Jou jongste spruit is pas uit die huis en skielik het jy … týd! Tyd om opnuut saam met Manlief te reis en die wêreld te ontdek. So, waarvoor wag jy? Trek jul avontuurstewels aan en sleep die padkaart nader!

1) Ontdek Suid Afrika …

… op ’n motorfiets. Susan en Leon het onlangs, ná die kinders almal universiteit toe is en hulle naweke eensaam geword het, vir hulle ’n toerfiets aangeskaf en op breakfast runs en kort vakansies in klein dorpies vertrek.

Hulle het nog nooit teruggekyk nie. In Susan se eie woorde: ”Ons is nog lank nie oud nie, maar voel weer bloedjonk en springlewendig en van voor af verlief. Daar is net iets van die wind in jou hare en jou arms om die man wat jy lief het, wat jou laat voel asof die wêreld voor jou ooplê”.

Besoek klein dorpies soos Swellendam in die Weskaap, Cullinan buite Pretoria, Parys in die Vrystaat of Port Alfred aan die Ooskus.

2) Pluk Tulpe in Holland

Tulpe-seisoen in Nederland en België is van Mei tot Augustus elke jaar. In dié tyd word die landskap omgetower tot ’n rooi en geel blommetjieskombers.

Jy en jou man kan dié pragtige tulpe van naby beskou, vanuit ’n boot wat die riviertjies tussen die landerye verken, al die pad van Amsterdam tot Brugge, België.

3) Ry fiets van België tot in Parys

Verbeel jouself jy is Lance Armstrong en gooi jou arms in die lug soos jy onder die L’Arc de Triomphe in Parys deurry. Dié fietstoer neem jou en jou geliefde deur al die geskiedkunstige areas in Parys en België, waar jy alles van naby kan sien.

Julle ry twaalf van die vyftien dae fiets, slaap elke aand op ’n luukse boot, en pak die volgende dag weer vuur en vlam aan.

Volgens Tripsite.com ry jy elke dag nie meer as 30 km nie, en jy het die hele dag om dié afstand af te lê. Dit klink soos ’n briljante rede om weer ywerig ’n bietjie oefening aan te pak …

4) Ontdek nuwe feeste

Skud jou vere reg, plak blinkers op jou oë en dans saam met die res van Brasilië in hul jaarlikse Rio Karnaval.

Dié vier dae lange karnaval beloof om die geleentheid van die jaar te wees, met kleurvolle uitrustings, professionele dansers, vuurblasers en nog baie meer wat vir
vier dae lank die strate invaar.

As die Rio Karnaval’n bietjie waaghalsig is, kan julle ook die Bastille-fees in Parys, Frankryk, of in ons eie Franschhoek gaan bywoon, gaan bier drink by die October Fest (September elke jaar) by die Duitste Skool in Pretoria of self in Munich, Duitsland, of gaan kersies eet by die kersiefees in Ficksburg in November.

5) Ski in die Franse Alpe
Jy en jou geliefde kan die ski-hellings van St. Johann in Oostenryk aanpak en vir twee weke lank leer hoe om behoorlik te ski. Die meerderheid van alle oorde sluit ski-lesse in en jy hoef nie soos ’n wafferse snelskaatser te kan skaats om steeds ’n wonderlike tyd te hê nie.

As julle jul tyd reg bereken, kan julle ook in Kerstyd gaan en die wit Kersfees waarvan Boney M sing, ervaar. (Absoluteski.co.za)

6) Ontdek nuwe ervarings

Dis nou tyd vir julle twee om nader aan mekaar te beweeg, en nuwe ervarings te deel. Praat met jou man oor waar hy wil gaan, en meer belangrik, wat hy daar wil doen– en wees waaghalsig!

Gaan skinny dip saam met hom in die Seinerivier in Frankryk of soen en vroetel aan mekaar in die hysbak na die boonste punt van die Eiffeltoring. Parys is nie verniet die stad van liefde nie …

Gaan verken ou, Europese katedrale en sluip in klein, donker hoekies in vir ’n bietjie passie, of sluit julself in ’n houthuis in die Drakensberge toe vir ’n naweek van pret tussen die lakens.

7) Ontdek nuwe lande …

… op ’n plesierboot. Dit was nog nooit só maklik om vinnig weg te breek nie, juis omdat daar nie jong kinders is om in gedagte te hou nie. Reisagentskappe het dikwels baie goedkoop vakansies wat op die nippertjie beskikbaar gestel word, en nou is die tyd om gebruik te maak van daardie winskopies.

Dikwels is ’n mens moeër ná as vóór die vakansie as gevolg van die druk om vir almal te sorg en seker te maak húlle geniet die wegbreek. Stel jou ook vir ’n slag eerste en sleep vir Manlief saam op ’n luukse bootreis na eksotiese eilande toe.

As die kinders uit die huis trek en hul eie horisonne gaan verken, simboliseer dit nie net die einde van ’n era van streng verantwoordelikheid nie, maar ook die begin van ’n nuwe era van ontdekking. Dis nie te laat om uiteindelik gehoor te gee aan jeukerige voete nie. Jou reis sal jou meer van jouself en jou huwelik leer, en jou terug stuur met ’n tas vol herinneringe!