My man reël ’n bachelors partytjie saam met drie ander mans. Die ander drie is nie getroud nie en wil graag na ontkleeklubs toe gaan. Hoe hanteer ek dit? My man sê hy kan nie vir hulle sê hulle mag dit nie doen nie en hy gaan saam vir die bruidegom se onthalwe. Vir my is dit nie reg nie.

Kobus en Linda Pauw, verhoudingsafrigters en sprekers, sê:
In hierdie geval moet jou man besef dat hy jou altyd eerste moet stel en dat jou behoeftes en belange bo enige iemand anders geld. Jou man moet weet dat, indien hy sou gaan om watter “goeie” redes ook al, hy ’n gedagte van onsekerheid by jou sal plaas en dat dit wat vir jou belangrik is, nie vir hom is nie. Jy sal ook die hele tyd wonder waaraan hy blootgestel word en dit sal jou ook na plekke in jou eie gedagtewêreld neem waar jy nie graag heen wil gaan nie.

Dit is egter baie moeilik om sommer direk met hom daaroor te praat, omdat hy sal sê dat as hy nie gaan nie, daar dalk dinge met die bruidegom kan gebeur wat hy wil verhoed.

Ons sou voorstel dat jy hom op ’n date night neem of net ’n afspraak met hom maak waartydens jy aan hom verduidelik dat jy nie gemaklik is met die idee van ’n strip club nie en dat jy ook nie wil hê hy moet homself blootstel nie. Verduidelik aan hom dat jy baie graag wil weet en wil sien dat hy jou gedagtes en behoeftes wat hierdie tameletjie aanbetref, hoog ag. En dat jy nie vir die eerste plek in sy lewe wil baklei met ’n ander bruidegom of selfs gedagtes van meisies wat strip nie.

Dit is ook belangrik om aan hom te verduidelik dat mans oor die algemeen meer visueel ingestel is en dat dit waaraan hy blootgestel gaan word, hom net in die versoeking kan lei. As mans aan visuele dinge blootgestel word, onthou hulle dit ook langer en dit bly deel vorm van hul denkpatrone – veral rondom die onderwerpe waaroor die beelde gaan. Hoekom jouself aan dit blootstel as jy ’n keuse het? Vra hom om daardie intieme gedagtes wat hy het, rein te hou vir julle as ’n huwelikspaartjie. Stel voor dat hy eerder van die voorstelle in die Intiem tydskrif saam met jou probeer in die tyd wat hy na die strip club toe sou gaan.

Verduidelik dat jy hom en julle huwelik deur hierdie versoek wil beskerm en dat hy eerder standpunt hieroor moet inneem.

Volgens ons is geen vriendskap of verhouding met iemand anders belangriker as die huweliksverhouding met jou huweliksmaat nie. As jou maat voel dat iets nie reg is vir julle as ’n paartjie nie, dan moet jy jou maat ontmoet op die plek waar hy/sy veilig sal voel. Sodoende beskerm julle die huweliksverhouding en gee jy jou maat daardie plek van eksklusiwiteit en prioriteit.