Hoe gemaak as julle vir alle praktiese redes saambly, maar daar is geen emosionele verbintenis meer nie? Kenners klassifiseer dit as emosionele egskeiding…

Joe en Lisa was, soos alle ouers, al die jare baie besig daarmee om hulle kinders groot te maak. Hulle het lang ure gewerk en dan al hulle oorblywende energie daaraan bestee om aandag aan hulle drie kinders te gee. Vir 25 jaar lank… Hulle het besef dat hul nes geleidelik besig was om leeg te loop – eers die oudste, toe die middelste en nou die jongste wat gaan studeer en/of werk het.

Skielik is dit net hulle twee in die huis. En nou is dit asof hulle nie meer mooi kan onthou dat dinge ooit anders was tussen hulle nie. Dit wás. Lank gelede, as Lisa by die huis gekom het, het Joe altyd voorgestel dat hulle saam op die stoep sit en gesels. Soms het sy met haar voete op sy skoot gesit, hy het haar voete gemasseer en sy kon net ontlaai oor al die werkspolitiek of -opwinding.

Ander dae sou hy fronsend en baie stil by die huis kom na ’n dag se werk. Dan het sy vir hom ’n koppie drinkgoed aangebied, hom eers alleen gelos en later by hom gaan sit tot hy wel begin deel het oor wat hom pla. Joe kon ook na Lisa se opgewonde gebabbel oor ’n fliek luister tot sy niks meer te sê gehad het nie, en Lisa kon luister as Joe ’n storie vertel het oor wat die manne aangevang het toe hulle saam gaan rugby kyk het.

Hulle was maats, kamerade, companions. Hulle het mekaar gehoor en gesien. Meestal, as een van hulle die behoefte gehad het om emosioneel toegang te hê tot die ander, op ’n onuitgesproke manier, het die ander een dit gou as sulks verstaan en emosioneel kontak gemaak. Nie een van hulle is dikwels onbevredig gelaat in hul behoefte na emosionele kontak met die ander een nie.

Dis hoe dit gewerk het – aan die begin. En geleidelik – hulle kon nie eers sê presies waar en wanneer dit regtig gebeur het nie – het hulle minder van hierdie emosionele kontak by mekaar gekry. Dis asof elkeen van hulle soms haakplekke geïgnoreer het en te moeg of besig was om te luister na die emosionele behoeftes van die ander een, en dit die ander een byna leeg gelaat het.

’n Buitestaander sou kon sien en hoor hoe hulle soms sarkastiese, bytende aanmerkings teenoor mekaar maak en dat die ander een sigbaar seerkry, maar dat hierdie seermaak nooit aangespreek is nie – daar was net nie tyd nie, hul aandag was elders, alles anders was net te belangrik. En naderhand het klein wondjies al hoe dieper geraak en groter skade aangerig – verby ’n punt waar dit maklik herstel kon word.

Is julle ’n Joe en Lisa?

Die eindresultaat toe hul nes leeg word, was tragies… elkeen het meeste van die tyd hul eie ding gedoen. Soms het hulle saam geëet, soms nie. Soms saam geslaap, dikwels nie. Hulle het elkeen hul eie bekommernisse alleen gedra en selfs nie eers hul vreugdes met mekaar gedeel nie.

Dis asof Joe en Lisa met ’n dik laag miswolke tussen hulle begin funksioneer het – hulle kan mekaar vaagweg uitmaak deur die miskombers, maar is eintlik ontoeganklik vir mekaar. Hulle vermy emosionele kontak. Dis op hierdie stadium net té moeilik.

Beide van hulle is ook bewus van ’n gevoel van onegtheid in hulself – hulle weet baie goed dat hulle hul verbintenis verloor het en bestee energie daaraan om ’n kille front voor te hou vir die wêreld en vir hul jong volwasse kinders. Dis deel van die pakket van emosionele egskeiding.

Kan julle dit keer?
• As een van julle kan raaksien dat julle emosioneel só verwyderd is van mekaar, is dit ’n goeie begin. Vind woorde om jou bekommernis aan jou maat oor te dra, sonder om te beskuldig – bloot as ’n waarneming.
• Onderneem om soveel as moontlik in die hede te probeer leef. Fokus op wat juis op die oomblik tussen julle aan die gang is.
• Probeer om die emosionele behoeftes van jou maat weer te hoor of te sien en daarop te reageer. Probeer vir jou maat die emosionele verbintenis of reaksie gee waarvoor hulle vra.
• As jou maat nie vra of deel nie, sal jy moet uitvra in klein inkremente. Vra uit met opregte belangstelling en luister so goed as wat jy kan.
• As jy bang is onderwerpe van konflik gaan opgediep word, skerp jou vaardighede in konflikhantering op – lees, doen navorsing, sien ’n professionele terapeut. Konflik is moeilik. Ou wonde is besonder moeilik, want dit bevat komplekse dinamika. Moenie dit onderskat nie, maar groei net eers met jou vaardighede hierin.
• Hou in gedagte dat jou maat ook seer, bang en onbeholpe voel.
• Moenie huiwer om ’n professionele persoon se raad hieroor te kry nie. Omdat julle self binne-in die situasie staan, is dit baie moeilik om objektief te wees.
• Herinner julself daaraan dat julle wel in ’n stadium emosioneel baie nou verbind was. Dit gaan dalk ’n ruk se stoei verg om deur die komplekse ou wonde te werk, maar dis beslis moontlik. As julle dit regkry, sal julle nóg nader as ooit aan mekaar beweeg.

Artikel deur DR WILMÉ STEENEKAMP