Wanneer jy na die begin van Igna en Danie se huweliksverhaal luister, kan jy kwalik glo dat hier ooit redding sou kon kom. Maar waar God aan die werk is, gebeur die onwaarskynlike…

Igna se liefdesverhaal begin in haar matriek-jaar, op 17-jarige ouderdom. “Ek het kêrels gehad op skool, maar niks ernstigs nie. En geen seksuele verhoudings nie, omdat ek van jongs af reeds my hart vir die Here gegee het. Ek was 15 jaar oud toe ek gedoop is en was my lewe lank betrokke by die kerk se voorsang, jeugraad en selfs Sondagskool. Kerk was ‘n groot deel van my kinder- en grootwordjare.” Sy het in ‘n huis grootgeword waar daar baie liefde en respek was, maar in haar matriekjaar het ‘n bom gebars. ‘n Ander vrou in haar ouers se huwelik het haar tóé reeds laat besef dat sy dit nooit in haar huwelik wou hê nie. “Ek het altyd gebid en die Here gevra vir my man: Hy moes standvastig wees, ‘n goeie werk hê, goed opgevoed wees en net oë hê vir my…”

Ná skool is sy polisie-kollege toe waar sy uitpasseer het en in Vingerafdrukke spesialiseer het. In Pretoria het sy uitgegaan, maar kuis gelewe, steeds kerkvas en betroubaar. Gedurende die Paasnaweek van April 1995, het sy saam met haar ouers na haar ouma gery en daar gekom het haar oom vertel van Danie, ‘n oulike, jong kollega wat pas uit Verkeerskollege kom en in ‘n losieshuis in die dorp bly. Aanvanklik was sy rebels oor dié match making, maar het eindelik lekker gekuier. Hy was ‘n regte boerseun sonder voorgee en met goeie maniere. Hy het dadelik by haar familie ingeskakel en so het ‘n hegte vriendskap ontstaan. Hulle het lekker gekuier, gelag en gesels en van haar kant af was daar niks ernstigs nie … maar hy was onberispelik. “Hy het baie mooi gepraat, haar nie probeer soen nie en haar haar persoonlike ruimte gegun. Hy was gemaklik, behulpsaam en het goeie maniere gehad.”

Hy het haar vertel van sy minder goeie grootword-jare. Dat sy pa sy ma geslaan het. Dat sy pa drink en aggressief was en hom skelname toegesnou het toe hy klein was. Dat sy pa die een verhouding ná die ander gehad het en dat hy nooit in sy pa se voetspore wou volg nie. Sy het hom jammer gekry.

“Ek dink daardie oggend het ek my hart vir hom oopgemaak, omdat ek geglo het in liefde, geluk en die huwelik en dat dit nie alles net sleg is nie. Omdat ek geglo het ek kan hom wys dat dit nie in alle huwelike so nie, dat die huwelik tog gelukkig kan wees en harmonie kan hê. Dat man en vrou as eenheid kan lewe soos die Woord sê ons kan. Maar ek het nooit geweet die pad om tot daar te kom  sou so seer, swaar en lank wees nie. Ek het nie daardie oggend besef dat die een vir wie ek die liefste in my lewe sou word, my ook die seerste sou maak wat ek nog ooit gehad het nie. Ek het nie as jong meisie besef jy vat hom saam met sy bagasie nie. Dat die verlede, ons opgroei en kinderjare wel n impak op jou huwelik en lewe het nie…”

Hulle het mekaar meer gereeld begin sien en sy het verlief begin raak. Haar ouers was mal oor hom en almal het gedink Igna het die boerpot getref! Daardie Junie-maand, op Vadersdag, het hy by haar kom kuier en gesê dat hy sy meisie gelos het omdat hy háár wil hê. “Eers was ek geskok, want ek het geen kennis gedra van ‘n meisie nie…” En daarna was sy gevlei en hulle was formeel ‘n “item”. Hulle het gesoen en hande vasgehou, soos enige verliefde paartjie, maar Igna het sterk gevoel teen seks of ‘n warm vryery. Hulle het ‘n langafstand-verhouding getakel en sy was mismoedig wanneer hy nie by haar was nie.

“Ek sou dikwels in sy bakkie se asbakkie of paneelkissie kondome kry. En eendag in sy Parka-baadjie se sak. Ek het nog gevra of hy die dorp se voorsiener van dié goed is… en sy antwoord was: ‘Ag wat, as ons spesiale operasies met die werk doen, deel hulle dié goed uit. Dan druk ek dit maar orals in.’” As hulle uitgaan, sou daar altyd meisies wees wat hom soen en druk om te groet en wanneer sy uitgevra het was dit dié een se sussie of dáárdie een saam met wie hy ‘n drankie gaan drink het, se vriendin. “Het ek hom geglo? Ja ek het, maar ek nie gehou van die sogenaamde ‘sussies of vriendinne’ nie.” Sy wou ook nie besitlik wees nie, al mag sy nie meer saam met vriendinne gaan kuier het of mansvriende gehad het nie.

Igna het sy ouers gaan ontmoet, maar van die intrapslag af was sy pa vyandig. Sy het aangevoel dat hulle alles in hul vermoë sou doen om haar te laat verstaan dat sy nie in hul klas is nie en nooit ‘n goeie vrou vir hom sal kan wees nie.

Sy is verplaas na dieselfde dorp as hy en het by dieselfde losieshuis ingetrek as waar hy loseer het, maar die kamers was vuil en sy het later in ‘n woonstelgebou langs die kantore ingetrek.  Danie het elke dag kom kuier en later die aand weer losieshuis toe gegaan. Hy het gehelp met die koop van kos, krag en die helfte van die woonstel se huur. Teen die einde van November 1995 het hulle verloof geraak – tot die ontsteltenis van sy pa en die vreugde van haar ouers.

Dis hier waar sy toegegee het aan ‘n seksuele verhouding. Dit het vir hulle finansieel sin gemaak om saam te bly en kort-voor-lank het hy ingetrek. “Nou, op die stadium is ons toe nou verloof en het ons saam gebly. Die kerk het hom toe onder sensuur geplaas. Ons het AGS toe gegaan, maar nie meer so gereeld nie, want die Here was toe nou nie meer so ‘n groot deel van my lewe soos toe ek in die huis was nie. Ek is mos nou ‘n grootmens en ek kan kerk toe gaan soos ek wil, het ek gereken. Maar dit was die grootste fout van my lewe en ons saam-wees, want die Here was nie deel van ons lewens nie…”

Sy was dolgelukkig saam met haar droomman. Hy was ‘n gentleman en saam het hulle goedjies begin bymekaar maak. Maar eendag, kort ná die Nuwejaar, het haar buurvrou met haar kom praat en gesê die meisie wat twee woonstelle in die gang af bly, kom gereeld na hul woonstel toe wanneer sy nie daar is nie. “Nou, intussen het die meisie en my boetie (’n jaar jonger as ek) ‘n verhouding begin en sy het die vorige jaar (toe ek ingetrek het) matriek geskryf. Sy kom dus nog vars van skoolbanke af en bly by haar ma saam haar jonger broer. En ek sê vir die buurvrou nog ewe: ‘O dit maak nie saak nie want sy is my broer se meisie en ek gee nou nie om dat sy daar kuier nie – sy is so te sê ‘n vriendin van ons.’ En regtig – daar het ek niks vermoed of gedink nie want sy was ‘n groot “kerk-mens” (ook in AGS).”

‘n Week later het Sarie (die buurvrou) haar weer in die gang gekry en gesê dat sy gesien het hoe die twee hande vashou, giggel en soene in die gang uitdeel. Toe sy die aand vir Danie kontronteer, het hy dit ontken en vir Sarie sleg gemaak. Kort daarna het Igna se sussie (tóé 12 jaar oud), kom vertel: “Sussie, Danie en Cindy soen op die sitkamerbank – ek het hulle gesien.” Dié keer het hulle weer ‘n verhouding ontken.

Intussen het Danie se pa en ouma haar begin beledig en hul saambly-verhouding gekritiseer. Daar was geen liefde van hul kant af vir haar nie en hul rusies oor familie het begin. Danie het haastig geraak om te trou. “Dit is al hoe ek my pa van my nek af gaan kry en hierdie saambly veroorsaak nou ‘n rusie,” het hy gesê. Sy het ingestem en hulle het planne begin maak om ‘n maand later die knoop deur te haak. Vriende en familie het saamgespan om dit te laat realiseer. “My ouers het geen kapsie gehad nie, maar ons moes alles self betaal, want daar nie tyd om geld te spaar vir ‘n troue nie. Die polisie kantien het ons kos gemaak vir ‘n belaglike prys, my bevelvoerder het aangebied dat hulle self sal foto’s neem, aangesien ons kameras en film gebruik op tonele. Een van my kollegas het n nuwe A4 Audi gekoop en aangebied hy sal ons troukar ry. Danie se baas reël met die manne by die werk om geld in te samel vir die huur van my rok en die saal. (Rok R550 en saal R450 –  kombuis en yskaste en kontant-kroeg ingesluit.)

“Nou reël ons ‘n troue in ‘n maand. My een vriendin wat saam my werk se ma doen naaldwerk en sy bied aan om knielkussings en ringkussings te maak, sowel as die manne se strikdasse en gordels. Geen uitnodigings word gestuur nie, omdat daar nie geld vir daardie ekstras was nie – almal word gebel en kollegas by ons onderskei werke word genooi. My pa se niggie in Randfontein bak ‘n 3 laag koek met blomme. Daar is nie geld vir blomme nie… as ek reg onthou was die kwotasie op al ons blomme R800 vir die kerk en saal se tafels, bruidsruiker, lapel rosies vir mans en bruidstafel se ruiker, so dit moes maar gelos word. My ouers het toe wel gesê hulle sal die kousband en my handruiker koop…”

Op 30 Maart 1996 is hulle in die AGS-kerk getroud, met 150 gaste. “Dit was elf maande nadat ek hom 27 April 1995 ontmoet het. Elf maande waarin ek moes grootmens word want ek is uit die huis uit agter ‘n man aan.” ‘n Paar maande ná hul troue het die krake begin wys. Danie het begin drink en uitgaan saam met vriende en die rusies oor sy ouers het begin meer word. Sy het baie baklei oor die feit dat hy nie vir haar opgekom het wanneer sy pa haar gevloek het nie. Danie het skofte gewerk en Igna gewone kantoor-ure, maar later is sy as bevelvoerder aangestel. “Eendag (ek kan nie presies die datum onthou nie maar dit was Junie/Julie 1997) bel ‘n dame my by die kantoor. Sy het so snaakse rasper stem gehad en jy moes behoorlik jou oor teen die foon hou om te hoor wat sy sê: ‘Ek kan uitkyk op jul huis en daar kuier ‘n dametjie by jou man wanneer jy werk…’ het sy gesê en die foon neergesit.” Vandag steeds weet Igna nie wie dit was nie. Sy het Danie konfronteer maar hy dit weer ontken en Igna het sake so aanvaar.

Hulle was in dié stadium ‘n jaar lank getroud en behalwe vir die konflik was hy steeds liefdevol en het haar respekteer. “Ons was al die jare ook goeie vriende. Danie se seksdrang in die slaapkamer was net erg. Hy wou heeltyd seks hê en ek het op stadium gesê seks is nie alles in n huwelik nie. Ek was soms doodmoeg, want ek nie bediende gehad nie en om te werk (of kantoor/afdeling van grond af te begin), skoon te maak, wasgoed te was en kos te maak was nie altyd maklik nie. En ek het later jare besef ek was op 21 nie opgewasse om die pos te beklee wat ek gedoen het nie, want ek het nie geleer of gedink aan tydsbestuur nie. My werk was belangrik en ek het baie werk huistoe gevat en Danie het meer en meer begin uitgaan en drank het meer en meer gevloei.”

Een Vrydagmiddag in Augustus het sy vroeg huis toe teruggekeer, want sy was moeg en die kantore was vanaf eenuur gesluit vir ‘n sportdag saam met gevangenes. “Dit was Danie se oggendskof-week, so dit was nie snaaks om sy Staatsvoertuig in die garage te sien nie. Ek het ons kar nog agter sy voertuig gestop en is sommer deur die garage die huis in. Ek het my goed op die tafel in die eetkamer gesit en kamer toe geloop. Ons en-suite badkamer het n stort gehad. Toe ek die kamer instap,  het ek Danie se uniform so half-in-die-kamer-half-in-die-badkamer sien lê. Ek het die stort hoor loop en soontoe gestap net om te laat weet ek is by die huis en ek sal solank koffie maak. Maar toe kry ek die skok van my lewe: Hy en Cindy – poedelnakend in die stort, met hande soos seekat-tentakels op en om mekaar! Ek het so geskrik dat ek nie eers ‘n woord kon sê nie. Ek was gedisoriënteerd en het gebewe soos iemand wat in ‘n Alaska sneeu-tonnel vassit. Danie het opgekyk en my gesien. Hy het die stortdeur oopgeruk en sy eerste woorde was: ‘Dis nie wat jy dink nie!’ Ek het omgedraai en sitkamer toe geloop sonder om ‘n woord te sê. Hoekom ek niks kon sê nie, weet ek nie, maar ek het op die stukkende maroen bank gaan sit en net voor my uitgestaar…”

“Toe Danie en Cindy die sitkamer binnekom, het my emosies oorgeloop. Ek het uitmekaar geval en begin vloek en skel.” Sy het Cindy na dié se ma toe geneem en vandaar is hulle na die AGS pastoor wat dit nie wou glo nie, omdat hy meen sy is ‘n kind van God. Terug by die huis het Igna bakleiend en huilend haar tasse gepak. Sy het na haar ouerhuis toe gery en haar broer vertel van Danie en Cindy. Die naweek het haar ma haar gemaan om aan haar huwelik te werk en haar van haar pligte as vrou vertel. Die Sondagmiddag is sy terug huis toe.

“Leeg gehuil, dof gedink, deurmekaar. Ek het besef ek is nou op my eie en moet die ding op my eie hanteer – hulp is duidelik nie daar vir my nie, want tot my ma stuur my weg. Cindy en my broer se verhouding is beeïndig.” En drie weke daarna het sy nóg ‘n skok gekry. Danie het gevra vir ‘n verplasing na ‘n ander dorp toe en hulle het weke gehad om te trek. Sy moes bedank. “Niks het sin gemaak nie en ek het niks ingeneem nie. Ek het teen geen besluite baklei nie, ek het niks gesê oor die verplasing nie, niks gesê oor wat gebeur het nie. Ek wás net…”

Sy het later Danie se kant van die verhaal gehoor. Dit was nie beplan nie en het net ‘gebeur’. Hy sou haar in die hoofstraat oplaai, huis toe neem, die daad op Igna se driekwartbed doen en haar dan weer gaan aflaai. Die stories wat Sarie en haar sussies gesien het, was waar en terwyl hulle naweke by Igna se ouerhuis gekuier het, het dinge onder hul neuse gebeur. Hulle het nooit kondome gebruik nie, want Danie het gesê hy “glo nie in daardie snert nie”. En Cindy, wat nie ‘n seksuele verhouding met Igna se broer gehad het nie (omdat sy gemeen het die Here verbied voorhuwelikse seks) het haar eie stel reëls gehad as dit kom by getroude mans…

“Danie het ook vir my gesê sy het sulke lekker stywe, groot borste gehad en hy was mal daaroor – dit was een van die dinge wat hom na haar aangetrek het.” Vir Igna was dit ‘n teer punt. Sedert 5-jarige ouderdom is sy deur haar ma se een swaer gemolesteer en hy het veral klem op haar borsies gelê. “Ek was baie bewus van my borste en wou hulle wegsteek. So, dit was ‘n geen-toegang sone met Danie. Ek wou nooit my bloes voor hom uittrek nie en het afgeskakel as hy daaraan geraak het. So, dit was ‘n groot probleem in ons sekslewe – die feit dat ek beperkinge gehad het op sekere dele van my liggaam. Ek het ook nie alles in seks toegelaat nie, want my ma het gesê slegte vroue gedra hulle nie so nie. Alles wat ‘toelaatbaar’ is, is mooi vir my uiteengesit.” Vandag kan ek beslis sê dat die molestering en breinspoeling as kind bygedra het tot die mislukking van ‘n gesonde sekslewe in my huwelik, maar al hierdie dinge het ek eers later besef…”

“Ek het egter nie al hierdie dinge op daardie stadium besef nie, maar dit was alles rolspelers in ons huwelik van die begin af. Ek het altyd bewustelik en seker maar onbewustelik gedink ‘Wat sal hy dink as ek nou so maak of so sê.’ Vandag kan ek beslis sê dat die “breinspoeling” as kind ook ‘n bydrae gelewer het tot die mislukking van ‘n gesonde sekslewe in my huwelik. Ja, die molestering het ook ‘n demper daarop geplaas, maar soos ek gesê het, ek het dit nie besef nie en sou eers baie jare later, heelwat later, al die dinge besef.”

Tussen 2004 en Augustus 2009 was daar baie buite-egtelike verhoudings in Danie se lewe, vertel Igna. Sommige was fisieke seksuele verhoudings en ander was “seks chats”. Een van die ander vroue was haar neef se verloofde. Ook Danie se beste vriend se vrou. “Ek het geweet van die meeste van hulle, omdat daar boodskappe op sy foon was en hy oproepe sou beantwoord en dan buite gaan praat het. Naderhand begin ‘n mens die roetine verstaan van hoe en wanneer wat gebeur. Maar dit het my nie gepla nie. Ek moet eerlik sê teen die verhoudings in daardie tyd het ek nie eers baklei nie. Ek het net dinge gesê soos: ‘Nog ‘n victim…’en dan maar my gedagtes vir myself gehou.”

“Intussen het ons wireless internet gekry en hy het op geselsgroepies begin chat. Ek het die gesprekke gesien wanneer ek die rekenaar aangeskakel en die boodskappe opgepop het. Hulle sou mekaar in detail seksueel opkikker. Sy gebruikersnaam was iets te make met Bloubul. Soms sou ek hom voor die rekenaar kry, besig om te masturbeer. Toe begin ek baklei omdat ek die boodskappe moet kry en moet sien hoe hy oor ander vroue fantaseer… Danie het dit stopgesit, die program van die rekenaar af verwyder, maar verder op Mxit aangegaan.” Sy het besef hoe maklik verslawend telefoonseks kan raak. “Hy sou ure in die badkamer met sy telefoon besig wees. Hy sou oral op sy foon wees.”

Igna vertel hoe sy haar emosioneel van sy doen en late afgesny het. Sy was daar vir haar kind en vir sy toekoms. “Ek het uit vrye wil hierdie agtien jaar tronkstraf gekies. My keuse was dat ek nie meer getroud was in die ware sin van die woord nie, so hy het my niks geskuld nie en kon maak soos hy wou. Ons het nooit regtig baklei in die tyd nie, maar die kloof tussen ons was besig om wyer en wyer te raak. Baie dinge gebeur onbewustelik en eers as mens dan daarvan bewus raak, kom jy die regte skade daarvan agter. Ons was meer vriende as minnaars,” vertel sy.

“Maar die mens se brein is aanpasbaar. Ek het geweet ek sit in ‘n huwelik sonder enige emosies, van my kant in elk geval, ek het geweet ek sit met ‘n man wat enige iemand bykom wat gewillig was. Dit was deel van my lewe. Naderhand meer reël as uitsondering. Ek het stadig maar seker myself, my menswees, my vrou-wees in die proses verloor. Ek het nie meer daaraan probeer werk nie, want my fokus was my kind. Ook Danie het die status quo begin aanvaar. Geweet sy kind is nog in sy lewe en sy brood word aan beide kante gebotter. So het hulle vir vyf jaar lank net bestaan, nie gelewe nie.”

In 2009 het ‘n vriend (die einste een met wie se vrou hy gekuier het) vir Danie saam na die Mighty Men geleentheid in Grahamstad toe genooi. Hy het teruggekom en Igna kom smeek om vergifnis. Hy het gesê hy wil hê hulle moet die stukke optel en werk aan hul huwelik. Hy het ook die drank laat staan. “Ek was baie skepties oor sy voorstel, want sien – ‘n jakkals verander nie sy streke nie. Ek het ook nie dadelik ingestem nie, want hoe kry jy ‘n gevoel terug wat nie meer daar is nie… ek was tevrede met my lewe, want dit is wat ek geken en aan gewoond was.” Hulle het egter weer saam begin kerk toe gaan en die Here werklik begin dien. ‘n Maand later het Igna haar skild laat sak. Danie het nie meer boodskappe op sy selfoon ontvang nie en hy het die toestel openlik in die huis laat rondlê.

Teen die einde van Februarie 2010 het sy uitgevind sy is swanger en was opgewonde om na ses jaar weer ‘n woelwater in die huis te hê. Sy het egter die baba op 13 weke, op Moedersdag verloor en vir Igna was dit emosioneel ‘n baie seer gebeurtenis.

Klein Nico was teen dié tyd in graad een en het maats gemaak met Casper, ‘n outjie by wie hy graag op die plaas gaan kuier het. In September het sy weer swanger geraak en wéér die baba ‘n maand later verloor. Sy het geestelik deur ‘n stryd gegaan, maar nader aan die Here beweeg. “My verhouding met Hom het sterker geword en ek het geleer dat ons nie vrae moet vra nie, want hy weet beter.” Dit het beter begin gaan en hul huwelik én geestelike lewe was sterker as ooit. Maar dit was die stilte voor die storm…

Op 30 Maart 2011, die dag van hul 15e huweliksherdenking, het ‘n kennis haar by die huis kom besoek. “Toe ek haar sien, kon ek voel iets is verkeerd, want sy was ongemaklik en kon my nie in die oë kyk nie. Na ons gegroet het, het ek gevra wat is fout, want dit het waarlik gelyk of sy op ‘n warm plaat staan. Haar woorde het my heeltemal onkant gevang: ‘Igna, ek is nie deel van die dorp se skindertonge nie, maar ek voel jy moet dit weet: Die afgelope tyd sien ek Danie en Megan (Casper se ma) vroegoggend in die straat agter die munisipaliteit. Vanoggend het ek hulle in ‘n omhelsing gesien. Ek voel net jy moet dit weet.’” Wat die vrou daarna gesê het, kan Igna nie onthou nie – haar hart het tot stilstand gekom. “Ek was deurmekaar geskrik en kon nie my gedagtes orden nie.” Sy het op haar knieë in haar kamer gaan staan en vir die Here gevra: “Hoekom nou weer?” Dit was die eerste keer wat sy heel eerste na die Here toe gegaan het vir antwoorde. Sy het gehuil en gebid en Hom gevra om haar hierin te lei en deure oop te maak sodat sy in Sy Wil bly. Sy het vir Nico by die skool gaan haal met ‘n spreekwoordelike masker op haar gesig, terwyl sy heeltyd gewonder het hoe sy die situasie met Danie sou konfronteer. “Die heel middag het ek gebid vir ‘n teken, want ek wou regtig nie weer die verlede ophaal en Danie laat dink ek vertrou hom nie.”

Hy het net voor vyfuur by die huis gekom. Hulle sou die aand by Spur gaan eet vir hul herdenking en sy selfoon het op die bed gelê, terwyl hy gaan stort het. Sy het op die bed gaan sit en gebid vir krag sodat sy deur die ete sou kon kom sonder dat Danie iets agter kom en sy die aand, wanneer hulle alleen was, die saak met hom kon bespreek. “Sy Blackberry het afgegaan met ‘n boodskap. Ek het die foon opgetel, die BBM oopgemaak en gesien die boodskap kom van Megan af. Die boodskap het my so siek gemaak dat ek dit vir jare daarna nog in my gedagtes gesien het. ‘n Foto van haar … heeltemal kaal, haar rug gestut met haar bene wawyd oop. Daarby die woorde: ‘n Geskenkie vir jou huweliksherdenking. Love u, jou Bokkie.”

Sy het begin rondkrap op die foon en die foto’s wat hulle vir mekaar gestuur het, het haar gewalg. Masturbasie-video’s met verskriklike inhoud. Boodskappe van hoe en waar hulle mekaar sou ontmoet. Geselsies oor die seks en wat hulle volgende keer gaan probeer. “Ek was duiselig, niks om my het meer bestaan nie…” Toe Danie die kamer binnekom, het sy die selfoon vir hom gegee, oopgemaak op die foto en gesê: “Gelukkige huweliksherdenking. Mag julle nog vele meer jare saam beleef.” Sy het die vertrek uitgestap.

Dié keer het Danie dit nie probeer ontken nie en net gesê hy is jammer – dit het net gebeur. Igna het hom met ‘n houtkrat wat in die sitkamer gestaan het, gegooi. Hy het erken dat dit aangegaan het vanaf haar eerste miskraam – omdat sy so vasgevang was in haar eie pyn, dat sy nie die pyn waardeur hy gegaan het, raakgesien het nie. Sy was woedend en het gesê sy sal nie die skuld dra vir sy probleem nie. Dat hy verantwoordelikheid vir sy dade moet aanvaar en moet ophou om fout by ander mense te soek.

Sy het hom weggejaag, maar hy het geweier om te gaan. Hulle het baklei en klein Nico het alles gesien. “In sy sewejarige brein kon hy nie verstaan wat gebeur nie want, ten spyte van die vorige kere, het ons nog nooit voor hom baklei nie.” Sy het sy kussings uit die kamer gegooi en haar en Nico in die slaapkamer toegesluit. Danie het in die spaarkamer ingetrek en Nico by sy ma. In dié tyd het hul rusies oorgegaan na fisieke geweld en Nico het dit gesien. Igna het besluit om haar kind nie in sulke omstandighede te laat grootmaak nie en sy het ‘n prokureur gaan sien.

‘n Vriendin van kerk het vir Igna kom se sy het ingeskryf vir die TPM  (Theophostix Prayer Ministry) kursus en dat Igna dit saam met haar moet gaan doen. Sy het ingestem. “Ek is toe die Sondag saam met haar AGS toe waar die kursus tussen drieuur en seweuur aangebied word. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan en ek het besef ek het Danie nie nodig om vir my te sorg nie – die Here sal dit doen.” By die huis was dinge baie erg en het hulle baklei soos nog nooit tevore in hul vyftien jaar van getroude lewe nie. Sy het na Danie se werk gegaan en die kantoorhoof gevra om hom te verplaas na hul substasie in Northam, sodat sy kon ontslae raak van die man wat sy in daardie stadium met ‘n passie gehaat het, die man wat haar gewalg het. Die kantoorhoof het geweet van Danie se streke en ingestem, maar Danie het geweier om te trek en Igna se weersin in hom het net al hoe meer gegroei. “Ek het kerk toe gegaan, die Here volstoom gedien en net elke dag gebid dat iets moet gebeur sodat Danie net kan verdwyn.”

Intussen het sy die kursus gedoen en navorsing gedoen oor die oorsprong van ontrouheid. Nagte lank het sy na antwoorde vir Danie se probleem gesoek. “Een Saterdag het ons weer ‘n verskriklike baklei-sessie gehad. Dit was ‘n oor en weer geskel en geskreeu en gerond-ruk, want dit was nou sy nuwe manier. Nico was by my ma daardie dag en ek is ná die sessie kamer toe. Ek het my toegesluit en op my boude voor ons kamerdeur gesit en huil. Dit was ‘n seer huil wat uit my binneste gekom het en dit was asof my hele menswees vasgevang was in daardie huil…” Sy het wanhopig gebid en gevra hoekom sy hierdie man moes kry, iemand wat genot uit ander se pyn kry… “Tot vandag toe nog glo ek daardie dag het die Here met my gepraat, want ek het die Stem in my gedagtes gehoor wat se: “Lei hom na My toe – ek het hom vir ‘n rede in jou lewe gesit.” Igna het geantwoord dat sy nie kans sien nie, en sy het gehoor: “Het Ek nie vir jou sondes ook aan die kruis gesterf nie? Wat maak jou beter as Ek dat jy nie ‘n verlore siel na My wil lei nie?” Dit het aan haar gees geruk en sy het weer die waarde in die konsep ‘vissers van mense’ besef. Sy het ingestem en gesê: “Goed, ek sal dit doen, maar sodra ek dit gedoen het, laat U hom verdwyn.”

Sy het haar deur oopgesluit en vir Danie gesê: “More gaan jy saam met my kursus toe. Jy gaan hierdie kursus saam met my doen en dan kan jy daarna doen wat jy wil. Ons hou nóú op met baklei en hierdie barbaarse optrede van ons.” Die Sondag het hy saam met haar gegaan en die aand het hy haar gevra om hom te help met sy probleem. Hy het gesê: “Ek sê nie jy moet my nie los nie, want jy het die volste reg na al die jare wat jy by my is en na alles wat ek gedoen het, maar help my. Bid vir my. Ek wil nie meer die man wees wat ek is nie.”

Igna vertel dat sy op sy gesig kon lees hy het ‘n noodkreet gegee. Sy het geweet sy moes help, al sou dit behels dat hul paaie daarna sou skei, maar bystaan, sou sy hom bystaan. Hulle het saam die kursus gedoen en Danie het keer op keer gevra vir ‘n tweede kans, maar Igna het geweier. Hy het herhaaldelik gesê hy is jammer, maar Igna het dié keer nie daarvoor geval nie.

“Elke keer as ek Legal Aid toe gaan om te vra waar die skeisaak trek, het die prokureur gesê ons moet wag vir die hofrol. Omdat die staat jou skei, help hulle eers mense wat privaat skei. En al kom ons op ‘n hofrol, sal ons nog vir ‘n datum ook wag.”

Die verandering in Danie was egter ooglopend, vertel Igna. Afgesien van die kursus het hy ‘n kliniese sielkundige gaan sien. Hulle het vriende geraak, saam begin stap, en Danie was twee keer per week by hom. Hy het ook na Frans Nortjé in Doornpoort, Pretoria, vir sessies gegaan. Igna en Danie het saam begin navors oor die ‘hoekom’ en haar gevra om elke tweede week saam met hom Pretoria toe te gaan en saam te bid dat die vyand se bande van verslawing verbreek sal word. “Al die berading wat Danie gedoen het by Frans was op Christelike vlak en ons het ook die KBN (Keerpunt Berading) kursus ná die TPM gedoen (TPM was ‘n jaar-kursus.)

“Na ‘n ruk kon ek die struweling wat in hom was, sien. Hy het baie gehuil en ek het baie by sy kamer verbygeloop en gehoor hoe hy die Here aanroep. Hy het ook alles wat hy gelees en gehoor het in sy sessies, toegepas en regtig prakties in ons huwelik begin gebruik. Dit was egter ‘n moeilike pad tot by ‘n punt van vertroue want saam met ‘n buite-egtelike verhouding kom baie leuens. Frans het hom aangeraai om die volgende te doen: Eerstens mag daar geen leuens wees nie. Tweedens moes daar vrye toegang tot mekaar se fone, sosiale media rekeninge en telefoongesprekke wees. En ons het dit van die begin af die laaste keer so gedoen. Derdens: Geen kort verduidelikings nie. As jou maat iets vra wees eerlik, want dit maak dit makliker om mekaar te vertrou en dan die reaksie op dit wat jy hoor is baie belangrik.”

Igna het die skeisaak teruggetrek, maar Danie moes nog in die spaarkamer bly en homself eers bewys. Vir sowat 18 maande het hulle so saamgewoon. Geen seks en geen rusies nie. Maar elkeen moes aan hom/haarself en hul foute werk. “Ek het ook besef ons huwelik sal nooit werk as ek nie regtig van my kant af daaraan werk nie. Die pad was nie maklik nie. Dit is nie maklik om aan jouself en aan jou maat te erken dat jy ook foute het nie.” In 2011 het Danie waarlik sy hart vir die Here gegee en hy het verander, vertel Igna. “Nog nooit ná dit het ons weggedwaal van God af nie en nog nooit weer was daar ‘n ander vrou nie. Ek het toegang tot sy foon en het nog nooit weer iets gesien nie.” Sou sy weer met hom getrou het op 30 Maart 1996 as sy al hierdie dinge geweet het? “My antwoord, sonder om te skroom is: Ja, duisend maal, ja! Want ons situasie het ons toegerus om vandag met ander te kan deel. Om boeke-kennis te hê is een ding, maar om self die pyn deur te kon maak, is ‘n ander. Ek kan vandag uit ondervinding met vroue praat wat hierdeur gaan. Danie kan uit ondervinding sy ervaring met ander mans deel. Ons het dit nie besef nie, maar ons is toegerus om ons Skeppingsdoel te kan uitleef. Dit was nie maklik nie, maar ek glo vas dat as jy nie uit die situasie waarin jy is jou les kan leer en dit positief op jou lewe kan toepas nie, jy dieselfde toets oor en oor sal moet skryf tot jy geleer het wat jy moet…”

Danie het handomkeer verander, vertel Igna. “Sy hele wese het verander. Hy doen soveel dinge vir my, dra my op sy hande, help my met die huistakies en is daar vir my. Sy verhouding met sy Skepper is baie sterk en sy geloof is iets merkwaardigs. Hy sê altyd vir die manne: ‘As die Here my kon verander kan Hy enige iemand verander.’ Danie het Januarie 2019 ingeskryf by die Lede in Christus Kerk se pastoors-kursus en doen nou sy Pastorale graad, want hy wil vir die Here werk en huwelike red en gesinne bymekaar probeer hou.”

Op 30 Maart 2016 het hulle weer hul huweliksbevestiging en beloftes afgelê deur dieselfde pastoor wat hulle in 1996 getrou het. “Ons is die gelukkigste wat ons nog ooit was omdat ons fondasie verstewig is en ons die rangorde in ons huwelik reggekry het.”

 

Hoe bestuur jy ‘n seksuele verslawing?

Igna deel Danie se raad en die raad wat hulle aan ander paartjies gee tydens berading:

  • Moenie jou kop in ‘n ding druk waar jy nie wil wees nie. Die vyand gebruik klein dingetjies om jou te laat val en hy ken jou swakheid. As jy nie sterk genoeg is om ‘Nee’ te kan sê nie, bly weg. Moenie die deur op ‘n skrefie ooplos nie, want die vyand gaan inkom, hoe ook al.
  • Manne, moenie elke vrou se held wil wees nie, wees jou vrou s’n. Die ander vrou sal wel gehelp word, deur óf iemand anders of haarself. Mans is geneig om alle vrouens te wil help, maar daardie vrou het reggekom nog voor jy daar was of gesien het dat sy ‘n probleem het en sy sal daarna ook.
  • Die verskoning van ‘My vrou verstaan my nie’ is strooi. As jy mooi gaan dink, gaan jy oor ‘n jaar met die nuwe dame presies sit op die plek waar jy nou sit – met meer probleme op jou vurk. Probeer eerder jou bes om jou vrou te kry om jou te verstaan en betrek haar meer by jou alledaagse menswees.
  • Stel grense daar. Uit die aard van Danie se werk is dit moeilik om heeltemal kontak met ander vrouens te vermy, maar hy probeer om dit sover moontlik te doen. Hy sal ook oop kaarte met my speel. Hy aanvaar glad nie “friend requests” op Facebook van vreemde vrouens nie. Hy sal selfs as iemand boodskappe op Messenger stuur en dis ‘n vreemde vrou, dit vir my wys en haar dan blok. As dames hom wil kontak oor hul mans, is sy antwoord dat hy nie dames alleen sien nie. Hy sê: ‘As jy wil gesels, is jy welkom om my vrou te skakel vir ‘n afspraak – dan sal ons jou saam sien.’ (Dit gebeur gereeld want vroue glo hulle het nie foute nie en dat dit alles die man se skuld is.) As ‘n dame hom vra vir gebed, sal hy my nader roep en vra om vir haar te bid. Hy verwyder hom dan heeltemal uit die geselskap.

Hoe verander jy jou huwelik ná soveel seer?

  • Ons het geleer dat as iets vandag gebeur, ons daaroor gesels en as dit afgehandel is, is dit afgehandel. Daar word nie weer daarna verwys nie en ons verwyt mekaar nie.
  • Ons help mekaar eerder om aan die probleem te werk. Ek het veral geleer om te luister as hy praat en nie gevolgtrekkings te maak nie.
  • Moet nooit jou maat probeer verander nie, julle is twee verskillende mense in ‘n huwelik. Verandering moet by jou begin. Toe ek daardie konsep kon verstaan en aanvaar, toe besef ek hy is net ‘n mens soos ek met foute, en geen superwese nie.
  • As jy besluit om jou huwelik te red en ‘n volle huwelik te hê, moet jy oop wees vir verandering, jy moet oop wees vir bespreking oor wat jou maat nie van hou nie en jy moet nie instem tot dit as jy nie seker is wat jy wil hê nie, want jou foute gaan uitgewys word en jy moet “groot” genoeg wees om aan jouself te werk en te besef jy is nie volmaak nie.
  • Ons het beide kursusse begin doen om ons lewens te verryk en om dit toe te pas in ons huwelik en met ander paartjies te deel. Dit is nie vir almal prakties moontlik nie, maar toe ons begin met die navorsing en soeke na antwoorde, was dit die rigting wat ons lewe ingeslaan het en ons doen vandag berading (sonder vergoeding omdat ons nie geregistreer is nie) by ons huis vir paartjies wat dit nodig het.
  • Ons het ons huwelik begin bou op God en op wat ‘n Goddelike huwelik is. Ons het alles wat ons geleer, gelees en gehoor het prakties begin toepas in ons huwelik. Boeke-kennis beteken niks as jy dit nie kan toepas in jou lewe nie. Ons groei nog elke dag, ons leer nog elke dag, maar ons verhouding is sterker as wat hy ooit was en ek weet vir seker ons sal nog baie jare gelukkig wees, want ons wou beide hê dit moet werk.

Watter raad gee julle graag aan ander paartjies?

My eerste vraag is: “Wil jy hê jou huwelik moet werk?” Gewoonlik is hulle vinnig om te sê: “Natuurlik.” Dan vra ek: “Is jy bereid om te verander en te groei en te werk aan jou foute?” Moenie dink jy is “heiliger” as jou maat nie. Ek het nie rondgeloop nie, maar ek was nooit regtig daar vir my man nie. Ek het hom verskreeu as ek kon uitvind iets is gedoen waarvan ek nie hou nie. Wat het dit veroorsaak? Hy het toegeslaan, kon nie met my praat nie en het gaan geselskap en emosionele bande by ander gevorm wat gelei het tot seksuele verhoudings.

As beide partye (man en vrou) nie bereid is om hulp te gaan soek nie, sal dit nie werk nie. Dit sal nooit werk as net een persoon bereid is om aan die huwelik te werk nie.

Ek sê ook vir die vroue om iemand te kry om saam met jou te bid. Gebed dra groot krag. Sluit aan by ‘n gebedsgroep vir dames en neem iemand in jou vertroue – laat daardie persoon saam met jou bid. Kry vir jou ‘n vriendin wat geestelik saam jou hierdeur kan gaan, wat geestelik sterk genoeg is om jou met die regte, positiewe raad te kan bystaan – nie iemand wat allerhande goed in jou kop gaan probeer kry nie.

Baie vrouens sukkel met die emosionele worstelinge na die verhoudings. Hoe raak jy ontslae van woede, vernedering, haat en opstand? Dit is normale emosionele gevoelens en dit sal daar wees. En ek sê vir almal: Skryf briefies aan hom oor hoe dit jou laat voel, skeur die briefies op (hy hoef dit nie te lees nie) maar kry die emosies uit. Vat ‘n foto van hom en gesels met die foto. Vertel die foto hoe hy jou laat voel. Maar weet net dat as jy besluit jy vergewe en begin weer, jy nie die goed weer mag ophaal nie.

Ek het byvoorbeeld na die laaste keer as ek my oomblikke kry, ‘n kussing gevat in die kussing gehuil en vir die kussing vertel hoe ek voel. Ek het nooit weer dit wat ek voel aan Danie meegedeel nie, want ek moes aanbeweeg en het die besluit geneem dat ek dié keer alles sal insit. En dít is die verskil:  Jy moet weet dat as jy besluit het om alles in te sit om dit te laat werk, die verlede en verwyte nie deel is van daardie pakkie nie.

Artikel deur Annelize Steyn

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!