Vroeg in April juig dit op elke kampus soos gradeplegtighede gehou word. Jong mense staan gekroon met hoed, toga en ’n diploma of graad, reg om die wêreld aan te pak. Hul ouers, familie en vriende glimlag trots, en slaak ’n sug van verligting dat die studiegelde nou net afbetaal hoef te word en nie verder gaan vermeerder nie!

Promosie

Ek word na Gift Mabena se gradeplegtigheid by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) se Soshanguve-kampus genooi. Gift is my huishulp, Annie, se suster se kind – die eerste in hul familie wat gaan studeer het. Hy is ’n gawe jongman by wie ons die voorreg het om betrokke te kon wees. Deur sy drie studiejare was ek telkemaal verbaas oor die uitdagings wat hy te bowe kom.

Die dag toe ek gaan swot het, het my ma-hulle my ingeskryf, my koshuis-benodigdhede gaan koop, trane afgedroog en my hand gevat tot binne-in die koshuiskamer. Gift moes so half op sy eie die pad loop. Hy moes uitvind wat hy wil studeer toe homself gaan inskryf. Waar my pa my lening gereël het, moes Gift self sy aansoeke vir beurse en lenings doen en ook self hulp soek vir tekorte. Maar só het die jongman deur die drie jaar sterker geword – ’n man van God en ’n leier onder sy vriende.

Die dag van die gradeplegtigheid breek aan en ek sleep my ma saam. Om eerlik te wees, ek was nog nooit in Soshanguve nie en was maar skrikkerig vir die onbekendheid. Saam met my en Moeder ry Annie en Gift se ma, Pinky. Ek kon nie besluit wie die meeste uitgevat was vir die okkasie nie. Daar aangekom, lyk dit soos ’n modeparade in Milaan. Die studente lyk pragtig en hul families ewe mooi. Elke student kon drie gaste nooi. Gift het gelukkig vir ons ’n ekstra kaartjie gekry.

Ons het deurgegaan na ’n groot saal waar die formaliteite plaasgevind het. Van credo na kore was alles pragtig en ordelik. Net voor met die lees van die name begin is, kom die reëling dat die families welkom is om hul student toe te juig, maar daar is ook gevra dat hulle dit kort sou hou sodat die volgende student weer sy of haar plekkie in die son kon geniet.

Die name is een-eenvan die lang lys af uitgeroep. En soos die name genoem word, spring daar elke keer drie mense op wat die student luid toejuig! “Bababe!” “Yelelelelelelelele!” Ek slaan hoendervleis uit en wonder hoe lekker moet die student voel na só ’n toejuiging.

Toe Gift se naam gelees word – Innocent Gift Mabena – spring ons vier vrouens op. My ma “Yelelelelele” hier langs my, ek fluit, Annie en Pinky skreeu ewe hard. Ons kon nie trotser en blyer wees vir die kind nie. En ek weet in my hart is dit presies hoe ek my eie kinders sal wil toejuig op hulle gradedag.

Die res van die gehoor is deurentyd kalm-stil. Tot ’n student die woorde “cum laude” agter sy naam het. Sodra hulle die student se naam uitlees, juig elke persoon in daardie saal. ’n Totale bewondering en erkenning vir iemand wat uitstaande werk gelewer het. Die meestersgraad-student en die student met die beste akademiese prestasie het staande toejuigings gekry!

Ek ry terug huis toe met ’n groot glimlag vir die spontaniteit van die dag. En ek wonder of ons gesofistikeerde eerste-wêreld-kultuurneigings nie ’n bietjie van ons spontaniteit kom steel het nie. Ek wonder wanneer laas ek my man sommer staande toegejuig het vir die man wat hy is! Vir die lekkerte van getroud wees en om so ’n great pa vir ons kinders te hê.

Dink ons dalk dit moet perfek wees voordat ons juig? Het ons standaarde te hoog geraak en ons onvergenoegdheid te veel?

Kom ons juig mekaar weer toe! Kom ons “Yelelelele” weer oor ’n salaris (of twee) in die rekening, die voorreg om ’n slaaptydstorie vir die kinders te lees of sommer net vir manlief omdat hy so lekker kan braai!