Die meeste ontmoetings is tog wonderwerke, want God het ’n perfekte plan wanneer hy twee lewensmaats by mekaar voeg. Nelis Engelbrecht en Jana Enslin se storie is egter een van daardie hoendervleis-verhale…

In die middel van 2012 het ’n besoekende spreker by Jana se kerk die gemeente aangemoedig om die Here deel te maak van hul diepste hartsbegeertes en spesifiek te wees in die versoeke wat hulle aan hom rig, skryf Jana in hul getuienis. “Ek het dadelik die aanmoediging van die Heilige Gees gevoel en geweet ek moet niks terughou nie en presies vra wat swaar op my hart lê,” vertel sy.

Die spreker het hulle uitgedaag om net daar vir die Here iets te vra, met die verwagting dat Hy wel sal hoor. Jana het twee dinge op die hart gehad. Die eerste was dat die Here vir haar die man sou wys wat Hy vir haar uitgesoek het. En die tweede was dat haar fotografie-besigheid suksesvol sou word en uitbrei. Wat haar trouman betref, wou Jana ’n duidelike teken hê. “Dit moes nie iets wees waaroor ek sou twyfel en wonder of ek dit nie dalk maar self uitgedink het of uit eie selfsugtige begeertes (behoeftes) gewens het nie.”

Die droom van die rooi hart teen die wit muur
’n Paar weke later, het Jana een aand ’n droom gehad. In die droom was ’n wit muur met ’n groot rooi hart daarop geverf. Voor die hart het ’n man gestaan. “Ek kon nie sy gesig duidelik sien nie, ek het net geweet dat hy ’n baard het en ’n blou top en broek aan het.”

Jana het wakker geword en die Here se woorde duidelik gehoor: Die wag is verby. “Natuurlik was ek super opgewonde, maar ook effens deurmekaar – wat beteken die droom en wie is die man?” het sy gewonder. Die droom het nie regtig vir haar sin gemaak nie… tot sy in dieselfde week, op 16 Julie, deur haar daaglikse Facebook-newsfeed gaan en die einste foto sy verskyning maak! “Dit was ongelooflik! Ek kon regtig nie glo wat ek sien nie. Toe het ek dadelik geweet dit was nie net ’n gewone droom nie en dat hier definitief ’n groter hand in betrokke is.”

Die spioenasiewerk het begin
Sy werk as ’n navorser en ondersoek mense vir ’n lewe. Dadelik wou sy aan die werk spring om uit te vind wie dié misterieuse man is, en dit was nie moeilik om “spioen”te speel nie. “Ek wou graag meer weet oor sy agtergrond, geloof, gesin, belangstellings, gewoontes en so meer. Ek het ook my ‘troumanlysie’ gehad – en dit was vir my belangrik dat hy aan al die vereistes voldoen. Ek was klaar met rondspeel, tydmors en uittoets.”

Sy het uitgevind hy is ook ’n fotograaf, en ’n gebore Namakwalandse skaapboer. Sy was haastig, maar die Here het haar aangesê om te wag. “Geduld was nog nooit my sterk punt nie, so ek het begin om self ’n plan te maak om my man te ontmoet – fout.” Nelis het ’n advertensie op Facebook geplaas vir ’n assistent wat hy nodig gehad het by ’n skoolfoto-shoot. Jana het dit as haar kans gesien en verlof ingesit, maar by die fotosessie uitgevind dat dit nie Nelis is nie, maar een van sy kollegas wat die shoot sou behartig. Weereens het die Here vir haar gesê dat sy net op Hom moet vertrou…”

Die kaas-en-wyn ontmoeting
Op 3 September het sy ’n uitnodiging ontvang na ’n kaas-en-wyn netwerkgeleentheid van ’n ander fotograaf. Sy was nie gretig nie, maar het tog gegaan. “Omtrent so 30 minute ná my aankoms, het die deurklokkie weer gelui…” Dit was Nelis Engelbrecht – die man van die foto! “Die oomblik wat ek hom gesien het, het ek geweet – dít is die een!”
Hulle het eers heelwat later begin gesels. “Ek het gehou van wat ek sien, veral omdat hy die enigste persoon daar was wat nie met ’n glasie wyn in die hand gestaan het nie (hy drink geen alkohol nie). Dit het my beïndruk, want dit was een van my versoeke op my troumanlysie.” Maar Nelis wou nie dadelik byt nie – hy het immers sy eie storie gehad…

Die soektog na ’n trouvrou

As Namakwalandse boer het Nelis in ’n stadium besluit om Kaap toe te gaan. “Ek het gevoel asof die Here my roep om iets groter as net ’n skaapboer te wees. Die lewe op die platteland is bitter eensaam en boerdery is ’n moeilike beroep met uitgawes wat styg… en eintlik is dit nie deel van my persoonlikheid om jaar in en jaar uit op ’n plaas te sit nie.”

So hy het sy goed gepak en kom vrou soek in die stad. “Ek het myself vier jaar lank voorberei vir my droomvrou, maar sy het nie gekom nie.” Hy was al gefrustreerd omdat hy gevoel het hy doen alles reg, maar kry nie sy vrou nie.
“Almal het gesê ek is te vol nonsens en het die oulikste vriendinne. Ek het myself altyd voorgestel dat die dag wanneer ek die regte een ontmoet, ek sommer dadelik smoorverlief sou wees. Ek moet bieg, ek dink dit is ons jong manne van vandag se grootste probleem. Ons wil daardie verlief-gevoel dadelik ervaar, anders werk dit nie. Ek was teen daardie tyd al drie jaar in die Kaap en het die wonderlikste dames ontmoet wat potensiële vrouens was as ek nou terugdink, maar net omdat ek nie met die eerste oogopslag verlief was nie, kon ek myself nie sover kry om verder te gaan nie.”

Tipies sou hy by ’n dansplek instap en as daar nie iemand was wat hom onmiddellik sou butterflies gee nie, het hy uitgestap en huis toe gery. Tot die dag toe sy “geestelike pa”, Vernon, vir hom gesê het dat hy alles wat hy in ’n trouvrou wou hê moes neerskryf. Hy het dit gedoen – tot in die fynste detail. Hy hou byvoorbeeld van musiek maak en het gevra vir ’n vrou wat hou van sing.

Die baie spesiale vriendskap het begin
Die dag by die fotografie-geleentheid het hy Jana nie eers opgemerk nie, bieg hy vandag. Hulle het bietjie gesels, maar hy het haar glad nie as die vrou-tipe gesien nie. Hoekom nie? “Sjoe, nou moet ek mooi praat… ag wel, sy is ’n baie klein vroutjie. Ons manne kyk mos na ’n sterk vrou, want jou seun moet mos eendag Springbok-rugby speel,” lag hy.

Maar later het hy eenkeer ’n dansmaat nodig gehad. Hy het gevra of sy lekker kan dans en hulle is na ’n oesdans op Franschhoek. Daar was steeds geen gevoelens nie, maar stelselmatig het hulle begin vriende raak en het sy hom gereeld by sy werk gaan bederf met sjokolade, kos en Energade. “Sy was altyd net daar en wou net my vriendskap hê.” Hulle het saam begin uitgaan, lekker gelag en kon net hulself wees – sonder fieterjasies.

“Wat gaan aan met jou, swaerie?”
Die Desember was hulle familie Mosselbaai toe. Jana het vir Nelis se huismaat, Vicky, in George gaan kuier en hy het haar genooi om een aand saam met hulle te kuier. “Een aand het in ’n hele week ontaard en ons het só lekker saam met my familie gekuier. Ek het vier susters. Ons hele familie is mens-mense en sy het dadelik ingeskakel. Sy was spontaan en het baie goed oor die weg gekom met elkeen. Sy het moeite gedoen om deel te word en ingespring om te help skottelgoed was en kos maak.”

“My swaers het my gou laat verstaan dat sy ’n vrou in ’n ander klas is en baie intelligent is. Hulle het my eenkant toe geroep en gevra wat my plan is met dié girl, want dis my vrou. Ek het dit afgelag – tot ek dieselfde gesprek gehad het met al my susters. Hulle het my een vir een gecorner en ek het voet by stuk gehou dat ons net vriende is. Hulle het my almal belowe dat as ek haar hart gaan breek, hulle ‘iets’ gaan afsny!”

Terug in die Kaap het dit Nelis begin pla dat hy nie verlief is nie, veral omdat almal Jana gesien het as sy trouvrou. Hy het ’n pastoor gaan sien oor sy gevoelens. “Na ons gesprek het hy dit duidelik gemaak dat liefde ’n besluit is. Sou sy die tipe persoon wees saam met wie jy jou lewe sal kan spandeer as jy die verliefdheid wegvat? My antwoord was ja, maar dit was verskriklik moeilik aangesien ek verlief wou wees.” Hy het lank by die Here gepleit vir ’n aanduiding en vir weke gebid. Hy het selfs vir Jana gesê dat hy nie meer as vriende kan wees nie.

Bonatuurlike geduld en ’n toets vir geloof
Vra jy Jana hoe dit vir haar was om te weet hy is haar trouman, sonder dat hy dit besef, antwoord sy: “Snaaks genoeg was dit vir die mense om ons (vriende en familie) meer frustrerend as vir myself. Niemand kon verstaan hoekom ek so rustig is nie en almal het my later probeer oorreed om maar eerder van hom te vergeet. Maar ek het hierdie bonatuurlike vrede in my hart gehad – en God se stem wat my heeltyd kom gerusstel het, met die woorde: Vertrou My – Ek het ’n plan.”

Dit was nie vir haar maklik om geduldig te bly nie, maar ’n nodige groeiproses. “Geduld was nog nooit een van my sterk punte nie, so ek glo dis iets wat die Here gebruik het om my karakter en geloof te help bou. Maar tog het ek besluit dat ek net myself sou bly. Ek wou nie games speel nie. Ek wou hê hy moes die ware ek sien en leer ken. Ek het geweet dit is nie in my hande nie.

“Dit was vir my ’n baie intense geloofsreis en ek wou hê dat dinge volgens die Here se plan en tydsberekening moes gebeur. Ek het genoeg kere al my kop gestamp deur dinge op my manier te probeer doen, daarom het ek alles net oorgegee. En dit was baie spesiaal om eers ’n goeie vriendskap te kon bou voordat enige romantiese gevoelens jou realistiese oordeel kon beïnvloed.”

Die nommerplaat-bevestiging
Een aand het Jana hom genooi na ’n leierskonferensie by haar kerk en hy het ingestem om te gaan. “Want enige vrou wat jou na ’n kerkbyeenkoms nooi op ’n Saterdagaand, kan jy maar mee saamgaan – mens kry dit nie sommer meer nie.”

Op pad na die kerk het hy by die Here gesoebat om hom daardie aand bevestiging te gee, omdat hy nie langer vir Jana aan ’n lyntjie wou hou nie. “En die volgende oomblik, terwyl ons in die Blouberg-verkeer sit, trek daar ’n silwer Mercedes voor ons in, met die nommerplaat “ENSLIN 1” (Jana se van). Ek het so ’n warm gevoel oor my gekry en ek het dadelik gewéét!”

Jana het hom gewys en gevra hoekom hy so smile – en Nelis het net ’n oomblik nodig gehad. “My oë het dadelik oopgegaan en terwyl ons die aand so worship, het ek net na haar gestaar. Ek kon skielik nie my oë van haar afhou nie. Ek het net daar besef wat ek in haar het, toe ek sien hoe sy uit haar hart uit sing, en dit het my geslaan – toe maak niks meer vir my saak nie.”

Skielik was Nelis verlief op haar. En hoe meer hy van haar uitgevind het, hoe meer het hy die prentjie gesien van die vrou wat hy agter in sy joernaal geskets het. “Ek het een Sondag alleen in ’n diens gesit en ek het begin regmerkies maak agter in my dagboek. Reëltjie vir reëltjie kon ek afmerk, en ek was die Here só dankbaar vir haar. En ja, ek het net geweet: Dit is dit.”

Nelis en Jana het op 27 Junie 2013 verloof geraak en is vandag steeds gelukkig getroud.