Ek lees nou die dag in ‘n boek die volgende: Die karakter in die boek sê: “I do not want to die a second death.” Op navraag wat die persoon bedoel, antwoord hy: “The second death is when after you have died, people stop mentioning your name and the memory of your existence vanishes forever.”

Die dag as jy die groot 40 slaan, dan is daar iewers iets wat in jou inskop en vrae begin vra. Vrae van of jy enigsins waarde toegevoeg het en of mense jou sal onthou die dag as jy nie meer daar is nie. Die vraag van die tweede dood raak ewe skielik baie relevant en mense begin dan dinge doen om hulle tyd en bestaan hier op aarde meer sinvol vir hulleself en ander te maak. Sommige hak egter net vas by hulself en vergeet van die ander in hulle lewens.

Ek en my vrou het besluit dat ons huwelik ‘n visie moet hê en dat daar ‘n rede is vir hoekom ons in ‘n huwelik staan, dat die huwelik wat ons het, vir ons is, maar ook verseker vir ons kinders en ook vir hulle nageslagte. Ons handhaaf die standpunt dat ons ‘n 500 jaar plan het vir ons huwelik. Ons wil dit so leef dat generasies daardeur geraak sal word.

Die vraag is nou: “Hoe doen jy dit?”

Hierdie besluit moet intensioneel en doelbewus gemaak word. Jy kan nie maar dink dat jou huweliksverhouding wel sal werk nie. As jy dit nie gaan kies en daaroor gaan praat nie, sal dit nie gebeur nie.

So as ek ‘n paar voorstelle kan maak:
1. Vind uit wat dit is wat jy en jou maat wil bereik. Die manier hoe julle dit doen is om tyd eenkant te sit en daaroor te bid. Vind uit hoekom julle twee by mekaar gesit is.
2. Sit doelwitte vir julle neer oor wat julle wil bereik en wanneer. Deel hierdie doelwitte met die gesin en vier fees as julle dit bereik het.
3. Stel vas wat die sterk eienskappe in julle verhouding is om dit te bereik wat julle graag wil, maar stel ook vas wat julle swakker eienskappe is wat julle sal verhoed om te bereik wat julle graag wil. Stel dan aksies in plek om hierdie swak areas aan te spreek.
4. Evalueer gereeld. Gaan omtrent een keer ‘n kwartaal weg en praat dan oor wat julle in hierdie kwartaal bereik het en maak seker of julle nog op die regte pad is vir wat julle graag wil bereik en maak dan koersaanpassings soos nodig.

Deur net hierdie eenvoudige stappe te neem en tyd eenkant te sit, sal jou verhouding ewe skielik prioriteit raak en sal julle fokus begin skuif na die groter doel van julle verhouding eerder as net die instandhouding van die verhouding.

As julle kinders hierdie uitkyk en verstaan van die huwelik by julle sien, sal dit hulle beïnvloed om dieselfde te doen, aangesien hulle direk en op ‘n positiewe wyse geraak sal word in die besluite en erfenis wat julle wil los.

Daar is een geskenk wat jy kry as jy dit doen en dit is die geskenk van “Nee”. Jy kan nou vir mense “Nee” sê, want jy sal nou weet of dit wat hulle van julle as ‘n paartjie vra deel vorm van die prentjie wat julle as ‘n paartjie het. Jy sal instinktief weet wat die prentjie sal uitbou en wat nie. Om dan te kies vir dit wat julle sal terughou, sal net vermorsing van tyd en energie wees.

Kom dus op die plek waar julle bewus is van julle doel en dit begin uitleef. Hierdie erfenis is die beste een wat jy vir jou nageslag sal nalaat en die kanse van ‘n tweede dood verskraal.

Artikel deur Kobus en Linda Pauw
Verhoudingskonsultante en -Afrigters
www.connectionimpact.co.za