As jy dit nog nie self beleef het nie, het jy waarskynlik al daarvan gehoor … stilstuipe – daardie giftige doepa wat jy jou maat toedien om haar ’n les te leer!

Ongeag of jy die een is wat die stilstuipe gee of ontvang, is dit iets wat baie skadelik (en selfs dodelik!) vir jou verhouding en huwelik kan wees. Stilstuipe en jou onttrekking uit ’n konfliksituasie as ’n poging om jou maat te beheer, kan baie angs en kwesbaarheid by jou maat aanwakker.

Wat is stilstuipe?
Stilstuipe is volgens dr Margaret Paul, topverkoper-skrywer en verhoudingskenner, daardie moedswillige “afsluit” van jou maat, waar jy terselfdertyd ook jou hart afsluit en jou maat ’n behoorlike koue skouer gee. Jy weier volstrek om interaksie met jou maat te hê of haar teenwoordigheid te erken.

Jy maak asof sy onsigbaar is en toon baie min of geen reaksie op haar nie. Jy weerhou enige verbale kontak van jou maat. Jy reken deur jouself van die situasie te onttrek, dat jou maat sal besef dat sy iets gedoen het wat jou glad nie aanstaan nie en daarom straf jy haar nou deur as’t ware jou liefde te onttrek.

Stille waters, diepe hartseer
Jou stilstuipe kan die volgende gevoelens by jou maat ontketen:
• Dit laat jou maat bitter alleen voel en skep ’n gevoel van ondraaglike hartseer.
• Dit kan jou maat angstig, gespanne en gefrustreerd laat voel.
• Dit kan jou maat se selfwaarde verlaag, aangesien jy daardeur jou maat verantwoordelik maak vir jou geluk.
• Dit skep ’n verlies aan wedersydse vertroue.

Wat nou?
Stilstuipe is bloot ’n maklike uitweg om jou maat te manipuleer, maar hoe maak jy as jy aan die ontvangkant daarvan staan? As dit langer as ’n uur aanhou, is dit te lank. Sommige mense bly dae of selfs maande lank vir mekaar kwaad. Ná ’n uur moet jy jouself kalmeer en bereid wees om die saak met jou maat uit te klaar. As jy by die werk of in ’n langafstandverhouding is, mag jy nie toelaat dat die stilstuipe langer as ’n halfdag duur nie.

• Gun jou maat meer tyd indien sy dit nodig het om te dink of om te kalmeer, maar moenie toelaat dat sy stilstuipe op ’n vermakerige manier as wapen gebruik nie.
• Gebruik die geleentheid wanneer julle weer albei kalm en rustig is, om vir jou maat te verduidelik dat jy nie daarvan hou om geïgnoreer te word nie.
• Moenie toelaat dat jou maat jou in die duister hou nie, sê vir mekaar wat pla.
• Kom ooreen dat julle nie sal wegloop van mekaar om net uit die konfliksituasie te ontsnap nie.

Al kan paartjies nie altyd alle kwessies dadelik uitsorteer nie, rig stilstuipe meer skade as goed aan. As dit eenkeer in jou verhouding gebeur het, praat daaroor en gee mekaar ruimte om alternatiewe maniere voor te stel van hoe julle ’n soortgelyke situasie in die toekoms gaan benader. Moenie toelaat dat stilstuipe ’n gewoonte-speletjie in jul huwelik raak nie, want uiteindelik gaan dit alles wat mooi is, verwoes.

Artikel deur Lize Groenewald
Addisionele bronne: www.yourtango.com.