Altesaam een uit elke vyf swangerskappe eindig in ’n miskraam. Hoe ’n mens hierdie trauma hanteer, maak die verskil tussen genesing en verwydering in die verhouding.

Promosie

Drie jaar na hul troue het Sue en Stephan uitgevind sy is swanger. Hulle was baie opgewonde en het sommer vinnig vir die familie en vriende vertel. Maar op 12 weke het Sue begin bloei en die baba verloor. Daarna het dit soos ’n roller coaster gevoel tussen hoop en moedeloosheid, en die impak daarvan op hul verhouding het al hoe meer negatief geraak.

Waardeur jul harte gaan . . .

Mense hanteer persoonlike trauma verskillend, en groot hartseer kan emosionele en seksuele intimiteit met jou maat beïnvloed. Aanvanklik word verlies dikwels hanteer deur ontkenning en dan volg ’n fase van intense rou. Trauma en verlies kan maklik daartoe lei dat een of albei van die huweliksmaats mekaar verwyt of dat jy jouself só verwyt en skuldig voel dat dit verwydering en erge spanning kan skep.

Intense hartseer en woede is algemeen. Daarom is dit so belangrik om sover moontlik die proses te bestuur sodat daar genesing kan kom. Dit is belangrik om mekaar ruimte en empatie te gee. Jou maat hanteer die trauma anders as jy. Daarom moet ’n paartjie na mekaar luister en vra wat elkeen nodig het. Dalk is dit praktiese hulp in die huis, alleentyd of dalk wil jy op jou maat se skouer huil.

Dit is normaal om ook diep hartseer, angs, woede en skuldgevoelens te ervaar met ’n volgende swangerskap. Daar is geen tipiese tydsraamwerk wanneer mens van rou en emosionele genesing praat nie. Gun jouself tyd en persoonlike ruimte om deur die rouproses te gaan, maar as die seer oorweldigend raak en lei tot depressie of algemene angs, moet jy so gou as moontlik professionele hulp kry.

Só word jou huwelik beïnvloed

Dit is natuurlik nie net die ma wat beïnvloed word nie, maar ook die pa. Dit is ongelukkig waar dat vrouens makliker tyd gegun word om te huil en hul hartseer te wys, waar daar dikwels van die pa verwag word om “sterk” te wees en sy vrou te ondersteun. Die verlies is vir die pa net so groot. Daarom gebeur dit soms dat die man al hoe harder werk of besig raak met ander dinge as ’n manier om die trauma te verwerk. Die vrou voel dan verwerp en dat haar behoeftes nie belangrik is nie.

’n Man en vrou moet kan praat daaroor en kan sê dat hulle ’n span is wat elkeen sy eie pad hierdeur moet vind, maar dat hulle ook saam en heel anderkant moet uitkom. Daarom kan en moet hulle daar wees vir mekaar en onnodige misverstande voorkom. Vroue wonder dikwels: “Ervaar my man die verlies van ons baba so erg soos ek? Hoekom wys hy dit nie?” Mans voel weer magteloos om die situasie beter te maak.

Dís wat jy kan verwag . . .

Dis normaal om die volgende emosionele, sielkundige reaksies te verwag:
• Gevoelens van ongeloof, skuldgevoel en mislukking (shame).
• ’n Gevoel van ontoereikendheid.
• Twyfel in jou vroulikheid – jou lyf het jou in die steek gelaat.
• Woede teenoor jouself, jou huweliksmaat, vriende en teenoor diegene wat die impak van die trauma minimaliseer.
• Depressie, ’n gevoel van leegheid en hartseer.
• Onbeheersde huilbuie.
• Onttrekking van jou huweliksmaat, ander en die lewe in die algemeen.
• ’n Verlaagde selfbeeld.

Hoe kan julle as paartjie saam rou?

In my ervaring is dit gesonder om die verlies te erken, te rou en dit te integreer. Beplan byvoorbeeld rituele om hierdie baba se lewe en die verlies daarvan te herdenk, byvoorbeeld ’n jaarlikse seremonie soos ’n kersie wat aangesteek word. Om die baba ’n naam te gee, help om die verlies te verwerk en te integreer. Baie ouers het ’n gevoel van die baba se geslag, en indien dit onbekend was, kan ’n naam wat vir beide geslagte gepas sal wees gekies word.

Om ’n boom te plant as herinnering, kan ook sinvol wees. Om herinneringe te skep, help om fokus te gee aan die rouproses, byvoorbeeld die skryf van ’n dagboek of storie oor die gebeure en gevoelens, of om ’n memory box te hê met byvoorbeeld sonarfoto’s, kleertjies of ’n speelding in.

Wat word van ons sekslewe?

Wat die seksuele aanbetref, voel die vrou dikwels dat dit seks is wat tot hierdie hartseer en pyn gelei het en dat sy nooit weer iets van seks af wil weet nie. Sy voel dikwels onvroulik of onaantreklik en stukkend. Die man voel dikwels dat hy moet sterk wees vir haar, maar wonder hoekom sy vrou van hom en die seksuele onttrek.

Hy wonder of sy hom blameer vir wat gebeur het. Soms voel ’n huweliksmaat dat hy of sy deur die rouproses is en wil aangaan, maar dat die ander maat nog nie daar is nie, nog negatief en depressief is, en voel dan skuldig daaroor.

Vrouens se seksuele begeerte en behoefte neem dikwels aanvanklik af. Hulle ervaar seks dikwels dan as ’n plig, as ’n herinnering aan die verlies en as bron van spanning en konflik. As gevolg van depressie en angs kan haar libido verder afneem en kan sy selfs pyn tydens seks begin ervaar. Sy kan ook sukkel om ’n orgasme te kry. Aan die ander kant kan daar juis ’n behoefte aan die seksuele wees om nabyheid, koestering en intimiteit te ervaar.

Só kan julle as ’n eenheid staande bly

Dit is noodsaaklik om intimiteit tussen julle te vestig, tyd saam deur te bring, te gesels en om julle omgee te wys. Dit help as albei partye hul gevoelens kan deel en onthou dat julle nie op dieselfde manier rou nie. Help mekaar, maar weet ook dat elkeen op sy eie manier by ’n plek van aanvaarding moet kom. Gee mekaar dus ruimte en wees sag met mekaar. Dis belangrik om in dié tyd juis intimiteit te skep. Fokus op sensualiteit en nie seksuele aanraking nie. En laastens . . . gee dit tyd, dit sál beter raak.

Artikel deur Elmari Mulder Craig