Wanneer jy en jou huweliksmaat keuses maak, het julle al ooit gaan sit en julself afgevra: Pas dit in by die roeping van ons huwelik? Hou julle hierdie roeping voortdurend in gedagte?

Moenie bekommerd wees nie, as jy tot dusver nog min of selfs glad nie aan die roeping van jul huwelik gedink het nie, is dit nog nie te laat nie. Gaan soos ’n Vasco da Gama van ouds op ’n ontdekkingsreis. Soek dit, bid daaroor, leer meer daaroor en ontgin ’n ryke skat vir jul huwelik! Jul huwelik kan nie net vir mekaar ’n ryke bron van voeding en inspirasie wees nie, maar veral ook vir ander.

Skattejagwenk 1 – Kry eers die regte koördinate: Wat is ’n roeping?
Net soos wat elke mens ’n roeping vir sy lewe het, het julle huwelik ook ’n roeping. In 2 Petrus 1:3-15 word verwys na die Christen se roeping en verkiesing. Dit sal julle ook help om meer van die roeping van jul huwelik te verstaan. In vers 5-7 noem Petrus verskillende maniere hoe geloof tot dade moet oorgaan. Dit is nie ’n outomatiese proses nie, maar verg baie harde werk. Jy kan die Here beter leer ken deur jou geloof prakties uit te leef. Moet jul huwelik dus net julself verryk? Of het jul huwelik ook ’n rol om in ander se lewens te vervul? Dink solank wat die roeping van jul huwelik moontlik kan wees in terme van jul kinders, jul familie, jul vriende, ander huwelikspaartjies in die kerk en gemeenskap en selfs vir vreemdelinge. Sodra julle daaroor begin dink, is daar opwindende moontlikhede op die tafel.

Skattejagwenk 2 – Pak jou gereedskap in: Vrae wat jy kan vra.
Vra julself die volgende vrae:
1. Hoe kan ons seker wees van die roeping vir ons huwelik?
Dit gaan aan die begin vir julle moeilik wees om vanself die roeping vir jul huwelik te vind. Moenie toelaat dat dit julle ontmoedig nie. Daar is ’n groot verskeidenheid maniere hoe julle saam die roeping kan ontdek. Begin deur doelgerig daaroor te bid. Neem byvoorbeeld ’n maand wat julle twee saam gefokus daaroor bid en vir die Here vra om vir julle jul roeping te wys. Lees meer daaroor in die Bybel, maar ook in ander huweliksboeke en selfs op die Internet.
2. Het ons huwelik net een roeping of kan dit oor die jare verander?
Die roeping van jul huwelik kan beslis oor tyd verskil. As julle nog kort getroud is, gaan die roeping van jul huwelik beslis anders wees as wanneer julle 20 jaar getroud is. Die roeping van jul huwelik hoef ook nie net een ding te wees nie; maak jou hart en gedagtes oop vir verskeie moontlikhede.
3. Waar begin ’n mens om dié roeping uit te leef?
Om die roeping vir jul huwelik uit te leef, gaan terselfdertyd moeilik én maklik wees. Huh? Dit klink dalk na ’n teenstelling, maar klou net vas. Die moeilike deel is om uit jul gemaksone te beweeg en ’n grens oor te steek om dié roeping uit te leef. Dit gaan guts vra. Die maklike deel: Julle hoef net by jul voordeur uit te stap of dit selfs oop te maak om daardie roeping na ander uit te leef.

Skattejagwenk 3 – Vra raad by die “locals” – Gesels met kenners.
Die roeping vir jul huwelik is nie ’n 30-dae-proses en siedaar, nou is alles perfek nie. Die ontdekking van die roeping vir jul huwelik en die uitleef daarvan is eerder ’n reis. Waar kan julle raad vra?
• Begin by paartjies na aan julle wat julle as mentors sien. As jy nie reeds sulke mense in jou lewe het nie, klop by jou kerk aan om sulke mentors te vind.
• Gesels met huwelikskenners en leefstylafrigters. Professionele persone kan vir julle ’n unieke en buite-perspektief op die roeping vir jul huwelik gee. Moenie skaam wees om ander se raad te vra nie.
• Woon ’n huwelikskamp by. ’n Huwelikskamp sal nie net jul huwelik verryk nie, maar sal julle ook energie en woema gee om jul huweliksroeping na buite toe uit te leef.

Skattejagwenk 4 – Kyk uit vir bakens.
Waarna moet ek oplet wanneer ek en my maat saam op soek is na die roeping vir ons huwelik?
• Soos wat julle saam bid en lees oor die roeping vir jul huwelik, kan julle sleutelwoorde en gedagtes neerskryf. Dit sal uiteindelik as rigtingwysers vir die roeping vir jul huwelik dien.
• Maak seker God is die middelpunt van jul huwelik. Só kan julle verseker dat julle op die regte pad is.
• Bid dat julle saam vrede oor die roeping en die uitleef daarvan het.
• Toets en bevestig jul roeping met mekaar, maar ook met jul mentors.

Ons het dit!
Hierdie avontuur is nie een waar jy die skat vandag ontdek en môre is alles vergete nie. Wanneer julle die roeping ontdek het, begin die reis van voor af. Nou kan julle daardie roeping gaan uitleef. Julle kan mekaar voortdurend herinner daaraan en seker maak julle is steeds op koers. Geniet die uitleef daarvan, maak dit deel van jul alledaagse lewe. Gryp dit aan! Sodra julle dit begin uitleef, gaan julle ook ander paartjies kan inspireer en aanmoedig op hul reis.

Bronne: Die Bybel in Praktyk.

Artikel deur Lize Groenewald