Infertiliteit is ’n onderduimse vyand wat paartjies dikwels sonder waarskuwing beetpak . . .

Ongeveer 15% van Suid-Afrikaanse paartjies ervaar fertiliteitsprobleme, wat dokters verduidelik as die onvermoë om swanger te word – of om ’n vrou suksesvol te bevrug – binne die tydperk van een jaar. Behandeling is duur en toon lae suksessyfers. ’n INTIEM-leser vertel hoe haar huwelik vir tien jaar die aanslag van infertiliteit moes deurstaan.

Elize (39) en Theo (41) het as studente in Pretoria ontmoet en mekaar vir tien jaar geken voordat hulle in 2002 getroud is. Hulle het reeds vroeg in die verhouding begin gesels oor kinders en ooreengestem dat dit vir beide van hulle ’n groot behoefte is om ’n gesin van hul eie te hê. Ná twee jaar se probeer was die swangerskaptoets steeds negatief en Elize was platgeslaan . . .

Die dokter het nie ’n antwoord nie

Elize en Theo het saam ’n spesialis gaan spreek en fertiliteitstoetse laat doen. Die geringe kwessies wat gediagnoseer is, was egter nie ’n rede tot kommer nie en die toetsresultate het nie ’n antwoord gebied nie. “Dit was basies onverklaarbaar,” vertel Elize. Mediese intrede was die volgende stap, en hulle het besluit op kunsmatige inseminasie en het later ook ’n gespesialiseerde vorm van in vitro behandelings probeer.

Elize vertel dat die prosedures ’n hoë tol geëis het – beide finansieel en emosioneel. “Die behandelings het baie inbreuk gemaak op ons privaatheid en ek moes vinnig gewoond raak aan dokters, professors, susters en laboratorium-assistente wat my in ’n baie ongemaklike posisie bekyk!” Ook Theo vertel: “Dit was vir my erg om by die kliniek spermmonsters te lewer. ’n Mens voel maar skaam en begin wonder oor alles, van jou spermtelling tot selfs jou tegniek en anatomie.”

Kwesbaar en kwaad vir God

Ten spyte van die paartjie se toegewydheid wou die strepie op die tuistoets-venstertjie net nie verskyn nie. Bloedtoetse het gevolg op die meer aggressiewe mediese behandelings, maar keer op keer was die boodskap negatief. Elize het in die stilligheid haar dae en nagte om gehuil.

“My hart het hard geword, kliphard. Met bitterheid het ek swanger vrouens aangekyk en gewonder wat is so spesiaal aan hulle. Ek was kwaad vir God en die gedagte dat ek nie, soos Dawid, ’n gunsteling vir Hom was nie, was gedurig in my gedagtes. Waarom dan volhard in hierdie verhouding met Hom? Is ek dan nie goed genoeg vir Hom nie?” Ná soveel kere se probeer het sy haarself wysgemaak dat God teen ’n baba besluit het vir haar huwelik. “Teleurstelling en woede het soos ’n seer keel bly terugkom. Ek was op my kwesbaarste.”

Sy het haarself in haar werk begrawe en haarself probeer oortuig dat loopbaansukses die belangrikste doelwit in haar lewe behoort te wees. Wanneer iemand sou vra of hulle met ’n gesin gaan begin, het sy uit frustrasie gesê sy wil nie kinders hê nie. Sy het bewustelik en onbewustelik begin onttrek van vriendinne wat wel swanger geraak het. Goedbedoelde raad soos “ontspan net” of “moenie daaraan dink nie” het haar hunkering net vererger.

Tog, as sy vandag terugkyk, is sy oortuig daarvan dat sy hierdie pad moes stap om haar verhouding met God lewend te maak. Sy moes leer om God deel te maak van haar lewe op ’n daaglikse basis, om konstant met die Heilige Gees te praat, vrae hardop te vra en trane by Sy voete te huil. Sy het besef dat Hy sáám met haar die stryd voer, dat God die gewer van lewe is en dat ’n baba sal gebeur volgens Sy tyd en eers sodra haar persoonlike geestelike stryd suksesvol voltooi is.

Huwelik onder spanning

Theo was haar kruk en ’n waardevolle bron van ondersteuning, al was dit vir hom moeilik om sy vrou se intense hartseer en gebrokenheid te sien. Maar hy was nie wanhopig nie en het telkens vir Elize by God ingetree. Hy het haar gereeld moed ingepraat, wat ook vir hom innerlike krag en genesing gebring het. “Ek het in al my gebede vir Jesus gevra om Elize te vertroos.”

As hulle egter terugkyk, het die situasie hulle huwelik onder ekstra spanning geplaas en moes hulle hard werk om in mekaar se fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. Daar was tye wat hulle van mekaar onttrek het om die seer en teleurstelling van nóg ’n negatiewe toetsuitslag, elkeen op hul eie, te verwerk. “’n Mens raak só verstrengel in jou eie gedagtes en gevoelens dat jy vergeet jou maat gaan ook deur ’n emosionele roller-coaster ride,” verduidelik Elize.

Die spanning het ook hulle intieme lewe beïnvloed. Seks was soos ’n agenda-item wat in die maandelikse roetine moes inpas, dikwels vir hulle beplan op ’n gegewe tydpstip en oor ’n gegewe tydperk. “Met tye het dit beter gegaan, maar die feit dat dit sommige kere nie spontaan was nie, maar ’n vereiste, het tog sy nadele gehad.” Dit het harde werk geverg om die romantiese liefdesband te hou.

Te danke aan Theo se goeie sin vir humor en doeltreffende kommunikasie het hulle egter nader aan mekaar beweeg en vasgehou aan hoop . . .

’n Wonderwerk . . . Mila

Elize het ’n ongewone tipe vrede ervaar met die laaste in vitro behandeling, alhoewel die kanse vir sukses teen haar gedraai het. “Ek was erg siek met griep en oor-, neus- en keelinfeksie, ek was op antibiotika . . . ek was letterlik in my swakste liggaamlike toestand.” En toe gebeur die ondenkbare. Die bloedtelling het positief getoets slegs tien dae ná die prosedure. Hulle was stomgeslaan.

Mila (Spaans vir wonderwerk) is nege maande later sonder enige komplikasies gebore. Elize was 28 toe hulle die eerste keer begin probeer het om swanger te raak en Mila het kort voor Elize se 38ste verjaarsdag haar opwagting gemaak.

“Toe ek uitvind ek is swanger, het ek tussendeur my trane net weer besef dat God die gewer van lewe is. Hy het ons wel beskore geag om ouers te wees! God het lankal geweet dat ek ’n mamma sou wees, maar ek moes my pad voltooi, ek moes deurdruk en my lewe en verhouding met Hom sterk maak.”

Elize en Theo se raad:

• As julle na ’n jaar se probeer nie swanger is nie, gaan na ’n fertiliteitskliniek om die opsies van behandeling te oorweeg. Moenie uitstel nie! Die fertiliteit-spesialiste is instrumente in God se hand.
• Jy is nie alleen nie. Deur die infertiliteitskliniek te besoek, sal jy vinnig agterkom dat alle rasse en klasse – selfs welbekende publieke figure – sukkel om swanger te raak.
• Kry ondersteuning van hartsmense wat jou emosies verstaan en van dié wat self die moeilike pad van infertiliteit gestap het.
• Dis natuurlik vir mense om jul moed in te praat, hulle bedoel dit goed. Laat dit toe en probeer om nie gefrustreerd te raak nie.
• Jou verhouding met jou eggenoot moet sterk wees en sterk bly. Doeltreffende kommunikasie is broodnodig. Wees eerlik, deel jou emosies en werk aan julle liefdesband.

Bowenal moet jou verhouding met God lewend wees. Praat met Hom, vertel Hom van jou behoeftes en deel met Hom jou hartsbegeertes.

Bronne:
Infertility in South Africa: Women’s reproductive health knowledge and treatment-seeking behaviour for involuntary childlessness, www.humrep.oxfordjournals.org,
Infertility and in vitro fertilisation: What can I expect from IVF?, www.webmd.com, www.health24.com.

Artikel deur ANJA VAN DEN BERG