“Tot die dood ons skei.” Het jy al gedink oor hierdie begrip of is dit bloot ’n frase wat deur die jare afgeweer het? ’n Ewigheid is ’n baie lang tyd.

Dis “spesiale afslag-dag” vir pensioenarisse. Die paartjie skuins oorkant jou is ongetwyfeld pensioenarisse. Hulle sit in ’n koffiewinkel en hou mekaar se hande vas (die ouderdomsvlekke sigbaar van waar jy sit). Wanneer sy prewel, moet hy nader skuif om te hoor wat sy sê. Op haar beurt bestel sy namens hom omdat sy oë nie meer mooi kan uitmaak wat op die spyskaart met sy kursiewe skrif staan nie.

Maar wanneer die ongeduldige kelnerin omdraai om die bestelling te lewer, kyk hulle weer op, in mekaar se oë, en kan jy jou net voorstel hoeveel geskiedenis daar tussen hierdie twee ou getroudes lê. Dis bewonderenswaardig.

Streef jy en jou maat na ’n huwelik wat ’n leeftyd hou? Een met ewigheidswaarde? Maak dan seker julle pas dié vyf wenke in jul lewens toe:

  1. Luister aandagtig. In sy boek 30 Lessons for Loving skryf Karl Pellemer dat respek van die uiterste belang is as dit kom by die langdurigheid van ’n huwelik. En om daardie respek te toon, moet ’n mens weet hoe om waarlik na jou maat te luister. Dit beteken dat jy alle agtergrondgeraas moet uitskakel, stop waarmee jy besig is, na jou maat draai, hom/haar in die oë kyk en werklik ín die oomblik moet wees. Selfs al ruik jy die rys brand. Selfs al wag jy vir ’n belangrike telefoonoproep. Jou maat moet altyd jou eerste prioriteit wees.
  2. Bly op jou tone en maak elke dag positiewe keuses vir jou huwelik. Een van die belangrikste dinge wat jy kan doen, is om nie op jou louere te rus nie en elke dag met ’n kritiese oog na jou huwelik te kyk. Waar het jy fouteer, waar het jy jou maat afgeskeep? Het jy jou maat ’n prioriteit gemaak? Is daar ’n spesifieke aspek van jou huwelik wat dalk in hierdie stadium meer aandag nodig het? Bly op jou tone. Wy jouself aan jou huwelik toe – elke liewe dag. Waak daarteen om jou maat en jul huwelik as vanselfsprekend te aanvaar. Hou jul huwelik heilig en bly intens bewus van die plek waarheen julle huwelik op enige gegewe tydstip beweeg.
  3. Tel jou woorde dubbel en dwars. En tel hulle weer. Dit beteken dat jy in die hitte van ’n argument soms diep moet asemhaal (en selfs wegstap as dit moet). Hiermee sê ons nie dat jy konflik moet vermy nie, maar dat jy die waarde van oordenking hoër moet ag as jou instink om aanvallend te reageer. Woorde maak seer. As dit eers gesê is, kan jy dit nie terugtrek nie, so moenie wreed met jou woorde wees nie.
  4. Bly mekaar se beste vriende en vurigste (en enigste) minnaars! Dit help veel dat julle passie in die slaapkamer het, maar nie veel in gemeen het daarbuite nie. Só ook kan julle mekaar se beste vriende wees, sonder ’n seksuele dimensie, en is julle blote huismaats. Werk dus daadwerklik aan hierdie twee aspekte van jul huwelik sodat julle nie “eensaam” voel die dag wanneer jul kinders die huis verlaat nie.
  5. Bly veg verbete vir mekaar en jul huwelik. In die woorde van die aktrise Crystal Sullivan: “Huwelike wat ’n leeftyd hou, gebeur nie net nie. Hulle word een dag op ’n slag gebou, soos wat ons besluite neem om ons maats lief te hê. Ons staan voor die kansel en beloof aan God en die gemeenskap dat ons mekaar sal liefhê in goeie tye en in slegte tye, sonder om te weet hoeveel goed en hoeveel sleg na ons kant toe sal kom.” Baklei – nie om te wen nie, maar vir jul huwelik om te wen.

Addisionele bronne: www.seekersportal.wordpress.com, www.pshycalive.org.