Sy het die ander vrou veroordeel – en toe die ander vrou geword. In hierdie openhartige en eerlike brief aan INTIEM waarsku hierdie leser ander vroue uit haar eie ervaring . . .

Ek is ’n Christen. In my Christelike omswerwinge het ek by tye gevoel dat God so dig by my is dat ek amper nie eers n trui nodig het nie, Hy was daar om my warm te hou. My man het vele verhoudings gehad en ons is later geskei. Ek het die “righteous” torinkie geklim en myself ongelooflik sterk uitgespreek teen ‘die ander vrou’. Alles was sy skuld en Delila se inmenging! Ek was blind vir al die foute wat ek self in my eie huwelik gemaak het en genade vir Delila het nie werklik in my verwysingsraamwerk ge-feature nie. Maar oornag het ek van my voetstuk afgetuimel . . . Ek het ‘die ander vrou’ geword. Ek was verlief op Jan, ’n getroude man met pragtige kinders en ek het sy vrou geken.

Sy storie was ’n hartseer een. Hy en sy vrou het heeltemal by mekaar verby geleef. Hulle het as’t ware net ’n huis gedeel. Hulle het in die afgelope vyf jaar nog nie een keer seks gehad nie, maar wat vir hom die ergste was, was die feit dat daar geen meer omgee tussen hulle was nie. Ek was verstom, na buite leef hulle soos die perfekte gesin – waar het dinge verkeerd gegaan?

Sonder dat ons dit beplan het, het ons ’n verhouding aangeknoop. Ons was pasmaats, sielsgenote en net soveel meer as wat ek in woorde kan uitdruk. Die gedagte daaraan dat ek skielik die Delila in die verhaal was, was ontnugterend. Ontnugtering is ’n dringende emosie! Dit forseer jou om diep te gaan krap in die argiewe van jou brein opsoek na die hoekom, waarom en wanneer gevaartekens langs jou pad opgeduik het. ’n Verdere ontnugtering het my met doelbewustheid teen die voorkop kom slaan – ek was verantwoordelik vir die verbrokkeling van my eie huwelik meer as tien jaar gelede. Ek het al die foute gemaak waarteen almal jou altyd waarsku!

Ek het myself duisend keer afgevra, wat maak my anders as Jan se vrou? Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap om hom daarna uit te vra. Sy antwoorde het soveel parallelle gehad met die dinge wat ek in my vorige huwelik verkeerd gedoen het dat dit my soms hartseer gemaak het.

Was ek die oorsaak van Jan se huweliks probleme? Ek dink nie so nie, ek was wel die weg na ‘n welkome ontsnapping en ʼn ware vervulde verhouding op alle gebiede. Ons het mekaar vermaak met stoute-sms boodskappies. Ons het beide moeite gedoen. Ons verhouding was nie net “sleazy sex” was nie. Ons kon, inteendeel, ‘n sekslose verhouding hê en steeds so gelukkig wees as wat ons was, maar net omdat ons met mekaar kon gesels en omdat ons intiem veilig by mekaar gevoel het.

Dit klink alles opwindend en so half “fliek-agtig”, maar daar was struikelblokke en die grootste hiervan was beide van ons se Christelike geloof wat ons telkemale laat besef het dat wat ons doen verkeerd is. Nou is hy op sy eie journey. Hy moet besluit wat hy met die res van sy lewe wil doen. Ek is ook op my eie journey. Ek dink God se oorspronklike bedoeling met die instelling van die huwelik is dat ‘n man en ‘n vrou mekaar sal aanhang en tot die dood hul skei, saam sal leef. Ek dink egter nie dat hy liefdeloosheid binne die huwelik wil hê nie. Die mens is die kroon van Sy skepping daarom moet man en vrou in ‘n huwelik mekaar aanvul en opbou. Stuur vir jou man ‘n uitlokkende sms, besoek ‘n salon en verras hom met ‘n nuwe onthaarde jy. Gaan kyk ‘n kuns-fliek, skip die ete na die tyd en vry weer soos toe julle ontmoet het.

Ek skud net my kop hartseer oor die verval van die vrou, pynlik bewus daarvan dat ek nou ‘n paar klippe in my rigting gaan moet dodge. Ons het vir jare baklei om stemreg te kan kry, toe baklei ons om as mans se eweknie die beroepswêreld vol te staan. Vroue het hul bra’s op die brandstapel gegooi in die naam van vroulike emansipasie. Maar nie ek nie, gee vir my ‘n mooi bra met sagte satyn en kant. Ek trek dit aan omdat ek vroulik daarin voel. Ek wil nie iemand se vloerlap wees nie, maar ek verwelkom ‘n man wat met sy handeling en integriteit tog die hoof van die huis sal wees en my sal toelaat om hom te bederf en te geniet. Ek wil vir ons dogters sê dat seks nie vuil en sleg is in ‘n poging om hulle daarvan te laat afsien nie want dit gaan die lens wees waarmee hulle hul huwelike gaan ingaan…

Ek wil God dank dat Hy my as vrou geskape het en dat ek vry is om te wees presies en volkome dit wat Hy vir my beplan het om te wees…

Teen die tyd wat ’n mens dit oorweeg om ’n verhouding aan te knoop het daar al baie dinge verkeerd gegaan in die verhouding. Dis hier waar ek gefouteer het . . .

1. Kommunikasie
Die oomblik as ons regtig ophou om met mekaar te praat, kruip ’n onsigbare muur tussen ons in. Die muur is soos daardie klein sponsdier-figuurtjies wat groter word wanneer jy dit in water sit. Hoe meer stilte daar is, hoe groter raak die muur tussen ons. Die uiteinde is natuurlik dat ons met ander mense begin praat. Terwyl ek die verhouding gehad het, het my geliefde die heeltyd vir my vertel hoe wonderlik dit is om met my te kan praat, om sy vrese en drome met iemand te kan deel en veral iemand wat aandagtig luister en wil saampraat. En dis ook hier waar ek dink meeste vroue klei trap. Dis maklik vir ons om te praat en dit kom absoluut natuurlik, maar dis nie so maklik vir mans nie. Die groot geheim is om te leer luister. Jy moet ag slaan op klein dingetjies wat hy sê sodat jy dit in ’n volgende gesprek weer kan aanhaal . . .

2. Gebrek aan intimiteit
Intimiteit is nie seks nie! Om intiem met jou man te verkeer is om emosioneel naby aan hom te wees. Dit beteken dat beide maats broos voor mekaar kan wees en kan weet dat hulle steeds in ’n veilige ruimte is. Soms is intimiteit so eenvoudig soos om net oor jou maat se arm te vryf. Dis bitter moeilik om op seksuele gebied goed as paartjie te kan funksioneer as julle sukkel om werklik intiem met mekaar te connect. Ek het aan myself gedink as ’n moderne vrou wat self alles moet kan aanpak en suksesvol afhandel. Ek was so ‘sterk’ dat ek nie my man emosioneel naby aan my toegelaat het nie. As hy sy arms om my gevou het, het ek altyd gedink hy wil net weer seks hê en dan het ek alles in my vermoë gedoen om die oomblik te verbreek – natuurlik meestal met katastrofiese gevolge.

3. Fisiese en emosionele onttrekking
Wanneer mens fisies of emosioneel onttrek maak jy jouself ontoeganklik vir ander mense. In verhoudings het ons nie die voorreg om te onttrek nie. Inteendeel, hoe nader ons aan mekaar beweeg op fisiese en emosionele gebied, hoe sterker word die verhouding. Onttrekking vind gewoonlik plaas tydens verskille. Wanneer ek en my man van mekaar verskil het, het ek eerstens emosioneel onttrek. Ek het begin stilbly en was nie meelewend nie. Wanneer dinge regtig sleg gegaan het, het ek in die spaarkamer gaan slaap en hom selfs nie eers toegelaat om aan my te vat nie.

4. Gebrek aan wederkerigheid
Almal wil hê dat hulle toenadering wederkerig sal ontvang. As ek jou ’n drukkie gee, verwag ek dat jy terug squeeze. As jy die heeltyd die koue skouer draai gaan jy uiteindelik net ’n koue skouer ontvang en selfs later geen skouer meer nie. Ons is te geneig om te dink dat ons groot en duur gebare vir ons maat moet stuur en omdat dit so uitspattig is, kan ons dit gewoonlik net een of twee keer ’n jaar bekostig. Dis egter nie die essensie van wederkerige liefde nie. Skryf ’n briefie en sit dit in sy kosblik. As hy jou die week verras met ’n roos uit jul eie tuin, verras hom met sy gunsteling sjokolade stafie op sy kussing een aand. Dis nie groot goed nie maar die boodskap is groot en duidelik – ‘Jou liefde vir my word erken, aanvaar en gerespekteer.’

5. Seks as straf of beloning
Soveel vroue dink dat hulle hul mans ’n guns doen om met hulle seks te hê. As hul mans hulself goed gedra sal hul beloon word met seks, maar seks word onthou as die man iets gedoen het wat die vrou nie van gehou het nie. Vroue bly kla dat hulle moeg is en net wil gaan slaap, maar seks hoef nie altyd ‘n maraton sessie te wees nie. Dit is wetenskaplik bewys dat seks eintlik goed is vir jou gesondheid – fisies en emosioneel. Wanneer my man besope by die huis gekom het, het ek seks van hom weerhou. Dit was ’n kragtige instrument om hom mee te beheer. Daar was nie sagtheid van my kant af nie. Ek was soos ’n koue vis in die bed. Ja, daar was wel emosionele en fisiese mishandeling wat my seker afgestomp het, maar ek kon sekerlik gesorg het vir meer sagtheid en opwinding in die slaapkamer.