Kleintyd voel ‘n jaar mos soos ‘n ewigheid. Die tyd tussen verjaarsdae en Kersfeeste is so lank dat jy nie eers kan onthou watse geskenke jy gekry het en of jy ekstaties of teleurgesteld was nie.

So, as die kind vir jou sê : “Joe, Mamma, die jaar het gevlieg!” moet jy weet dit is waaragtig wat gebeur het. Ja, dis alweer daardie tyd wat ek en Laurika saam wonder waar die tyd met ons heen (hard)loop.

Voornemens shmoornemens het ek mos nou al lankal ter ruste gelê, maar tog was daar sekere verwagtinge van die nuwe jaar. Dat hy my en my hartsmense sag sou behandel. Dat die geskiedenis van ons familie nie ‘n minus-som sou word nie. Dat nie ‘n enkele kliёnt op my sou skree nie. Dat ouers my nie wees sou laat nie. Dat die ekonomie en misdaad nie aan ons persoon sou raak nie. Dat kinders nie van my ‘n ouma sou maak nie. Dat vriende opgewonde sou arriveer en gelukkig sou vertrek. Dat almal baie sou lag en min sou huil.

So het dit toe ook gebeur. Daar was kleurvolle verjaarsdagvieringe met wonderlike musiek wat bure aan alle kante vermaak het. Daar was op-die-ingewing-van-die-oomblik kuiers om braaivleisvure, waar ons gelag het dat die trane loop; sonsondergange en koue wyn; kinders wat lag en skree en baklei rondom ‘n bordspeletjie; ‘n man wat ‘n veldblom vir jou pluk; somer-weer in die Laeveld in die middel van die winter; rye en rye piepklein dennebome wat geduldig staan en wag om groot te word; trotse oomblikke en prysuitdelings; bevorderings en nuwe kontrakte; tee-afsprake op stoepe met die mooiste uitsigte; verrassings wat jou asem wegslaan; skeppings wat inspireer; gesprekke wat jou begeester; oomblikke wanneer jou hart buite jou lyf klop; besoeke aan verre lande; terapie vir moeё voete waar die oseaan die land ontmoet. Geseёnd. Bederf.

“The burden of happiness can only be relieved by the balm of suffering.”

Verwagting mag dalk lei tot teleurstelling, maar dis nie ‘n geldige rede om niks te verwag of te gaan lê nie. Ek het tussendeur al die lekkerkry ook met hartseer, seerkry en siekte rondom my te doene gehad. My vriend het vanjaar gaan lê. My vriendin trap water – sy kom net soms op vir asem. Ek het dikwels wanhopig gevoel omdat ek die wêreld nie kan red nie. My dood bekommer oor goed wat is en dalk kon wees. Meer kwaad as hartseer. Dan sou my keel so brand tot ek uitbars in ‘n huilstorm wat nie regtig ge-oorloof, was nie. Ek haat dit om so onbeskaamd oor te gee aan emosie – voel altyd so dramaties (al sien niemand dit nie.) Dit laat mens weerloos…pantserloos.

Ek’t altyd geweet die goddelose naguil wat sy tyd geduldig afwag van Annelie Botes, sal die naelstringe hier by my kom knip. Dit was uiteraard onvermydelik. Die twee oudstes het aangekondig dat hulle behuising met vriende gaan deel in die nuwe jaar. Jongste wil weet of hy nog meer onderarm hare gaan kry…

‘n Nuwe jaar met nuwe uitdagings, moontlikhede en verrassings – ek hoop opreg dat 2019 elke Intiem-leser sag sal behandel. Ek hoop dat die lui-lekker vakansie dae wat voorlê , presies sal verloop soos jy daarvan gedroom het. Dat die kostafels sal kreun onder lekkernye wat met liefde voorberei is. Dat elkeen wat daaraan smul die liefde sal proe en dit met dankbaarheid sal sluk. Dat elkeen die oujaar in die see sal afwas en hulself sal voorneem om deur die venster te klim, indien 2019 dan nie nuwe deure wil oopmaak nie.

Want, gaan lê is nie ‘n opsie nie.