Dié wat dit al gedoen het, lees dalk hier met ’n skewe glimlag en dink: “Mmm, ons het dit gemaak, maar nét-nét.” Vir dié van julle wat nóg nie gebou, aangebou of aan jul huise verander het nie, lees eers hier.

“Moira, is jy seker jy wil dit doen? Desmond gaan woedend wees!”

Moira gluur haar vriendin aan, mes in die een hand en ’n bottel spiritus in die ander.

“Ek háát hierdie muurpapier – dit lyk soos ’n kakkerlak-begraafplaas in ’n fles waatlemoenkonfyt!”

“Ek stem saam, dit lyk bietjie vreemd, maar dit was Desmond se keuse.”

Moira swaai die spiritus onder haar vriendin se neus. “My man het geen sense of style nie!”

“Ai, ek weet, maar dit is sý studeerkamer. Jy kan nie die muurpapier sommer goedsmoeds afhaal nie! Sê nou jy veroorsaak ’n onherstelbare gemors?”

Then so be it!” verklaar Moira dramaties. “Hierdie muurpapier waai vandag!”

Die binnenshuise ontwerper het die volgende oggend die muur en ’n dikmond Desmond net een kyk gegee en geweet: Dit is weer een van dáárdie paartjies . . . elke binnenshuise ontwerper se nagmerrie!

Dit is moontlik om verbeterings aan julle huis aan te bring sonder om dit in die Derde Wêreldoorlog te verander. Of in die skeihof te eindig. Die gedagte daaraan om julle huis ’n makeover te gee is vir baie paartjies opwindend. Tot die proses begin en jy besef dat dit geen walk in the park is nie!

Volgens Douw Steyn, ’n binnenshuise ontwerper van Pretoria, wil paartjies graag alles self doen om geld te bespaar, maar verander die DIY-projek gou in ’n nagmerrie. “Niks is so skokkend as om saam met ’n paartjie in ’n winkel te staan en die twee vat mekaar aan in die openbaar en skreeu op mekaar nie. Soms kan dit rof raak met argumente oor die een wat nie omgee wat die ander wil hê nie of die ander een beskuldig van swak smaak.”

Die grootste strydpunt vir paartjies is ’n verskil in smaak. Almal hou nie van dieselfde kleure, vorms of teksture nie. Dit is ook nie altyd maklik om ’n middeweg te vind as jou en manlief se smaak drasties verskil nie. Dit lei gewoonlik tot ’n magstryd – wie kry sy sin en wie nie – en kort voor lank baklei julle oor dinge wat niks met binnenshuise versiering te doen het nie.

Albei het ook nie altyd dieselfde eindresultaat in gedagte nie en die droom wat saam gedroom was, verander gou in ’n teleurstelling.

Paartjies koester soms onrealistiese verwagtings oor die tydsduur van die proses. Binnenshuise ontwerpers waarsku teen armchair experts – paartjies wat dínk hulle weet hoe alles werk omdat hulle dit “op televisie gesien het”. In realiteit kan sommige take tot ses maande vat om te voltooi – dit neem nie net die duur van ’n televisieprogram (een uur) nie!

En dan is daar natuurlik die geldsake. Baie paartjies is nie voorbereid op die kostes van binnenshuise versiering nie en kan hulle oë nie glo as hulle sien hoeveel sekere items kos nie. Dit ontaard in enigiets van “Jy maak my bankrot met jou gierigheid” tot “Jy was te onnosel om ’n behoorlike begroting op te stel”.

Binnenshuise ontwerpers moet dikwels vredemaker speel tussen vuurspuwende paartjies. Die strydpunte kan egter vermy of opgelos word deur prakties te wees.

Kenners gee die volgende raad:

1. Doen jou huiswerk: Besluit vooraf presies waar verbeterings nodig is en vind uit hoeveel dit ongeveer sal kos.

2. Ek of jy: In plaas daarvan om te stry oor wie sy sin gaan kry, verdeel vooraf die huis. Besluit wie spandeer die meeste tyd in watter vertrek. Die betrokke persoon kan dan die keuse oor daardie vertrek se versiering doen.

3. Bly by die beplanning: Hou by jou begroting en skakel sodoende emosionele kopies uit.

4. Eindresultaat: Maak ’n plakboek of bord met julle gunsteling idees sodat julle nie net sien hoe dit gaan lyk nie, maar ook watter droom jou maat vir die plek het. Vir ’n oulike aanlyn bord, gaan loer op pinterest.com, en pin al die idees saam.

5. Professionele hulp: Weet julle dat julle ’n paartjie is wat geneig is om nie saam te stem nie en ook nie baie tyd het om aan die projek te spandeer nie? Kry eerder van die begin af ’n binnenshuise ontwerper om te help!

6. Klein happies: Breek een groot projek op in kleineres. Een klaargedoende vertrek is beter as ’n half klaargedoende huis. Neem in ag hoe lank alles gaan neem en hoe dit jul daaglikse roetine gaan versteur.

7. Wat gaan die beste lyk: Vóór jy daardie giggelgeel kleur op die muur verf of die duur sofa koop, toets die idee. Vra jou binnenshuise ontwerper vir voorbeelde of ’n demonstrasie van hoe die verf sal lyk. Vir dekor, gaan besoek gewilde dekorwinkels en kyk hoe vertoon hulle uitgestalde items. Jy kan uitstap met ’n blink nuwe idee of jouself red van ’n dekor-verleentheid.

8. Beide se insae: Sorg dat beide persone teenwoordig is vir konsultasies met die binnenshuise ontwerper of vra die binnenshuise ontwerper om voorbeelde te los sodat jy jou maat later kan wys. Dit voorkom onnodige misverstande.

Volgens Douw gee ’n restourasieprojek paartjies die geleentheid om mekaar te leer ken en die beginsel van “ons stem saam dat ons nie altyd saam hoef te stem nie” uit te leef. “Albei persone buite hul comfort zone is nogal ’n resep vir die opvlam van emosies, so weet vooraf dat jou geduld tot die uiterstes beproef gaan word!”

Neem vooraf ’n bewustelike besluit dat die vrede bewaar gaan word! ’n Suksesvolle restourasie is een waarin albei partye hul bydraes en persoonlikhede kan herken.

Artikel deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: miriamansellinteriors.com en redbookmag.com