Kry julle dit reg om vrede te maak voor bedtyd, of is dit wanneer die hare behoorlik waai? Hoekom sou God vir ons hierdie (moeilike) opdrag gegee het: “As julle kwaad word, moenie sondig nie en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.”(Efesiërs 4:26)

“My man, ek het weer ’n briefie van die onderwyser af gekry. Johan let nie op in die klas nie.”

Manlief kyk gesteurd op vanaf sy skootrekenaar.“ Ons kan later daaroor praat, ek moet eers hierdie verslae afhandel. Het jy al die skottelgoed gewas?”

“Ag, vlieg in jou peetjie in,” sê jy vies en gaan klim sommer in die bed.

Jy het ’n harde dag by die werk gehad. Dit voel asof jou man jou heeltemaal ignoreer en jy is bekommerd oor julle kind se skoolwerk. Jy is sommer kwaad vir alles en almal. Teen die tyd wat hy in die bed klim, is jy goed opgewerk. Hy kry ’n behoorlike skrobbering oor alles wat verkeerd is – van die gras wat hy laas week nie gesny het nie, tot sy suster wat hom net bel as sy geld nodig het.

“Dit is laat in die aand, ek is moeg en wil gaan slaap,” sê jou man woedend.

“Nie in hierdie bed nie!”

Fine!” En daar gaan hy met ’n kombers en sy kussing sitkamer toe.

Nou voel jy eers aaklig en huil jouself aan die slaap. Die volgende oggend gaan julle dikbek uitmekaar. Deur die loop van die middag bel jou man jou. Hy het uitgeswaai vir ’n hond in die pad en in ’n lamppaal vasgery. Jy word yskoud. Sonder om twee keer te dink, spring jy in jou motor. Sê nou hy het baie seergekry? O genade, hoekom was jy so aaklig met hom gisteraand? Manlief staan bedremmeld op die sypaadjie en kyk hoe die insleepdienste sy bakkie haak. Wanneer hy jou sien, lyk dit asof hy wil huil van verligting. Hy het gelukkig net ’n paar skrapies opgedoen, maar het duidelik baie groot geskrik. Nes jy.

“Ek is só bly jy is orraait,” sê jy tranerig. Hy gee jou bewerig ’n drukkie. “Toe ek besef ek gaan die lamppaal tref, was jy en ons kind al waaraan ek gedink het. As ek vandag iets oorgekom het … ek wil nie eers daaraan dink nie!”

Hoekom het God vir ons hierdie opdrag gegee?

Dominee Ferdie Devenier van die Evangelies-Gerformeerde Kerk Carletonville verduidelik dat Efesiërs 4:26 (eintlik vanaf vers 17 al) handel oor die nuwe mens in Christus Jesus wat na sy bekering nou anders moet optree in dieselfde omstandighede waarin alle mense leef. Hoe hou dit verband met die feit dat ons nie kwaad moet gaan slaap nie?

God wil nie hê dat ons as Christene soos ongeredde mense moet lewe nie. Jesus het ons geleer dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ja, ons gaan kwaad word vir ons naaste, maar wanneer ons dit doen, moet ons nie sondig nie. Ons moet vergeet en vergewe, 70 maal 7 keer. Ongeredde mense lewe nie só nie. Hulle dink net aan hoe hulle hul eie behoeftes kan bevredig. Hulle wil nie vergewe nie en soek vergelding wanneer iemand hulle te nakom. Hulle lieg om uit die moeilikheid te kom, steel van hulle medemens en tree haatdraend op. (Efesiërs 4: 25 -32)

Wat gebeur wanneer hierdie mense skielik sterf? Hulle laat baie seerkry agter – familie en vriende vir wie daar nooit jammer gesê is nie. Hierdie mense moet die stukke van hulle lewe optel en aangaan. Dit is nie baie regverdig nie, ons almal soek tog closure, veral as iemand verkeerd teenoor ons opgetree het.

Jesus waarsku ons dat Hy soos ’n dief in die nag gaan kom – ons kan nie Sy wederkoms voorspel nie. Is jy reg vir daardie dag? Het jy vrede gemaak met jou vyande? Moenie dit uitstel tot môre nie, jy weet nie wat die dag van môre inhou nie.

Volgens pastoor Bob Deffinbaugh van bible.org moet die teksvers nie net gesien word as ’n opdrag vir die vredemaakproses met jou medemens voor jy gaan slaap nie. In die aand wanneer jy bid, gee jy ook jou woede en teleurstelling oor aan God. Slegs dan kan jy rustig slaap met die wete dat God jou laste op Hom geneem het. Die ideaal is vir seker om jou maat se vergifnis ook te hê, maar moenie vergeet om jou dag op ’n goeie voet met God ook af te sluit nie. Al is jy woedend vir jou maat, bid vir julle albei. Al het jy nog nie jou maat om verskoning gevra nie, vra solank die Here se vergifnis en vra dat hy julle harde harte sag sal maak.

Hoe raak dit getroude paartjies?

Het jy al lus gevoel om manlief aan sy tone aan die wasgoeddraad op te hang só kwaad is jy vir hom? Jy is nie die enigste een nie! Het jy dit al probeer uitvoer? Natuurlik nie, netnou wil hy nie afklim nie en dan is daar nie plek vir die wasgoed nie! Nee, jy doen dit nie, want jy weet so iets sal verkeerd wees. Wanneer jy daaraan dink om aggressief teenoor jou lewensmaat op te tree, het ons almal ’n klein stemmetjie wat sê: “A nee a, ons doen dit mos nie só nie!” Dit is die Heilige Gees wat ons maan om konstruktief op te tree in ons verhoudings.

’n Gesonde huweliksverhouding word juis gevoed deur die liefde van God wat in ons harte uitgestort is tydens ons bekering. (Romeine 5:5). Deur die Heilige Gees besit ons die vermoë om te kan vergewe en ’n saak te kan konfronteer en uitpraat voor die dag verby is. Daarom hanteer ons emosies van aggressie wanneer dit opkom en laat dit nie oorstaan vir môre nie, anders bring dit bitterheid en onvergewensgesindheid na vore. (Efesiërs 4:31-32)

Hoekom is dit belangrik om ons aggressie reg te hanteer? Dit is mos nie asof ons mekaar gaan vermoor nie! Volgens Ferdie lewe Christene nie in isolasie nie. Ons gaan, nes ongeredde mense, ook in situasies beland waar ons woede en aggressie ervaar.

Volgens FBI-statistieke (The Atlanta Journal & Constitution, 30 Junie 2000) was daar 23 305 moorde in 1994 in Amerika waarvan die mees algemene rede argumente was wat in die huisgesin ontstaan het. Dit het 28% beloop van al die moorde. Moorde wat met bendes verband gehou het, was maar 7,6%. Geweld in huwelike wat op egskeidings uitgeloop het, was bereken op 22%. Altesaam 79% van kinders wat gewelddadig optree, het een of ander vorm van geweld in die ouerhuis tussen hulle ouers beleef.

In die huwelik moet ons diensbaar wees teenoor mekaar tot eer van God en wanneer ’n oortreding kop uitsteek, moet die oortreding aangespreek en reg hanteer word. Deur mekaar aan te spreek en die konflik beheersd te hanteer (bêre daardie wasgoedpennetjies!), doen ons mekaar ’n guns, sodat ons oortreding nie meer skade doen as wat dit reeds het nie.

Wat is die voordele van kiss and make up voor slaaptyd?

Jy preserveer nie die negatiewe nie

Wetenskaplikes glo dat dit ’n slegte idee is om kwaad te gaan slaap. Volgens well.blogs.nytimes.com het studies bevind dat mense wat ’n negatiewe ervaring gehad het voor slaaptyd, dieselfde negatiewe emosies die volgende oggend ervaar wanneer hulle weer met dieselfde negatiewe ervaring gekonfronteer word. In teenstelling daarmee het mense wat wakker gebly het ná ’n negatiewe ervaring dieselfde konfrontasie die volgende dag minder ernstig ervaar.

Hulle het gevind dat mense wat wakker gebly het, ’n kans gehad het om hulle emosies te verwerk en hulle kon hulself dus staal teen die opvolgende emosionele ervaring. Diegene wat gaan slaap het, se liggame het hulle “beskerm” teen die emosionele reaksie. Dus veroorsaak slaap dat negatiewe emosies gepreserveer word.

Jy slaap beter

Het jy al nagmerries gehad nadat jy en manlief ’n bekgeveg gehad het? Dit gebeur dikwels, veral as jy iemand is wat baie droom. Die drome is gewoonlik nie aangenaam nie. Ander mense ervaar dat hulle baie rondrol in die aande en nie tot rus kan kom nie. Wetenskaplikes reken dit kan wees omdat jou brein probeer sin maak van jou emosies. Een van julle het dalk dinge gesê wat baie seergemaak het of dalk selfs gedreig om die ander een te verlaat. As julle dit nie uitgepraat het nie, gaan hierdie vrese en emosies letterlik by jou “spook” en jy gaan moeg opstaan die volgende oggend.

Jy maak nie vyande van almal nie

Wat dink jy gaan gebeur as jy elke oggend kwaad wakker word? Jy gaan altyd omgekrap en depressief wees en dit op alles en almal uithaal. Die kat gaan wegkruip en jou kinders gaan meer tyd weg van jou wil deurbring. Konflik wat nie opgelos word nie, sweer en bars mettertyd oop. Dit beïnvloed nie net jou gesinslewe nie, maar jou werk ook. Die eerste kliënt wat onder jou tong gaan deurloop, mag jou dalk jou werk kos. Kry liewers die konflik so gou as moontlik uit die pad!

Daar is nie tyd voor werk nie

Jy weet hoe ’n gejaag dit is om betyds by die werk te kom in die oggende, selfs al het jy nie kinders wat by die skool afgelaai moet word nie. Tyd om gisteraand se konflik op te los is daar vir seker nie. Indien julle wel daaroor praat, gaan dit gejaagd en geforseerd wees. Jy sê dalk net jammer omdat jy weet dit is wat jou maat wil hoor en jy haastig is, maar eintlik bedoel jy dit glad nie en kook jou bloed steeds. Dit is glad nie produktief nie en gaan nie die kern van die probleem aanspreek nie. Vanaand baklei julle maar net weer oor dieselfde ding.

Jy kan bid met ’n skoon gewete

“As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.” (Johannes 20:23)

Het jy al probeer om stiltetyd te hou direk nadat jy manlief beledig het? Dit is haas onmoontlik! Jy weet jy kan nie vergifnis vra vir jou eie sondes as jy nie jou wederhelfte kan om verskoning vra nie. Maar wat as jy die onskuldige een is en dis jou maat wat verkeerd optree? God maan ons om nie hardekwas te wees nie. Ons moet liewers iemand vergewe en bemoedig, anders kan hy só hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. (2 Korintiërs 2:10)

Make-up seks kan lekker wees

Menige paartjies ervaar seks ná ’n bakleiery as baie bevredigend, mits die konflik heeltemal opgelos is vóór hulle in die bed spring. Dit is ’n manier om weer die geestelike en emosionele bande met mekaar te versterk en dit verlig die spanning wat julle so pas ervaar het. Waak egter daarteen om seks te gebruik om jou maat te manipuleer. Seks kan nie aangebied word in die plek van ’n verskoning nie. Jy kan ook nie van jou ontstelde maat verwag om “lus” te wees vir jou en haar dan kwalik neem as sy die aanbod van die hand wys nie. Seks moet nie as ’n means to an end gesien word in ’n konfliksituasie nie.

If tomorrow never comes

Dit kan só maklik gebeur dat jy of jou maat ernstig siek word deur die aand of selfs sterf. Wat as jou laaste woorde aan jou maat was: “Ek haat jou!”. Hoe gaan jy ooit met jouself kan saamleef as só iets gebeur? Dit mag dalk drasties klink, maar dit is glad nie so vergesog nie. Jou maat kan selfs in ’n ongeluk wees die volgende dag en dan is dit verby. God het ons net aan mekaar geleen, die aardse lewe is nie permanent nie. Moenie dat jy in ’n situasie beland waar jy jouself vir die res van jou lewe gaan verwyt nie, waardeer mekaar elke dag.

Wat is die nadele daarvan om nie dikbek te gaan slaap nie?

Ons is bang vir die donker

Het jy al agtergekom dat jou kinders selde bang word as hulle ’n middagslapie vat in hulle eie bed, maar wag net tot dit aand is?! Jy het hulle skaars in die bed gesit, dan hoor jy voetstappies in die gang afkom na jou bed toe en ’n stemmetjie wat sê: “Mamma, ek is bang, kan ek by julle slaap vanaand?”

In die aand lyk alles meer scary, selfs vir grootmense. Dit is nie net ons verbeelding nie, die donker is nog altyd simbolies van negatiewe dinge en onheil. Spoke loop net rond om middernag en die houttrappe kraak net as almal al in die bed is. Mense is geneig om dan bietjie minder rasioneel te wees.

Dieselfde gebeur met ons bekommernisse en probleme. Die aand is die enigste tyd wanneer ons regtig stil kan sit en dink. Sodra die kinders in die bed is en alles opgeruim is, tob ons oor ons dag. Hoe meer ons tob oor ’n probleem, hoe ernstiger begin dit lyk. Naderhand maak jy ’n berg van ’n molshoop en jaag jy die arme spoke op en af op die houttrappe rond.

Só baklei paartjies ook gereeld in die aande oor dinge wat eintlik nie so ’n big deal is nie. Ons kan dit nie help nie. Ons probleme lyk groter en God voel vir ons verder weg. Ons is vulnerable in die donker – fisies en emosioneel. Ons ruk dinge uit verband uit en baklei oor onsinnige goed. En dan is dit beter om liewers jou mond te hou en net te gaan slaap, want môre skyn die son weer en lag jy vir hoe simpel jy was.

Slaap oor ’n probleem

Nie net lyk alles weer beter as die son skyn nie, maar jy het moontlik ook kans gehad om na te dink oor jou en manlief se geveg gisteraand. Voel jy steeds dat die feit dat jou kind nie oplet in die klas nie sy hele toekoms gaan ruïneer, of het jy onthou dat jy net so baie in die klas gesit en droom het? Is jy nie ook maar soms lui om die skottelgoed te was nie, nes jou man soms lui is om die gras te sny? Waaroor presies het julle nou eintlik baklei gisteraand? Was die bakleiery regtig nodig?

Die raad “slaap oor ’n probleem” is hier van toepassing. Doen ’n bietjie soul searching, al kos dit jou ’n nag se slaap. Kry retrospeksie. Vra jouself vrae. Hoe kan jy die konflik konstruktief oplos? Hoe het jy bygedra tot die probleem? Is jy oorsensitief of dalk onsensitief?

Julle het dit nie regtig bedoel nie

Cranky people are seldom rational, and sleepy people are seldom forgiving.

Teen slaaptyd is almal in die huishouding uitgeput. Jy moet kosmaak, opruim, die kinders help met hulle huiswerk en sorg dat almal skoon en in die bed is. Manlief het ’n harde dag by die werk gehad en vasgesit met die baas. Boonop het een van die kinders ’n glas koeldrank op sy skootrekenaar omgestamp. Niemand is lus vir nog drama nie. Maar soos dinge gebeur, sal een van julle iets verkeerd sê en dan is dit oorlog. Jy en manlief is eintlik kwaad vir ander mense, maar haal dit op mekaar uit.

Só gaan julle baklei-baklei bed toe. Albei is moeg en wil net gaan slaap. Naderhand sê een van julle net “jammer” sodat die ander kan end kry. Het jy dit bedoel? Nie vir ’n oomblik nie! Jy is steeds woedend, maar jou behoefte aan rus is groter as jou behoefte aan konstruktiewe konflikoplossing. Jou maat dink alles is opgelos en laat dit daar. Net sodat dieselfde onderwerp weer by ’n latere geleentheid opkom.

Moenie vir jou maat dinge sê wat jy nie bedoel nie, jou maat gaan jou naderhand sien as ’n leuenaar en dit gaan aanleiding gee tot onnodige konflik.

Wat sê die kenners?

Volgens die boek Building a great marriage by Paul and Linda J Bucknell moet ons almal aanvaar dat ons huweliksmaats een of ander tyd gaan droogmaak. Hoe ons dit hanteer, is wat saakmaak. Neem jouself voor om altyd jou maat te vergewe, maak nie saak hoe klein of groot die oortreding is nie. Moenie wag vir jou maat om eerste om verskoning te vra nie, selfs al was hy die skuldige. Indien hy glad nie om verskoning vra nie, wees steeds bereid om hom te vergewe sodat julle met ’n skoon gewete voor God kan staan.

Ferdie is dit eens dat ons in ’n droomwêreld leef as ons sou voorgee niemand mag kwaad word nie, want ons emosies is deel van ons bestaan en menswees soos God ons geskape het. Daarom sê die 1953-vertaling van die Bybel: “Word toornig.” Daardie toorn moet egter ten doel hê om dit wat verkeerd is aan te spreek op ’n beheersde manier, net soos toe Jesus die tafels van die duiwe-verkopers omgegooi het in die tempel en hulle uitgedryf het om Sy Vader se eer te beskerm.

Elmari Mulder-Craig, ’n seksuloog en huweliksberader, sê dat dit alles gaan oor kommunikasie en energie tussen twee mense. Wanneer jy kwaad gaan slaap (stilstuipe het), word die konflik nie hanteer nie en word die probleem en die negatiewe energie daarvan eintlik groter en dan ook die emosionele verwydering al meer. Wanneer mens konflik doeltreffend en konstruktief hanteer, lei dit tot groter begrip vir mekaar, groei in die verhouding en meer emosionele en fisiese intimiteit.

“As ek kwaad is vir jou, is ek nie lus om aan jou te vat nie en definitief nie vir seks nie. As ons verskil het en dit opgelos het, voel ek nader aan jou en skep dit die ruimte vir goeie seks. Moet net nie dink jy kan konflik oplos deur opmaak-seks nie. Dit is die kersie op die koek.”

Volgende keer as jou en manlief se humeure weer opvlam, skep vir julle elkeen ’n bakkie roomys in. Gebruik jou kake om te kou eerder as om te praat en die tyd om na te dink oor wat albei gesê het. Niemand kan vir lank warm onder die kraag bly met ’n koue tong nie en só kan julle die probleem voor slaaptyd uitstryk.

Artikel deur THALIA BRüSSOW