Die kredietburo is op jou spoor en jou werk is besig met afleggings. Jou pa gaan deur ’n middeljarekrisis en haal sy kredietkaart uit vir aankope soos ’n Hells Angels-leerbaadjie en ’n tatoeëermerk van ’n onbekende blondine op die boud. Dan wil Manlief weet hoekom jy nie op en af spring wanneer hy jou bra-gespe losmaak nie!

Intussen kom kleef die vars, nuwe kilogramme aan jou lyf, jy drink Rescue Drops asof dit kondensmelkkoffie is en die huishulp koes wanneer jy nader kom . . . so ja, ongetwyfeld affekteer stres jou gemoedstoestand. En wanneer laas het jy na jou slaapkamerverslae gekyk? Die kanse is goed dat dinge tans ook nie op horisontale vlak floreer nie . . .

Studies toon dat spanning tot ’n lae seksdrang lei. Daar is verskeie redes hiervoor, meen Elizabeth Scott op die webtuiste www.about.com. Wanneer jy op spanning reageer, gaan jou liggaam deur ’n reeks veranderinge om jou op ’n veg-of-vlugreaksie voor te berei. Een van hierdie veranderinge is die vrystelling van die hormone kortisol en adrenalien. “As jou stresreaksie nie omgekeer word nie, kan dit tot ’n toestand genaamd kroniese stres bydra, wat ook inmeng met die hormone wat jou seksuele reaksie affekteer. Dit kan tot ’n lae libido lei.”

’n Té besige bytjie?

As jy ’n gemiddelde vrou is met ‘multi tasking’ as middelnaam, ken jy teen dié tyd waarskynlik die kuns om ’n huishouding, ouerskap, voltydse werk en eggenootskap te juggle. Om egter gedurig met ander mense en hul dinge besig te wees, lei tot min ek-tyd – dit dreineer enigeen se energie en gevolglik ook jou sekslewe. ’n Vol kalender is gelyk aan ’n besige brein, en dit kan dit vir jou moeilik maak om te ontspan en in die regte luim te kom, en is seks waarskynlik net nóg ’n item op jou to-do lysie!)

Stres in jou verhouding

Studies toon dat spanning in ’n verhouding ’n groter bydrae tot ’n lae libido lewer as enige ander tipe stres. ’n Tekort aan belangstelling by een maat, kan ook tot belangeloosheid by die ander persoon lei. Daar is egter bewys dat positiewe aanraking deur ’n vrou se lewensmaat ’n kalmerende effek op haar kan hê en haar kan help om sterker oor die noodsaaklikheid van seks te voel. As dit egter nié daar is nie, kan dit ’n lae libido nog verder skaad.

Konflik in ’n verhouding kan stres veroorsaak en tot ander omstandighede lei wat tot jou stresvlakke kan bydra en jou stresbuffers kan wegvat; daarom is dit noodsaaklik om verhoudingskwessies ter wille van jou sekslewedeur te werk. Hoë stresvlakke verlaag testosteroonvlakke en selfs die kwaliteit en kwantiteit van ’n man se sperm, meen sommige kenners – so, as jy van plan is om swanger te raak, doen wat jy kan om die stres in jou lewe te verminder.

Wanneer jy stres verplaas

Stres is egter deel van ons alledaagse bestaan. Dalk herken jy dit nie dadelik in jou lewe nie, maar dit tree na vore wanneer jy dit die minste verwag. Jy dink dalk dat jy alles onder beheer het, maar eintlik verplaas jy die stres net na ander boksies in jou lewe en keer jy daardie boksies op dié mense om wat die naaste aan jou is.

“Ek glo ek kan baie hanteer,” sê Erika, ’n 42-jarige ouditeur van Pretoria. “Ek kan baie op myself laai, en my gesin is ook geneig om my nogal te oorlaai. En dan ‘snap’ ek net skielik een dag. Dit kan iets so eenvoudig wees soos my tienerdogter wat my opdraande gee, of ’n kliënt wat nie ’n afspraak nakom nie. Dan ‘verloor’ ek dit geheel en al en my gesin loop onder my deur.”

Hoekom raak ’n mens so gespanne? Dit is dikwels dinge waaroor ons geen beheer het nie wat ons laat stres. Dit is belangrik om van jou stresvlakke bewus te wees. Sommige mense weet byvoorbeeld dat hulle ’n veluitslag kry wanneer hulle gespanne is. Dit is egter maklik om die simptome te ignoreer.

’n Bose kringloop

So, wat gebeur wanneer stres jou liefdeslewe affekteer? Dit lei tot frustrasie! Al wat jy eintlik nodig het, is die liefdevolle aanraking van die persoon wat die naaste aan jou is, die adrenaleininspuiting wat ’n gevryery afgee en die eindelike genot en lyflike verligting van ’n orgasme. Jy is egter so styf gesnaar dat jy nie na jou maat kan uitreik nie en dít veroorsaak ’n bose kringloop.

“As jy te veel balle gelyktydig in die lug het, is stres die gevolg,” meen Ann McCracken, ondervoorsitter van die Internasionale Stresbestuursvereniging van Amerika. “Dit veroorsaak dikwels gedragsverandering; so kan iemand wat byvoorbeeld ’n ekstrovert is, skielik teruggetrokke raak, of ’n easy going persoon kan geïrriteerd raak.”

Probeer die volgende om jou stresvlakke te verlig:

Praat daaroor. Om oor seks te praat wanneer jy voel of jy enige oomblik van oorlading gaan bars, is nie maklik nie. Die geringste dingetjie kan jou só ontstel dat jy ontplof. Soms het stres egter so ’n effek op ’n mens se selfvertroue dat jy glad nie jou gevoelens kán verwoord nie. In so ’n geval het jy sagte toenadering nodig.

Goeie seks is onmoontlik as jy nie vir jou maat sê wat vir jou werk nie. Dit is moeilik om hierdie boodskap oor te dra sonder om dit soos kritiek te laat klink. As jy oorstuur voel, is liefdevolle seks die antwoord. So, as jy voel dat jou streslewe dringend uitgesorteer moet word . . .

Sê dit reguit vir jou maat op die volgende maniere:

  • Praat oor die daad, nie oor Manlief se tekortkominge nie. Moenie sê: “Ek hou nie daarvan wanneer . . .” nie, maar eerder “Ek sal mal wees daaroor as jy . . .” Gebruik positiewe woorde en moedig eerder eksperimentering aan in plaas daarvan om te kritiseer.
  • Gesels eroties. Om oor fantasieë te gesels, kan jou in die regte luim plaas.
  • Neem seks uit die slaapkamer en verlig só die druk. Spontane seks het geen reëls nie!
  • Raak aan mekaar en praat met jou lyf en met jou stem . . . slegs tien persent kommunikasie bestaan uit woorde.
  • Jou oë is die vensters van jou siel. Kyk diep in jou maat se oë terwyl julle seks het. Op hierdie manier kan julle emosioneel en fisiek kontak maak.
  • Komplimenteer jou maat gereeld. Positiewe woorde is goed vir die ego, en as jy jou maat vertel watter wonderlike dinge hy in die slaapkamer doen, sal hy dit definitief weer doen.
  • As seks nie wow was nie, moet jou maat nie laat voel dat dit sy skuld was nie.

Bly só in voeling met mekaar

Opvoeder en verhoudingskenner, dr. Yvonne Kristin Fulbright, meen dat paartjies paniekerig raak wanneer hul sekslewens gedurende stresvolle periodes taan. Volgens haar hang ’n individu se sekslewe daarvan af of die persoon gedurende trauma nader aan sy of haar maat probeer beweeg, en of hulle eerder alleen wil wees. Die manier waarop jy reageer, kan misverstande veroorsaak. Maak dus seker dat jy en jou maat wedersydse begrip vir mekaar gedurende stresvolle tye het. Bly op die volgende maniere emosioneel verbind:

  • Wys dat julle vir mekaar omgee. Gaan vryelik met komplimente om – só weet jou maat dat jy hom of haar steeds raaksien en liefhet.
  • Praat daagliks met mekaar – miskien gedurende etenstyd of slaaptyd. Gesprekke help ’n paartjie om met mekaar te bind en wys ook dat julle vir mekaar omge
  • Bly positief en byt op jou tong as jy oor iets wil kla. Spanningsvolle situasies is moeilik om te hanteer.
  • Glo in julle toekoms saam. Spanningsvolle tye kan veroorsaak dat julle daaraan kan twyfel of julle enduit bymekaar sal kan bly.
  • Help mekaar met verantwoordelikhede. Benader take as ’n spanpoging; dit sal julle laat voel dat julle ‘saam in die ding’ is.
  • Balanseer alleentyd en saamtyd. Sorg dat daar altyd ’n sensuele atmosfeer in julle huis heers, met heerlike kos, lekker reuke, dowwe ligte en ontspannende musiek.
  • Wees kreatief wat intimiteit betref. Herdefinieer jou definisie van seksuele intimiteit as dit nodig is.
  • Wees geduldig met mekaar. Moenie julle verhouding afskeep ni
  • Probeer aan mekaar se versoeke vir intimiteit voldoen. Seks speel klaar met stres! Dit het verskeie emosionele en fisieke voordele wat tot jou libido en begeerte vir emosionele intimiteit kan bydra.

As jy vermoed dat jou streslewe ’n demper op jou libido plaas, moet jy stresbestuur oorweeg. As jy jou stresreaksie omkeer deur effektiewe spanningverligters, soos asemhalingstegnieke of meditasie gebruik te maak, sal jy nie ’n hormonale deurmekaarspul van kroniese stres beleef nie.

Ook op nader lewensterreine moet jy spesifieke strategieë oorweeg om stres te hanteer, sodat dit nie so ’n negatiewe impak op jou sekslewe het nie. Die eerste stap is om seker te maak dat julle kommunikasietegnieke gebruik wat jou verhouding ondersteun, byvoorbeeld goeie luistervaardighede. Probeer probleme as uitdagings, eerder as struikelblokke sien en vind strategieë wat albei maats se behoeftes vervul.

As dit vir julle moeilik is, nader ’n terapeut wat kan help om effektiewer verhoudingsvaardighede te ontwikkel. ’n Goeie seksterapeut werk aan verhoudingskwessies en kan help om hormoonvlakke en ander fisieke faktore wat potensieel tot probleme in jul seksuele verhouding kan bydra, te reguleer.

Stres kan lewens inmekaar laat tuimel. As jul huwelik en sekslewe nie ’n veilige hawe in moeilike tye is nie, is daar ’n probleem! Hou dus daardie aspek van jou lewe stresvry en kyk watter verskil ’n aktiewe sekslewe aan jou gemoedstoestand kan maak.

Addisionele bronne: www.zeenews.com; www.lifestyle.in.msn.com; www.timesofindia.indiatimes.com; www.stressbusting.co.uk; www.saga.co.uk