die verlowingsbed nie. En ek wil amper so ver gaan om te sê: Ek waarborg jou – julle sal jul huweliksaand soeter vind as die soetste vrug as julle die nodige selfbeheersing nou aan die dag lê.

Mag jy, en jou verloofde, opnuut die heerlikheid van God se skoonheid, en die reinheid van Sy Heilige Gees ervaar. Daar is ‘n rede hoekom Sy Gees, wat in jou as gelowige leef, die Heilige Gees genoem word.

Hou jouself en jou verloofde, en jul voorgenome huwelik, in Heiligheid voor Hom. Onthou, God is lief vir jou, en Hy wil net die beste vir jou hê, wat insluit – ‘n wonderlike en heerlike avontuur-gevulde huweliksnag. ‘n Aand waarin jy en jou nuwe huweliksmaat, soveel op die bed kan spring – en mekaar geniet – as wat julle wil!

Artikel deur Charles van Onselen