Nog ’n kindjie het na ’n hopelose versoek gelyk, maar vir die Here is niks onmoontlik nie en toe daar ’n wonderwerk gebeur, het Andries Ackerman sy belofte geëer, iets wat hom en sy vrou se huwelik en geloofsverhouding versterk het.

Promosie

“Indien U aan ons ’n kindjie sou toevertrou, sou ek ’n staptog van Pretoria tot in die Kaap aanpak.” Só het Andries Ackerman gebid op een herfsmiddag in Mei, met klein Gabriël en Katryn wat blokkies om sy voete gebou het. Hy het gedink oor al die wonderlike oomblikke wat daar was sedert die kinders se geboorte . . . daardie eerste tand, die tandlose laggies en daardie eerste waggelstap.

Toe hy en Mariëtte in 1999, ná Katryn se geboorte, oorlaai was met die nuwe verantwoordelikhede van jong ouers, het hulle besluit dat hulle nie nog kinders wou hê nie. Min het hulle geweet dat hulle kort voor lank die finaliteit van Andries se daaropvolgende vasektomie sou berou . . . Dit was ’n stryd om vrede te maak hiermee, maar hulle kon nie die brandende begeerte bly ignoreer nie.

“Ons was selfsugtig en het ons besluit berou”

Andries herroep: “Dit was hartverskeurend om te besef en te berus dat ons nie nog kinders sou kon hê nie. Ons het probeer vrede maak daarmee, maar in 2007 het ons besluit om ’n kindjie te probeer aanneem.”

Katryn het dikwels gevra of daar nog kinders gaan wees en hulle het aan haar verduidelik dat dit nie moontlik was nie. Geen antwoord kon haar tevrede stel nie en met haar tiende verjaardagwens het sy neergeskryf en gebid tot God dat sy ’n bababoetie wou hê. “Finansieel het ons deur ’n moeilike tyd gegaan en dit was hoogs onwaarskynlik dat ons ’n kindjie sou kon aanneem.”

“Ons was totaal onvoorbereid op die reis wat op ons gewag het!”

Een Vrydagaand in September 2012 het hulle vriende oorgenooi vir ete. “Ons het gesels oor die lewe en verhoudings, veral oor die 16-jarige suster van ons vriendin en haar verhouding met haar 30-jarige vriend. Sy was baie emosioneel en ons het nie geweet wat fout is nie. Sy het ons toe vertel dat sy ses maande swanger was.”

Sy en haar vriend het ongelukkig onwettige middels gebruik en daar is gevrees dat die kindjie daardeur benadeel kon wees. Op 11 Desember 2012 (Andries se oorlede pa se geboortedatum) het sy geboorte geskenk aan ’n perfekte seuntjie genaamd Nathan Jay, sonder enige nagevolge van die dwelmmisbruik. “Nathan Jay is van Hebreeuse afkoms en beteken ‘geskenk van God’. Voorwaar ’n geskenk!”

Nathan se ma is gediagnoseer met post-nasale depressie en gehospitaliseer. Gedurende dié tydperk was daar geen familie of vriende wat na Nathan kon omsien nie. Die situasie is verder gekompliseer nadat Nathan se pa opgeneem is in ’n rehabilitasie-sentrum vir ’n jaar en die ma onbevoeg verklaar is deur die welsyn. Sy en haar vriend se leefstyl kon Nathan benadeel het.

“Ons het aangebied om om te sien na Nathan totdat sy ma in staat was om hom te versorg. Ons dogter se wens van vier jaar gelede het nooit eers by ons opgekom nie en ons was totaal onvoorbereid vir die reis wat op ons gewag het!”

“Dit was tyd om my belofte gestand te doen

Die Ackermans het aansoek gedoen om pleegouers te wees. ’n Maatskaplike werker het hul geassesseer en die moeder het ingestem. Hulle was ekstaties! Die wettige aspekte het ongeveer ’n jaar geneem om gefinaliseer te word en hulle is amptelik aangewys as pleegouers van 25 Februarie 2014 tot 12 Januarie 2016.

“Ons is oorweldig na die skynbare onmoontlikheid van God en Sy guns in ons lewens. Ons is bevoorreg om hierdie bondeltjie vreugde in ons lewens te hê.”

Die Ackermans skakel gereeld met die biologiese ouers en hulle sien Nathan soveel as wat hulle kan. “Toe Katryn gesê het sy wil ’n boetie hê, het ek ’n belofte gemaak dat ek Kaapstad toe sal stap indien God ons seën met ’n kindjie. My goeie vriend, André, het my hieraan herinner en gesê: ‘Trek aan jou stapskoene.’ Met Nathan se geboorte en voogdyskap is ek daaraan herinner om te doen wat ek beloof het.”

Andries glo dat kinders aan ons geleen word om na die beste van ons vermoë om te sien. Dit was nou tyd om sy belofte gestand te doen.

“Die ondervinding was legio”

Die oorspronklike roete is beplan vanaf Hartbeespoort tot in die Waterfront, altesaam 1 601km. “Wat ek beplan het tot in Kaapstad, is tot halt gebring 35km voor Hanover. My woorde was dat ek sal Kaap toe loop en soos dit verloop het, was ek in die Kaap.”

Weens omstandighede buite sy beheer en wat sy gesin kon benadeel indien hy sou voortgaan met die staptog, kon Andries nie tot in die Waterfront stap nie, maar hy het vrede daaroor in sy hart omdat hy sy belofte teenoor sy Skepper volbring het.

“My doel is bereik. Dit is ongelooflik om te beleef wat gebeur wanneer jy doen wat jy jouself voorneem. Ja, dit is nie die eerste keer dat iemand gehoorsaam is of Kaap toe loop nie, maar hierdie staptog het my geleer hoe om menswees te waardeer. Die totaliteit van liggaam, siel en gees.”

Uit ’n terugblik op die staptog blyk dit duidelik dat dit moordend, uitputtend, wroegend en sieldodend was. Hy wou telkemale moed opgee, maar hy het aangehou ter wille van sy belofte. Die getroue ondersteuning van sy vriende en familie het hom gemotiveer om aan te hou. “Die lesse en ondervindings van 850km in 18 dae is legio. Die grootste hiervan is my en my vrou se verhouding met die Here.”

“Beskerm wat vir jou gegee is”

Andries en Mariëtte is nou 17 jaar getroud en dié jare bestaan uit wedersydse respek en agting vir mekaar. “Ons glo uit die staanspoor, beskerm wat vir jou gegee is. Dis ’n verblydende wete dat jy niks alleen hoef aan te durf nie, maar dat ’n beter helfte saam met jou staan. Ondanks die storms en toetse wat ons huwelik deurstaan het, het ons oorwin.”

Mariëtte het dikwels meegemaak in dié staptog en die paar ure wat hulle ononderbroke kon saamwees, het vars asem in hul huwelik geblaas. “Ons huwelik is gebou daarop om vir ons kinders ’n voorbeeld te wees, om in liefde saam te leef, mekaar te waardeer, die beste van elke dag te maak en die lewe saam met ons kinders te geniet.”

Elke tree wat hulle gestap het, het hierdie fondasie verstewig sodat dit uiteindelik vir Nathan as ’n platform kan dien om sy toekoms te bou. “Wat ’n voorreg om toevertrou te word met ’n familie wat aan my gegee is. Dit is die grootste vreugde wat ons as ouers kan hê en ons is ewig dankbaar daarvoor. Ons dank die Here vir sy beskerming. Ons het as gesin nou stewiger bande as ooit vantevore. Ek sien uit na die jare se vreugde wat voorlê saam met my gesin.”

Artikel deur Yolanda Wessels