Kan jy jou voorstel hoe jou lewe ’n wending neem met die nuus dat jou man tronkstraf moet uitdien? Erika vertel haar verhaal . . .

Erika* en haar man, Pieter*, se verhaal begin toe sy nog maar ’n groentjie in die hoërskool was. Hulle is gekys toe sy destyds in standerd ses was. “As enigiemand my gevra het wat ek ná skool gaan doen, het ek gesê ek gaan trou,” vertel Erika. Hulle is aan die einde van haar matriekjaar in 1987 getroud.

“Ons eerste baba is in 1988 gebore. Dit het redelik goed gegaan met ons huwelik, daar was maar ups en downs, veral vir die eerste drie jaar. ’n Tweede baba is twee en ’n half jaar later gebore. Ons was baie gelukkig.” Daarna het haar man by die politiek betrokke geraak. “Ek het vir Pieter gesê: ‘Hier kom moeilikheid, bly asseblief weg.’”

Uiteindelik is Pieter gevang vir sy betrokkenheid by dié bedrywighede. Hy was ses maande in die gevangenis, waarna hy borgtog gekry het. Die verhoor het ’n verdere drie jaar geneem voordat hy gevonnis is.

Die uitspraak en die vonnis
Die tyd wat hulle vir die vonnis moes wag, was vreeslik. “Ons het gelewe van een verhoordatum tot ’n ander – elke keer gegroet en gedink, dit gaan die laaste wees . . . Ons het baie oor nietighede baklei, ons het besef dat ons maar probeer cope.”

Intussen het Erika weer swanger geraak. “My derde baba was net ’n jaar en ’n paar maande oud toe ek wéér swanger raak. Ek was ses maande swanger met ons vierde kind toe my man gevonnis is tot 21 jaar tronkstraf.” Erika was verslae, bang en verward. “Ek kan onthou dat ek vir die Here gesê het my lewe is verby! Ek wil nie met my lewe aangaan as my man nie by my is nie, wat van my kinders en my ongebore baba? Hoe gaan my man heel uit hierdie gevangenis uitkom?”

Sy het gesmeek: “Here, neem asseblief sy lewe, want hy gaan ’n gebroke man daar uitkom. Ek sien hom eerder dood as wat ek hom daar in ’n hok tussen ’n klomp kriminele sien.” Sy vertel: “Ek is só dankbaar God het nie toe my gebed verhoor nie – Hy het my eerder gewys hoe Hy my man bewaar het!”

Hy het my man vir my teruggegee
“Dit was ’n bittere moeilike tyd in ons almal se lewens. Maar ons aanbid ’n almagtige en genadige God. Ek het elke moontlike besoek wat ek by my man kon kry, die kinders na hom toe geneem en ons het elke dag ’n paar keer oor die foon gesels. Ek het net gesê ek sal nie moed opgee nie, die Here sál my man weer vir my teruggee. En Hy was waarlik getrou.”

Die verhaal van die voetspore
“Genade en God se liefde, dís wat my deurgedra het. Vandag kan ek terugkyk en besef dat as ek nie ’n verhouding met Jesus gehad het nie, ek vir seker nie heel anderkant sou uitkom nie. Daardie verhaal van die voetspore is mý verhaal. Ek het besef ek sou moes aangaan vir my kinders, want ek het net gelewe deur asem te haal. Dit was soos ’n masker wat ek bedags opsit met ’n glimlag en maak of alles oukei is, maar vanaand as ek my kamerdeur agter my toegemaak het, het die masker afgeval en het die walle gebreek.”

Hulle het gesukkel om finansieel kop bo water te hou. Erika en die kinders het by haar ouers op die plaas gebly. “My kerk het my baie bygestaan. Dáár het ons besef hoe wonderlik dit is om mense in jou lewe te hê wat omgee vir jou. Maar daar was ook sekere mense wat ons heeltemal vermy het.”

Drie jaar, drie maande en drie dae
“Pieter kon ná nege jaar in aanmerking kom vir parool, maar die Here was só genadig dat hy uit is op huisarres ná drie jaar. My man was drie jaar, drie maande en drie dae in die gevangenis. Ons het nie één oomblik aan skei gedink nie. Ek het dit nooit eers oorweeg nie! Ek het wel dikwels gevoel om vir hom te vra: Hoekom? Hoekom?”

Die impak op die vier kinders
“Ons kinders was deel van alles. Die twee oudstes was op die plaas toe die polisie toegeslaan het. Dit was vir hulle baie traumaties, gelukkig het hulle hom nie voor die kinders in hegtenis geneem nie. Ons het vir die twee groter kinders gesê dat hul pa ’n fout gemaak het en nou sy straf moet uitdien. Vir die kleintjies het ons gesê pappa is by die werk en as die werk eendag klaar is, gaan hy huis toe kom.”

Jou lewe kan in ’n oogwink verander
“Toe Pieter uitgekom het, was dit vir ons altwee moeilik om weer aan te pas. Dit het ons so plus-minus drie maande geneem om weer aan te pas. Maar toe ons eers weer geolie was, het die wiele weer mooi gerol. Ons het eerstens besef dat God ons vergewe, al het ons verkeerde besluite ons in gevaarlike posisies laat beland. Ons het geleer dat ons mekaar baie liefhet. Dat familie en vriende kosbaar is en dat jou lewe in ’n oogwink kan verander. Ek glo vandag meer as ooit in my lewe dat God gebede verhoor.”