Wie is M?

Ek is ‘n…#mamma #vrou #suster  #tannie #vriendin

Ek is 6 jaar getroud met my man. Ek is ‘n mamma van 2 seuns (8- & 4 jaar oud). Ek werk voldag en droom nog om eendag ‘n “stay-at-home-mom” te kan wees. Ek is ‘n plain-Jane…what you see is what you get. Ek is nie ‘n perfekte vrou of ‘n perfekte mamma nie. Ek skel en skree, en soms huil ek van frustrasie. Ek dra nie elke dag makeup nie en partykeer loop ek heeldag in my slippers rond. Dit is ook moontlik dat ek partykeer op ‘n Saterdag so teen 12:00 nog in my pajamas sal rondloop in die huis met ‘n skewe, deurmekaar bolla omdat ek besig was om die huis skoon te maak. (Let wel: Dis die Saterdae wanneer ek nie al 07:30 langs die rugby veld staan met ‘n beker koffie en my stem wegskree om my 8-jarige te ondersteun nie.) Ek weet ook nie wat om elke aand vir ete te maak nie en erken dat ons aandete baie keer bestaan uit snackwiches, cook-in-sauce ietsies, of boksie-in-die-oond kos. Enige iets wat vinnig gemaak kan word, doen die trick. Ek is nie ‘n MasterChef nie! MAAR…Ek streef daarna om ‘n Spreuke 31 vrou en die beste vrou vir my man te wees. Om my verhouding elke dag met God te versterk. Ek probeer my bes om die beste mamma vir my seuns te wees, want God verwag van my om hulle groot te maak vir Sý Koningkryk.…en ek weet ook dat daar baie ander vrouens is wat presies dieselfde voel.  So, liewe vrou, loop met die wete dat jy nooit alleen is nie!

Groete
~M~
#VROUWEES

Wie is N?

Ek en my man is bietjie meer as 3 jaar getroud, en ek leer nog elke dag dat dit nie die 5 groot goed is wat tel nie, maar die 100 klein goedjies wat rêrig saak maak! Ek is ‘n “nuwe-mamma” van ‘n 22 maande oue seuntjie…hierdie is onvoorwaardelike, onbeskryflike, groot liefde! My grimering sakkie betsaan uit ‘n goeie gesigroom, mint-Labello, swart oog-potlood en MASCARA…lang wimpers is al wat ‘n vrou nodig het om beter te voel …dit en slap-tjips, en sjokolade, en ‘n glasie wyn, en skoene wat nie druk nie, en ‘n bra wat ALLES binne, en bo hou…verstaan?! My handsak is ‘n baba-sak. Ek ry my kar tot die petrol-liggie aan is…dit oor ek nie nog tyd het om by die petrol stasie te stop nie, daar wag 100 dinge by die huis – dis nou ás ek die huis haal! Drome om, onder vele andere, ‘n lugwaardin te wees en die wêreld te sien het verander na ‘n veilige en gemaklike pos wat help die rekeninge betaal (dankie tog vir fantastiese kollegas). Ek sê graag JA en wil dan soms myself skop oor ek oorweldig voel, maar voel so goed wanneer dinge bymekaar kom en ek ‘n deel daaraan kon hê. My hartsbegeerte is ‘n heel gesin…om ‘n geduldige liefdevolle vrou te wees, die kan-alles-doen-mamma. Om die ou-sus te wees na wie my sussies opkyk, om die dogter te wees op wie my Ma kan trots wees…om my Pa nog net een keer te druk en te soen…om die kleinkind te bly wat altyd op haar Oupa se skoot sal pas…en die vriendin met die lekkerste koffie, en skouers om op te huil. Ek probeer elke dag net dankbaar wees dat ek alles het wat ek nodig het – ek ken geen tekorte nie. Punt is…ek weet nie altyd wat ek wil hê nie, maar ek weet wat ek NIE wil hê nie! MAAR… Hy is die pottebakker en ek is die klei…God skaaf en skuur nog elke dag aan my. Ek vertrou op Hom om my te lei om die beter-beste weergawe van MYSELF te wees!

Liefde
N*
#VROUWEES