Jy gee nie om om (in jou drome) soms agter meneer Clooney, meneer Gosling of meneer Butler op hul wit perde te sit nie, selfs al lê jou eie ridder (Meneer van der Merwe, Meneer Bezuidenhout of Meneer van der Walt) langs jou. Maar julle twee kan jul eie fliektoneel skep! Hier is ’n bietjie inspirasie.

Vra jy vroue uit oor hul gunsteling flieks, is die kans goed dat die meeste hiervan romantiese nommertjies is. Ván die tipiese romantiese komedies en ander chick-flieks is ’n paar ietwat vergesog (maar treffers, ten spyte hiervan!); ander kan weer werklik inspirasie bied sover dit kreatiwiteit in die slaapkamer – of daarbuite – aangaan. Gebruik die volgende flieks (waarvan die meeste uit vorige dekades dateer) om die regte atmosfeer vir jul liefde te skep. Julle hoef nie die dialoog te memoriseer nie – tensy julle werklik wil – maar gebruik die oorkoepelende idee om jul liefde Hollywood-glans te gee!

Titanic (1997)
Wie kan daardie toneel vergeet waar Jack (Leonardo DiCaprio) en Rose (Kate Winslet) met uitgestrekte arms voor op die skip staan en die temalied, My Heart Will Go On, in die agtergrond speel? Dié toneel kan egter ’n bietjie moeilik wees om te herskep – tensy jy ’n skeepskaptein is! Niks verhoed julle egter om ander tonele uit dié treffer na te maak nie, soos die een waar Jack ’n naakte Rose skets. Gaan koop ’n sketsboek en tekenpotlode, draai dit in ’n rooi pakkie toe, met ’n nota wat sê: “Ons is nou wel nie Titanic-akteurs nie, maar wys hoe jý my op papier sien . . .” Los die pakkie vir hom voor jul toe slaapkamerdeur. Wanneer hy binnekom, moet jy uitgestrek op die bed, in ’n sensuele posisie lê, met die kamer vol kerslig. Belowe jou – dié is een kunsprojek wat Manlief in vreugde gaan voltooi!

As nie een van julle kans sien om jul talente (of die gebrek daaraan) so ten toon te stel nie, probeer dié ander sexy toneel. Los dit vir ’n koue wintersaand op die agtersitplek van sy kar. Buite kan dit vriesend wees – julle moet die motor se vensters laat opwasem . . .

Dirty Dancing (1987)
Dans was nooit weer so sexy nie, en min vroue het nie oor dié fliek – en sy hoofakteur – geswymel nie. Patrick Swayze en Jennifer Grey was wárm, en wie sal daardie stukkie uitklopdialoog vergeet: “Nobody puts Baby in a corner . . .” Dit was egter veral gedurende die danstonele wat vroue wêreldwyd gewens het hulle staan in Baby se skoene. Met die ongelooflike musiek en natuurtonele waar die dansoefeninge plaasgevind het, word dinge net nóg romantieser gemaak.

Om hierdie fliektonele te herskep, moet jy professionele klasse neem. ’n Warmbloedige dans, soos die tango, sal goed werk. Kom ná jou les huis toe en verklee in Dirty Dancing garderobe . . . laat die fliek jou inspireer met Baby se kort boob tube-hempies, hempies wat voor onder die buuste geknoop word, dans-tights en sjoebroekies. Sê vir Manlief jy wil graag vir hom ’n paar danspassies leer, en sit Dirty Dancing se klankbaan aan . . .

Ghost (1990)
Tranetrekker van die dekade. Molly (gespeel deur Demi Moore) verloor haar sielsgenoot, Sam (gespeel deur Patrick Swayze), waarna hy met haar probeer kontak maak. Die pottebakkerstoneel is een van die sterkste tonele in dié fliek. Sy is besig by haar wiel, waarna hy agter haar kom sit, sy hande oor hare. Kort-voor-lank raak dit ’n liefdestoneel, waar sy haar bene om sy middel draai en ’n mens net kan raai wat verder gebeur.

As jy ’n pottebakkerswiel besit, kan dié fliek baie goed vir jou werk. As jy dit nie het nie, plaas ’n tafeltjie en stoeltjie iewers in die huis en maak vir Manlief in die middel van die nag met ’n soen wakker, en fluister: “Die hobby room . . . oor vyf minute.” As hy daar kom, tref hy jou in een van sy oopknoophemde aan (met niks onder aan nie), waar jy by die tafeltjie sit en werk. As hy nie weet wat om te doen nie, kan daardie man van jou wraggieswaar nie ’n skimp vang of ’n geleentheid raaksien nie!

9½ Weeks (1986)
Goed, hierdie fliek is eerder stout as romanties, maar gebruik dit tóg vir inspirasie. Liz (Kim Basinger) is ’n moderne kunshandelaar en John (Mickey Rourke) is ’n ou met geld. Albei is New Yorkers. Die sentrale idee van die fliek is dat ’n vrou die maklikste verlei word deur al haar sintuie in te span. John ‘voed’ Liz ‘op’ om seks deur sensualiteit te geniet. Daar is ’n element van gevaar in alles wat hy doen, en Liz moet leer om die risiko’s te omhels om sodoende die genot te ervaar. Sy kruip uit haar dop, in so ’n mate dat sy hom selfs toelaat om haar te blinddoek. Daarop volg iets wat jy en Manlief gerus kan probeer. John klink ’n leë glas teen Liz se oor en begin dan sy meesterlike verleiding deur haar nek en borste met ’n ysblokkie te terg.

Daar is ook ’n baie aanloklike kostoneel waar hy haar allerlei kossoorte met die hand voer (selfs ’n rissie!) en sy dit met toe oë ervaar. Probeer dit in jou eie huis uit jul eie kombuis.

How to lose a guy in ten days (2003)
Ben (Matthew McConaughey) en Andie (Kate Hudson) wil aan mekaar iets bewys, maar besef nie dat die liefde hom nie laat voorskryf nie. Sy gaan kuier vir hom by sy ouers se huis, en nadat hulle regtig saam pret gehad het, verlief geraak het op mekaar, en papnat gereën het op sy motorfiets, eindig hulle in die badkamer. Hy trek haar hempie uit, sy trek syne uit en die stortwater loop.

Dié fliek is maklik om na te maak, mits jy ’n motorfiets het. Volgende keer as dit lekker reën, se vir Manlief jy wil graag voel hoe dit voel om nat te reën op sy motorfiets. As julle nie motorfietse het nie, leen die tieners se fietse! Onthou om jou styfste wit hempie (verkieslik sonder ’n bra) aan te trek. As julle by die huis kom, trek hom in die badkamer in, draai die stortkrane oop en trek hom nader. Hy sal weet wat om te doen . . .

Wie kan ooit die volgende romantiese fliektonele vergeet?
• An Officer and a Gentleman: Jack (Richard Gere) stap na Paula (Debra Winger) waar sy in die fabriek werk en tel haar op die Joe Cocker-liedjie, Lifts us up where we belong, voor almal op. Wow . . .
• Just Like Heaven: David (Mark Ruffalo) het hierdie uitsonderlike tuin uit Elizabeth (Reese Witherspoon) se drome geskep. Sy word oorweldig deur die skoonheid, maar kan nie onthou van waar sy hom ken nie – sy was in ’n koma. Dan raak hul hande aan mekaar en al hul herinneringe kom terug na haar toe.
• Fifty First Dates: Dit is seker een van dié mees romantiese flieks ooit – van begin tot einde! Vir Lucy (Drew Barrymore) wat na ’n ongeluk aan geheueverlies ly, is elke dag eenders, en almal om haar werk saam om haar lewe te vergemaklik, totdat Henry (Adam Sandler) in haar lewe kom en haar elke dag vertel wie sy is. Wie kan die toneel vergeet waar sy in Antartika saam met hom en haar kind wakker word. Ongelooflik!
• Pretty Woman: Dit is miskien so ’n bietjie soetsappig en verregaande, maar almal is mal oor ’n hedendaagse Aspoestertjie-verhaal. Wanneer hy besef wat hy besig is om te verloor, ry Edward (weer Richard Gere) teen die einde na haar woonstel toe met blomme in sy arms, en hy hys homself teen die nooduitgang se leer op.
• Notting Hill: Wie kan daardie oomblik vergeet toe Julia Roberts (Anna) na Hugh Grant (William) se boekwinkel toe gaan met ’n geskenk, ’n oorspronklike kunswerk en sê: “I’m just a girl standing in front of a boy asking him to love her . . .” Sjoe!
• City of Angels: In hierdie fliek speel Meg Ryan die rol van Maggie Ryce, ’n hartsjirurg wat selfondersoek instel ná sy ’n pasiënt op die operasietafel verloor het. Nicholas Cage se karakter (Seth) word na haar toe aangetrek en hulle raak verlief op mekaar. Maar sy is ’n mens en hy is ’n engel. Hoe nou? Eindelik kies hy ‘free fall’ en word ’n gewone mens, sodat hulle bymekaar kan wees . . . maar ongelukkig nie vir lank nie (’n tranetrekker!).
• The Notebook: Romanties – van begin tot einde. Rachel McAdams (Allie) en Ryan Gosling (Noah) speel ’n jonger weergawe van dieselfde karakters wat ’n aantal jare later deur Gena Rowlands en James Garner gespeel word. Sy is in ’n ouetehuis, ly aan Alzheimers en kan nie hul lewe onthou nie, terwyl hy hul liefdesverhaal vanuit ’n notaboekie vertel. ’n Tipiese voorbeeld van: ware liefde oorwin alles. Laat dít vir julle ’n voorbeeld wees!
• P.S. I love you: In hierdie fliek verloor Holly (Hillary Swank) haar hart op (Gerry) Gerard Butler, maar Gerry sterf. Dit gebeur egter nie voor hy vir haar tien boodskappe gelos het om haar te help met die pyn, en haar ’n nuwe lewe te laat leef nie. Vir dié een het jy ook baie waterdigte maskara nodig.