Ek en my verloofde is al drie jaar saam. Aan die begin het my verloofde baie pornografie gekyk en baie gedrink, maar dinge was wonderlik tussen ons (emosioneel en seksueel). Ek het nie van die pornografie geweet nie, tot ek eendag die DVD-speler aangeskakel het en dit verskyn het. Ek was baie ontsteld en het verskriklik lelik en minderwaardig gevoel. Hy het alles weggegooi en net daar het ons hele sekslewe verander. Van vier keer per week het dit na een keer in twee weke verander. As dit gebeur het, het ek uitgevind dat hy na dit op sy telefoon gekyk het.

Ek het gedink die probleem lê by my. Ek is nie vet nie, maar het ’n keisersnee gehad, só die bababoepie is daar. Ek het nog steeds gewig probeer verloor en romanties probeer wees. Ek het sexy onderklere gaan koop, maar is altyd afgesê of vertel dat my tydsberekening nie reg is nie. Ek het een keer selfs voorgestel dat ons saam na die pornografie kyk, want ek voel baie onseker as hy dit alleen kyk. Ons het dit seker so vier keer gedoen en die seks was goed, maar toe word daar vir my gesê hy voel ongemaklik daarmee.

Só het hy weer skelm begin kyk. Hy kyk ook na kaal vroue op Facebook en as ek kla, sê hy dit is net prentjies. Hy wil gereeld dinge sonder my doen terwyl ek werk, maar as ons saam af is, wil hy niks doen nie. Ek weet in my hart hy loop nie rond nie, maar dit laat my steeds wonder.

Ek het al só baie gepraat, gehuil, gesmeek en mooi gevra wat ek kan doen om dinge te verbeter, maar ek kry nooit ’n reguit antwoord nie. Ek is baie lief vir die man en wil graag in Desember, soos beplan, met hom trou, maar ek weet nie of ek die res van my lewe so alleen en minderwaardig saam met hom wil voel nie. (Brief verkort)

Dr Elmari Mulder Craig, seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, psigoterapeut, kliniese hipnoterapeut en outeur, antwoord:

Jou vraag betrek ’n hele paar aspekte van julle verhouding. Kommunikasie, konflikhantering, emosionele intimiteit, gehaltetyd en seksualiteit. Natuurlik kan jy ook nie die hele geskiedenis en konteks skets nie, so dit is baie belangrik dat jy en jou maat by ’n professionele terapeut uitkom voordat julle trou.

Die feit dat hy na pornografie kyk en dit steeds skelm doen, al is jy bereid om dit saam met hom te kyk, sal natuurlik jou selfbeeld negatief beïnvloed. Dit is egter belangrik dat jy sal weet dit gaan nie oor jou of dat hy jou nie begeerlik vind nie. Mans kyk dikwels na pornografie omdat dit ’n maklike gewoonte word, want daar is ’n oorvloed van visuele stimulasie en daar word niks van hulle terug verwag nie. Hulle word dus lui en dit word moeiliker vir hulle om gewone seks met hul maats te hê.

Daar is wel rooi ligte in julle verhouding. Ek dink vertroue raak vir jou ’n probleem en die feit dat jy voel hy onttrek van jou – julle leef verby mekaar. Dit kan wees omdat julle die “olifant” in die kamer probeer vermy. Moet asseblief nie dink dinge gaan beter raak as julle eers getroud is nie. Probeer julle probleme in terapie uitsorteer, maar indien dit nie moontlik is nie, is ’n vreeslike einde baie beter as ’n eindelose vreeslikheid. Sterkte.