Katy Perry se liedjie speel op die radio en my sewejarige dogtertjie sing saam: “I got the eye of the tiger, a fighter dancing through the fire, cause I am the champion and you’re gonna hear me roar, louder, louder than a lion, cause I am a champion, and you’re gonna hear me roar!” Of altans haar eie weergawe van dié refrein.

Ek kyk vir haar in die truspieëltjie, hoe broos sy daar sit met haar melktande, haar pienk T-hempie en haar lomp vingertjies. En ek dink aan hoe sy gister die bal in haar eerste hokkiewedstryd gejaag het. Verbete, soos ’n leeu wat sy prooi jag. Ek voel ’n bietjie meer gerus, want ek weet sy is ’n vegtertjie. Nou nog net ’n welpie maar, soos Lisa Bevere (spreker, outeur en medestigter van Messanger International) sê: “Daar is ’n leeuwyfie in elkeen van God se dogters.”

Toe ek swanger was met my eersteling, het ’n glanspersoonlikheid vertel dat ’n mens, die oomblik wat hulle jou babatjie in jou arms neerlê, in ’n leeuwyfie verander. En na my kinders se geboorte het ek die impak van haar woorde werklik begryp. Hoe daardie dierlike instink inskop wanneer jou kinders van ’n fiets afval, in ’n boom vassit of deur ’n maatjie verwerp word.

En behoed die stomme siel wat dit wáág om sleg van jou kinders te praat. Jy is ’n krygerma. Dapper, sterk, vreesloos. Jy sal veg vir jou trop.

In 1994 was Lisa swanger met haar vierde baba. Sy het gedroom van ’n leeuwyfie op ’n platform wat geëts is met die Romeinse nommer 23. ’n Stem het gesê: “Met die geboorte van hierdie kind sal jy ’n leeuwyfie wakker maak.” Sy het Numeri 23 nageslaan, wat getuig van God se trou en seëninge, en kort voor lank het haar bediening ontplooi.

Tien jaar later het sy weer ’n visie van ’n leeuwyfie gekry en besluit om dié dier intens na te vors. Sy sê daar is verskeie redes waarom ’n vrou in krag en waagmoed ooreenstem met ’n leeuwyfie: “Sy verrys om kragte bymekaar te kry, om ander te groet, om te jag, om langs ander leeuwyfies te beweeg, om haar jongelinge na veiligheid te neem, om vyande te konfronteer wat die trop bedreig en om saam met haar koning te loop.”

Lisa vertel dat ons as Christene ons passie, gebede en intelligensie moet inspan as wapenrusting. “Ons is ’n weermag waarvan die gebede opstyg van die aarde na die hemel soos ’n magtige brul. Dit is tyd dat ons die leeu se brul eggo.”

Die geskiedenis het verskeie heldinne opgelewer. Oorlogsheldinne wat almal twee dinge in gemeen gehad het – vreesloosheid en ’n onblusbare passie vir hul missie.

Op haar webtuiste skryf Lisa hoe sy en haar man, John, onlangs ná ’n gesamentlike vraag-en-antwoord sessie die volgende vraag moes beantwoord: “Ná 30 jaar se getroude lewe, is daar iets wat jy anders sou doen?” Sy het diep asemgehaal en geantwoord: “Ek sou John toelaat om meer foute te maak en ek sou hom meer vreesloos liefhê.”

Daar is soveel dinge wat ons huwelike bedreig. Selfsug, te min tyd, kritiek, onvergenoegdheid. Daar is die afstand waarmee pendelhuwelike getrotseer word en die hedendaagse rolverdeling en die druk wat dit op priesterskap in ’n huwelik plaas. Daar is die nadelige uitwerking wat emosionele onvolwassenheid op ons konflikhantering kan hê. Daar is die gevaar van “huismaats word”. En daar is die gevaar van die verwagting dat jou maat jou moet heelmaak.

Dit is tyd dat ons vreesloos begin veg en begin bid vir ons huwelike. Dit is tyd dat elkeen van ons krygers word en ons huwelike met mening beskerm. Met die grasie en krag van leeuwyfies.