Julle deel al vir jare ’n voordeur, bed en badkamer. Wasgoed en babadoeke is deel van die gevestigde orde. Julle kan mekaar se sinne voltooi . . . wat meestal eindig met werkwoorde oor verantwoordelikhede. Dis dalk tyd om die stof van jul liefdeslewe af te blaas en die romanse te restoureer.

Hier is ’n paar nuwe idees:

1. Die eerste stap: Maak ’n studie van jou maat

Dit maak nie saak vir hóé lank julle al saam is nie – daar is beslis dele van jou maat wat jy steeds nie ken nie. “Ons interpreteer die wêreld, en ook ons verhoudings, op grond van sekere aannames,” sê Carien du Toit, ’n sielkundige en huweliksterapeut wat in Imago-terapie spesialiseer. “Kortliks: We don’t see things as they are, we see things as we are.”

Wat is die teenmiddel? “Sien jou maat as ’n misterieuse wese, ’n nuwe land om te verken.”

Maak ’n lysie van alles wat jy van haar wil weet, steek die kaggel aan, maak die beste rooiwyn oop en vra haar uit oor haar voorkeure, fantasieë en drome. Die doel hiermee is om ’n sensuele, romantiese leefstyl te kweek.

2. Aandete a la nudité

Aandete trek ’n nuwe baadjie aan wanneer beide van julle saamwerk aan ’n romantiese maaltyd – sonder klere! “As jy nie gemaklik is om totaal au natural te gaan nie, trek ’n sexy voorskoot aan of glip ’n French maid-kostuum aan,” sê Carien.

“Kies ’n sensuele spyskaart sodat julle mekaar kan voer en dalk sommer van mekaar se lywe af kan eet! Die bonus is natuurlik dat julle nie tyd hoef te spandeer aan tafel afdek nie . . . tyd wat julle beslis beter kan benut tussen die lakens (of op die kombuiskas).”

3. Ai, die geykte date night

Dis date night. Dis Dinsdag. Dinsdagaande om seweuur gaan eet julle by die naaste restaurant. Dinsdag na Dinsdag. Week na week. Gaap. “Moenie date night net deel van die roetine maak nie – it defeats the purpose,” sê Carien. “Novelty bring opwinding, opwinding bring energie en stimulering.”

Daar is verskeie slim maniere om met ’n beperkte begroting en min tyd steeds buite die boks te dink. Stuur die vorige dag vir jou maat ’n uitnodiging per epos, dui die kleredrag aan as sexy, laai haar op by die kantoor en neem haar uit na ’n elegante kroeg vir ‘n skemerkelkie na werk. En moenie jou strikdas vergeet nie, 007. You have a licence to thrill!

4. Slaap saam . . .

Nee, nie (net) dáárdie soort slaap nie! Navorsing deur die Gottman Instituut het getoon dat 75% van paartjies wat vir langer as drie jaar getroud is, nie saans saam in die bed klim nie. Die Journal of Martial and Family Therapy voer aan dat paartjies wat nie hul slaaptye koördineer nie, merkbaar minder huweliksatisfaksie ervaar.

“Die laaste paar ure van die dag is byna heilig,” sê Carien. “Gryp die geleentheid aan om dit ’n rustige, romantiese tyd te maak. Geniet ’n warm drankie onder die duvet, lees vir haar ’n erotiese kortverhaal voor of lê net lekker styf teen mekaar en cuddle en gesels. Om saam in die bed te klim, kan deel wees van ’n romantiese leefstyl.”

5. Pak ’n romantiese care package

As jou maat gereeld reis, kan romanse nogal ’n uitdaging wees. Jou antwoord? ’n Weldeurdagte, romantiese care package. Eerstens moet jy ’n houer van ’n sekere aard kies. “Enige boksie sal werk – ’n skoendoos is eintlik perfek,” sê Carien.

“Versier dit met iets sexy en speels, soos foto’s van julle twee saam of prentjies uit ’n tydskrif. Kies dan die boksie se inhoud met romanse in die oog – jou maat se gunsteling lekkerny, ’n CD wat julle as studente saam geniet het, ’n nuwe stukkie onderklere (sodat hy baie opgewonde is om huis toe te kom!), ’n handgeskrewe liefdesbrief. Die idees is eindeloos.”

6. Bêre romanse in die (bordspeletjies) kas

Volgens die American Psychological Association is paartjies wat saam speel, baie meer geneig om hoë vlakke van verhoudingsatisfaksie te ervaar. “Speel is mense se natuurlike manier om te ontspan, om te antisipeer en te geniet,” sê Carien.

As die begroting en tyd soms ’n bietjie knyp, bêre die romanse in die kas – die bordspeletjies-kas! “Daar is ’n verskeidenheid van bordspeletjies vir paartjies op die mark beskikbaar, soos Monogamy en Strip Board Tease. Selfs ’n pak kaarte en outydse Strip Poker kan ’n lekker aandjie tuis verseker. Julle kan natuurlik ook toeps aflaai – daar is ’n hele paar om van te kies, soos byvoorbeeld Truth or Dare-tipe speletjies vir paartjies.”

7. Skattejag

Moenie romanse los as die laaste ding op jou lys nie. Begin sommer die dag met ’n sexy skattejag – plant leidrade in jou maat se kar, skryf kriptiese boodskappe op post-it papiertjies, stuur ’n elektroniese skakel wat lei na ’n liedjie met ’n versteekte boodskap.

Laat hom duidelik verstaan watter skat aan die einde van die reënboog wag: JY! En nie sommer net die elke-dag-jy nie . . . jy soos wat hy jou nog nooit gesien het nie. Maar hy gaan moet werk vir sy beloning en elke leidraad uitpluis om sy skat te geniet – dit is immers ’n skattejag.

Bronne:
http://psycnet.apa.org/record/2000-13328-006, http://berkeleysciencereview.com/couples-who-play-together-stay-together/, http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/j.1752-0606.1991.tb00864.x/abstract, https://www.youtube.com/user/TheGottmanInstitute.

Artikel deur Anja van den Berg