Vertroue is een van jou huwelik se heel belangrikste komponente. Daarsonder kan julle nie ‘n gebalanseerde, gesonde paartjie wees nie…

Esmarie se kindertyd was alles behalwe maanskyn en rose. Toe sy ses jaar oud was, het haar pa een dag, terwyl haar ma by die werk was, huis toe gekom, sy tasse gepak en weggeloop. Hulle het ses maande later gehoor hy woon in ‘n ander provinsie saam met sy nuwe gesin en wou niks meer met Esmarie of haar ma te doen gehad het nie. Haar ma is drie jaar later getroud met ‘n man wat haar gemolesteer het tot sy dertien jaar oud was. Dié twee voorvalle het Esmarie vanselfsprekend gelos met die gedagte: “Mans verwerp en verniel jou. Alle mans is sleg.”

Dit was eers na jarelange terapie dat sy kans gesien het om weer verhoudings met mans aan te knoop. Op 23 het sy vir Dries ontmoet, ‘n man wat haar op die hande gedra en met die geduld van Job hanteer het. Helaas… ná vyf jaar van getroude lewe sukkel Esmarie steeds om vir Dries te vertrou. Sy leef pal met die gedagte dat hy haar enige oomblik gaan los en glo hom nie wanneer hy vir haar sê hy het haar lief nie…

Dan is daar Yolandé en Dirk. Die paartjie was vyftien jaar getroud, met drie kinders, en Yolandé het geglo hul huwelik is perfek – net soos almal wat hulle geken het. Een dag het sy egter die kombuis binnegestap sonder dat Dirk haar gehoor het. Sy het gesien hoe hy op sy selfoon kyk na ‘n foto van ‘n rooikop sonder ‘n bostuk. Toe sy hom daaroor konfronteer, het hy bely dat hy na pornografie kyk en dat dit ‘n probleem is waaraan hy sal werk.

Drie maande later het een van Yolandé se vriendinne, Denise, haar egter vir koffie ontmoet en die skoknuus met Yolandé gedeel: Dirk het ‘n buite-egtelike verhouding met Denise se rooikop-niggie en dié verhouding duur al drie jaar. Sedert die voorval, sien hulle al vir twee jaar ‘n huweliksterapeut en deel van hul pad na genesing, is die herskep van ‘n vertrouensband. In die ideale wêreld leer Yolandé weer om Dirk te vertrou, maar die realiteit is dat sy steeds na sy telefoon kyk wanneer hy nie in die vertrek is nie, dat sy haar naels kou en haar vriendinne bel wanneer hy sê hy gaan uit saam met sy vriende…

Hoekom sukkel julle met vertroue?

Daar is verskeie dinge wat die vertroue tussen twee mense kan skaad. As jou huwelik gebou is op ‘n affair, kan jy ewig vashou aan die gedagte: “As hy sy eks-vrou met my verkul het, wat keer hom om my met sy volgende vrou te verkul…” As jý die party was wat ontrou was in die verlede, kan dit jou ook onrustig stem want jy weet hoe maklik dit is om ontrou te wees.

Sommige huwelike se logistiek is van só aard dat dit ‘n vertrouensverhouding uitdaag, soos wanneer jou maat in die buiteland werk. Jou maat is dalk ook nie iemand wat emosioneel maklik oopmaak nie en hou nie daarvan as jy uitvra oor sy vriende of banksake nie. En jou maat flankeer dalk maklik – dis immers hoe jy en hy mekaar ontmoet het!

Stel vas hoekom jy sukkel om jou maat te vertrou of hoekom hy dit moeilik vind om jou te vertrou. Los jy dit, kan dit lei tot frustrasie en selfs depressie. Jou wantroue kan jou só klouerig en jaloers maak, dat dit jou maat van jou af kan wegdryf.

Dis om hierdie redes dat vertroue een van die kosbaarste komponente van ‘n verhouding tussen ‘n man en vrou is. Word dit een keer geskaad, is die pad na herstel baie lank en soms onmoontlik sonder die ingryping van ‘n kenner. Wantroue veroorsaak verhoogde angs, self-twyfel en ‘n tekort aan selfvertroue.

Op die webtuiste, psychalive.com, skryf Joyce Catlett dat verskeie sielkundiges oor die afgelope paar jaar meen daar is ‘n groot toename in vertrouenskwessies onder paartjies wat terapie ontvang. Volgens Joe Bavonese van die Relationship Institute in Royal Oak, Michigan, is die rede vir dié verhoging die tegnologiese vooruitgang wat dit makliker maak vir paartjies om mekaar te mislei.

Om wantroue te laat vaar is egter nie so maklik nie. As jy die wantrouige party is, kan jou maat sê wat hy wil en blomme aandra tot hy blou is – al wat gaan tel is herhaaldelike betroubare dade wat vertroue weer kan bou.

As jou of jou maat se wantroue diepgesetel is, kan dit baie vernietigend vir jul verhouding wees. In die woorde van ‘n INTIEM-leser: “Sy vertrou my glad nie, dit maak nie saak hoeveel keer ek al my lojaliteit aan haar probeer bewys het nie. Ek is al op die punt dat ek voel ek kan maar net sowel ontrou wees, want sy verdink my in elk geval daarvan…”

Sukkel jy met vertrouenskwessies?

Antwoord die volgende vrae eerlik:

1. Kyk jy op jou maat se telefoon of rekenaar sonder sy medewete?

Ja, in ‘n gesonde huwelik, het jou maat niks om vir jou weg te steek nie. Daar is nie wagwoorde op sy telefoon of rekenaar of tablet nie, maar dit maak ook nie saak nie, want jy het geen begeerte om te kyk nie. As jy voel dat jy gereeld moet kyk of hy iets wegsteek, flikker die gevaarligte.

2. Verwag jy altyd die ergste van jou maat?

Wanneer jou man nie gewone tyd by die huis kom nie, dink jy die ergste van hom. Nie dat hy in ‘n ongeluk was nie, maar dat hy en sy sekretaresse hul eie projek op sy lessenaar afhandel. In ‘n huwelik waar vertroue heers, gee jy jou maat die voordeel van die twyfel. Elke persoon moet eers kans kry om te verduidelik voor gevolgtrekkings gemaak mag word.

3. Is jou leiband kort?

Is jy ‘n jaloerse Janie? Ja, soms is reëls geregverdig, maar sommige mense vat dit baie ver. Kom staan jy styf teen hom wanneer hy in ‘n lighartige gesprek met ‘n ander vrou betrokke is? Word jy woedend as hy ‘n ou skoolvriendin se status op Facebook ‘like’? Moet hy ‘n sekere tyd by die huis wees wanneer hy saam met sy vriende kuier – anders is die hel los? Vra jouself af of hierdie gedrag werklik geoorloof is (as hy jou vantevore verkul het, voel jy dalk dat dit is).

Wat kan julle doen weer vertroue in jul huwelik te bou?

  1. Herken die probleem. As bogenoemde gedrag jul huwelik se ‘normaal’ is, beteken dit dat daar vertrouenskwessie is wat aangespreek moet word. In plaas daarvan om hom te verdink en om haar te verwyt (in die stilligheid), bring die kwessie in die lig en praat daaroor.
  2. Hou jou beloftes. Selfs waar dit klein dingetjies aangaan. Wanneer jy ‘n belofte teenoor jou maat maak, selfs al is dit om die kinders betyds op te laai, maak baie seker jy hou daarby. Moet nooit oorhaastig beloftes maak om die vrede te bewaar of jou maat te kry om jou uit te los nie, maar maak slegs beloftes wat jy weet jy kan nakom. Jou woord is jou eer.
  3. Wees ‘n oop boek. Is jy ‘n introvert wat nie hou daarvan om jou gevoelens te deel nie? Is jy ‘n privaatmens wat nie daarvan hou om jou persoonlike spasie te deel nie? Wel, dit kan wees dat hierdie eienskappe van jou bydra tot jou maat se onsekerheid. En as jy jou huwelik wil red, sal dit verg dat jy buigbaar moet wees. Openlike kommunikasie is van kardinale belang. As jou maat jou ‘n vraag vra, moenie vaag antwoord nie. Stel hom/haar gerus deur so oop as moontlik te wees.
  4. Betrek mekaar by jul alledaagse lewens. Dis maklik vir twee mense om uitmekaar te dryf. Jy is moontlik ‘n sakeman in Sandton en jou vrou sit die afgelope jaar by die huis met ‘n eenjarige. Jul lewens verskil radikaal! En dis belangrik om in voeling te bly met mekaar en deursigtig genoeg te wees dat daar nie vrae of raaisels ontstaan nie.
  5. Plaas jouself in jou maat se skoene. Jy dink dalk hy is heeltemal paranoïes oor jy saam met jou vriendinne na ‘n henneparty gaan waar ontklee-dansers betrokke gaan wees. Dit is nie jou styl nie, en die vriendin wat dit reël het nie ‘n baie goeie reputasie nie, maar jy doen dit ter wille van die vriendin wat trou. Plaas jouself in sy skoene. Sou jy daarvan hou? Sou jy die vrede vertrou?
  6. Vestig ‘n ‘geen geheime-beleid’. Ja, julle mag geheime tussen mekaar hê, maar nie geheime vír mekaar nie. Maak seker jou maat het te alle tye toegang tot jou bankrekening, jou selfoon, jou rekenaar. ‘n Gesonde paartjie het nie wagwoorde vir mekaar nie. Om geheime met mekaar te deel, kan julle ook nader aan mekaar laat beweeg.
  7. Wees nederig. As jy verkeerd was, vra jou maat om verskoning en vra vir sy/haar vergifnis. Aanvaar dat dít wat jy gedoen het, verkeerd was. Wys ook deur jou dade dat jy jammer is, sodat jou maat ‘n verandering in jou kan sien. En as jy aan die ontvang-kant van jou maat se fout was, vergewe en los dit agter jou.
  8. Wys jou maat dat hy/sy jou kan vertrou. Sommige mense het meer oortuiging nodig as ander. Maar as jy konsekwent is met jou woorde en dade en jou maat voortdurend herinner dat hy/sy jou nommer een is, gaan hul nie anders kan as om jou later te glo nie.
  9. Neem jou maat se telefoonoproepe. As jy nie dadelik kan antwoord nie, maak seker jy bel haar terug sodra jy kan. Dit wys vir haar dat niks en niemand so belangrik is as om met haar te gesels nie. Maak ook seker jy bel haar gedurende die dag – sommer net. As jy jou maat gerusstel dat hy/sy ‘n prioriteit vir jou is, hoef jy nooit daaroor te wonder nie.
  10. Soek hulp vanaf ‘n kenner. As jy of jou maat dit nie regkry om vertrouenskwessies op te los nie, kan ‘n kundige julle hiermee help.

Addisionele bronne: www.marriage.com; www.inspiringtips.com; www.pairedlife.com; www.allprodad.com

Artikel deur Annelize Steyn