Pieter en Lotie Koen kan lekker lag! Gedurende die onderhoud word daar heeltyd met spitsvondigheid tafeltennis gespeel en leer ken jy hulle amper soos karakters – hy die malkop joker en sy die koningin wat hom gemaak-kwaai kortvat. Maar in dié twee se liefdesband steek daar duidelik veel meer as wat jy op die oppervlak raaksien.

As jy ’n rugby- en braaivleisliefhebber is wat hou van Afrikaanse feeste wat jou voete laat jeuk, is Pieter Koen se musiek definitief deel van jou CD-versameling. As jy sy onblusbare lus vir die lewe kon bottel, het jy fortuine gemaak! Maar vandag, in die Elephant Lodge Hotel in Centurion, sit Pieter verbasend rustig en gesels selfs diep dinge terwyl Lotie se grimering aangewend word. “Ek wil my hare só sny,” sê Lotie en wys na grimeerkunstenaar Lindsey se hare. “Regtig?” vra Pieter. “Só kort? Maar jy het dit dan net nou die dag gesny,” sê hy versigtig. Lotie knipoog.

Hulle gesels maklik en jy kom gou agter dat sy ’n regterhand is wat Pieter anker voor sy planne met hom wegvlieg, maar ook weet wanneer om ’n bietjie skiet te gee sodat sy drome kan realiseer. Sy is plat op die aarde, feisty in Pieter se woorde, maar met ’n soort deernis en sagte hart wat deur haar haastige, praktiese geaardheid verbloem kan word.

Van wingman tot bruidegom

Hulle het mekaar ontmoet toe Pieter wingman gespeel het vir ’n pel wie se moed hom begewe het. “Hy wou ’n meisie ontmoet en het gesê ek moet saamkom. Ek het nie omgegee nie, want haar vriendin Lotie het atletiek gedoen, so daardie lenige lyf was impressive,” lag hy. Maar Lotie het ’n kêrel gehad en was nie van plan om dislojaal te wees nie. “Dit het maar geduld van my kant af geverg en ek het respek gehad vir die feit dat sy nou betrokke was by iemand anders, so ek moes harde bene kou en een of twee keer koes vir die vorige boyfriend, maar toe dinge aan daardie kant begin skipbreuk ly, toe move ek in!” Die res is geskiedenis.

Is hulle pasmaats? Ongetwyfeld. Is hulle dieselfde? Nie noodwendig nie. “Ek is die dromer en vredemaker en Loot is die realis,” vertel Pieter. Dit is juis waarom hulle mekaar so goed aanvul. “Ek is ’n people pleaser en ek probeer almal gelukkig hou. Dit het my nou al ’n paar keer in die boud geknyp.”

Lotie voeg by: “Ek is nie onregverdig moeilik nie, maar ek is ’n reguit mens. Hy sal eerder doodgaan voor hy ’n stuk steak in ’n restaurant terugstuur. Ek voel weer jy moet kry waarvoor jy betaal het. Ek kan nie óók sag wees nie, want met twee sagte mense gaan dinge nie werk nie, so in ons gesin is ek die fighter. Ook met die kinders: Jayden, Jóvan en Lune. Omdat Pieter so baie van die huis af weg is vir werk, wil hy nie ook nog baklei as hy by die huis is nie.” Afgesien van hierdie verskil, is daar tog heelwat ooreenkomste ook. Hul geloof en beginsels is eenders. Só ook hul opvoedingstyl en morele waardes. En hulle deel ’n bankrekening. “Ek dink ook die feit dat ons getrou het voor Pieter begin naam maak het, het dinge makliker gemaak – ons kon saam met sy loopbaan groei.” Hulle is ’n gedugte span en Lotie help selfs liedjies skryf, al het sy haar eie raamwerk-onderneming begin. Hulle gee mekaar ruimte en check nie heeltyd op mekaar se doen en late nie.

Die uitdagings van bekendwees

Een van die uitdagings van celebrity wees, is die tekort aan roetine. Dit maak bymekaarkomtye vir die gesin soms moeilik en Pieter en Lotie moet ekstra hard werk om tyd saam te spandeer – veral met drie woelwaters in die huis. Daarom glo hulle onwrikbaar in date nights. En hiervoor is kinderoppassers ’n broodnodige bestanddeel. “Ons het baie babysitters, maar ons reël is jy vat al drie of jy vat niks,” vertel Lotie.

Pieter verduidelik ook dat ’n goeie quickie of twee altyd aan die orde van die dag is! “Maar ons hét al so ’n keer of wat ’n klop aan die deur gekry op die onmoontlikste tye!” Die uitdaging is nie altyd om tyd te kry vir seks nie, maar ook vir romanse. “Daar wás ’n tyd toe Pieter romanties was,” terg Lotie. “Ek weet nie wat het gebeur nie. Maar toe hy nog na my gevry het, het hy een Valentynsdag vir my ’n ete by die Fonteine-sirkel in spitstyd gehou. En voor my koshuiskamer geserenade.” Pieter erken dat hy ’n bietjie lui geword het in dié afdeling. “Maar so elke nou en dan val daardie ou uit. En dan wil sy eers weet wat ek gedoen het. Dit is amper soos destyds toe ek witvoetjie gesoek het vir ’n motorfiets!” Lotie doen moeite met spesiale gebare, soos om vir Pieter ’n kosblikkie met mooi briefies in te pak wanneer hy Kwêla toe gaan. Vir hulle om as gesin bymekaar te kom, verg ook beplanning. “Ons het nou ’n groot familiebybel gekoop,” vertel Pieter. Hy is die storieleser. “Ek dink dit is belangrik om soos in die dae van ouds weer minstens een keer per week bymekaar te kom. Ons Christenskap speel ’n baie belangrike rol in wie ons is en wat ons aanpak.”

Op programme soos Kwêla en Jukebox is Pieter se lewenslus aansteeklik – hy is amper soos ’n bruistablet en jy wonder of sy energie hom nie somtyds ’n handvol maak nie. “Mense vra dikwels vir my hoe ek dit met hom uithou, maar hy is nie só by die huis nie,” vertel Lotie. “Hy is rustig, ek dink dit is sy tyd om af te wen.” En wanneer hy daarmee sukkel, help Lotie hom! “Partykeer as hy oor werk babbel wanneer hy by die huis kom, ignoreer ek dit. Ek dink: ‘Ek wil nie nou oor jou praat nie, maar oor wat vandag met die kinders gebeur het en sulke dinge.’ Wanneer ons weggaan vir ’n naweek, is dit vir my lekker om sy werksplanne te bespreek. En by die huis moet ek soms sê: ‘Jy is nie nou op stage of in ’n gastehuis nie – jy kán maar jou bord agtertoe vat.’”

Oor sweetpakke en ponytails . . .

Ons gesels oor seks en terwyl die vroue in die vertrek klets, sak Pieter al dieper en rooier af in sy stoel. Sy doen moeite met haarself, veral op date nights, vertel Lotie. “Ek sal so nou en dan ’n stoute pakkie koop – nou nie ’n nurse-pakkie nie, al weet ek hy fantaseer daaroor!” knipoog sy. “En dan sal ons miskien weggaan. Maar ’n mens is mos maar skaam, veral ek.”

Sy vertel ’n staaltjie: “Pieter is gesnip. Kyk hoe skaam kry hy nou . . .” Hy val haar in die rede: “Ek is ’n model, man! ’n Sportsmodel!” Dan gaan Lotie voort: “Die dokter het gewaarsku dat ons ná die operasie vir ’n ruk lank kondome moet gebruik. INTIEM het gesê jy hoef nie skaam te wees om kondome te koop as jy getroud is nie. Jy stap in, vat wat jy wil hê, gooi dit trots op die toonbank neer en betaal. Jy weet mos hoe werk dit, vroue stap altyd na die rak toe en maak of hulle vitamiene soek. Maar dié dag het ek my vriendin nader getrek en ons het tot by die apteker gestap en gesê ons soek ’n opkikker vir ons mans – dit was after all Valentynsdag. En hy gee toe vir ons hierdie vibrator-dingetjie. Toe is ons met die kondome ook tot by die betaalpunt, vol selfvertroue. Toe die kassier my vra of ek ’n sakkie wil hê, sê ek ewe dapper: ‘Nee dankie, ek sal dit net so vat!’”

Op ’n ernstiger trant vertel Lotie: “Ek dink in ’n stadium as ’n mens kinders gehad het, kom jy op ’n plek waar jy nie meer grimering dra nie, jou hare word in ’n poniestert vasgebind en jy trek sommer ’n sweetpak aan. En ek het hierin verval. Toe besef ek dat as ’n mens goed versorg is en mooi na jouself kyk, jou man nie sal nodig hê om ander vroue te begeer nie. Ek dink nie ’n vrou moet haarself laat ‘gaan’ nie. ’n Mens is ook só geneig om te sê: ‘Dis babavet’, maar my ginekoloog het nou die dag gesê jy kan daardie verskoning net gebruik tot jou kind een jaar oud is, so my deadline is verby! Pieter het nou die dag gevra hoekom ek so mooi aantrek, en toe sê ek: ‘Ek doen dit vir myself en vir jou. Want as ek mooi lyk, hoop ek jy waardeer dit.’”

Die klippe kou-tyd

Soos met enige huwelik, was daar saam met die soet ook maar ’n bitter moeilike tyd. Lotie vertel van die tyd toe die nuus van Pieter se SMS-verhouding op die voorblad van ’n skinderkoerant gepryk het. Sy sê dat haar hele keerpunt oor selfversorging eintlik tóé gebeur het. “Ek het myself die skuld gegee. Maar uiteindelik het Pieter erken dat dit bloot ’n ego-ding was. Hy het nie gedink dat iemand nog in hom sou belangstel nie.” Vir Lotie was dit ’n baie moeilike tyd, met slapeloosheid en angsaanvalle. “My selfbeeld was teen die grond en ek het nooit meer gelag nie. Tot ek een dag opgestaan en besluit het: Geen man is dit werd dat ’n vrou só oor haarself voel nie. Hy moet my aanvaar soos ek is, want ek aanvaar hom só. Daar was al mans wat toenadering by my gesoek het, maar vir my is buite-egtelike verhoudings ’n swart-en-wit kwessie. Ná so iets raak ’n mens se kop egter mal en jy wonder of jy nie dalk moet probeer nie . . . dalk ervaar jy daardie thrill waarvan hy praat as iemand ook dink jy is mooi. Maar dank die Here ek is so beginselvas dat ek nooit hierdie roete gestap het nie.”

Om alles te kroon, het Lotie die daaropvolgende Vrydag ontdek sy is swanger met Luné en die media het haar as die “opmaakkind” gebrandmerk. “’n Mens voel dadelik: Ek wíl nie nou ’n kind hê nie – dit is die verkeerdste tyd. Tot ek eendag ná ’n vreeslike worsteling my antwoord gekry het: Op dié tyd wat dit die swaarste gegaan het met my in my huwelik, het die Here vir my ’n dogtertjie-maatjie gegee. Ek gaan haar beste maatjie wees.” Dit was só ’n moeilike tyd, maar die Koene het besluit om sterk te staan en hierdeur te werk. Hulle het met hul dominee gaan praat, maar besef dat net hulle self dinge kon regmaak. Daar was moeilike tye, maar vriende en familie het hulle ondersteun – dit is nou afgesien van dié vriende wat hulle gou besef het net mooiweersvriende was. Pieter las by “Jy kom gou agter wie regtig jou vriende is as só iets gebeur, maar ons is daardeur en dit het ons baie sterker gemaak. Vir my was dit erg, want ek het nie net myself teleurgestel nie, maar ook vir haar. En die trauma kring veel wyer uit, na die mense om ons.”

’n Toets vir my geloof

“Dit was ook ’n geloofstoets,” vertel Pieter. “In ’n stadium het ek begin vergeet waar my seëninge vandaan kom. Die liewe Vader het my wakker gemaak en gesê: ‘Jy dink dalk die gras is groener aan die ander kant van die draad, maar fokus! En ek het geleer jy moet voortdurend eerlik met jouself wees. Ek het heeltyd geweet ek doen verkeerd, maar die duiwel weeg mos ’n bietjie swaarder op die een skouer. En toe dit verby is, het ek besef die Here het vir Lotie spesifiek oor my pad gestuur met ’n plan. As ons deur hierdie dips kan werk, gaan die hoogtes soveel lekkerder wees. En vandag is dit. Ons is ’n voorbeeld vir ander paartjies.” Hulle erken dat hulle op seksuele vlak meer begin “waag” het met stoutighede en nader aan mekaar beweeg het. Dit is juis vir hulle spesiaal omdat hulle mekaar se “eerstes” was. “Ek dink juis daarom, as gevolg van die feit dat ons verhouding nie seksueel van aard was nie, was ek bereid om daardeur te werk,” sê Lotie.

Nou fokus hulle op die goeie tye, waarvan daar heelwat was en steeds is. Soos die wittebrood wat hulle (ironies genoeg!) op Jakaranda 94.2 gewen het! “Ons was Hong Kong toe op ’n boot, dieselfde tyd wat die Twin Towers inmekaargetuimel het, en toe kon ons nie terugkom nie. Dít sowel as die geboorte van elkeen van ons kinders was spesiaal. En elke dag wat ons binnegaan met die besef dat ons geseënd is, is ’n geskenk.” Dit is nou maar net só, hulle is sielsgenote, meen Pieter. Hulle wil eendag daardie ou oom en tannie wees wat na vyftig jaar se huwelik één met mekaar is, verduidelik hy. “Ons voltooi mekaar se sinne en mense vra soveel keer vir ons of ons boetie en sussie is. Baie mense dink my ma is haar ma.”

Jy kyk na die silwer bandjies om hul arms. Eenders, met hul kinders en mekaar se name en geboortedatums daarop gegraveer. “Dit is ’n simbool om ons daaraan te herinner dat ons kinders altyd by ons is en dat ons twee dieselfde is. Ons beweeg nou net vorentoe en boontoe . . .”