Sonder waarskuwing het haar man van vier jaar die verpletterende nuus oor die foon aan haar meegedeel: Hy is lief vir iemand anders en wil haar nie weer sien nie. Hul babatjie was maar ses maande oud. Boonop was sy op vakansie in Suid-Afrika, duisende kilometers ver van hul woning in Engeland. Jo Petzer (32) vertel haar hartroerende storie.

“Hy was my hoërskoolliefde en ons was op ’n avontuur op pad Engeland toe. Dit was in 2002. Ons aanvanklike beplanning was om vir ’n jaar te gaan, maar ons het dit só geniet dat ons uiteindelik vir sewe jaar gebly het. Ons het verloof geraak en getrou, en in 2008 was ek swanger met ons dogtertjie, Gizelle (nou sewe). Sy is in Junie 2009 gebore.”

Vervloë gevoelens word opgediep soos wat Jo die spore van die verlede volg. Dit klink byna asof sy die opsomming van ’n fiktiewe boek of film vertel, asof haar eie verhaal byna ’n hersenskim van iemand anders se herinneringe uitmaak. Maar dit hét gebeur. En sy dra tog die letsels van die hartwonde met haar saam.

’n Kuiertjie in Suid-Afrika ontaard in ’n nagmerrie
“Kort ná Gizelle se geboorte het my (nou) eksman, Jim*, ’n restaurant-franchise in Engeland oopmaak. Uit die aard van die bedryf was hy selde by die huis, en hy het ook baie laat saans tuisgekom. Ek het niks vreemds daarvan gedink of onraad vermoed nie.”

In hierdie tyd het hul intieme lewe ook nie werklik vlam gevat nie, maar Jo het dit aan werksdruk en lang ure by die restaurant toegeskryf. Sy was self so besig met hul pasgebore baba dat sy nie werklik tyd gehad het om haar gedagtes by enigiets meer as hul dogtertjie te skaar nie, veral omdat sy meestal die kinderversorging op haar eie moes hanteer.

Jim het aanbeveel dat sy by haar ouers gaan kuier oor die Kerstyd omdat, volgens hom, die restaurant hom baie besig sou hou met jaareindfunksies en Kerspartytjies. “Hy het voorgestel dat ek sommer vir twee maande gaan.”

Sy het die wegbreek en praktiese hulp met haar baba nodig gehad en na Suid-Afrika vertrek vir ’n vakansie by haar ma-hulle. Terwyl sy haar ruskansie geniet het, het haar buurvrou uit Engeland gebel. “Sy het vir my gesê dat daar ’n blonde vrou in my huis woon saam met my man, en dat sy reeds daar oorgeslaap het op dieselfde aand wat ek op die vliegtuig geklim het.”

Die buurvrou het die ander vrou se voorkoms beskryf, en Jo het besef dat die beskrywing met dié van ’n kelnerin wat in Jim se restaurant werk, ooreenstem.

“Moenie terugkom Engeland toe nie”
Kort daarna het Jo ’n oproep van Jim ontvang om haar te laat weet dat sy eerder nie moet terugkom Engeland toe nie. Hy het ook haar vermoedens oor die kelnerin bevestig. ’n Paar maande daarna is hulle geskei.

“Ek was totaal verpletter. Verward. Ek het skuldig gevoel . . . asof ek iets gedoen het – of nié gedoen het nie – om hom in iemand anders se arms in te dryf. Ek het myself veroordeel en my aannames oor die lewe en die liefde erg bevraagteken.”

Jim het hul meubels in kratte laat verpak en na Jo se ouerhuis verskeep. “Asof ons hele lewe saam sommer so in die see gegooi is.” Dit was ’n bitter pil om te sluk.

Die ergste, vertel Jo, is dat sy en Jim die kelnerin saam aangestel het (Jo was ook ’n vennoot in die restaurant-franchise). Dus was die kelnerin baie bewus van haar status as Jim se vrou en die ma van sy kind.

“Ek het gedink dat hy belangstelling in my verloor het omdat my liggaam verander het tydens die swangerskap. Die klap in my gesig was net soveel harder omdat die kelnerin maar 19 jaar oud was. Jonk, wulps, skraal. Ek was 26 en post-partum. Boonop was Jim toe 31.”

Daarbenewens was Jo en Jim se baba beplan – om die waarheid te sê, hulle het vir twee jaar gesukkel om swanger te raak! “Dit het bygedra tot die verwarring en woede,” erken sy.

Lig aan die einde van die tonnel
Die eerste jaar van Gizelle se lewe was ’n blur, onthou Jo. “Dit was ’n baie traumatiese tyd.” Haar ma en familie het haar prakties baie gehelp en haar emosioneel bygestaan. Sy was ook die een wat vir Jo aangemoedig het om vir Gary te ontmoet en vir hom ’n kans te gee.

“’n Gemeenskaplike vriendin het vir bykans ’n jaar probeer om my en Gary aan mekaar voor te stel, maar ek het net nie reg gevoel om weer te begin date nie. Wat nog te sê van ’n blind date!”

Uiteindelik het Jo tog ingestem, maar haar moed het haar byna begewe. “Ek het in die parkeerarea in my kar gesit en gedink ek moet eerder hierdie afspraak kanselleer.” Net toe klop ’n baie aantreklike, blonde en vriendelike man aan haar kardeur. Dit was Gary. Hulle het onmiddellik gekliek en die res is geskiedenis.

Terwyl hulle uitgegaan het, was Jo doodbang. Nie oor iets wat Gary verkeerd gedoen het nie, maar om weer seer te kry. Hy het haar egter onophoudelik gerusgestel oor sy liefde. “Hy sou deur die dag vir my teksboodskappe stuur en my gereeld bel as hy by die werk was. Uiteindelik het ek besef ek sal die vrees moet laat gaan om weer gelukkig te wees.”

Vandag is Jo en Gary al vir meer as vyf jaar saam en twee daarvan gelukkig getroud. Saam maak hulle vier pragtige kinders groot. “Gary het twee kinders uit ’n vorige verhouding en saam het ons ook ’n babatjie. Gizelle vra oor haar pa en ek antwoord haar eerlik. Jim het vir lank nie met haar kontak gemaak nie, maar dit gaan nou beter.”

Ná die verbrokkeling van haar huwelik het sy vir ’n hele ruk haar konneksie met God en haar godsdiens verloor. “Ek was kwaad en depressief.” Met dié dat sy by INTIEM begin werk het as advertensie-rekeningbestuurder, het sy weer nader aan God begin beweeg.

Sy is oortuig daarvan dat Hy in elke detail van ’n mens se lewe betrokke is en dat daar ’n rede vir elke gebeurtenis is. “Daar is ’n plan vir jou lewe, maar in die middel van die mallemeule besef ’n mens dit nie altyd nie.

“Nadat ek die verskriklikste seer moes oorleef, het ek die mees ongelooflike man ontmoet! Hy is ook ’n wonderlike, hands-on pa,” vertel Jo. “Hy is amper perfek . . . maar hy is steeds ’n man!” lag sy hardop.

“Glo in God, want daar is iets beters wat vir jou wag. Alles in die lewe het werklik ’n doel, alles is ineengevleg. Soms moet ’n mens net eers deur die donker dieptes gaan om as ’n sterker persoon anderkant uit te stap. Die hemel wag aan die ander kant.”

Artikel deur Anja van den Berg

*Skuilnaam is gebruik.