Wanneer die lewe jou aan die diep kant ingooi, is dit maklik om die eenvoudige opsie te kies – wegloop, skei, aborsie. Nico en Ronell Liebenberg kon baie maklik in diep waters verdrink het, maar hulle het gekies om te swem – maak nie saak hoe sterk die stroom is nie.

Toe hulle op 6 Julie 1991 getroud is, het Nico (45), ’n navorsingsielkundige met sy eie onderneming, en Ronell (42), ‘n voltydse ma wat soms personeelaanstellings vir Nico doen, nooit kon dink dat hulle ’n huwelik sou moes maak werk met vyf kinders waarvan twee gestremd is en borskanker nie. Hulle lewensverhaal klink waarlik of dit uit ’n fliek uit kom en ’n mens kan amper nie glo dat so iets met régte mense kan gebeur nie.

Smoorverlief op hul troudag

Ronell vertel dat hulle in 1990 deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet het, terwyl sy by die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Diens (SAGD) werksaam was en Nico sy diensplig daar gedoen het. Ses maande later is hulle getroud.

Vir baie pasgetroude paartjies is kinders die natuurlike volgende stap. Uiteraard hoop en bid ’n mens dat jou kinders gesond sal wees en jou huwelik sal verryk, en ’n mens dink nie sommer aan hoe dinge kan wees indien dit nie die geval is nie.

Die Liebenberg-kroos van Pretoria bestaan uit Nicole (14), Dillon (13), Luke (10), Daniel-David (7) en Matthew (4). “Dillon en Matthew is gestremd. Hulle is blind, verstandelik gestremd en bedlêend. Hulle bolywe is hipotonies (slap) en hul onderlywe is spasties (styf). Hulle kan nie sit, praat of sien nie, maar hul gehoor is normaal. Hul verstandelike kapasiteit is omtrent dié van ’n vyf maande oue baba,” verduidelik Ronell.

Wanneer ’n mens van hierdie aangrypende situasie hoor, is dit maklik om met 100 vrae vorendag te kom. Hoekom aanhou kinders hê? Was daar komplikasies met die geboortes? Wat van aborsie? Dit kan seker nie nog erger word nie? En hoe op dees aarde hanteer ’n mens dit (om nie eens te praat van ’n gelukkige huwelik nie)?

Ronell vertel dat die geboortes van al hul kinders normale bevallings was. “Elkeen was vir ons ’n diep geestelike belewenis. Dit is wonderlik hoe lewe in ’n mens ontstaan, groei en vorm kry. As jy dan by geboorte die baba vir die eerste keer vashou en hul in jou oë kyk, weet jy daar is ’n God en Hy is groot!”

Die eerste groot skok het gekom met hulle tweede se geboorte. Dillon was gestremd ten spyte van die feit dat ál die voorgeboorte-toetse normaal was.

“Toe ek vir my ses-weke-ondersoek gaan, was selfs die ginekoloog geskok. Sy het telkens tydens die sonars gesê alles lyk goed. By die hospitaal het hulle net gesê hy het onderontwikkelde genitalieë en hom vir twee dae in die babasaal gehou omdat hy klein was (2,1kg), maar hulle het nie agtergekom dat hy byvoorbeeld nie pupille gehad het nie. Ek het twee weke later tuis agtergekom dat sy oë snaaks lyk en dat hy geen pupille het nie.”

Daarna het hulle met al die doktersondersoeke begin en het alles begin duidelik word. “Die genetici en neuro-spesialiste kon egter geen sindroom identifiseer nie, en daar was geen spesifieke familiegeskiedenis van sulke gevalle nie, so daar was maar net spekulasies oor wat kon gebeur het,” vertel Ronell.

Die groot A

Met Matthew het hulle ook nie vooraf geweet dat hy gestremd is nie en Ronell voel dat dit dalk makliker is, want hulle kon immers nooit kies of hulle wou aborteer nie.

“Wat ek wel weet, wanneer ek nou terugkyk, is dat alhoewel ek glo dat aborsie verkeerd is, ek baie genade het met mense wat so ’n besluit neem, want dit is ’n moeilike paadjie om te stap om ’n gestremde kind te hê. Ek dink ’n mens veroordeel ander maklik as ’n mens nie self in die situasie is nie.”

’n Groot gesin is ’n móét

Vir baie sal dit ondenkbaar wees om na twee kinders, waarvan een gestremd is, nog verder aan ’n gesin te bou. Die Liebenbergs het egter geglo dit is deel van God se plan vir hul lewens. “Ek was ’n laatlammetjie en het eintlik gevoel soos ’n enigste kind. Ek wou altyd baie kinders hê.

“My ma se suster het vyf kinders gehad en ek was altyd gefassineer met hulle interaksie en debatte om die etenstafel, en dan het ek gedink dit is hoe dit moet wees. Nico kom self uit ’n gesin met vyf kinders, so vir hom was dit nie ’n vreemde gedagte nie. Buiten dit, het ons geglo kinders is deel van God se seëninge in ons lewens, en ons glo vandag nog so.”

’n Oormaat uitdagings met ’n oormaat seën

Die hoeveelheid kinders wat hulle het, is op sigself ’n groot uitdaging, om nie eers te praat van twee wat gestremd is nie. “Logisties is dit definitief ’n uitdaging net om almal op die regte tyd by die skool te hê, en natuurlik naskoolse aktiwiteite. Dan is daar nog take, praatjies, toetse en eksamens – ’n mens word definitief besig gehou,” sê Ronell.

Sy meen verder dat die “blindemolle” (hul bynaam vir Dillon en Matthew) se versorging die grootste uitdaging is. “Ons wil hulle nie graag in ’n inrigting sit nie, so hulle word tuis versorg. Ek het Dillon self versorg vir die eerste sewe jaar. Dit was baie moeilik, want hy moes tot op die ouderdom van vyf jaar ontwind word soos ’n baba van drie maande en intussen het ons toe ook nog vir Luke gehad. Dit het soos ’n tweeling gevoel. My ma het altyd gesê wat nie doodmaak nie maak sterk, só ons het ‘sterk’ geword.”

Op daardie punt het hulle besluit om ekstra hulp te kry, en die lewe is sedertdien baie makliker. “Ons het twee helpers – Shiela (gedurende die week) en Zodwa (oor naweke) – wat kos gee, doeke omruil, posisies verander, bad, ensovoorts. Sonder hulle sou ons dit nooit alleen kon doen en die pas tuis kon volhou nie!

“Al wat nog soms moeilik is, is wanneer ons as ’n gesin op vakansie moet gaan, want dit verg baie reëlings om iemand te kry om na die blindemolle om te sien terwyl ons weg is. ’n Mens wonder soms hoe dit sou wees as hulle normaal was en kon saamgaan. Ons kan nie wag om wanneer die nuwe hemel en aarde kom, ure met Dillon en Matthew te gesels, en rond te hardloop en pizza te eet nie – hopelik is daar pizza!”

Ronell sê verder dat verjaardae nogal moeilik is, want “dan word ’n mens gekonfronteer met ouderdom en mylpale wat nie bereik is nie”. “Maar ons bly nie lank daar in ons gedagtes nie. Nico sê altyd: ‘Desire what you have!’, en dit is só waar.”

Hoewel sy sê dat dit harde werk is om so baie kinders te hê en ’n mens maar soms ’n bietjie oorweldig voel, is dit ’n wonderlike reis met baie gelukkige oomblikke van samesyn wat ’n mens kan deel.

“Dit is wonderlik om te sien hoe elke kind ontwikkel in terme van sy eie persoonlikheid, gawes en lewensroeping. Dit is lekker om met elkeen ’n verhouding te bou. Dit maak ’n mens se lewe vol en jou lewe het baie betekenis. Jy sal nooit sonder vriende wees nie – ons is regtig vriende met ons kinders en hou daarvan om tyd saam te spandeer.”

 Kan dit erger? Ja!

Ronell is in 2006 met borskanker gediagnoseer. “Dit was ook ’n baie moeilike tyd vir my, Nico en die kinders. Chemoterapie was vir my baie moeilik. Danksy die ondersteuning van familie en vriende het ons dié moeilike tyd in ons lewens egter oorleef. Ek is tans in remissie en baie dankbaar vir elke dag wat ek saam met my familie kan spandeer! Dankbaarheid is ’n groot ding in ons lewens.”

Speel die huwelik tweede viool?

Met alles wat so baie tyd en aandag verg, is die maklikste opsie dalk om die huwelik aan die kortste ent van die riem te laat trek. Tog is die huwelik die plek waar ’n mens gekoester moet word teen die lewe se storms, en Nico en Ronell is duidelike voorbeelde hiervan.

“Dit was maar vir ons albei ’n baie moeilike ding (die gestremde kinders) om te verwerk. Ons was geskok dat so iets met ons kon gebeur. Ons was dan sulke ‘goeie Christene’. Dit het my ten minste vier jaar geneem om dit te hanteer toe Dillon gebore is.

“Matthew was natuurlik ’n baie groot verdere skok, want ons het definitief nie gedink dit gaan ’n tweede keer gebeur nie. Nico het dit vinniger verwerk as ek. Ek onthou nog na Dillon se geboorte het hy op die witbord in sy kantoor geskryf: ‘I submit my right to understand.’

“Dit het definitief ’n diep gebrokenheid en nederigheid in ons lewens veroorsaak. Ons moes albei baie deursettingsvermoë aanleer, en leer om dankbaar te wees vir die klein dingetjies in die lewe.

“Ons het aanvanklik baie baklei, totdat Nico op ’n dag besluit het ek is sy vriend en nie sy vyand nie. Dit het ’n groot verskil gemaak om te besef dat ons ’n span is, en nie teen mekaar moet werk en probeer om mekaar te verander nie, maar eerder vír mekaar moet veg as téén mekaar.”

Deur God se genade het hulle nader aan mekaar en Hom gedryf. Hulle het deurentyd goeie keuses gemaak vir hul verhouding. Volgens Ronell was dit soms individuele opofferings, maar die verhouding het telkens gebaat.

“Alles in die lewe kom teen ’n prys. Soos Christus wat sy lewe vir ons afgelê het, moet ’n mens maar dikwels jou eie dinge, begeertes en soms slegte gewoontes van die ‘ek-wêreld’ aflê, en nuwe gewoontes aanleer om die ‘ons-wêreld’ te versterk. Dit is alles die moeite werd.

“Ons huwelik is soos goeie rooiwyn – hoe ouer ons word, hoe beter word dit. As ’n mens die Here het en elkeen as ’n individu op Hom fokus, stap God deur sy Heilige Gees ’n pad van genesing met elke huweliksmaat, en op die ou einde is jou huwelik soveel beter!”

Prakties gesproke is hul lewens baie gejaagd en moet hulle eenvoudig net tyd máák vir mekaar en vir die kinders. “Ek glo nie in gehaltetyd alleen spandeer nie, want die hoeveelheid is net so belangrik!” sê Ronell.

Een van die beste dinge wat hulle kon doen, was om vier jaar gelede te besluit om nie meer ’n televisie in die huis te hê nie. “Dit werp eindelose vrugte af. Ons sit graag elke aand as familie bymekaar, soms op die stoep, al is dit net vir ’n halfuur, en hoor by elkeen hoe sy dag was en gesels daaroor.

“Ons lees iets saam, soms ’n Bybelverhaal, en bid dan saam voor ons gaan slaap. Ons doen soveel dinge as moontlik as ’n gesin saam, en glo baie in tyd saam spandeer en verhoudings bou. Soms doen ons ook iets afsonderlik saam met elkeen om hom of haar spesiaal te laat voel.”

Wanneer dit by man en vrou kom, moes hulle in baie opsigte hulself en wat hulle wil hê prysgee, teenoor mekaar en teenoor die Here. “Ons verhouding het gewen, en Christus is meer en meer in ons gevorm. ’n Mens kan nie regtig oor die lang termyn verloor wanneer jy Christus volg nie. Net soos Christus, moet ons ons lewens neerlê vir mekaar.

“Ons probeer ten minste twee tot drie keer per jaar alleen weggaan om net as ’n paartjie mekaar weer te vind. Dit is baie goed vir ons verhouding. Veral wanneer dit rof gegaan het met ons verhouding, het ons alleentyd saam spandeer. Dan gaan ons ook so een keer in elke twee weke alleen vir ’n aand uit. Nico sê altyd die beste geskenk wat hy vir sy kinders kan gee, is om hul ma lief te hê, en dit is baie waar. Hy sê ook natuurlik ‘happy wife, happy life’.”

Sonder geloof is dit onmoontlik

Dit is duidelik dat Nico en Ronell se geloof hul anker is, al is dit soms moeilik om te glo dat daar ’n God is wanneer soveel storms jou lewensbootjie wil sink.

Ronell sê dit is veral Romeine 5:5 wat vir hulle besonderse betekenis het: “Lyding kweek deursettingsvermoë, deursettingsvermoë kweek karakter en karakter lei tot hoop” (sic).

“God het baie karakterbou-geleenthede in ons lewens toegelaat, baie meer vleis en minder melk. Vandag is ons minder naïef en ons persepsie van God het baie verbreed. Ons weet Hy is die Leeu en die Lam, en ons weet ons kan Hom vertrou met ons lewens, en elke moeilike ding wat Hy in ons lewens toegelaat het, hetsy deur ons eie sonde, soms ongeregtigheid of soms wanneer ons net deur die duiwel versoek is soos Job, sal alles ten goede meewerk sodat Christus meer en meer in ons gevorm word.

“Ons is nou meer as ooit gekwalifiseerd om te mag sê God is góéd en ons weet Hy is getrou, want deur dit alles het Hy ons nie een keer in die steek gelaat nie en was Sý genade genoeg vir ons.

“Ons het ’n groot paradigmaskuif ondergaan en is van ’n plek waar ons Christus gedien het tot by ’n plek waar ons besef het dat ons in Christus is en dat alles in ons lewens net genade is!”

Deur – Hesca Joubert