Onvrugbaarheid is ’n algemene verskynsel en ’n onderwerp waaroor INTIEM al heelwat artikels geplaas het. Die begeerte na kinders kan ’n huwelik verteer, maar ons leef in ’n era met opsies. Is surrogaatskap een van julle s’n?

“Ons sien surrogaatskap as ’n ‘lewende’ orgaanskenking. Corlien se baarmoeder word gebruik om iemand anders te help, net soos wat sy ’n lewer of ’n nier sou skenk. Só skenk sy die werking van haar baarmoeder terwyl sy nog lewe,” vertel Wimpie Steenkamp van Centurion oor hul besluit om as surrogaat-ouers vir ’n ander paartjie op te tree. Surrogaatskap is ’n ooreenkoms waar ’n vrou vir ’n ander paartjie ’n kind dra en in die wêreld bring. Dit is waarskynlik een van die mees onbaatsugtige geskenke wat iemand aan ’n kinderlose paartjie kan gee, maar baie mense ervaar onsekerheid daaroor omdat daar nie soveel inligting oor die kwessie beskikbaar is nie.

Wimpie en Corlien se verhaal

Ten tye van die onderhoud was Corlien 32 weke swanger. Wimpie vertel dat die feit dat hulle by surrogaatskap betrokke geraak het, van die begin tot die einde ’n saak van geloof en gebed was en steeds is. Wimpie (39) en Corlien (41) is in Januarie 2002 getroud ná hulle mekaar in 1995 op ’n Voortrekkerkamp ontmoet het. Die paartjie het twee kinders, Rikus (9) en Carli (5). Hul verhaal het begin op die voorstoep van die kleuterskool waar Corlien ’n onderwyseres was. Ronel Nel, ’n ma van een van die kinders waar Corlien ’n kleuterskoolonderwyseres was, het vertel dat haar diabetes haar verhoed om ’n tweede kind te hê en dat sy op soek was na ’n “broeikassie”.

Corlien het dit gehoor en op die plek gesê dat sy dalk sal kan help. Wimpie het stadiger aan dié idee gebyt en dit het oortuiging van Corlien se kant af geverg. “My eerste reaksie was maar dat sulke goed net in flieks en oorsee gebeur.” Toe hy begin gewoond raak aan die idee, het die paartjie begin navorsing doen en met ander hieroor gesels. Hulle het ervaar dat daar min inligting hieroor beskikbaar was. Vir Corlien was haar swangerskappe ’n positiewe ervaring – sy het met geen swangerskap-simptome gesukkel nie, maar tog glo die paartjie dat ’n ander ervaring ’n rol gespeel het in hul besluit om as surrogaat-ouers op te tree . . .

“Ek sê juis ‘onderbewustelik’ omdat ons nie enigsins daarna verwys of daaroor gedink het tot heelwat later nie.” Hulle het empatie gehad met Ronel, wat ’n groot risiko gehad het om haar kind te verloor met haar swangerskap, maar daar was iets anders: Klein Rikus is in 2004 gebore en ná drie jaar het Wimpie en Corlien besluit om weer te probeer swanger raak, maar op sowat tien weke het Corlien een aand erge maagpyn gehad en hulle is inderhaas ginekoloog toe. “Met die toetse het ons gesien dat die embrio nie sal oorleef nie en dat hy/sy eintlik reeds dood was. Ons het met ander woorde nie regtig ’n kind of baba verloor nie, want daar was nog nie eintlik iets nie, maar dit was steeds vir ons hartverskeurend . . . en ’n geval van baie vrae wat nie altyd gou antwoorde kry nie. Ek dink daardie dag se verlies het in ons onderbewuste gewerk om die besluit te neem.”

Toe Wimpie en Corlien uiteindelik die besluit geneem het om vir Ronel en Rautie te help, het hulle ’n dokter in Bryanston opgespoor wat verbonde is aan ’n kliniek wat surrogaatskap hanteer. Van hier af het hul reis begin. ’n Reis met biologiese en wetenskaplike prosedures, eierselle en spermselle wat geoes is, bevrugting wat in die laboratorium plaasgevind het en hormoonbehandelings wat Corlien se liggaam gereed moes kry vir die bevrugting. Twee bevrugte eierselle is ingeplant en een van hulle het geheg. “Dit was veral ’n saak van gebed tydens die twee weke wat dit geneem het vanaf die inplanting tot die tyd wat ons kon uitvind of dit geheg het. Maar nadat dit suksesvol was, het ons geweet dat God se wil ook hier geskied en dat alles verder sal verloop soos wat Sy wil is.”

Wimpie en Corlien moes aan hul kinders verduidelik wat presies gaan gebeur – dat daar ’n baie klein babatjie is wat nog as ’n selletjie ingeplant is deur ’n dokter. Dat daardie babatjie nie mamma s’n is nie, maar tannie Ronel s’n en dus nie hul boetie nie. “Ons gesels ook deurentyd oor wat gebeur en lê baie klem daarop dat ons húlle nie sal weggee nie, omdat die moontlikheid bestaan dat hulle dink ons gee kinders weg.” Hulle het ’n goeie verhouding met Rautie en Ronel, met wie hulle intussen vriende geraak het. Daar was nog nooit enige ongemaklikheid nie en die twee paartjies beskou alles vanuit dieselfde perspektief.

En wetlik? “Surrogaat-ouers in Suid-Afrika mag geen vergoeding ontvang nie, maar die mediese onkostes tot en met die bevalling word deur die ouers betaal. Voorts moet minstens een van die gamete (hetsy die eiersel of spermsel) van een van die ouers afkomstig wees. In die kontrak word ook vasgestel dat die surrogaat-ma se gesondheid altyd eerste gestel word.” Verskeie verslae moes by die hof ingedien word om die hele proses goed te keur, vertel Wimpie. Die sielkundige evaluasies van die onderskeie paartjies was vir hulle die belangrikste. Ná die goedkeuring van die hof is ’n kontrak gesluit waarin beide kante beskerm word.

Vra jy hulle uit oor die uitwerking daarvan op hul huwelik, antwoord Wimpie: “Die gewone uitwerking wat swangerskap betref, is maar dieselfde – soos die buie as gevolg van hormone, die lyfseer en al daardie dinge. Die feit dat ons saam in die ding is en die swangerskap hanteer asof dit deel van ons lewe is en omdat ons saam daaroor besluit het, maak dat ons mekaar ondersteun sonder om eers daaroor te dink. Dit is wonderlik om die vreugde te sien wat dit vir iemand anders bring – ek kan net dink hoe ons gaan voel wanneer Ronel die baba vir die eerste keer gaan vashou.”

Vir baie mense is dit kontroversieel. “Daar was maar soms ’n negatiewe reaksie of twee wat ons toeskryf aan onkunde . . . maar daar is soveel positiewe reaksies en ondersteuning van ander mense, wat opmaak daarvoor.” Deel van hul rede om die verhaal te deel, is om surrogaatskap bietjie duideliker vir mense te maak. “Ons besef hoe nodig so iets in baie gevalle is en hoe min kennis mense hiervan dra. Daar is byvoorbeeld regtig mense wat dink dat die pa by Corlien geslaap het en dat die baba só verwek is – dat daar geen wetenskap by betrokke is nie! Corlien se ma het eendag in die verbygaan opgemerk dat sy wonder of die seuntjie Corlien se oogkleur sou hê . . . ouma verstaan egter góéd hoe dit gewerk het!” Vir baie mense is die godsdienstige sy ook problematies en hulle weet nie wat om daarvan te dink nie.

Daar was al baie mense wat die Steenkamps gevra het waar in die Bybel surrogaatskap regverdig word. “Een aand het ons by ou vriende van ons se kleingroep van hul kerk gaan gesels en die ou oom wat die groep gelei het, het geopen met ’n stuk uit die Bybel. Ná daardie aand weet ek presies wat om te sê,” vertel Wimpie. Hy verduidelik: “In 1 Korintiërs 13:13 staan daar: ‘En nou wys ek julle wat die allerbelangrikste is: Geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, maar die grootste hiervan is die liefde.’ Geloof dat God se wil sal geskied en dat die surrogaatskap sal werk as dit so moet wees vir die ouers om nog ’n kindjie te hê. Hoop dat alles sal uitwerk soos dit moet. En liefde: Alles word in liefde gedoen. Liefde is om aan ander te doen wat jy graag wil hê hulle aan jou moet/kan doen.”

Hy vertel dat nog ’n “teken” wat hulle gewys het dat alles uit geloof geskied, die feit was dat hulle besluit het op slegs een inplanting. Soms gebeur dit dat die selle nie heg nie en nog inplantings gedoen word, maar hulle het besluit dat hulle dit slegs die een kans sou gee. Maar vóór Wimpie en Corlien dit met Ronel-hulle gedeel het, het dié paartjie vertel dat hulle net een keer ’n inplanting gaan doen en dan, as dit nie werk nie, sal berus daarby dat hulle net een kind kan hê. “Hulle het dit gesê nog voordat ek enigiets gesê het,” vertel Wimpie.

Sou Wimpie en Corlien dit vir ander paartjies aanbeveel? “Ja,” meen hulle. “Mits dit in hul verhouding inpas. Hulle moet baie seker maak dat almal (die twee ouers sowel as die twee surrogaat-ouers) mekaar goed verstaan, op dieselfde bladsy is en dieselfde doel het.”

Talitha en Eppo se verhaal

Talitha en Eppo is vanjaar 14 jaar getroud. Hulle het drie kinders: Juvan, Clarissa en Regardt. “Ek is bevoorreg om ’n tuisbly-ma te kan wees en is geseënd met ’n wonderlike man en aktiewe, lewenslustige kinders.” Hulle is lank reeds bevriend met Liza en Wardi, vriende wat hulle deur hul selgroep gemaak het. Sy vertel hoe Liza en Wardi baie lief is vir kinders en dikwels hul kinders sou oppas. Maar daar was ’n hartseer element . . . hul vriende het lank gesukkel om swanger te raak en geen behandelings sou werk nie. “Intussen het ons ons laaste twee kinders gehad. Aan die een kant was dit moeilik om swanger te wees terwyl hulle gesukkel het – en selfs ’n paar miskrame gehad het.”

Kort ná haar laaste seun se geboorte, nét toe sy weer fiks was, het sy een oggend in haar stiltetyd ’n stem hoor vra: Wat van surrogaatskap? “Onmiddellik het ek gedink: ‘Wyk satan! Ek is nou net eers fiks.’ Maar God is getrou en sien die huwelik as een . . . die volgende dag het Eppo my gevra of ons nie dalk surrogaatskap moet oorweeg nie.”

Dit is tóé dat sy besef het sy het die Heilige Gees se stem gehoor. Hulle het die saak oorweeg, saam daaroor gebid en dit vir hul vriende aangebied. “In daardie stadium het Liza en Wardi besluit hulle is vir eers klaar met hul proses, maar ’n paar maande later het hulle ons gekontak vir koffie. Hulle sê nou nog dit was vir hulle erger as ouers vra! Hulle het gevra of ons ernstig was oor die surrogaatskap en of ons steeds bereid was om dit te doen.”

Die twee paartjies het almal besluit om eers drie maande lank daaroor te bid en as almal vrede sou hê met die besluit, sou hulle die pad stap. Na drie maande hét hulle die pad saam met God begin stap. Daar was natuurlik moeilike tye, soos bloeding gedurende haar swangerskap, waardeur hulle al vier moes werk. “En dan was daar ook die hormone. Ek raak soms bietjie kwaai as ek swanger is en my arme man het my só mooi hanteer. Vir hom was dit ook partykeer moeilik, want dit was nie ons kind nie en hy het met só ’n moeilike vrou gesit!”

Daar was ook die humoristiese tye, vertel Talitha. Soos die keer toe die graad een juffrou vir haar vertel het dat sy nie dink haar kind verstaan swangerskap reg nie – hy sê sy ma is swanger, maar dit is nie sy boetie of sussie nie! “Die geboorte was bietjie vinniger as wat ons beplan het – ek het pre-eklampsie ontwikkel en moes ’n paar dae vroeër ingaan. Maar wat ’n voorreg en vreugde was dit nie om deel te wees van só ’n wonderwerk nie! Om die uitdrukking op hul gesigte te kon sien toe hulle hul dogtertjie vir die eerste keer kon vashou . . . ’n mens kan nie anders nie as om te besef hoe groot God is nie.”

Talitha vertel dat, behalwe vir die emosionele uitdagings van ’n swanger vrou, daar natuurlik ook die intimiteit van die huwelik is wat daardeur geraak word. “Vir die eerste drie maande van só ’n swangerskap mag daar geen seks tussen jou en jou man plaasvind nie – dit is altyd ’n uitdaging in enige huwelik!” Maar, voeg sy by, hulle het nuwe kante van mekaar ontdek in hierdie tyd en geestelik beslis as egpaar gegroei. “Dit het ons beslis nader aan mekaar gebring omdat dit iets was wat ons saam vir ander gedoen het.”

Sy persoonlik sal nie weer as surrogaat-ma optree nie. “Maar net omdat ek reeds vier keisersneë gehad het en volgens my dokter nie mág nie. As ek weer van voor af moet kies, sal ek dit beslis weer doen!” Sou sy dit vir ander paartjies aanbeveel? “Ek sal dit aanbeveel as albei persone in die huwelik ten gunste daarvan is en vrede by God het. Dit is ’n pad wat ’n mens saam moet stap en albei moet weet dat dit ’n groot impak het op die huwelik. Vir ons was dit ’n stukkie gehoorsaamheid wat ons die voorreg gegee het om deel te wees van een van God se grootste wonderwerke – ’n nuwe lewe.”

Ronel vertel . . .
“Met klein Anke se geboorte was ek baie siek en vir vyf maande in die hoësorg-afdeling. Sy is op 32 weke gebore as gevolg van komplikasies gedurende die swangerskap. Dit op sigself is iets wat ek nooit weer wou deurmaak nie, maar my risiko vir ’n tweede swangerskap was te groot. Drie na vier jaar gelede het ons vir die eerste keer van surrogaatskap gehoor, maar dit nooit ernstig oorweeg nie. Ek het baie sterk geloofsoortuigings en as Christen het ek lank daarmee geworstel. Ek en my man het met mekaar daaroor gepraat en dan weer half daarvan vergeet – ook omdat ek regtig gesukkel het om inligting daaroor te kry. Ek was eerlikwaar op die punt waar ek besluit het dat ons ons dogtertjie het – reeds baie om voor dankbaar te wees. Maar ek was tranerig en ongelukkig elke keer wat ek gehoor het iemand is swanger of wanneer ek na ’n ooievaarstee moes gaan . . .

“Aan die begin van 2012 het Rautie my weer gevra of ons dit nie dalk moet oorweeg nie. Dit was die begin van die hele proses. Ek het op 1 Mei besluit ek maak dit ’n saak van gebed, want dit was al hoe ek geweet het ek kon berusting vind. Ek het ophou soek na enige inligting. My woorde was: ‘Ek gaan ophou soek en as die Here dit en iemand oor my pad sou stuur, sal ek aanvaar dat dit reg is en dat ons sal kan voortgaan.’ Corlien het vir my gesê sy sal dit doen, sonder dat ek gevra het, en die inligting oor prokureurs en dokters was net skielik beskikbaar . . . dit alles het ons besluit baie maklik gemaak. Vir my was die besluit meer emosioneel terwyl dit vir Rautie meer rasioneel was. Ek kan eerlikwaar sê dat dit nie regtig ’n uitwerking op ons huwelik gehad het nie en indien enige, sou ek sê dit was beslis net positief. Ons is baie opgewonde oor ons nuwe seuntjie, Ignus Koen Nel, wat op pad is.”

Wil julle surrogaat-ouers word? Volgens Wimpie en Corlien moet ’n paartjie wat surrogaatskap oorweeg:

1. Terugkom na wat die huwelik moet wees soos deur die Bybel ingestel: Twee moet een word.
2. Saam daaroor besluit en saam deur hul besluit werk.
3. Goed kan kommunikeer en ten alle tye eerlik wees.
4. Geduld hê, mekaar goed verstaan en mekaar emosioneel kan bystaan.
5. Hul eie kinders fyn waarneem en deel maak van die proses.
6. Voorbereid wees op die invloede van buite (positief en negatief).
7. Seker wees daar sal nie ná die tyd verwyte of spyt wees nie.
8. Emosioneel baie sterk wees.
9. Met ander hieroor praat en gedurig daaroor bid.

*Paartjies wat surrogaatskap oorweeg, is welkom om met Ronel oor die proses te gesels. Sy kan gekontak word by ronelnel2@gmail.com.

Artikel deur Annelize Steyn