“Till death do us part …” Is dit nie vir jou mooi wanneer paartjies in flieks hierdie woorde kwytraak nie? Dit sou selfs mooier gewees het as die meeste van daardie paartjies dit nie net as ’n blote rympie beskou het nie …

Toe die huweliksberader vir Melissa vra hoekom sy van haar man, Johan, wil skei, was haar antwoord eenvoudig: Sy is nie meer lief vir hom nie. Johan was bitter: “Wat het geword van For better or worse?” het hy gevra. “Wat van ons 12 jaar saam? Het dit niks beteken nie? Wat van al die opofferings wat ons gemaak het?” Melissa het haar kop geskud. “Ek kan nie iemand liefhê wat nie daar is wanneer ek hom nodig het nie. Jy is altyd besig om te werk en jy skeep my en die kinders af. Wanneer jy by die huis kom, peuter jy alewig aan die motor se binnegoed. Ek dink vandag dat ons te jonk getrou het.”

Jy luister na Melissa se woorde en wonder oor die term: onvoorwaardelike liefde. Ons weet almal dat jy jou huweliksmaat onvoorwaardelik moet liefhê, maar dit is soms só moeilik! Hoeveel keer het jy al met voorwaardes en dreigemente na jou maat gekom as julle nie saamstem oor ’n saak nie? Hoe gereeld kraak jy jou maat af, omdat hy nie so bedagsaam soos jou vriendin se oulike hubby is nie? Hoeveel keer het jou man al geskimp dat as jy meer soos Angelina Jolie gelyk het, dinge baie warmer tussen die lakens sou gewees het?

Niemand is perfek nie, nie jy of jou huweliksmaat nie. Ons is maar net mense – elkeen met ons eie nukke, grille en snaakse gewoontes. Is dit dan ooit moontlik om iemand onvoorwaardelik lief te hê? Wat beteken onvoorwaardelike liefde in elk geval?

Liefde is ’n werkwoord

Anri van den Berg, ’n sielkundige berader van Pretoria, meen dat dit belangrik is om eers stil te staan by “liefde” self. “Ons is geneig om aan liefde te dink as ’n gevoel wat ons ervaar, en in dié geval is dit dus heeltemal te verstane dat dit iets is wat kan kom en kan gaan, wat een dag daar kan wees en die volgende dag bloot net kan verdwyn,” verduidelik sy. As ons hierdie definisie van liefde aanvaar, is dit amper asof ons as’t ware aan die liefde oorgelewer word, asof dit iets is wat buite ons beheer is. Dus is dit heel normaal om in die praktyk te hoor “die liefde wat daar tussen ons was, is net nie meer daar nie” of “ek is net nie meer lief vir haar nie” – so asof ons niks aan die feit kan doen of verander nie!

Liefde is egter alles behalwe ’n blote gevoel. Liefde is ’n keuse, dit is ’n besluit wat jy elke dag opnuut moet neem, veral wanneer dit swaar gaan! Liefde is ’n werkwoord! Anders as verliefdheid, is liefde nie ’n “toestand” waaraan ons uitgelewer is nie. Wanneer ons verlief is, is die wêreld ’n pragtige plek, daardie persoon is die “beste ding wat ooit met ons kon gebeur”, hy het geen foute nie en sal ook nooit foute hê nie.

Verliefdheid verf alles in ’n sagte wasige pastel palet en dit is reg so, ons is só geskape. Verliefdheid is nodig sodat ons mekaar se mooi kante kan leer ken, die potensiaal in ons verhouding kan raaksien en kan oorgaan na die keuse van onvoorwaardelik liefhê. Op grond hiervan is “onvoorwaardelike liefde” dus om vir jouself en jou eie keuses verantwoordelikheid te neem. Jy moet elke dag opnuut kies om vir jou huweliksmaat lief te wees, ten spyte van sy foute, en nie as gevolg van dit wat jy van hom af kry nie.

Dit is ’n ingesteldheid

Onvoorwaardelike liefde is nie iets waarvoor jou maat hoef te werk of iets waarmee jy hom kan manipuleer nie, dit is ’n keuse wat jý maak. Dis jóú ingesteldheid teenoor jou maat. Maar om onvoorwaardelik lief te hê, beteken ook baie beslis nie dat jy ’n vloerlap is nie! Omdat jy onvoorwaardelik liefhet, beteken dit nie dat jy ander pad moet kyk as jou maat droogmaak nie.

As daar dinge is wat krap en pla, is dit uiters noodsaaklik dat julle dit uitsorteer op ’n gesonde en doeltreffende manier. Om jou grense te stel, jou eie persoonlike behoeftes duidelik te maak en bekommernisse met jou huweliksmaat te deel, beteken nie dat jy nie onvoorwaardelik liefhet nie. ’n Gesonde verhouding is een waarin ongeveer 80% van beide partye se behoeftes bevredig word, so dit is belangrik vir paartjies om te kommunikeer oor alle aspekte van hul verhouding.

Maar hoekom is dit so moeilik om onvoorwaardelike liefde teenoor jou lewensmaat te toon? “Want verhoudings is moeilik en ons is selfsugtig,” meen Anri. As jy mooi daaroor dink, stap ons almal ’n verhouding binne met die hoop en verwagting dat daardie persoon op die een of ander wonderbaarlike manier in al ons behoeftes gaan voorsien. Hy/sy gaan wees wie en wat ons wil hê hulle moet wees, wanneer ons wil hê hulle moet dit wees.

En dán kom die uitklophou!

Ons besluit iemand is die moeite werd om mee te trou, gebaseer op hoe die persoon ons oor onsself laat voel en dink en oor wat die persoon vir ons doen, gee of beteken. En dan gee realiteit ons ’n uitklophou! Die bril van verliefdheid gly stadig van ons neuse af en ons besef dat die ander persoon ’n totale unieke individu is – iemand met ’n unieke stel verwagtinge en behoeftes van sy eie. Iemand wat met dieselfde hoop – dat ons aan sy verwagtinge gaan voldoen en in sy behoeftes gaan voorsien – hierdie verhouding binnegestap het!

Twee totaal unieke mense, met unieke voorbeelde van hoe ’n huwelik werk en van wat van man en vrou afsonderlik verwag word, moet nou een gelukkige toekoms saam bou. Ons is totaal ontnugter, want omdat verlief-wees so maklik is, het ons vas geglo dat hierdie verhouding maklik gaan wees en ons was nooit voorbereid op hoe moeilik dit in werklikheid is nie!

Omdat ons selfgesentreerd is, is die fokus op die ander party se foute en tekortkominge. Ons fokus op wat dit is wat ons nie kry nie, wat hy nie is nie en wat dit is wat hy nie in en om die huis doen nie. Indien dit die geval is, is dit heeltemal te verstane dat onvoorwaardelike liefde ’n uiters moeilik haalbare, abstrakte konsep is. Maar voor jy sê: “Sien, onvoorwaardelike liefde ís ’n onmoontlik konsep,” hier is Anri se vyf wenke vir hoe om onvoorwaardelike liefde toe te pas.

 

Dís hoe jy dit moontlik maak:

  1. Om onvoorwaardelik lief te kan hê, moet paartjies heel eerste besef dat verhoudings voortdurende harde werk is, dat dit twee mense verg wat toegewyd is teenoor mekaar. Mens kan nie verwag om die beste krieketspeler te wees as jy nie tyd en moeite insit om jou vaardighede in die sport te verfyn nie. Net so kan mens nie verwag dat ’n verhouding met twee totaal diverse individue sommer vanself ’n gesonde paadjie sal loop nie.
  2. Onthou altyd ons is mense en dus per definisie alles behalwe perfek. Jy en jou maat gaan foute maak, keer op keer. Daar gaan tye wees wat jy bitter teleurgesteld gaan wees in jou maat. Dit is wat julle met die foute maak en hoe julle dit hanteer wat van kardinale belang is.
  3. Draai daardie vinger wat jy so maklik na jou maat toe wys na jouself en vra jouself ’n paar eerlike, moeilike vrae. Hoe kan ek ’n beter eggenoot wees vir my maat, waar kan ek verbeter of meer moeite doen, hoe wys ek vir my maat hy/sy is werklik belangrik vir my? In 99% van die gevalle waar individue op hul eie aandeel begin fokus en liefde as ’n daaglikse keuse (en ’n baie besliste werkwoord) begin sien en aanwend in hul verhoudings, is die resultate ongelooflik positief!
  4. Moenie net probleempies onder die mat in vee nie – dit maak nie saak hoe klein of irrelevant dit dalk mag voorkom nie. Klein probleempies hoop op en raak later groot probleme en maak die keuse van “lief wees” vir iemand later soveel moeiliker. Sorteer goedjies uit soos en wanneer dit opduik.
  5. Kommunikeer gesond en doeltreffend. Moenie aanval en beskuldig wanneer julle oor kwel-sake praat nie. Bly kalm en bespreek eerder die onderliggende emosies wat veroorsaak word deur jou maat se optredes of keuses. Die oomblik wat iemand voel dat sy/hy aangeval word, klap hulle toe soos ’n boek en word daar glad nie meer geluister met die doel om te verstaan nie. Al waarvoor geluister word, is ’n swak plek in die persoon se aanval en dit is dan wanneer mens begin baklei oor of die motor wat verbygery het rooi of blou was. Die eintlike kwessie gaan totaal verlore. Wanneer mens luister met die doel om die ander persoon te verstaan, gee mens baie duidelik die boodskap: “Jy, ons, is vir my belangrik.”

Dit is wanneer ons werklik probeer om mekaar te verstaan, wanneer ons mekaar goed leer ken en mekaar kan bystaan deur ons ervarings en ons verhoudings se up and downs dat ons agterkom dat al die moeite en die harde werk dit werd is. En dit is dan dat onvoorwaardelik liefhê vir ons ’n voorreg raak.

Artikel deur Thalia Brüssow

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!