Rikus Marais* was betrokke in ’n bose maalkolk van alles wat besig was om sy huwelik te vernietig. Maar met genade kan hy vandag ’n kragtige getuienis lewer . . .

As tienerseun het Rikus sy lewe vir die Here gegee. Maar kort daarna het ’n ouer seun hom gemolesteer. “Ek dink daar het my dinge met die seksuele begin. Ek kan onthou hoe ’n maat vir my pornografiese tydskrifte gebring het.” Ná skool het Rikus by die polisie aangesluit. “Ek het my vrou ontmoet en was erg verlief op haar. In daardie stadium was die pornografie nie só ’n groot probleem nie.

“Ná ’n paar jaar het ons begin om probleme te ervaar in die intieme afdeling. Dit is hier waar ek in pornografie begin ‘ontsnap’ het. Ek het ook telkemale verhoudings aangeknoop met vroue. Ek sou redeneer dat ek elders kry wat ek nie by die huis kry nie. Ek wou nooit my vrou los nie, ek was te lief vir haar.”

Intussen het Rikus en sy vrou ’n paar huwelikseminare bygewoon. Dit het vir ’n rukkie gehelp op die gebied van konflikhantering. Maar met die jare het die pornografie-verslawing al erger geword. “Ek sou ure op my rekenaar spandeer. Ek het ook al meer gefrustreerd geraak met my huwelik wat nie aan die intieme kant wou verbeter nie.”

Swaaiend en draaiend in die maalkolk

“Ek het later op swingers afgekom en besluit om dit te probeer. Eerstens was dit veiliger, want hier wou die vroue nie ’n emosionele verbintenis hê nie. Ek het amper twee jaar daarmee volgehou.” Gedurende hierdie tyd het Rikus se vrou die hele tyd by hom gebly.

“Toe ek veral by die swingers betrokke was, het my persoonlikheid begin verander. Ek het ’n koue, bitter mens geword en het haat teenoor my vrou opgebou. Ek het háár blameer vir ons huweliksprobleme. Ek het selfs vir ’n egskeiding gevra. Sy het natuurlik geweier. My kinders het my gehaat, want hulle het toe ook agtergekom wat ek doen. Ek het God gehaat, want Hy het nie my huwelik gered nie, vir my ma se kankerdood, vir ons finansies . . . en só het die lys teen God aangegaan.

“Ek het in April 2012 een oggend wakker geword en toe ek in die spieël kyk, het ek die vrééslikste gesig gesien. Dit het gelyk of ek ’n beroerte deur die nag gehad het. My arm was ook verlam. My hele gesig was verlam, ek kon nie eers my oë knip nie. As ek my oë probeer knip het, het hulle omgedop.”

Ek het om vergifnis gevra

Rikus is hospitaal toe, waar hulle vasgestel het dat hy ’n vorm het van Guillaume Barre-siekte. Dit is ’n motorneuron-siekte wat die senuwees tussen die brein en die spiere beskadig. Daar in die hospitaal het Rikus se vrou hom vasgevat en hard met hom gepraat. Hy het haar steeds in daardie stadium gehaat. Hy het die aand in sy bed gelê en besef dat hy gaan sterf en dat hy hel toe sal gaan. “Ek bid toe tot God en vra vergifnis vir alles. Ek vra dat Hy my ’n nuwe man moet maak. En dat Hy my moet genees as dit Sy wil is.” Rikus het daarna aan die slaap geraak.

Die volgende oggend het hy wakker geword, steeds verlam, maar hy was baie kalm en rustig. Toe sy vrou kom kuier, het hy haar gevra om sy Bybel vir hom te bring. “Jy moes haar gesig gesien het. Toe ek haar groet, sê ek vir haar: ‘Ek is lief vir jou.’ En die oomblik toe die woorde oor my lippe gaan, het ek met ’n skok besef dat ek dit bedoel! Die vorige dag het ek haar gehaat. Dít is wat God kan doen!”

Bly weg uit die porno-web

“Pornografie is glad nie onskuldig nie. Omdat mans visuele mense is, is pornografie iets wat in die psige gaan sit. Dit sit daar en ontkiem soos ’n kakiebos, en voor jy kan keer, is dit ’n ding wat jy op jou eie glad nie kan uitroei nie. My raad is dat jy jou héle lewe moet oorgee aan God. In die verlede het ek self probeer om die verslawing te oorwin. Ek het gebid daaroor, ja, maar ek het uit eie krag probeer. Dit het gewoonlik net vir ’n paar weke gewerk. Toe ek in die hospitaalbed lê en besluit ek is moeg, dat ek oorgee . . . dat ek alles aan Hom gee, dis tóé dat Hy in my begin werk het. Die Heilige Gees het van die volgende dag af só ’n honger in my wakker gemaak vir Sy Woord. Dit is dáár wat die verandering ingetree het. Christus verander jou binne, deur jou denke te vernuwe,” vertel Rikus.

’n Pleister op jou verhoudings

“Verhoudings is die moeilikste deel van alles. Gelukkig het die Vader my geseën met ’n vrou uit een stuk. Die Heilige Gees het haar versterk om volkome te kan vergewe. Die kinders was ’n ander saak. My dogter het só ’n haat opgebou teenoor my dat dit ’n paar maande gevat het voordat sy heeltemal teenoor my kon ontdooi. Die pad wat ek met die Here stap, het bygedra om die bande te herstel. Hulle kon sien en beleef dat hul pa wel verander het.”

Rikus se vrou vertel dat hy haar gevra het om te skei. “Ek het geweet dat die Here my op sy pad gestuur het, nie om te hardloop as dit moeilik raak nie. Ek het geweet dat die persoon wat met hierdie euwel besig was, nie die man is op wie ek verlief geraak het nie. Geen normale mens sal met só ’n persoon trou nie. Ek het net gebid dat die Here my moet help en Rikus verlos, nie net van die pornografie nie, maar van ’n gees van verslawing. Ek het geweet Rikus is die beste man en pa vir my en my kinders. Rikus het my na die Here toe gelei – wie was ek om hom te los toe ek sien hy is verlore in hierdie pornografie en ander dinge?”

Sy glo ’n mens kán weer die vertroue herstel as jy opreg vergewe. “Onthou, niemand van ons is volmaak nie. Die Here gee jou die krag om aan te gaan. Die vertroue is ’n proses. Ek is nog op ’n reis. Ek praat met Rikus oor hoe ek voel en hy verstaan. Dit is nie ou koeie wat ek opgrawe nie, dit is vir my ’n genesingsproses. Ek kies om by die Here se voete te sit en dankie te sê dat Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het, en dat ek net hoef te sê dat ek vir Rikus vergewe en nie self deur die pyn hoef te gaan nie. Loof die Here!”

Dit is nou al meer as ’n jaar later. Die boonste helfte van Rikus se gesig het herstel.

Jonanda Burger, ’n geestelike berader, gee raad:

“Om na pornografiese beelde te kyk, gebeur baie keer as gevolg van seer in ’n persoon se lewe en die begeerte om daarvan te ontsnap/ontvlug. Dus, in plaas daarvan dat die persoon wanneer hy/sy die seer ervaar daardeur werk en klaarmaak daarmee, ontvlug die persoon eerder deur na stimulerende beelde te kyk. Pornografie is slegs die vrug van ’n dieper wortel van wat ’n wond kan wees.

“Ek glo dat vertroue en herstel aan verhoudings net werklik bereik kan word deur ’n noue pad saam met Vader God te stap en Sy genade en liefde self te aanvaar en daardeur die pad van genesing te stap. Om die vertroue te herstel, begin vir seker deur mekaar te vergewe. Vergifnis is ’n keuse wat mens moet maak sodat jy self kan vry kom. Maar ’n mens moet ook die Heilige Gees vra om jou te help om vanuit die diepste, diepste deel van jou menswees te vergewe. Dan, wanneer mens hierdie besluit geneem het en die gedagtes oor wat gebeur het kom weer by mens op, moet jy in plaas daarvan om weer oor die hele scenario te dink en weer daaruit seer te kry, die gedagte verwerp, wéér kies om te vergewe en die Heilige Gees vra om genesing en bevryding in dié area te bring.”

Artikel deur LIZE GROENEWALD