Min dinge kom by daardie lieflike, lyflike ervaring wat orgasmes teweegebring. INTIEM vertel jou alles oor dié wow-faktor.

Onthou jy die 1989 Amerikaanse fliek When Harry met Sally, toe die groot O uit die mou gelaat is? Nie veel mense het in daardie stadium orgasmes oor etenstyd bespreek nie, maar die karakters in dié fliek het begin argumenteer oor ’n man se vermoë om agter te kom wanneer ’n vrou ’n orgasme namaak. Sally (gespeel deur Meg Ryan) het gesê dat mans nie die verskil ken nie en, om haar stelling te bevestig, het sy net daar (ten volle geklee) op ’n uiters vokale manier haar kunsmatige orgasme-tegniek gedemonstreer, terwyl die ander teenwoordiges in Katz’ Deli toegekyk het. ’n Vrou wat die hele petalje aanskou het, het droog gesê: “I’ ll have what she’s having.” Dit is asof sy net daar namens die hele Evasgeslag gepraat het en as ’n orgasme vandag ’n gereg op ’n spyskaart was, was restaurante pal uit voorraad!

Meg Ryan se nalatenskap

Orgasmes is soos luukse nagereg waarvan alle vroue meer wil proe, wat sommige vroue meen te hoog op die rak lê en waarvoor elke liewe vrou die leer sal gaan haal om by te kom. Daar is baie min menslike wesens wat fisiek nie daartoe in staat is om die geskenk van orgasme te ervaar nie. Ongelukkig het die media die O-woord al so opgeblaas dat dit die eintlike ervaring van seks as ontdekkingstog oorheers. In ’n desperate poging om by daardie hemelse eindbestemming uit te kom, word verskeie sensasies en emosies wat van die seksdaad ’n wonderlike reis maak, agterweë gelaat. ’n Vrou kán bevredig voel al het sy nie ’n aardskuddende orgasme gehad nie en baie vroue sê dat hulle selfs ná ’n onoortreflike orgasme emosioneel leeg voel. Hoekom voel sommige vroue dan steeds dit is nodig om elke keer ’n orgasme te bereik? Soveel só dat talle vroue ’n orgasme ’opmaak’ wanneer dit die dag nie self sy verskyning maak nie? Omdat baie mans aanneem dat ’n vrou slegs vervul voel indien sy ’n orgasme bereik het. Dat as sy nié ’n orgasme gehad het nie, die seks nie goed was nie en dit sý skuld is. Vroue jok dus dikwels oor orgasmes omdat hul nie hul maats wil laat sleg voel nie en wil aanmoedig om self ’n orgasme te bereik.

Weet jy wat met jou lyf gebeur?

Wat is ’n orgasme? Vra hierdie vraag vir ’n aantal vroue en die kans dat jy ewe veel antwoorde gaan kry, is goed. Elke vrou ervaar orgasme verskillend. Sommige vroue meen dit is soos om ’n golf te ry. Ander vergelyk dit met ’n lekker nies en ander sê dit is soos om tot op die piek van ’n berg te klim en dan af te gly. Vir sommige vroue is dit gekonsentreerd in hul genitalieë en vir ander is dit ’n volliggaam-ervaring. Volgens The Complete Idiot’s Guide to Amazing Sex deur Sari Locker, word ’n orgasme gekenmerk aan ’n buigende rug, spiere wat saamtrek en vaginale- en baarmoederwande wat ritmies saam met bekkenspiere en die anus saamtrek. Omdat ’n vrou nie, soos ’n man, ejakuleer nie, is daar net een manier vir ’n man om te weet sy vrou gebruik nie die toneelspeel-wenke wat sy by Meg Ryan geleer het nie, en dit is deur self te voel hoe die spiere diep in haar vagina ritmies saamtrek! Wikipedia beskryf ’n orgasme as die gevolgtrekking van die seksuele responssiklus se plato-fase wat deur beide mans en vroue gedeel word.

’n Orgasme van Venus of Mars

’n Manlike orgasme verskil in sekere opsigte van dít wat ’n vrou ervaar. ’n Man ondervind vinnige, ritmiese kontraksies wat semen dwing om deur die penis se uretrale opening uitgeskei te word. Die proses neem gewoonlik drie tot tien sekondes en is vir hom uiters lekker! By mans kan ’n orgasme bereik word deur seksuele omgang, masturbasie, orale seks of enige stimulasie van die penis wat kan lei tot ejakulasie en orgasme. Soos wat ’n man ouer word, verminder die hoeveelheid semen wat hy uitskei en die tydsduur wat hy ’n orgasme ervaar. Dit is ook moontlik vir ’n man om ’n orgasme te ervaar sonder om te ejakuleer. By vroue word ’n orgasme voorafgegaan deur die bevogtiging van die vaginale wande en ’n vergroting van die klitoris. Sommige vroue ervaar ’n seksuele gloed (’n rooierige uitslag by die nek-, keel- en borsgedeelte) weens vergroting van bloedvloei na die vel. Soos wat ’n vrou nader aan orgasme kom, beweeg die klitoris inwaarts onder die klitorale huid in en die skaamlippe word donkerder. Die vagina vergroot met ongeveer 30% en die baarmoeder trek dan saam. ’n Vrou ervaar ’n vol orgasme wanneer haar uterus, vagina en bekkenspiere ritmies saamtrek. Ná ’n orgasme verskyn die klitoris weer vanuit die klitorale huid en beweeg terug na sy normale grootte in minder as tien minute. En jy het gedink ’n orgasme gaan alles oor gevoel!
(www.wikipedia.com)

’n Geskenk vir jou as Christenvrou

In hul boek, Die Huweliksdaad, skryf Tim en Beverly LaHaye dat hulle ná jare van berading aan oorwegend Christen-egpare tot die oortuiging gekom het dat dié paartjies meer genot tydens orgasme ervaar as nie-Christene. “Hierdie opvatting word bevestig deur dr. Herbert J. Miles, ’n huweliksberader wat oor ’n tydperk van 20 jaar ’n volledige studie van 151 Christen egpare gemaak het.” Die studie het bestaan uit jong getroudes, mense wat een tot vier jaar aan ’n Christelike universiteit gestudeer het en mense wat deeglike voorhuwelikse voorligting deur hom ontvang het. Altesaam 96,1% van hierdie vroue het berig dat hulle gereeld ’n orgasme bereik – ’n persentasie aansienlik hoër as dié van sekulêre vroue. Uit ’n studie van 1700 egpare wat hul konferensies oor gesinslewe bygewoon en vraelyste voltooi het, is bewys dat 89% van die vroue gesê het hulle ervaar gereeld ’n orgasme. Dié vroue se ouderdomme het ’n groter aantal jare ingesluit en hulle was in verskillende stadia van Christelike heiligmaking.

En ’n geskenk voorwaar

Kan jy glo dat mense uit die geskiedenis vuis geslaan het oor waarom ’n vrou met ’n klitoris (die sentrum van ’n orgasme) geseënd is. Waarom nie? Evolusionêre bioloë het al verskeie hipoteses voorgestel om die rol van die vroulike orgasme binne die voortplantingsproses te verduidelik. Sonder veel sukses. In 1967 het Desmond Morris voorgestel dat die vroulike orgasme ontstaan het om fisieke intimiteit met ’n man aan te moedig en om man en vrou so te help om ’n band te vestig. Hy het voorgestel dat die rede hoekom dit soveel moeiliker is vir vroue as vir mans om ’n orgasme te bereik, die natuur se manier is om vroue te help om maats te soek wat eienskappe soos geduld, sorg, verbeelding, intelligensie en so meer besit. Hy het ook beweer dat orgasmes moontlik tot voortplanting bydra deur ’n vrou moeg te maak en haar horisontaal te hou – wat verhoed dat die semen uitlek. Dié moontlikheid word nou sterk betwyfel! Verdere teorieë is gebaseer op die idee dat die vroulike orgasme tot vrugbaarheid kan bydra deurdat die 30% vergroting in die vagina help om aan die penis te klou, wat dit weer meer plesierig vir die man maak. Die Britse bioloë, Baker en Bellis, het ook voorgestel dat die vroulike orgasme ’n opslurpfunksie het, wat help om gunstige spermselle te behou, en ander bioloë meen dat die orgasme eenvoudig help om seks te motiveer en die spoed van reproduksie aanmoedig en só die spesie help oorleef. (Extended Massive Orgasm deur Steve en Vera Bodansky)

Klitoraal of vaginaal?

Nog ’n twispunt is die plek waar die vroulike orgasme vandaan kom. Daar word dikwels onderskeid getref tussen klitorale en vaginale orgasmes, terwyl ’n orgasme wat voorkom vanweë gekombineerde klitorale en vaginale stimulasie, ’n versmelte orgasme genoem word. Daar is heelwat kontroversie oor verskillende soorte orgasms, maar navorsing het bewys dat vroue veral klitorale stimulasie nodig het om ’n orgasme te kry, meen seksuoloog Elmari Craig. “Sommige vroue ervaar wel ’n versmelte orgasme waar die klitoris en vaginale area in geheel saamtrek, maar daar is gewoonlik direk of indirekte stimulasie van die klitoris,” sê sy. “Dit is egter ook waar dat sommige vroue baie gevorderd is in hul seksuele respons en bloot deur fantasie en/of stimulaie van die borste of ander erogene sones ’n orgasme kan bereik, maar die deursnee-vrou het klitorale stimulasie nodig.” Volgens haar is een orgasme nie noodwendig beter as die ander een nie. Die konsep van vaginale orgasme is daargestel deur Sigmund Freud wat in 1905 beweer het dat klitorale orgasme ’n adolessente fenomeen is en dat vroue, soos hul volwasse word, vaginale orgasmes begin kry. Dit het daartoe gelei dat baie vroue onbevoeg gevoel het omdat hulle nie deur slegs vaginale stimulering ’n orgasme kon bereik nie. Gelukkig het Masters and Johnson in die sestigerjare tot vroue se redding gekom deur vas te stel dat klitorale stimulasie die primêre bron van orgasmes is. Sedert die tagtigerjare het die begrip van ’n vaginale orgasme ontstaan en baie vroue het gesê ’n mate van vaginale stimulasie tesame met klitorale stimulasie is nodig om ten volle ’n orgasme te ervaar. Volgens Wikipedia het ’n onlangse opname deur Redbook bepaal dat ongeveer 52% vroue orgasmes namaak en dat slegs 17% van vroue geneig is daartoe om ’n orgasme te hê gedurende seksuele omgang omdat die klitoris só geleë is dat dit dikwels nie voldoende stimulasie deur penetrasie alleen kan ontvang nie.

Die vroulike stryd

Volgens die webtuiste www.femaleorgasmsecrets.com het die orgasme ’n veelkleurige geskiedenis.

In die vierde eeu voor Christus het Hippocrates geglo die fetus is ’n gevolg van vroulike plesier en om voort te plant, moet ’n vrou daarom altyd seksueel tevrede gehou word. In dieselfde eeu het Aristoteles van Hippocrates verskil deur te sê slegs die man se semen is vrugbaar en dat ’n vrou geen rol het in die voortplantingsproses nie. Daar is neergekyk op vroulike seksuele plesier. Hierdie mentaliteit het deur die Middeleeue voortgeduur. Die kerk het die onderdrukking van vroulike seksualiteit voorgestaan en kuisheid, onthouding en vroulike isolasie gepromoveer.

Teen die 18de eeu was die situasie vir vroue nie veel beter nie, maar daar is darem geglo dat die vroulike orgasme nodig is vir voortplanting. Vroue is egter steeds aangemoedig om hul seksuele begeertes te onderdruk en slegs aan die behoeftes van hul mans te voorsien.

In die 19de eeu is vroulike plesier verban en ’n man is gewaarsku om nooit sy vrou se seksuele begeertes aan te wakker nie. Gedurende hierdie tyd is handleidings oor die onderwerp vir jong vroue geskryf. Sulke handleidings het gesê ’n jong vrou moet stil lê en mag nooit geluide van genot maak terwyl die seks-aksie aan die gang is nie.

Na die Tweede Wêreldoorlog het die merkwaardige gebeur – vroulike seksualiteit was stadigaan besig om haar plek in die samelewing terug te wen. Die seksuele rewolusie van die 1960’s was soos ’n ridder op ’n wit perd! Vroulike seksuele vryheid is eindelik erken. Vandag het vroue in die Westerse samelewing hul liggame weer opgeëis. Hulle leer om hul seksualiteit lief te kry en te waardeer en mans is gesteld daarop om ook aan hul maats plesier te verskaf.

Interessante feite oor orgasmes
• Die klitoris strek nege sentimeter diep in die liggaam.
• Dit is die enigste seksorgaan wat nie ’n voortplantingsfunksie het nie.
• Die enigste ander orgaan wat daar is vir suiwer plesier, is die manlike tepel en dit kom nie naby die klitoris nie!
• Meer senuweepunte vul die klitoris as die kop van die penis – ongeveer 8000 senuweepunte, amper twee keer soveel as die penis s’n.
• Volgens seksterapteute in die vyftiger- en sestigerjare bestaan die vroulike orgasme uit gemiddeld nege tot twaalf sametrekkings en duur dit ’n paar sekondes ná ’n lang opwekkingsperiode.
• Baie vroue is tot veelvuldige orgasmes in staat.
• Amper 15 000 senuweepunte bedien die vrou se bekken.
• Ongeveer 26% vroue het moeite om ’n orgasme te bereik, teenoor 2,5% mans.
• Altesaam 46% van anorgasmiese vroue blameer hul toestand op hul eie negatiewe selfbeeld.
• Klitoris kom vanaf die Griekse word wat ’klein heuwel’ beteken.
• ’n Vrou se geleentheid om ’n orgasme te bereik, word vergroot as sy seks het op die 14de dag van haar menstruele siklus – wanneer die vroulike seksdrang op sy hoogste is.
(www.femaleorgasmsecrets.com)

Die pad na Utopia

Dit is veel makliker vir ’n vrou om ’n orgasme te bereik as seks in die regte posisies beoefen word sodat die klitoris daardeur gestimuleer word. Hier is ’n paar gunstelinge:

Die klassieke Missionary-posisie
Hoewel dit dalk vervelig klink, sal jy ná ’n paar minute nie so dink nie. Jy lê op jou rug met jou bene uitmekaar, terwyl jou man sy gewig op jou liggaam plaas en sy bekkenbeen teen jou plaas om klitorale stimulasie te verskaf. Dieper penetrasie kan bereik word deurdat jy jou heupe lig deur ’n kussing onder jou lae rug te plaas, jou bene om jou maat se middel sluit of jou enkels op jou maat se skouers rus. Die posisies help die penis om die G-kol te bereik (die G-kol word ook beskou as dié deel van die klitoris wat binne die vaginale wand strek)

Die Women on Top-posisie
’n Vrou het in die posisie meer beheer oor dit waarvan sy hou. Jou man moet op sy rug lê terwyl jy op sy onderlyf sit. Die posisie voorsien meer klitorale stimulasie en laat dieper penetrasie toe wat weer die serviks kan stimuleer en ’n orgasme tot gevolg kan hê. Jy kan selfs meer beheer kry deur op jou maat te sit terwyl jy in die teenoorgestelde rigting kyk. Met jou rug na hom kan jy jou knieë gebruik om penetrasie te beheer.

Die From Behind-posisie
Dié posisie werk ook goed omdat jy ’n mate van beweeglikheid
het, wat moeilik is in ander posisies. Jy kan op jou maag lê of op jou hande en knieë staan. Jou man kniel dan van agter en hou aan jou heupe vas vir balans. Intimiteit kan bereik word deur spooning, waar jy op jou sy lê met jou man agter jou en sy bors ferm teen jou rug gedruk.

Die Legs Together-posisie
Hierdie posisie kan wrywing veroorsaak en tot ’n klitorale orgasme lei. Wanneer jou man sy penis in jou vagina plaas, knyp jou bene teen mekaar en laat hom jou bene verder toedruk met sy dye. Dit help as hy sy bekken vorentoe druk en só wrywing op jou klitoris plaas.
(www.health.discovery.com)

Orgasmiese gesondheid!

Hoewel jy nie daarna moet strewe om elke keer ’n orgasme te bereik nie (die druk kan jou in elk geval verhoed om wel by daardie punt uit te kom) is daar verskeie redes hoekom ’n gereelde orgasme goed is vir jou:

1. Dit verlig spanning. Hoe vinniger jou hart klop, hoe meer kom die vergrote bloedvloei en spierspanning wat met seksuele plesier geassosieer word, tot ’n gevolgtrekking met orgasme.

2. Orgasmes help jou om beter te slaap. By ’n man word ’n orgasme opgevolg deur ’n vinnige daling in bloeddruk en onmiddellike ontspanning. By vroue is dit meer progressief, maar nie minder belangrik nie. Orgasmes werk soos natuurlike kalmeermiddels. Die vrystelling van endorfiene kan die effek hê wat ’n goeie massering op jou het.

3. Orgasmes kalmeer jou hunkering na gemorskos en soms ook sigarette. Seksuele stimulering aktiveer die vervaardiging van phenetylamine, ’n natuurlike amphetamine wat jou aptyt reguleer.

4. Orgasmes verbrand kalorieë!

5. Orgasmes kan soos ’n natuurlike pynstiller werk. Die rede waarom jy van ’n hoofpyn of menstruasiepyne vergeet terwyl jy seks het, is nie sielkundig nie.
Endorfiene word deur jou liggaam vrygestel gedurende seks en kan jou verdraagsaamheid vir pyn vergroot tot soveel as 70% gedurende ’n orgasme. Dit verskil egter van persoon tot persoon.
(www.coolnurse.com)

Die geheim agter spontane passie

Die skrywers van Extended Massive Orgasm het geleer hoe om dié tipe orgasme te hê en toe te pas. Die gesogtheid daarvan lê in die feit dat só ’n orgasme enigiets van ’n paar minute tot drie ure lank kan duur! Dit is blykbaar meer intens as die gewone orgasme en word die maklikste deur handstimulasie bereik. Volgens dié paartjie begin só ’n orgasme deur eers iemand se emosies te verlei. “As jy dit nie kan doen nie, sal jy nooit daartoe in staat wees om jou geliefde daardie spesiale plesier te gee nie, dit maak nie saak hoe goed jy kan aanraak nie. Dit is nodig om presies te weet waar daardie persoon verstandelik en emosioneel is en hoe daardie persoon op jou aandag reageer.” Hierdie waarneming is egter ook van toepassing op ’n gewone paartjie wat vervulde seks begeer. Die skrywers glo ook dat die EMO aangeleer moet word en dat passie soms beplan moet word. “Baie mense glo dat pret en plesier spontaan moet plaasvind. Spontaniteit is natuurlik wonderlik wanneer dit gebeur, maar jy mag dalk ’n lang tyd moet wag voor dit wel gebeur, veral as ’n verhouding nie meer nuut is nie. In ons ervaring, hoe meer doelgerigte stappe jy neem om pret en plesier te beplan, hoe meer lei dit tot spontane pret en plesier.”

Daar het jy dit. Lig jouself in oor orgasmes en leer jou lyf ken. Fokus daarop om bedsessies te beplan en glo dat spontaniteit later daaruit sal vloei. Onthou, soos Elmari Craig tereg sê: Jou belangrikste seksorgaan is jou brein, en as jy jouself daarop kan instel om die hele reis van intieme aanraking te geniet sonder om te fokus op die eindbestemming, word jy tien teen een heel onverwags beloon met ’n nagereg uit die boonste rakke!