Ek wil weet of dit regverdig is van manlief om te verwag dat ek 10kg moet verloor om my familie te kan sien. Ons bly baie ver van my ouers af en sien hulle net drie keer per jaar. Ons woon langs sy ouers. Ek dra ’n nommer 14, ons is ses jaar getroud en ons het een kind.

Gustav en Elna Muller, huweliksberaders antwoord: 

Daar is beslis ten minste twee kante aan hierdie saak. Aan die een kant is daar die verskil tussen voorwaardelike en onvoorwaardelike liefde. As die basis vir ’n huwelik voorwaardelike liefde is, kan twee mense dalk sulke tipe voorwaardes aan mekaar stel, maar as die basis onvoorwaardelike liefde is, is dit beslis onregverdig. Voor die kansel belowe twee mense onvoorwaardelike liefde aan mekaar en daarom is daar nie plek vir sulke tipe voorwaardes nie.

Onvoorwaardelike liefde beteken dat twee mense mekaar liefhet – sonder voorwaardes. Liefde sonder voorwaardes beteken om na mekaar se behoeftes om te sien sonder om iets daarvoor terug te verwag. Voorwaardes laat ’n huwelik soos ’n tronk voel, terwyl onvoorwaardelike liefde ’n vryheid bied waarin die onmoontlike moontlik raak.

Aan die ander kant moet ’n mens wonder hoekom hy só iets verwag? Wat skuil agter sy voorwaarde? Die eerste stap in die regte rigting is nie om in ’n magstryd te verval oor die 10kg nie, maar om ’n dieper gesprek te probeer hê waartydens ’n mens probeer agterkom waaroor dit regtig gaan.

Soek hy ’n meer aantreklike maat? Aantreklikheid word deur die media aangebied as iets uiterlik, terwyl dit in werklikheid iets is wat tot ’n groot mate van binne kom. As twee mense mekaar se innerlike aantreklikheid ontdek en geniet, begin hulle ook uiterlik vir mekaar aanloklik raak.