Dit het ’n pansy in Mosambiek geverg om finaal afskeid te neem van sy oorlede vrou, vertel Cobus. Só kon hy uiteindelik vrede maak.

“Met haar gaan ek trou . . .” was die woorde wat Cobus Erasmus aan sy koshuismakkers gesê het nadat hy sy Lenie in 1973 ontmoet het. Hy was al een van die “ou manne” en sy nog ’n door (eerstejaar) aan die destydse Potchefstroomse Universiteit (vandag die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus).

In 1975 het hulle die knoop deurgehaak. “Dit was maar net een van daardie liefdes waar ’n mens heeldag saam wil wees, en waar niks meer lekker is as jy dit alleen moet aanpak nie,” onthou Cobus.

Cobus en Lenie was 35 “kort” jare getroud. Hulle het hul huwelikspaadjie op ’n kleinhoewe by Glen Harvie aan die Wes-Rand begin. Lenie was aanvanklik ’n rekenaardosent by ’n tegniese kollege en later jare was sy ’n deeltydse berader by Radiokansel se ABBO-beradingskursusse en -program. Sy was ook by die plaaslike kerk en skole betrokke.

Cobus was ’n “Jack of all trades” – departementshoof vir opvoedkundige leiding by ’n laer- en hoërskool, bouer, teëlaar, houtwerker, loodgieter, swaar-vragmotorbestuurder, sakeman, boer . . .

Hulle het vier kinders, ’n dogter, Soné, en drie seuns, Cobus, Andries en Johann. Johann is as jong seun tydens ’n inbraak doodgeskiet en Andries gewond. Cobus vertel die hele tragiese verhaal in sy boek S.T.U.K.K.E.N.D. . . . Lewe ná ’n Doodskoot. Later neem Cobus en Lenie ses kinders aan van vriende wat oorlede is.

Uiteindelik is Soné met een van die aangenome seuns, Hannes, getroud. Hannes en Soné het in Plettenbergbaai gaan bly, die plek waar die kosbare en maklik breekbare pansy-skulp volop is, “mits jy op die regte plek en op die regte tyd gaan soek”.

Dit is hier waar Lenie se liefde vir pansies begin het. “Dit was vir Lenie en Soné die lekkerste uitdaging om te gaan pansies soek, terwyl ek en Hannes staan en visvang het. Soms het ons almal douvoordag strand toe gegaan en gaan pansies soek.”

In Julie 2009 ontdek Cobus en Lenie ’n knoppie in haar bors. Lenie het onwrikbaar en onwankelbaar geglo dat sy genees sou word. Sy het alle behandeling geweier en wou ook geen snywerk laat doen nie. Sy het geglo God is haar dokter en as Hy haar nie gesond maak nie, is dit Sy wil. Maar sy het geglo dat Hy haar gesond sou maak, want sy het gedink sy kan nog baie vir Hom op aarde beteken.

Op 29 Junie 2010 is Lenie oorlede. “Toe die kanker my kleine, fyne vroutjie letterlik ook in stukkies laat breek, het dit my baie aan haar en die pansies laat dink: Van buite klein en breekbaar, binne-in ’n groot skat van ’n geloofstorie,” vertel Cobus.

Reis na gister
In 2013 bel Cobus se een skoondogter met ’n onverwagse aanbod vir avontuur! Haar base benodig iemand om as vragmotorbestuurder goedere na Mosambiek te vervoer. Op Vrydagmiddag 29 Junie 2013 (dieselfde dag waarop Lenie in 2010 oorlede is) kon Cobus die groot vragmotor se neus in die rigting van Mosambiek stuur . . .

Sodra die vrag afgelaai is, wou hy ’n groet-pansy vir Lenie op die Mosambiekse strand gaan soek. “As daar een is. Want dan, glo ek, sal dit ook haar groet aan my wees. Wat is die kans in elk geval? Maar nou ja! Daar gaan een wees . . .” het Cobus homself probeer oortuig.

Ná ’n groot gesukkel met onder meer ’n oorlaaide vrag, rowwe Mosambiekse verkeer en verskeie noue ontkomings, het hy uiteindelik sy bestemming bereik. Die gasheer was ’n vriendelike Suid-Afrikaner wat belowe het om hom die volgende dag strand toe te neem.

“As daar net ’n paar pansies kan wees, dan was hierdie marteling-rit die moeite werd,” het hy gedink. Terwyl hy Mosambiek se natuur geniet het, het hy gewonder of die pansy ’n dankie-sê of ’n totsiens gaan wees.

Wit sand en skoon duine het hulle begroet. “Ek het my verkyk, diep gedink en verlang, en so terloops rondgeloer of ek nie iewers ’n geluk-pansy kon sien nie. Ek het gewonder of ek nie dalk eerder ’n visstok moes bring nie,” sê Cobus.

“Ek het met my voete in die golfies gaan sit en met Lenie gepraat oor ons goeie jare saam. Ek het probeer duidelikheid kry oor waarom die Here juis iemand soos sy gevat het – iemand wat een van die ernstigste en mooiste kinders van die Vader was wat ek seker ooit sou raakloop.

“Sy het selfs in haar pyn steeds saam met haar dansgroep gedans. ‘God is goed; as Hy my wil laat lewe, sal Hy. En as Hy dit nie doen nie, het ek ’n paar vrae vir Hom as ek daar Bo kom.’ Ernstig, só sterk gelowig. Haar geloof in God en Sy wonderwerke was merkwaardig, en ’n voorbeeld vir al wat leef.”

Tyd vir ’n finale groet
Na ’n ruk het die Suid-Afrikaanse gasheer wat hom strand toe gebring het, geroep. “Toe ek by hom kom, wys hy stilweg na die sand voor sy voete. En daar lê ’n pragtige groenerige pansy in die sand. Dankie, my vrou, ek groet jou ook. Dankie vir alles. Dankie, my Vader. Vir alles.”

Vandag het Cobus weer ’n tweede kans op geluk gekry en is hy weer gelukkig getroud, ten spyte van al die hartseer en verlange. Hy is die skrywer van drie boeke: S.T.U.K.K.E.N.D. … Lewe ná ’n Doodskoot, Jag jy al of skiet jy nog? (wapenveiligheid – en jagstories) en Kies is ’n keuse.

As jy meer wil weet van Cobus se verhaal en sy boeke, kontak hom by pa.cobus.erasmus@gmail.com

Artikel deur Lize Groenewald