Volgens George Barna, ’n Christen navorser, skei 35% van wedergebore Christene. Erger nog, 23% skei meer as een keer! In SA vandag dui statistiek daarop dat meer as 3 uit 5 egpare uiteindelik in die skeihof eindig. Tog skei almal nie. Wat maak die verskil dat sommige egpare se huwelike kan groei en ontwikkel terwyl ander huwelike stagneer en die paartjie later die handdoek ingooi?

Eerstens het egpare wat suksesvolle huwelike het, erns gemaak met die belofte wat hulle voor God en die gemeente afgelê het.

Daar is dus ’n vaste verbintenis tot mekaar en hul huwelik. Hulle het ’n wilsbesluit geneem om hul huwelik te laat werk – al gebeur wat. Egskeiding word dus nie sommer as ’n opsie oorweeg nie. Die huwelik skep die sekuriteit waarbinne hul emosionele sowel as fisiese verhouding kan groei en ontwikkel. Daarom is dit ook ons oortuiging dat dit God se begeerte is dat ons juis die huwelik sal sien as die enigste ruimte waarbinne seks regtig tot sy volle reg kan kom. Dit skep verder ’n atmosfeer waarbinne probleme wat in elke huwelik voorkom, geïdentifiseer en opgelos kan word. Joyce Meyer beklemtoon hierdie besluit tot ’n vaste verbintenis: “To enjoy triumph instead of tragedy in a marriage, couples today need to learn how to keep the promise they made to each other on their wedding day”.

Die paartjie met ’n gesonde huwelik het ook realistiese verwagtinge van mekaar en van die huwelik. Elke huwelik, selfs ’n gelukkige huwelik, het soms ’n haakplek of probleem. Dit sou tog onrealisties wees om te verwag dat twee individue uit verskillende gesinne elke dag vir die res van hul lewe volkome gelukkig saam moet wees. Paartjies met ’n huwelik wat werk, is oor die algemeen gelukkiger en meer vervuld. Navorsing dui ook daarop dat mans, vrouens en kinders wat in gelukkige stabiele huwelike funksioneer oor die algemeen gesonder, gelukkiger mense is wat makliker optimaal funksioneer.

Verder het die paartjie met ’n huwelik wat werk ’n houding van “Ons kán!” Hulle leer vaardighede aan om mekaar beter te verstaan en hul huwelik beter te laat werk. So ’n paartjie het ook ’n “besigheidsplan” vir hulle huwelik. Hulle het saam oor doelwitte besluit. Hulle weet wat hulle drome, verwagtinge en ideale vir hul huwelik is, en weet hoe hulle prakties hierdie doelwitte gaan bereik.

Hierdie paartjies weet ook dat liefde nie ’n gevoel is nie, maar veel eerder ’n wilsbesluit. Ek neem ’n doelbewuste, kognitiewe besluit om hierdie persoon vir die res van my lewe lief te hê en te ondersteun. Hierdie “kopbesluit” lei tot positiewe opbouende gedrag, wat op sy beurt weer lei tot positiewe gedrag van jou maat. ’n Wen-wen situasie vir albei en vir die huwelik. Joyce Meyer stel dit so: “Too many couples depend on love to keep their marriage together, but commitment is the adhesive of marriage, and love is the reward of keeping the promise to stand beside each other through both the good and bad times”. Die proses om hierdie belofte gestand te doen, is wat liefde tussen twee mense laat groei en gedy. Joyce Meyer stem saam as sy sê:”Commitment to a promise bears the fruit of love”.

Ons maak ook soms die fout om te verwag dat ons huweliksmaat of iets of iemand anders buitekant ons, ons moet heelmaak of gelukkig moet maak. Geluk hang nie van jou omstandighede af nie. Geluk is ’n keuse! Jy kan self kies of jy gelukkig wil wees of nie. Daarom kry jy ryk en beroemde mense wat ongelukkig is, en arm en eenvoudige mense wat gelukkig is. Jy moet dus self ’n besluit neem of jy gelukkig of ongelukkig wil wees. Niemand anders kan jou gelukkig máák nie, jy moet geluk in jouself vind. Dit is dus nodig dat man en vrou na hulself sal kyk en as individue persoonlik sal groei en ontwikkel. “Marriage is not supposed to make you happy, it’s supposed to make you married”. Agnes Repplier bevestig dit deur te sê: “It is not easy to find happiness in ourselves, and it is not possible to find it elsewhere”.

Ons moet ook oppas om nie die post-moderne gees in ons huwelik in te dra naamlik dat alles eintlik om MY draai nie. “Ek is die middelpunt van alles, en as iets nie vir my tot voordeel strek nie, dan stap ek weg”. Ons moenie net vra wat ek UIT die huwelik kan kry nie, maar ook wat ek IN die huwelik kan insit. Dit gaan dus nie net oor die vraag of jou maat jou gelukkig maak en in jou behoeftes voorsien nie. Jy moet ook vir jouself afvra of JY in jou maat se behoeftes voorsien, en hom/haar gelukkig maak. Dit is interessant om te sien watter verandering dit bring in jou huwelik en in jou eie lewensgeluk as jy die besluit maak om eerder jou maat gelukkig te maak, as om voortdurend te vra of jou maat JOU gelukkig maak.

Dit is dus duidelik dat om ’n Christen te wees, verlief te wees, of selfs te kan sê ek het my maat lief, nie genoeg is om ’n gelukkige, gesonde huwelik wat werk te verseker nie. Een ding is vir seker: huweliksgeluk is nie outomaties nie! Dit verg hope tyd, beplanning, geduld en harde werk – vir die res van julle lewe saam! Maar om ’n Christen te wees, beteken wel dat jy die moontlikheid tot ’n gesonde en gelukkige huwelik het, sou jy en jou maat julself verbind tot God se Woord en tot die beginsels wat daarin vervat is. Die beginsels van vergifnis en verdraagsaamheid is byvoorbeeld twee Bybelse deugde wat jou ver bring as jy besluit om dit in jou huwelik toe te pas.

Komponente van die huwelik
Die huwelikshuis bestaan uit ’n verskeidenheid van komponente wat elkeen belangrik is om ’n gesonde huwelik wat werk te verseker. Die basis of fondasie vir ’n gelukkige huwelik is geloof in God. Die boustene van die huwelikshuis is dan die gesin van herkoms, motief vir troue, liefde, emosionele intimiteit, die keuse van ’n huweliksmaat, kommunikasie, effektiewe konflikhantering, selfbeeld, persoonlike en gesamentlike groei, ouerskap, finansies, rolle en rolverwagtinge en skoonfamilie. Hierdie boustene of komponente moet almal gesond en in balans wees. Seksualiteit is dan die sement wat hierdie boustene bind en die huwelikshuis stewig hou. ’n Gesonde seksuele verhouding is dus ook ’n belangrike manier van geestelike oorlogvoering om jou huwelik te beskerm teen die aanslae van die wêreld.

Artikel deur Dr Elmari Mulder Craig