Chris Chameleon sing in een van sy liedjies: “Klein klein jakkalsies krap.” Ons is geneig om te dink groot leuens doen skade in die huwelik. Die leuen van ’n gesteelde SMS, ’n skelm drankie of ’n onbesonne one night stand. Maar twee van ons lesers vertel hoe klein leuens groot probleme veroorsaak.

Elsa en Henk het ontmoet toe hulle onderskeidelik 17 en 19 jaar oud was. Op 22 het Elsa reeds twee kinders by Henk gehad. Hulle is getroud toe sy 25 was. “Ons is gelukkig, maar my man vertel leuens. Hy jok oor alles.”

Hulle is nie meer intiem nie en Elsa vertrou Henk nie meer nie. Gereelde leuens oor hulle finansies het al haar vertroue in hom geskend. Vyf jaar gelede het hulle groot finansiële moeilikheid gehad. “Henk het dit vir my weggesteek. Hy sê hy wou nie hê ek moes my bekommer nie. Ek het toevallig, ’n week voor ons huis opgeveil sou word, daarvan uitgevind. Dit het baie gekos om die veiling te keer en gelukkig het ek daarin geslaag om ons huis te behou. Henk het belowe hy sou nie weer vir my jok of belangrike dinge vir my wegsteek nie.”

Sy woorde was skaars koud toe die bank weer by die voordeur opdaag. Elsa het ’n debietorder ingestel wat van haar eie rekening afgaan. Daarmee het sy seker gemaak die huis word elke maand betaal. Henk moet maandeliks vir haar geld gee vir die paaiement omdat haar salaris nie al die uitgawes kan dek nie. “Hy kom net nie by sy deel uit nie. Hy betaal my nooit daarvoor nie.” Dit het later só erg geraak dat haar kinders nie kos gehad het om te eet nie. “Hy sou sê hy gaan inkopies doen, maar dan bring hy dit nooit huis toe nie. Hy sê dan hy het dit by die werk vergeet of so iets. Ek weet dan hy lieg vir my.”

Elsa blameer haarself. “Ek verstaan nie wat ek verkeerd doen nie. Ek sien nie ’n pad vorentoe saam met hom as hy so aanhoudend jok nie. Hy jok al vir ’n baie lang tyd oor alles en ek het hom nog altyd the benefit of the doubt gegee. Maar ek kan nie meer met die onsekerheid leef nie. Mooipraat, smeek en dreig werk ook net vir ’n rukkie. Ek is raadop, ek wil nie hê dat ons kinders sonder ’n pa grootword nie – maar dit kan ook nie goed wees vir kinders om in ’n huis groot te word waar dit aanvaarbaar is om te jok nie. Ek ek weet ook nie of ek langer in hierdie verhouding met hom kan bly nie.”

’n Oop agterdeur vir lekkertes

Ingrid vertel hoe sy uitgevind het haar man koop groot items sonder haar medewete. “Ons deel al die uitgawes in die huis. Die inkopies, huispaaiement, kinders se skoolgelde en sulke dinge. Dus weet ons albei wat in die ander se geldsake aangaan. Maar Dirk het my nooit vertel hy het ’n aparte spaarrekening waarin hy elke maand geld betaal nie.”

Sy het toevallig op dié spaarrekening afgekom. “Ek het na iets op die Internet gekyk en die blad het opgekom. Ek het geweet ons bank nie by die spesifieke bank nie en het hom daaroor uitgevra. Hy het toe met die sak patats vorendag gekom. Ek was baie ontsteld toe ek daarvan uitvind. As ons alles deel, hoekom moes hy ’n skelm spaarrekening hê? En hoekom daaroor jok?”

Dit het uitgekom dat Dirk oor ongeveer vyf jaar verskeie items gekoop het waarvan Ingrid nie geweet het nie. “Dit was groot goed. Hy het ’n teleskoop vir sy geweer gekoop. Dit was R15 000! Daardie geld kon ons eerder in die huis gebruik het. Daar is baie dinge wat nog by die huis gedoen moet word. Hy het ook vir hom ’n motorfiets gekoop. Vir my het hy gesê dit kos nie duur nie. Hy het dit glo kontant gekoop. Ek het uitgevind hy betaal elke maand uit sy eie spaarrekening vir die motorfiets.”

Die vertroue in hulle verhouding is heeltemal verbreek, sê Ingrid. “Sy leuens het aanleiding daartoe gegee dat ons nou oor baie ander dinge ook baklei. Ek kan hom net nie meer vertrou nie. Ek is nie ’n aaklige, inhalige vrou nie. Ek sou hom nooit weerhou daarvan om iets te koop wat hy graag wil hê nie. Maar hy het my doelbewus ’n rat voor die oë gedraai. Ek wonder nou waaroor anders jok hy ook.”

Wanneer pennies ’n onding word

Ja, die huwelik is romanties, maar die bestuur van finansies is belangrik, het statistiek bevind. Paartjies wat meer as een keer ’n week oor finansies vassit, is 30 keer meer geneig om te skei as ander paartjies. Dit is in ’n studie deur prof Jeffrey Drew van die Utah Staatsuniversiteit bevind. Daar is ook bevind dat hoe meer skuld ’n egpaar in die eerste paar maande opbou, hoe ongelukkiger word hulle.

Nog ’n studie, deur die wetenskaplike Jay Zaggorsky, het bevind geldelike probleme is die grootste probleem wat getroude paartjies ervaar. Van al die dinge waaroor huweliksmaats vassit, wat insluit skoonfamilie, seks en tyd wat julle saam spandeer, is onmin oor geld die grootste oorsaak van egskeiding. Onmin oor geld was die sterkste voorloper vir egskeiding. Dié studie het ook bevind 55% van paartjies wat aan die studie deelgeneem het, bespreek nie ’n begroting met mekaar nie. Net die helfte van dié paartjies het geld weggesit vir vakansies, ’n kwart van die respondente stem nie met hulle ander helfte saam oor hoe om geld te spandeer nie en amper ’n derde van die paartjies het erken hulle het die afgelope jaar oor geld baklei.

Hoekom oor geld jok?

Hennie Terblanche, leraar van die Dikaios Christengemeente, sê daar is verskeie redes hoekom mense oor finansies jok. “Dit kan wees dat die man kanse vat waarvan hy nie wil hê sy vrou moet weet nie of hy wil sy vrou bekommernis spaar.” Hennie sê dis belangrik dat paartjies voor die huwelik praat oor hoe hulle die finansies gaan hanteer.

“Wees openlik met mekaar. Mens moet mekaar deur dik en dun ondersteun en saamstaan. As dit finansieel sleg gaan, bespreek dit. As daar moet afgeskaal word, dan weet albei partye wat van hulle verwag word. Dan gaan julle saam deur die ding en die man dra nie alleen die las nie. Ek dink die ultimate is dat mens so ver as moontlik oop kaarte met mekaar moet speel.”

Hy sê dis nooit te laat om ’n verhouding te red of daaraan te werk nie. “Onthou, elkeen van ons kom uit verskillende agtergronde. Elkeen sien dinge anders. Een het dalk ryk grootgeword en ’n ander arm. Dit moet voor die huwelik uitgesorteer word. As die verskille nie opgelos kan word nie, moet die hulp van ’n onafhanklike party ingeroep word.”

Nog ‘n paar wenke

Huweliksberaders Sheri en Bob Stritof beveel die volgende aan:
1. Skep afsonderlike rekeninge en een gedeelde rekening. Om jou eie bietjie geld te hê om te bestee soos jy goed dink, is dalk ’n manier om argumente te vermy en kan in Dirk en Ingrid se geval positiewe gevolge hê.
2. Stel ’n begroting saam en kyk hoe julle bestee. Dit is nie asof iemand heeltyd oor jou skouer loer nie, maar om seker te maak julle is finansieel sekuur. Die gedeelde rekening moet dus ’n oop boek wees vir julle om mekaar op jul tone te hou.
3. Besluit saam oor jul finansiele prioriteite. Wat is belangrik vir julle? Een wil dalk ’n huis koop en die ander persoon dink aftree-anuiteite is belangriker. Roep die hulp in van ’n finansiele adviseur wat julle kan help om vir die noodsaaklikhede te spaar maar ook op pret-aktiwiteite, soos vakansies, te bestee.
4. Praat gereeld oor jul finansies. Dis nie maklik nie. Vir die een is dit dalk sekuriteit en vir die volgende persoon mag. As dit ongemaklik of hittig raak, kry ’n finansiele adviseur of beplanner as bemiddellaar.
5. Spaar 10% van jul inkomste. As jy genoeg geld spaar vir ’n noodfonds, kan jy belê in ’n aftree-fonds. Hoe vroeër julle hiermee begin, hoe beter.
6. Hanteer saam jul skuld. Maak ’n plan oor hoe julle die skuld gaan afbetaal. Deur te sê jou maat se skuld is nie jou probleem nie, gaan nie werk nie want selfs al het die skuld ontstaan voor jul huwelik, kan dit jul kredietwaardigheid nadelig beïnvloed.
7. Moenie finansiële geheime van mekaar hou nie. As Elsa en Henk net hierdie riglyn volg, kan dit groot verbetering in hul probleme bring. Deur groot finansiele onkostes of skuld geheim te hou, word deur baie mense as finansiële ontrouheid bestempel en dit kan jou huwelik vernietig.

Addisionele bronne: creditcards.com, moneyhabitudes.com; marriage.about.com