Dit was eers ná ’n traumatiese gebeurtenis dat Maya Naumann besef het ’n mens hoef nie die reëls van die samelewing te volg nie. Solank jy veilig is, God se genade verstaan en jouself liefhet, sal jou lyf jou vertel wat jy nodig het om te weet.

Dit is ’n koue dag in Parktown North waar Maya in haar ouers se ruim huis haar baie persoonlike ervaring met my deel. Om oor so iets te praat soos jy die weer en die stygende petrolprys oor ’n koppie koffie bespreek, is nie maklik nie. Maar as dit ’n verskil kan maak in ander se lewens, doen sy dit graag, sê sy. Maya is ’n dieetkundige van Tamboerskloof in die Kaap. Haar ouers is gasvrye mense van Nederlandse afkoms en in die stylvolle, ruim huis kan jy asemhaal.

Tog was dit asof Maya nie altyd vrylik die genade van God kon inasem nie. Miskien was dit die gees van die tyd, of die siening van die kerk in haar grootword jare. “Ek het altyd geglo dat, wanneer jy dinge reg doen, God lief is vir jou en wanneer jy iets verkeerd doen, Hy nie meer van jou hou nie. Dat, as jy ’n goeie Christen is, jy die reëls moet volg.” Ná skool het sy vir twee jaar lank by YWAM (Youth With A Mission) aangesluit, waar sy vir een van daardie jare ’n Bybelstudiekursus gedoen het en letterlik die Bybel deurgewerk het. “Ek het die genadeleer gesien en gehoor van justification by faith and not by works, maar die pennie het net nie vir my geval nie.”

Ná haar tyd by YWAM het sy dieetkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en as student was sy “nogal legalistic,” vertel Maya. “Ek het probeer om altyd die regte ding te doen, vroom te wees en nie te veel uit te gaan en te drink nie. Dieetkunde het ook bygedra tot my mindset. Jy word geleer om baie swart en wit oor dinge te dink – daar is ’n regte manier en ’n verkeerde manier. As jy reg eet, gaan dít gebeur en as jy verkeerd eet, is daar ander gevolge.” Dít was waarop haar denkwyse en manier van leef gebaseer was.

Wanneer dinge begin grys raak
Maya praat reguit en wanneer dit kom by ’n keuse om ’n skuilnaam te gebruik, wys sy dit van die hand. Nie omdat sy trots is op haar verlede nie, maar omdat sy weet talle Christene loop gebuk onder die geheime wat hulle dra, omdat hulle bang is vir die oordeel van ander. Dít plaas hulle in ’n kwesbare posisie, waar hulle hulself isoleer en afsny van enige moontlike bron van genesing wat beskikbaar is. Sy vertel: “Ek dink dikwels aan die teks in Korintiërs waar Paulus vertel van die skatte in erdekruike – ek kan in my geestesoog sien hoe hierdie kruike lyk: hulle het groot krake in, en deur die kraak heen kan ’n mens die lig van ’n skat binne in raaksien. As ons aanhoudend die krake vir mekaar probeer wegsteek, en die ‘heel’ kant vorentoe draai, dan sien ons nooit die skat aan die binnekant nie…”

Teen die einde van haar derde jaar op universiteit, het Maya ’n man ontmoet op wie sy dolverlief was en met wie sy gou in ’n ernstige verhouding betrokke geraak het. “Seks was nie iets wat ek ooit oorweeg het nie. Dit was iets waaroor ek nooit gevoel het ek ’n keuse hoef uit te oefen nie, want ek het net bloot geweet ek mag dit nie hê nie. Ek sou nie en ek wou nie.” Maar hý wou en sy was beïnvloedbaar en onontwikkeld in daardie area. “Ek het nie geweet hoe om daaroor te dink nie, want dit was nooit vir my ’n opsie óm daaroor te dink nie.”

Hulle het albei alleen gewoon en al meer tyd saam bestee. “Ons verhouding was baie sensueel en het meer en meer steamy geraak. Met my wettiese interpretasie van die ‘reëls’ oor seks voor die huwelik het ek die streep getrek by penetrasie want dit was vir my waar seks vir my begin het. So, ons het alles gedoen, behalwe vir penetrasie en tog het gebeur wat ek gedink het onmoontlik is – ek het swanger geraak!”

Vir Maya, ’n goeie Christenmeisie uit ’n welgestelde huis, was dit ’n yslike skok om drie maande die verhouding in, hierdie tyding te kry. “Ek het baie daarvan uitgeblank en daar is baie gebeure wat ek nie kan onthou nie. Ek en hy het lank gepraat en al ons opsies oorweeg.

Ons kon vir mense vertel, die kind hou en grootmaak, of opgee vir aanneming. Maar as ons dit gedoen het, sou dit beteken dat die waarheid moes uitkom en vir my was dit net te groot om te hanteer. Ook hy het uit ’n huis, selfs nóg meer konserwatief as myne, gekom.”

Die paartjie het gevoel daar is geen ander uitweg nie en drie dae later, in daardie warm Januarie, het sy op 23-jarige ouderdom ’n aborsie by die hospitaal laat doen. “Ek het wel oor my swangerskap en pad vorentoe gebid toe dit daar was, maar het beslis my ore toegedruk om seker te maak ek hoor nie wat die Here antwoord nie, want ek het nie genoeg vertroue gehad dat Hy my kon help en die nodige genade kon gee om ‘die regte ding’ te doen nie. Ek was te bang vir die oordeel van mense. Om die lewe van my eie ongebore kind te neem was minder erg as om te moet verduidelik dat hierdie ‘heilige’ meisie nie so perfek is soos sy lyk nie…”

Wanneer geloof ’n weegskaal word
Maya het geglo dit was iets wat sy uit haar lewe kon uitvee. Soos ’n vloekwoord op ’n swartbord. Dat sy sou kon vergeet sodra sy die bordveër gebruik het. Maar in die maande wat op die aborsie gevolg het, het sy buitengewoon emosioneel geraak en sou sy sommer net vir ure aaneen huil. Sy kon boonop met niemand daaroor praat nie, want dit was slegs hy wat daarvan geweet het. In Julie het sy by haar ouers gaan kuier. “Dit was asof die onderwerp net heeltyd opgekom het en asof die Here regtig vir my gesê het ek moet daaroor praat.” Maya het haar ma vertel.

Natuurlik was dit ook vir haar ’n groot skok, maar sy het dadelik voorgestel dat hulle vir berading gaan. “Ek het begin genade ervaar en deur ’n genesingsproses gegaan. Ek het egter steeds gevoel dat ek iets verkeerds gedoen het, maar dat dit okay is en dat ek daarvoor kan opmaak. Dat ek net dubbel so hard moet probeer om alles reg te doen – dan sou ek die balans weer kon regkry. So, asof ek nou tien minuspunte gekry het, maar net hard moet werk om weer pluspunte te kry. Dit was hoe ek dit vir myself uitredeneer het.”

Die verhouding het vir ’n jaar en ’n half aangehou, al het Maya vroeg reeds geweet dit sou nie uitwerk nie. “Ek het gevoel ek sou opmaak vir wat ek gedoen het as ons wel later sou trou en saam ’n kind sou hê. Dit was ook wat ons vir mekaar gesê het – die timing is verkeerd, maar ons gaan wel later ’n kind saam hê.” Dit het nie so uitgewerk nie en ’n jaar en ’n half later het sy, sielsongelukkig, uit die verhouding gestap.

Wanneer daar iewers ’n liggie aangaan
Die keerpunt in haar lewe het nie gekom deur ’n dramatiese motorongeluk of iemand wat sy aan die dood moes afstaan nie maar, toe sy anders leer dink het oor kos. Dit klink vreemd, want hoe bring ’n mens ’n lewensveranderende gebeurtenis soos ’n aborsie by dieet uit? Maya verduidelik: “Dit is my veld waarin ek werk en waaroor ek elke dag moet dink. Toe ek daardie omskakeling gemaak het, kon ek dit ook deurtrek na ander vlakke van my lewe,” vertel Maya. Haar figuur lyk goed en daar is geen teken dat dié jong vrou minder as ’n dekade gelede nog aan bulimie gely het nie. “Eetsteurnisse kom van ’n verkeerde manier van dink.

Die manier waarop ek oor kos gedink het, was konsekwent met die manier waarop ek die wêreld beskou het, en veral God, sonde en geregtigheid. As ’n mens só redeneer, is dit asof jy pal op ’n tight rope stap en heeltemal in beheer is. Maar as jy dan een voet verkeerd sit, val jy die afgrond in.”
Haar eetversteuring was deel van wie sy was – regdeur haar studiejare en selfs die eerste twee jaar in praktyk. Tot sy drie jaar gelede op ’n beweging afgekom het wat heeltemal anders oor kos dink. Dit het nie net haar eetgewoontes nie, maar ook haar hele lewe dramaties omgekeer, vertel Maya.

“Die beweging sê: Eet tot jy versadig is en hou op as jy vol is. ’n Mens se liggaam wil gesond wees en as jy sensitief raak vir jou eie liggaam, lei dit jou in die regte rigting,” vertel sy. “Dit klink baie gevaarlik vir iemand wat gewoond is aan die reëls, want dit voel amper asof jy alle beheer oorboord gooi, maar ek het gevind ’n mens het ’n baie sterk, ingeboude sensor wat jou vertel wat reg en verkeerd is. En met ’n bietjie kennis en baie intuïsie kan dit ’n groot verskil in jou lewe maak. Jy kan dit op geestelike vlak ook toepas.”

Wanneer jy besef hoe kosbaar intuïsie is
Maya verduidelik dat baie mense die goed met die slegte probeer uit balanseer en dat vroue dit veral met dieet doen. “Die probleem is natuurlik dat jy dan die slegte dinge al hoe meer begeer en jy jouself konstant in toom moet hou en baie wilskrag moet uitoefen om die goeie te bly kies.” Sy vertel verder: “As jy ’n vooropgestelde oordeel het oor elke liewe ding, deur dit te etiketteer as ‘reg’ of ‘verkeerd’, en jy jou besluite neem na gelang van hierdie aannames, wéét jy dat jy elke keer reg bo verkeerd moet kies wanneer jy voor die opsies te staan kom, en dit beteken dat jy nie enigsins ’n keuse uitoefen nie. Die keuses is reeds vir jou gemaak, selfs voor jy die oggend opgestaan het en al wat jy kan doen, is om daarteen te rebelleer of in te stem. Jy leer nooit wie jy werklik is en wat jy wil hê nie – jy reageer net op die reëls.”

Sy trek ’n pen en papier nader met drie sirkels binne mekaar. “As jy dieet, of selfs as jy ’n gelowige mens is, is die sentrum van beheer in jou denke. Jy vertrou op jou denke en leer om jou liggaam te ignoreer.” Sy vertel dat dit natuurlik is vir ’n mens se liggaam om jou seine te gee, maar as jy leer dieet, word jy afgesny van daardie kennis in jou liggaam. Jou siel en jou emosies kommunikeer ook met jou deur gevoelens in jou liggaam en as jy jou liggaam se gevoelens afsny, sny jy jou natuurlike emosies ook af. Dit is amper asof jy kontak met jou interne kompas verloor. Jou besluite word toegepas met behulp van wilskrag en as dit sterk is, kan jy daarby hou. As dit egter nie sterk genoeg is nie en jou jy is nie in voeling met jou intuïsie nie, is jy in die moeilikheid. Jou denke kan jou leiding gee, maar jy moet dit vertrou saam met jou intuïsie. As die Heilige Gees met jou praat, gaan Hy dit waarskynlik doen deur jou liggaam en emosies, en nie deur jou denke nie.”

Maya moes weer leer om met haar liggaam te voel. “Een van die eerste dinge wat jy moet doen, is om daarin te glo. As Christen is dit so logies dat dinge so kan werk. Jy moet leer om jouself te vertrou.” Sy wens sy kon die horlosie terugdraai om te sien hoe sy daardie verhouding en gebeurtenis sou hanteer as sy tóé so toegerus was soos sy vandag is. Sy glo dit sou anders wees.

Wanneer jy as mens veilig is
Sy vertel dat soveel jongmense oor seks voel soos wat mense wat dieet oor kos voel. “Hulle sal nie uitgaan nie, omdat daar buite te veel verleidings is, so hulle maak hul omgewing veilig. Baie kerke doen dit ook – mans en vroue mag nie alleen tyd saam deurbring nie, jy mag nie op ’n sekere manier aantrek nie. Hulle probeer regtig hard om die omgewing veilig te maak.

Dit is egter soortgelyk aan om te sê: ‘Ek gaan geen verleidelike kos in my huis aanhou nie want netnou kom ek in die versoeking’. Neem so ’n persoon na ’n troue of partytjie toe en hulle het geen beheer van binne af nie. So, hul omgewing mag miskien veilig wees, maar sodra hulle in ’n ander omgewing in beweeg, raak hulle buite beheer. ’n Mens moet leer om die mens veilig te maak sodat jy hom na enige plek kan stuur en hy fine sal wees,” meen sy.

Maya glo dat mense hulself die vryheid moet gun om keuses te kan uitoefen. “Reëls is steeds op jongmense van toepassing. Dit ís nie behoorlik vir ’n sestienjarige meisie om alleen saam met haar kêrel in haar kamer te sit nie, maar jou doel as ouer moet eintlik wees om jou kinders te leer om hulself kosbaar te ag, vir hulself lief te wees en besluite te neem na aanleiding van dít wat vir hulle goed is.” Só sal ’n jongmeisie byvoorbeeld weet ’n verbreekte seksuele verhouding gaan haar emosioneel skade aanrig, dat rook sleg is vir haar liggaam en dat te veel drank haar in ’n situasie kan laat beland waar sy haarself kan laat skend – sonder dat sy die besluite neem omdat dit ‘verkeerd’ is of omdat sy bang is sy stel haar ouers teleur. Maya meen jongmense moet oor seks voor die huwelik as ’n moontlikheid dink, sodat hulle kan voorsorg tref en nie glo dat hulle nooit in so ’n situasie sal beland nie, want dán kan hulle onverhoeds betrap word.

Wanneer jy die definisie van genade leer verstaan
Die ander keerpunt in haar lewe was die dag toe sy eindelik besef het dat die Here vir haar lief is, nie oor dit wat sy doen of nie doen nie, maar omdat Hy vir haar aan die kruis gesterf het. Die besef dat God genadig is en haar nie meet aan haar dade nie, was vir Maya bevrydend. Tog is dit iets wat so min mense regtig verstaan. “’n Leraar het eendag vir my gesê: ‘If you preach grace properly you will always be accused of licence...’ En dit is so waar.”

Maya het gesukkel om haar verlede agter haar te los. “Ek het gevoel soos damaged goods. Hoe kon ek ooit weer teruggaan na ’n gesonde mens wat iets werd is, ’n catch vir ’n man. Ek het in my dagboek geskryf dit voel vir my asof alles wat gebeur het in my bloed is. Ek het hierdie sonde in my bloed en hierdie man is in my bloed en die geskiedenis is in my bloed op my afgeteken.” Kort na die inskrywing in haar dagboek, was sy by die kerk, waar sy ’n wonderlike ervaring gehad het. ’n Vrou het vir haar gebid en gesê sy sien ’n prentjie van Maya gekoppel aan ’n dialise-masjien!

“Dit het my laat besef daar ís tweede kanse en die Here kan genees waar dinge verkeerd gegaan het.” Vandag is Maya al drie jaar lank gelukkig getroud. “’n Mens kan nie die verlede totaal afskryf nie. Ek het nog letsels wat miskien nie meer so seer is nie, maar dit is nog daar. Dit is seker maar ’n realiteit wat ek die res van my lewe mee gaan moet loop.”

Wanneer alles begin sin maak
“As seks ’n opsie was – as dit iets was wat ek geleer het ek kan kies of nie, dan sou ek waarskynlik meer helder hieroor kon dink. Dit was so ’n taboe, dat ek nie ’n besluit gemaak het nie en net meegesleur geraak het in gevoelens en die ingewing van die oomblik sonder om te kan erken wat besig is om te gebeur,” vertel sy vandag. In ’n brief wat sy onlangs aan haar eks geskryf het, noem sy: “Ek dink die laagste laagtepunt wat ek deurgegaan het, nadat ek en jy uitgemaak het en daardie iets wat ons nooit op die naam noem nie, het my nederig gemaak en my laat ophou glo dat ek ooit goed genoeg vir God kan wees deur my eie, en dat geregtigheid deur middel van ’n ander roete noodsaaklik en baie aanloklik was.”

Die besef het deurgedring
Toe sy besef het dat sy nie volgens reëls hoef te leef nie, het sy aanvanklik alle reëls oorboord gegooi en ’n seksuele verhouding aangeknoop met ’n man waarmee sy nie moes nie. “Die basis van my keuse was nie of dit toegelaat word en of dit stout is nie, maar eerder of dit goed is vir my. Ek het gou ontdek dat, net soos ek in my liggaamselle ’n aptyt vir gesondheid het, ek ook in my spirituele selle ’n aptyt vir heiligheid het.” Sy het besef dat sy nie meer God se goedkeuring nodig het nie, maar dat sy dit tog wóú hê.

“Ek wóú reg begin optree uit dankbaarheid teenoor God. Ek wou die persoon wie ek is koester, bewaar en liefhê. Dit maak heeltemal sin vanuit ’n gesonde perspektief op verhoudings, selfbeeld, gees, liggaam en emosies.” Vandag is haar lewe skoon, soos wat haar dieet gesond is, en sy voel “vry, vreugdevol en veilig.” Wanneer jy haar groet, kan jy dit sien. Daar is ’n vrede wat Maya Naumann omring, ’n vrede wat alle verstand te bowe gaan…

Wéét die volgende, sê Maya
• Dat jy as Christen nie gevrywaar word van enige negatiewe trauma nie, maar dat jy die toerusting het om dit beter te kan hanteer mits jy die genade van God verstaan en jouself ook kosbaar genoeg ag om op jou liggaam se seine staat te maak.
• Dat jy nie die reëls van die samelewing nodig het om die regte ding te doen nie. Jy het gesonde denke en kennis, maar moet nooit jou intuïsie ignoreer nie. Dit sal baie beslis vir jou vertel wat goed en sleg is vir jou en die Heilige Gees praat ook met jou op hierdie vlak.
• Dat jou besluite ’n impak op jou eie lewe het. En dat jy kan rebelleer teen mense om jou, maar dat jy daardeur jouself seerder gaan maak as vir hulle.
• Dat, om met ’n skoon gewete ’n keuse te kan maak, beter en gesonder is as om te sê: “Ek behoort dit nie eintlik te doen nie, maar ek gaan maar want ek het nie ’n ander keuse nie.”
• Dat elkeen geseën is met ’n aptyt vir gesondheid, ’n goedvoel-gevoel en ’n interne kompas wat jy ten alle koste moet beskerm.